Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet
Alle Paaie lei na Jesus: Die Jode se interpretasie van die wet – Adrio König
3.2 Die Jode se interpretasie van die wet
Ons het na die wet in die algemeen en die wet in die Ou Testament gekyk. Dit bring ons by die Joodse leiers se interpretasie van die wet. Die uittog (hoofstuk 9), die verbond (hoofstuk 1), en die wet was die fondament van Israel se verhouding met die Here en met mekaar. Met die uittog het God Homself aan Israel verbind en “die God van Israel” geword, en dus ook die volk gekies as sy volk.
’n Mens kan die uittog as die geboorte van die volk beskou. Deur die verbond het Hy beloof om verantwoordelikheid vir hulle te neem, en van hulle verwag om Hom in liefde te gehoorsaam. Deur die wet het Hy konkreet vir hulle gesê hoe Hy wil hê dat hulle sal lewe.
Van hierdie drie het die wet geleidelik vir Israel die belangrikste geword, reg of verkeerd. Baie Israeliete het die wet uit dankbaarheid en met vreugde gehou. Lees ’n keer Psalm 119 aandagtig deur. Ek gee net ’n paar kort aanhalings. Onthou woorde soos bevele, gebooie, verordeninge, insettinge, voorskrifte is almal verwysings na die wet.
- Om volgens u verordenings te lewe, gee my meer vreugde as al die rykdom van die wêreld (v 14).
- Ek verlustig my in u voorskrifte, u woord vergeet ek nie (v 16).
- Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe (v 32).
- Laat my wandel volgens u gebooie, want daarin vind ek vreugde (v 35).
- In u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my verlustig (v 47).
- Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek al my hoop vestig (v 48).
- U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde (v 54).
- Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe (v 56).
Uiteindelik het hulle ontrou aan die wet egter oorheers ondanks die vermanings en waarskuwings van die profete, en uiteindelik het hulle weens hulle ontrou en ongehoorsaamheid aan die Here in die vernietigende ballingskap beland. In die ballingskap het hulle alles verloor wat vir hulle waarde gehad het. Dit is dus te verstane dat hulle ná hulle terugkeer uit die ballingskap alles in hulle vermoë gedoen het om ’n herhaling daarvan te probeer voorkom. Hulle wou nou ten alle koste die wet hou. Veral Esra en Nehemia het groot nadruk daarop gelê.
Op sigself was daar nog niks daarmee verkeerd nie. Hulle het immers nog die wet gehou omdat hulle die volk van die Here was en aan Hom gehoorsaam moes wees. Maar geleidelik het al meer van hulle die wet begin hou om by God aanneemlik te word, om op hierdie manier in ’n verhouding met God te kom. Daarom het hulle geleidelik ook die wet meer as God self verheerlik. Die wet het hulle behoud geword. In plaas daarvan dat hulle die volk van die Here was wat deur Hom aan die wet gebind was, het hulle ter wille van die wet begin leef.
Dis nie vreemd dat die “skrifgeleerdes” of rabbi’s juis in hierdie tyd na vore gekom het nie. Vroeër het die priesters die taak gehad om die volk die wet te leer. Maar ná die ballingskap kom daar so ’n konsentrasie op die wet dat ’n gespesialiseerde studie van die wet nodig word. Ons lees: “Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer” (Esra 7:10). Hieruit het die hele tradisie van intensiewe studie van elke fyn bepaling van die wet gegroei en die nuwe amp van skrifgeleerde of rabbi ontwikkel, die teoloë van Israel in die tyd van Jesus. Die neiging was om in al fyner detail in te gaan en al voorskrifteliker te word, sodat die hele lewe van die Israeliet later deur fyner onderdele van die wet gereël is.
Dit is teen hierdie oormatige “wetsverfyning” wat Jesus uiteindelik geprotesteer het in een van die skerpste oordeelshoofstukke in die hele Bybel (Matt 23). Ons kyk later daarna. Dis verder interessant om na te gaan hoe hulle siening en waardering van die wet in hierdie tyd voor Jesus ontwikkel het. Hulle het altyd die Pentateug of die Torah gesien as die eintlike openbaring van God. Maar geleidelik het hulle alle ander boeke wat daarna gekom het, aan die wet begin meet. Alle verhoudings tussen God, mense, Israel en die wêreld is aan die wet onderwerp. Die wet sou dan die instrument wees waarmee God alles geskep het.
Maar hulle het later selfs geleer dat God voor elke skeppingswerk eers die wet geraadpleeg het. Trouens die wêreld, die mense en Israel self sou net terwille van die wet geskep wees. ’n Mens kan skaars anders as om te dink aan wat die Christene later oor God self bely het: Uit Hom, deur Hom, en tot Hom is alle dinge. Dit is omtrent wat die wetsgetroue Jode later oor die wet geglo het. Wie die wet gehoorsaam, ontvang God se goedkeuring, die geregtigheid, die lewe self, en ’n aandeel in die nuwe wêreld van God. Hulle was oortuig dat dit vir ’n mens moontlik is om die hele wet volkome te hou. Dit was inderdaad ook nodig, want net só het hulle die goedkeuring van God gekry. Hulle het geglo Abraham het dit gedoen selfs nog voor die wet regtig by Sinai afgekondig was. Hiervolgens was dit nie meer die geval dat Israel die wet moes hou omdat hulle God se volk was nie. Dit was eerder só dat hulle die wet moes hou om God se guns te verdien. Dit is hierdie oortuiging wat die apostels later verwerp.
In die volgende artikel gaan ons kyk Jesus se houding teenoor die wet.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König