Aangeneem en verlaat en die wegraping in Matteus 24:40 en Lukas 17:34
Aangeneem en verlaat en die wegraping in Matteus 24:40 / Lukas 17:34
Christo vra:
Mattheus 24 : 40 praat van ” … die een word aangeneem en die ander word verlaat ” en so ook in Lukas 17 : 34. Hoekom word hierdie verse geassosier met ‘n wegraping, as die woorde lui – aangeneem en verlaat?
Antwoord:
Ds. Dirk Venter antwoord:
Aangeneem en verlaat en die wegraping in Matteus 24:40 / Lukas 17:34
Die oorvertaling van woorde uit een taal na ‘n ander, is nie presies nie. Met ander woorde: dis baie moeilik om die presiese betekenismoontlikhede en -nuanses van een taal af om te skakel na ‘n volgende taal. Dink byvoorbeeld maar aan die Afrikaanse uitdrukking “om die bobbejaan agter die bult te gaan haal” – hoe sê mens dit nou in Engels?
Die Nuwe Testament is oorspronklik in Grieks geskryf. Die vraag is dus: wat is die Griekse woorde wat gebruik was, en hoe kan / behoort hulle vertaal te word om so na as moontlik aan die bedoeling van die teks te kom?
In jou vraag word die Ou Afrikaanse Vertaling (1933) weerspieël. “Aangeneem” vertaal die Griekse woordstam “paralambanoo” en “verlaat” vertaal die woordstam “afiémi“.
“paralambanoo” sou in die konteks van die genoemde verse eweneens vertaal kon word met: aangeneem (OAV), saamgeneem (NAV), verwelkom, aanvaar, geneem ens.
“afiémi” sou vertaal kon word met: verlaat (OAV), agtergelaat (NAV), verwerp, weggestuur ens. Watter een uiteindelik die beste vertaling is, hang af van die boodskap van die groter teksgedeelte waarbinne die woorde staan.
Sou die Nuwe Vertaling se vertalings geneem word, “saamgeneem” en “agtergelaat”, word dit makliker om te verstaan waarom mense hierdie verse met die wegraping assosieer. In dié geval lê die fout nie by die vertaling self nie, maar met hoe dit verder geïnterpreteer word (bv. om die wegraping te weerspieël).
Lees gerus ook op Bybelkennis.co.za die artikel getiteld “Die idee van die wegraping [4]”, waar verduidelik word waarom hierdie teksgedeeltes inderdaad nie op ‘n wegraping dui nie, maar bloot daarop dat ‘n mens altyd gereed moet wees vir Christus se koms – want dié wat nie gereed is nie sal veroordeel word, terwyl dié wat gereed is van die veroordeling gered is.
Skrywer: Ds Dirk Venter