Menslike Kloning (7)
Menslike Kloning (7) – Coen Slabber
In die vorige artikel het ons die etiese probleme wat gepaard gaan met kloning vir voortplanting bespreek. Kloning word egter ook vir navorsing gebruik
Die etiek van kloning vir biomediese navorsing
Probleem: hierdie navorsing kan lei tot belangrike kennis van menslike embrionale ontwikkeling en die werking van genes – beide normaal en abnormaal. Uiteindelik mag dit lei tot die genesing van baie gevreesde siektes en gestremdhede. Aan die ander kant: hierdie navorsing is baie kontroversieel, want dit behels die doelbewuste produksie, gebruik en vernietiging van menslike embrio’s. Hierdie gekloonde embrio’s verskil nie van embrio’s wat vir voortplanting gebruik word nie. Daar is ook onsekerheid of die navorsing die resultate sal lewer waarvoor tans gehoop word. Die probleem word vererger deur die feit dat daar steeds baie vrae is wat nie beantwoord kan word nie. Is daar nie dalk ander nie-problematiese metodes wat dieselfde voordele sal lewer nie?
Die argument ten gunste van kloning vir navorsing
Dit berus op die verpligting van geneeshere om lyding te verlig. Dit is ʼn baie nuttige manier om chroniese aftakelende siektes en gestremdhede te ondersoek en moontlik te behandel.
Die argument teen kloning vir navorsing
Die moontlike voordele – alhoewel tans spekulatief – word erken. Dit is egter moreel verkeerd om menslike lewe uit te buit en te vernietig. Dit is onwys om die deur te open vir die baie onwenslike gevolge wat uit hierdie navorsing mag spruit. Ons kan tog nie die saad van die volgende geslag as roumateriaal beskou net om aan ons eie behoeftes te voldoen nie. Enkele probleme is:
- Die morele status van die gekloonde embrio. Ons kan tog nie hierdie embrio as moreel-ekwivalent aan alle ander menslike weefsel sien nie. Hiermee word die ontwikkelingsgeskiedenis van die mens – embrio – fetus – kind – ontken.
- Die betekenis van potensialiteit word misverstaan. Dit ignoreer die gevaarlike presedent wat geskep word deur die roetine produksie, gebruik en vernietiging van ontluikende lewe.
- Die uitbuiting van ʼn ontwikkelende menslike lewe. Deur kloning vir biomediese navorsing te gebruik, word ʼn belangrike grens oorgesteek: die produksie van lewe vir die uitsluitlike doel om dit in navorsing te gebruik. Hierdie navorsing sluit in die doelbewuste vernietiging van lewe. Ontluikende menslike lewe word gesien as niks meer as ʼn hulpbron of instrument nie. Ons morele sensitiwiteite word afgestomp. Die gevaar is dat ons ʼn samelewing word wat minder nederig is oor dit wat ons nie weet nie; ʼn samelewing wat respek vir mense afkamp. Ons word meer en meer geneig om morele grense oor te steek – veral as dit ons eie belange dien.
- Morele skade aan die gemeenskap. Hoekom?
o Ons kruis die grens van seksuele na aseksuele voortplanting – in wese keur ons die beginsel van genetiese manipulering en beheer oor ʼn ontluikende lewe goed.
o Ons open die deur vir ander morele gevare soos kloning om kinders te produseer of navorsing op embrio’s/fetusse wat op ʼn latere stadium van ontwikkeling is.
- Wat skuld ons vir diegene wat ly? Ons kan nie die stemme van pasiënte wat ly ignoreer nie. Ons en ons geliefdes is almal pasiënte of potensiële pasiënte. Om lyding te verlig is nie ons enigste morele verpligting nie. Ons wil graag aan ons kinders ʼn lydingsvrye wêreld nalaat, maar ook ʼn wêreld waarbinne hulle kan lewe – ʼn wêreld wat morele grense eerbiedig; wat lewe respekteer en wat weier om wat goed is vir sommige mense goed te keur deur die lewe van ander op te offer.
Argumente ten gunste van navorsing
(1) Die morele status van die embrio is laer as dié van ʼn volle menslike wese. Dit moet daarom opgeweeg word teen die moontlike voordele van hierdie navorsing.
(2) Hulle glo dit is moontlik om ʼn verbod op inplanting af te dwing.
(3) Hulle glo dat om wetenskaplike navorsing te kriminaliseer kan lei tot vrese vir navorsing en ʼn beperking op die uitbreiding van kennis.
In die laaste artikel gaan ons verder kyk na etiese probleme en moontlike oplossings.
Skrywer: Dr. Coen Slabber