Alle Paaie lei na Jesus: Abraham se belang

Alle Paaie lei na Jesus: Abraham se belang – Adrio König

Die belang van Abraham

Abraham is een van die sentrale figure in die Bybel. As ’n mens regtig die rol van Abraham in die Bybel verstaan, verstaan jy die evangelie self.

Die naam Abraham kom moontlik van een van twee bronne:

  • Uit ’n Babiloniese woord wat beteken: “Hy het die Vader lief” waar “Vader” ’n verwysing na God is.
  • Of uit ’n Kanaänitiese woord wat beteken: “Die Vader (God) is verhewe.”

 

Abraham is ’n heiden wat God geroep het uit Haran om die stam vader te word van die nuwe volk wat Hy vir Homself wou vorm (Gen 11:27-12:6; Jos 24:3). Na ’n baie lang geskiedenis van geloofsbeproewing het die Here deur ’n wonderwerk vir hom en Sara ’n seun gegee. Dit was die begin van die nuwe volk wat die Here vir Hom voortgebring het.

 

Buite die Genesisverhaal oor Abraham en Sara, is die direkte verwysings na Abraham nie so volop in die Ou Testament soos in die Nuwe nie. Maar ’n mens moet jou nie daardeur laat mislei asof hy nie belangrik was nie. Behalwe vir die verwysings wat daar wel is, moet ’n mens kyk na die formule van die Abrahamverbond: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.” Dit is die sinnetjie wat verreweg die meeste in die Ou Testament voorkom. Kyk maar net na Jeremia (7:23; 11:4; 24:7;  30:22; 31:1, 18, 33; 32:38). Dit alleen maak die verbond met Abraham oorheersend belangrik in die  Ou Testament.

 

Buite Genesis word Abraham die vader of die voorvader van Israel genoem (Jos 24:3; Jes 51:2), God word die God van Abraham genoem (Ps 47:10) of die God van Abraham, Isak en Jakob (baie keer), daar word verwys na die verbond met Abraham (Ps 105:9), en daar word na die nageslag van Abraham verwys (2 Kron 20:7). Abraham word ook die vriend van God genoem, ’n titel wat niemand anders in die Ou Testament gekry het nie (2 Kron 20:7).

 

Twee sake staan uit in die Ou Testament: die geloofsbeproewing waarin die belofte van die Here vir Abraham en Sara laat beland het, en die inhoud en betekenis van die verbond met Abraham.

 

1.1.2 Abraham en Sara se geloofstryd

Kom ons som net eers die verhaal van die geboorte van Isak kortliks op.

  • Die Here roep vir Abraham toe hy alreeds 75 was (Gen 12:4). Sara was omtrent tien jaar jonger as hy. Hy beloof dat Hy hom ’n groot nasie sal maak en dat al die volke op aarde in hom geseën sal word (12:2-3).
  • Intussen weet ons dat Sara onvrugbaar was (11:30).
  • Omtrent vyf jaar later herhaal God die belofte baie duidelik en spesifiek (Gen 15). Hy beklemtoon dat Abraham nie op ’n indirekte wyse, byvoorbeeld deur sy slaaf Eliëser, ’n nageslag sal kry nie, maar uit Sara.
  • Nog vyf jaar later verwek Abraham met Sara se toestemming ’n kind by haar slavin Hagar, wat op ’n breekspul uitloop (Gen 16).
  • Eers 16 jaar later verskyn die Here weer aan Abraham, sluit  (by herhaling) die verbond met hom en beloof opnuut dat juis uit Sara ’n kind vir hulle gebore sal word (17:19). Hy voeg by dat dit oor ’n jaar sal wees (17:21).
  • Skynbaar baie kort daarna verskyn die Here weer aan hom en Sara, en verseker hulle opnuut dat hulle oor ’n jaar ’n seun sal hê (18:1-15).
  • ’n Jaar later, toe Abraham 100 jaar oud is en Sara 90, kry sy vir Isak (21:1-7).

 

Wat ’n geskiedenis! Kan ’n mens jou dit indink? ’n Kwarteeu moes hulle op beloftes leef terwyl hulle lankal, eintlik van die begin van Genesis 12 af, al “verby die ouderdom” was. Hoe het hulle dit in terme van geloof en emosie reggekry?

