Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (3)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Doel van die Skepping (3) – Adrio König

Ons is besig om te kyk na die doel van die skepping – hoekom het God alles geskep? In die vorige gedeelte het ons na die eer van God gekyk. Ons gaan nou verder.

2.1.2 Die skepping self, spesifiek die mens

Hier het ons ’n ander standpunt oor die doel van die skepping: die skepping self, of meer spesifiek die mens. Dit kan gesien word as in teenstelling met die vorige een: die eer van God. Word die mens nou hier in die plek van God ingeskuif? Kom die mens nou in die middelpunt? Skuif die mens God nou uit? “Dan is dit mos suiwer humanisme” is ’n bekende slagspreuk wat sommige graag gebruik.

 

Trouens in die geskiedenis is Calvyn en Luther ook soms só teenoor mekaar gestel. Calvyn het inderdaad die eer van God beklemtoon, en Luther die heil van die mens. Sommige het dit gesien as ’n teenspraak. Vir Calvyn sou dit dan om God gegaan het, maar vir Luther om die mens. En dit sou dan onaanvaarbaar wees.

 

Maar dit kan mos nie so werk nie. Het ons dan vergeet van watter God ons praat? Ons praat dan van die God van liefde, van die God wat alles veil gehad het vir mense. Sou sy eer dan téénoor die heil  van mense staan? Of is sy eer juis om alles te gee om mense te red?

 

Dit lyk my ons kan maklik hierdie twee standpunte sien as twee kante van dieselfde saak: die skeppingsdoel van God.  Dit beteken dat die mens ’n eie waarde het. God se skeppingsdoel was om ’n aarde te maak waarop Hy mense kon sit om in gemeenskap met hulle te leef. Dit is wonderlik om ’n mens te wees. God se doel met ons is dat ons sy beeld sal wees, en daarvoor moet ons in ’n verhouding van liefde en trou met Hom leef. Waarom soek ’n mens nog na sin in die lewe? Omdat Hy vir ons omgee, het ons lewe klaar sin, ongeag al die ander omstandighede waarin ons kan beland.

 

Voor ons verder gaan, moet ons eers weer kyk na die begrip “doel”. Ons is God se skeppingsdoel. Ons het dus ’n doel. Maar net hier moet ons oppas. Daar is gevare aan die begrip “doel” verbonde. Ons leef in ’n Westerse samelewing waarin alles ’n doel het of ’n doel moet hê. Elke mens of ding moes iets beteken, nuttig wees. Ons leef in ’n kultuur van wedywering en prestasie. Ons sloof ons af om bo uit te kom. Ons kinders moet eerste staan (in die klas), of eerste kom (in sport). Die arme gemiddelde kind tel nêrens nie. Net die name van die “uitblinkers” verskyn op die lys.

 

En intussen vergeet ons om te lewe, en om ons kinders te leer lewe. Intussen vergeet ons om regtig te leef – dit het ook te doen met speel, ontspanning, niks doen. En veral met verhoudings, met saam wees, met vir-mekaar-daar-wees. Twee saam halveer die smart en verdubbel die vreugde. ’n Hollandse boek het die titel: “Die wêreld gaan aan vlyt ten onder.” Ek het ’n vriend wat sê sy grootste probleem is dat hy nie tyd het om sy geld te geniet nie. Stop! Begin lewe. Begin God dank vir die voorreg om ’n mens te wees.

 

Ons mag dus die lewe geniet. Ons mag die skepping van God geniet: die berge en bome (veral die vrugte!). En ons mag ons eie lewe ook geniet as die skepping van God. Ons mag ons potensiaal ontwikkel, ons verhoudings uitbou, ons lewe toewy aan die diens van ons Here en die mense in nood. En die meeste van alles: Ons mag God geniet. Die Westminster Kategismus antwoord soos volg op die vraag wat die doel van ons lewe is: Om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet. Dis so  jammer dat ons so ’n negatiewe beeld van God het as die een wat ons ten alle koste moet tevrede stel, as die een wat “waghou oor sy eer”, en so min aan Hom dink as die Een wat ons lewe die moeite werd maak, as die een wat goed en genadig en getrou en geduldig met ons is. Dink meer kere oor Hom as die pa van die verlore seun. Dit was ’n fees toe die seun weer terug was by sy pa (Luk 15). Die nadruk op ons lewe op aarde sal ons ook help om nie ’n eensydige hemelverlange te ontwikkel nie.

 

Ons is deel van die aarde, gemaak vir die aarde om op die aarde te bly en op die nuwe aarde verheerlik te word in die hemelse teenwoordigheid van die Here. “Die hemel is net vir die Here, maar die aarde het Hy aan die mense gegee” (Ps 115:16). Ons mag nie toelaat dat ons godsdiens ons vervreem van die woonplek wat die Here vir ons gemaak het nie. Daar mag nie van ons gesê word nie: “They are so heavenly minded that they are of no earthly use.” Alhoewel ’n mens tog kan wonder of die gevaar nie groter is nie dat hulle van ons kan sê: “They are so selfminded that they are of no Godly use.

