Psalm 17 (2)
The church that eats together and prays together, stays together – Michael Bird
Psalm 17 (2)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
17:6 – 9:
Die psalm beweeg nou aan na die tweede pleidooi.
6Ek roep U aan, want U verhoor my, o God;
Draai u oor na my, luister na my woorde.
Die psalmis kan ‘n pleidooi aan die Here rig op grond van die integriteit van die psalmis se woorde en omdat die Here luister.
Wys my die wonders van u troue liefde, o Verlosser van hulle wat teen teenstanders skuiling soek by u regterhand.
Die psalmis rig nou ‘n pleidooi vir optrede en nie net vir luister nie. Die psalmis bid soos iemand wie se posisie in vergelyking met Israel bedreig word deur mense wat hom aanval. Die Here moet optree soos Hy vir Israel opgetree het. Hy vra vir ‘n persoonlike verlossing. Hy vertrou immers op Hom. Die regterhand is gewoonlik die sterkste hand. Daarom is regtehand dikwels ‘n uitdrukking van krag.
8Beskerm my soos die appel van u oog; verberg my in die skadu van u vlerke
Die pleidooi vir optrede gaan voort. Die psalmis is bewus daarvan dat die idee van verberg van die vyande bepaal word deur sy afhanklikheid van die Here,
9vir goddelose mense wat my geweld wil aandoen, vir my vyande wat my lewe van alle kante bedreig.
Hierdie vers brei vers 8 verder uit. Hier word na goddelose mense en vyande verwys.
17:10 – 12:
Hulle ongevoelige harte is geslote; met hulle monde praat hulle aanmatigend.
Daar is ‘n verskil tussen die psalmis en sy vyande oor die gebruik van die innerlike – daar waar die hart geleë is. Hulle harte wat geslote is, beteken hulle is onwillig om hulle gesindhede en lewens te herdink. Hulle beheer ook nie hulle monde/tonge nie. Hulle het ambisieuse planne om moeilikheid vir die psalmis te maak.
11Hulle het my spoor gehou, nou het hulle my omsingel; hulle is daarop ingestel om my ten gronde te laat gaan.
Die psalmis is omsingel deur sy vyande. Die Here moet hom inderdaad as die appel van sy oog hanteer. Die teenstanders is duidelik gierig en ambisieus.
12Die goddelose mens is soos ‘n leeu wat daarop uit is om te verskeur, soos ‘n jong leeu wat in skuilplekke wag.
Hier word die gevaar van die psalmis duidelik beskrywe. Die goddelose mens is soos ‘n leeu wat honger is – vol energie.
17:13 – 15:
Weereens kry ons ‘n pleidooi van die psalmis – ‘n pleidooi vir optrede. Dit is ‘n pleidooi teen sy vyande en ‘n pleidooi vir sy eie verlossing en herstel.
13Staan op, Here, loop op hom af, laat hom die knie buig.
Die eerste drie opdragte volg ‘n logiese opvolging: staan op … loop op hom af …laat hom die knie buig. As die Here op hom afloop, red Hy die psalmis. Die psalmis glo dat dit nie vir die Here te moeilik sal wees om dit te doen nie.
14 Bevry my tog van goddelose mense met u swaard, met u hand, Here, van hulle wat doodmaak. Hulle wat doodmaak, het geen lewensduur;
Dit is hulle lot in die lewe. Met u verborge straf vul U hulle buik; hulle kinders word versadig daarvan en wat oorbly, laat hulle agter vir hulle jong kinders.
Hier word die optrede wat die psalmis van die Here verlang beskryf. Dit sluit in dat sy vyande ‘n vroeë dood sal ondervind. Ons sien hier die psalmis se vrees vir sy vyande. Hulle lot verwys gewoonlik na iemand se verdiende loon. Die psalm laat toe vir die uitdrukking van gewelddadige gevoelens en begeertes. Ons kan nie sê hulle moenie uitgespreek word, want hulle behoort nie daar te wees nie – hulle is daar.
15Omdat ek onskuldig is, sal ek u teenwoordigheid ervaar;
Wanneer ek wakker word, sal ek van u verskyning versadig wees.
U teenwoordigheid ervaar is letterlik “u gesig sien.” Hierdie is ‘n uitdrukking van hoop en vertroue in die toekoms. Hierdie psalm sluit dus af soos hy begin het. Die psalmis word deur die gesig van sy vyand bedreig – hy wil eerder die gesig van die Here sien. As ek die Here se gesig sien, kry ek die antwoord. Die psalm bevestig dat gelowiges nie tot die volgende lewe hoef te wag om God te sien optree nie – Hy tree nou op.
Volgende keer gaan ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm kyk.