 

Daar is ’n interessante “inkonsekwensie” van die Ou Testament na die Nuwe. Die Ou Testament vertel die volle verhaal, maar die Nuwe “positiveer” dit heeltemal eensydig. Genesis 12-18 vertel van hulle stryd om die onmoontlike te glo, van hulle twyfel, van hulle lag (!!) as reaksie op die Here se herhaling van die belofte (17:17; 18:12), van Abraham se pogings om die Here te “help” om sy belofte te vervul deur by Hagar ’n kind te verwek, eenvoudig omdat hy nie geglo het dit kan regtig meer deur Sara gebeur soos die Here beloof het nie (15:3; 16:1-4; 17:17-18; 18:10-12).

 

En wie van ons sal meerderwaardig of “meerdergelowig” op hulle neersien? Hy was 75 jaar oud, toe 80, toe 86, toe 99! Sy was van die begin af onvrugbaar (11:30)! Bring my die oupatjie en oumatjie, of liewer die oupagrootjie en oumagrootjie, wat net eenvoudig sou aanhou glo. Veral as ’n mens onthou dat die Here hulle swak geloof op geen enkele manier probeer help nie, maar eenvoudig elke keer net sy belofte herhaal met net nog meer woorde (15:4-5; 17:19-21; 18:10, 13-14). ’n Volkome geloofwaardige prentjie. Hulle worstel om deur te kom.

 

Maar die Nuwe Testament?

Paulus hoop die positiewe dinge oor Abraham en Sara op (Rom 4:18-22):

  • Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog steeds gehoop en geglo.
  • Al het Abraham goed besef dat hy en Sara al “gedaan” was, het sy geloof nie verswak nie.
  • Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die beloftes van God nie, maar hy is in sy geloof versterk.
  • Hy het aan God die eer gegee.
  • Hy was ten volle oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.

 

Hoe klop dit met Genesis 15-18?

  • Volgens Paulus het hy aan God die eer gegee. Maar volgens Genesis 16 het hy ’n handjie probeer bysit (as dit maar net ’n handjie was) om die Here te help om sy belofte te vervul.
  • Volgens Paulus het hy aanhou hoop toe daar geen hoop meer was nie, maar volgens Genesis 17:17 het hy gelag en gedink die Here vergeet hoe oud hy en Sara is.
  • Volgens Paulus het hy nie aan die beloftes van God getwyfel nie, maar volgens Genesis 15:1-4 het hy eenvoudig aanvaar hy en Sara gaan nie meer ’n kind kry nie, en toe voorgestel dat die Here maar sy slaaf as sy kind beskou.

 

Hoe werk dit? En onthou, Paulus is nie ’n uitsondering nie. Lees gerus die getuigskrif vol lof wat die Hebreërbrief (11:8-19) oor Abraham het. Hy ryg die geloofsdade van Abraham in soos krale in ’n halssnoer sonder een enkele verwysing na Abraham en Sara se ongeloof en wanhoop.

 

Twee totaal verskillende prentjies van Abraham en Sara. Sluit die skrywers van die Nuwe Testament eenvoudig hulle oë vir die werklike geskiedenis in die Ou Testament? Maak hulle geloofshelde van twyfelaars?

 

Nee, Jesus doen dit. Onthou tussen Genesis en Galasiërs het daar in Palestina ’n Jood geleef en gesterf wat nie vir Homself geleef en gesterf het nie, maar vir ons. Hy is in ons plek veroordeel sodat ons in sy plek vrygespreek kan word (2 Kor 5:21). Ook in Abraham se plek. Hy het ook Abraham en Sara se twyfel en vrees en gelag op Hom geneem sodat Abraham en Sara met sy geregtigheid vervul kan word. Paulus eindig mos nie verniet hierdie heerlike hoof stuk oor Abraham met die volgende woorde nie: “Hy (Jesus) is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons (Abraham ook) vrygespreek kan word” (Rom 4:25).

 

Iemand het vertel as dit baie droog is in die Karoo sit die boere net brille met groen glase vir die skape op, en dan vreet hulle hulle dik aan die klippe. Omdat dit by ons so droog is aan geregtigheid, sit God vir Jesus as sy bril op en dan sien Hy in Abraham net geloof en moed en hoop.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

Skrywer: Prof Adrio König