 

Gesonde selfvertroue help ’n mens om jou lewe te geniet. Dis ’n skande dat ons soms ons eie tekortkomings en mislukkings probeer wegpraat met: “Ag, ek is ook maar net ’n mens.” God het nie sukkelende, onbetroubare, treurige wesens geskep toe Hy mense gemaak het nie. Ons is bedoel om sy beeld te weerspieël. Dis ’n mondvol!

 

Ons kan moed skep, inisiatief neem, waag. Is hierdie nie ’n eensydig optimistiese prentjie van menswees nie? Is die klipharde waarheid nie dat ver meer as die helfte van die mense op aarde in armoede en nood en ellende leef nie, dat miljoene mense omtrent nooit rede het om te glimlag nie, dat talle en talle babas nie een dag ooit genoeg melk kry nie? Is dit nie ook die klipharde waarheid dat miljoene mense wat genoeg en meer as genoeg het om in oorvloed te leef, in eensaamheid of in

uitmergelende spanningsverhoudings leef met die mense naaste aan hulle nie? Is dit sinvol om met hulle te praat oor die mooi berge en bome en lekker vrugte en oor die uitdaging om ons potensiaal te ontwikkel en ons gemeenskap met God te geniet?

 

Nee, seker nie sonder meer nie. Maar dis nie God wat daarvoor verantwoordelik is nie. Die ellende op aarde kan ons liewer op ons eie rekening skryf. En dit geld globale en individuele verhoudings. Globaal is daar genoeg kos op aarde om alle mense te voed, en dis mense wat daarvoor verantwoordelik is dat vreeslik baie mense gereeld honger gaan slaap. Soms is dit hulle eie skuld, en soms ander mense of strukture s’n.

 

Maar ons het wel die boodskap dat God ons roep om vir ander om te gee. Ons het trouens dié Voorbeeld van alle voorbeelde wat sy lewe gewy het aan mense in nood, en wat ons roep om sy dissipels te wees. Ons, gelowiges, het ’n verantwoordelikheid om mense in nood te help. Dis goedkoop om net “geniet die lewe” te preek, en nie die struikelblokke in ander se pad te help verwyder nie. “Sê nou daar is ’n broer of ’n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, en sê nou een van julle sou vir hulle sê: ‘Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,’ maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” (Jak 2:15-17). Dit beteken dat ons die nadruk oor die skeppingsdoel ’n bietjie moet verskuif. Daar is ’n verskil tussen die aarde soos God dit bedoel het, en die aarde soos dit tans lyk. Ons kan dus verwag dat daar ook ’n verskil sal wees tussen die oorspronklike skeppingsdoel van God vir ons, en sy doel in hierdie situasie van nood en ellende.

 

Kom ons probeer ons indink wat die verskil sou wees tussen Jesus se lewe in Palestina waarvan die Evangelies ons vertel, en hoe Jesus op aarde sou geleef het as daar geen sonde en ellende was nie. Dit sou in ’n sekere sin twee totaal verskillende lewens gewees het. Die lewe wat Hy regtig in Palestina geleef het, is ondenkbaar sonder die mense-in-nood om Hom. Sy genesings, vergifnis, sorg oorheers sonder meer sy lewe. Wat sou Hy gedoen het as daar nie mense-in-nood was nie? “One guess is as good as the other.” Maar ek dink Hy sou in die Tuin van Eden gaan bly het en die bome versorg en die vrugte geniet het. Dalk sou Hy nog meer bome geplant het en selfs nuwe soorte ontwikkel het. Wat is jou raai? Wat is die punt? Dat die toestand van die wêreld sy lewensingesteldheid en daarom sy lewensdoel bepaal het.

 

En ons s’n? Natuurlik kan ons nog altyd praat oor die skeppingsdoel as die skepping self en vreugde in ons eie lewe. Maar ons ingesteldheid verander. Ons kyk met ander oë na die skepping, na die mense om ons, en daarom na onsself. Of liewer: Ons behoort. Maar doen ons dit? Leef ons nie dalk ons eie lewe asof daar nooit sonde gekom het en al die ellende daarmee saam nie? Leef ons nie dalk ons eie lewe asof ons net die lewe kan geniet en by wyse van spreke soveel vrugtebome plant as wat ons wil en so goed moontlik voorsiening maak vir ons oudag nie? Alles vir onsself – in ’n wêreld van nood? Of leef ons regtig bewustelik en planmatig in ’n wêreld waar sonde en ellende beveg moet word in die Naam bo alle name? Is dit nie die doel wat God in hierdie omstandighede vir ons lewe het nie? En gaan dit dan nie nog altyd oor hierdie skepping as skeppingsdoel nie, maar nou ’n aangepaste doel met die oog op die behoefte wat hierdie skepping in hierdie spesifieke  omstandighede het nie?

 

Ons is besig met die vraag: Waarom het God alles geskep? Ons het na twee na twee aspekte gekyk. Volgende keer gaan ons na die laaste aspek – die verbond – kyk.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König