Algemene foute wat ons maak (7)

We do not need Church de Soleil. We just need Church of the Word. Glitz and glamour don’t make the gospel. – George Athas

Algemene foute wat ons maak (7)

Ek gaan onder andere van Dave Craft se Mistakes Leaders Make (2012) gebruik maak.

Busyness is the new spirituality (Fred Smith)

Meeste mense beweeg te vinnig en probeer te veel doen. Min tyd word opsy gesit vir nadenke, gebed, beplanning en luister na die Here. Ons glo vinniger, beter, groter. Ons is gedurig verbind en het geen tyd vir ander dinge nie.

 

Bestuur hanteer dit wat is; leierskap hanteer dit wat kan wees. ‘n Visie inspireer en motiveer mense. As mense nie die groter prentjie van die toekoms sien nie, verloor hulle moed. Mense verplaas dikwels die visie van die toekoms met besig wees. Leiers dink altyd aan die toekoms. As a leader you are never satisfied with the present, because in your head you can see a better future (Marcus Buckingham).

Ons God is ‘n God van die toekoms. Hy is besig om sy mense na ‘n beter toekoms te lei – ‘n toekoms wat Hy vir ons beplan het. Maar dit beteken ons moet tyd in God se teenwoordigheid spandeer sodat ons kan hoor wat Hy vir die toekoms beplan en die rol wat Hy verlang ons daarin moet speel.

Twee ernstig siek mans lê in ‘n klein kamertjie in die hospitaal. Daar was net een klein venstertjie na buite. Een van die mans kon elke dag vir een uur regop in sy bed sit. Sy bed was langs die venster. Die ander man moes plat op sy rug lê – die hele dag lank. Hy kon nie by die venster uitkyk nie.

Elke middag as die man langs die venster kon regop sit, beskryf hy vir sy kamermaat alles wat hy buite kon sien. Die kamer kyk uit oor ‘n park met ‘n dam en eende wat daar swem. Kindertjies kom en gooi brood vir die eende en speel met hulle skepies op die water. Jong mense hou hande vas soos hulle onder die bome deurloop.

Die man op sy rug luister hoe sy maat alles beskrywe en geniet elke minuut daarvan. Hy hoor van ‘n kind wat byna in die dam geval het; hy hoor van die mooi meisies in hulle pragtige somerrokke. Sy maat se beskrywings laat hom voel asof hy die een is wat by die venster uitkyk. Een dag dink hy: Hoekom moet die man langs die venster die plesier hê om te sien wat aangaan? Hoekom kan hy nie geleentheid kry om uit te kyk nie? Hy is skaam oor sy gedagtes, maar hoe meer hy probeer om nie so te dink nie, hoe meer doen hy dit. Hy sal alles doen om in die bed langs die venster te kan lê.

Een nag lê hy en kyk na die plafon. Die man by die venster word skielik wakker. Hy hoes, hy roggel, sy hand soek die klokkie wat die verpleegster aangehardloop sou bring. Die man wat plat op sy rug lê doen niks nie – selfs toe sy kamermaat ophou asemhaal. Die volgende oggend kry die verpleegster die man dood in sy bed en verwyder die lyk uit die kamer.

Na ‘n paar dae vra die man wat plat op sy rug lê of hulle hom dalk teen die venster kan skuif. Die verpleegsters doen dit. Die oomblik toe hulle die kamer verlaat, lig hy hom op sy een elmboog en kyk by die venster uit. ‘n Kaal muur.

Wat sien jy as jy deur die venster van jou verbeelding kyk? Het jy jou vermoë om vir God te droom verloor? Is jy so betrokke by al jou huidige aktiwiteite dat jy nie moontlikhede van die toekoms raaksien nie? Jy moet tyd maak vir die toekoms.

Volgende keer kyk ons na nog ‘n fout wat ons dikwels maak: Ons laat toe dat spaarsamigheid vreeslose geloof vervang.