Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (1)
Alle Paaie lei na Jesus : Die Nuwe Testament (1) – Adrio König
Ons is nog besig om na heil en saligheid te kyk. In die vorige gedeeltes het ons na die doel van die skepping as ook na die Ou Testament gekyk. Nou gaan ons na die Nuwe Testament kyk. Hier gaan ons veral na vier aspekte kyk:
- 1.Heil sonder gawes.
- 2.Toekomstige heil.
- 3.Verheerliking.
- 4.Die ewige lewe.
2.3 Die Nuwe Testament
2.3.1 Heil sonder gawes
In die vroeë jare het dit redelik goed met Israel gegaan. En onder Dawid en Salomo selfs baie goed. Maar na die skeuring in die Ryk en uiteindelik die ballingskappe en die terugkeer van Juda, het dit hoe langer hoe slegter gegaan. Aanvanklik het die profete die ballingskappe tereg toegeskryf aan die straf van God omdat Israel voortdurend aan Hom ontrou en ongehoorsaam was. Maar later het die ellende so groot geword dat hulle dit nie meer net aan die oordele van die Here kon toeskryf nie. Toe het hulle geleidelik tot die oortuiging gekom dat die bose magte die wêreld binnegeval en oorweldig het, en dat hulle ellende wat hoe langer hoe erger geword het, deel is van die bose magte se aanslag op God se volk. En daarmee het die hele bonatuurlike wêreld deel van hulle geloof geword. Ons praat van die apokaliptiek of die apokaliptiese wêreldbeskouing.
Omdat die bose magte die wêreld oorgeneem het en op aarde regeer, gaan dit so sleg. Maar nou het dit ook nodig geword dat God met bonatuurlike middele die bose magte sal oorwin en die heerskappy op aarde sal terugkry. Dit kon nie gebeur met die gewone aardse en historiese middele wat in die Ou Testament bekend was nie. Hael en droogtes en vrektes onder die vee kon nie die bose magte oorwin nie.
Dit het egter ook beteken dat die aarde anders waardeer is as vroeër. Dit was nie meer die goeie aarde waar God seënend by sy volk wou woon nie. Dit was die gevalle wêreld wat radikaal verander en vernuwe sou moes word om ’n nuwe aarde te word. Hierdie perspektief kry ons alreeds in sommige laat profete. Jesaja het alreeds ’n wonderlike profesie oor die nuwe hemel, nuwe aarde en nuwe Jerusalem (65:17-25).
Hierdie situasie van die duiwel en die bose magte wat op aarde oorgeneem het, is die agtergrond van Jesus se aardse bediening. Ons is so gewoond aan die Evangelies dat ons nie eens besef hulle teken ‘n heeltemal ander prentjie van die wêreld as die Ou Testament nie. In die Ou Testament is daar byna nie sprake van bose magte nie, in Jesus se omgewing is dit vervuil van hulle. Niks anders oor Jesus se optrede kry meer aandag as sy wonderwerke nie, en onder die wonderwerke staan die uitdrywing van bose magte voorop. Herhaaldelik lees ons in die Nuwe Testament dat die duiwel in die tyd van Jesus op aarde regeer (Joh 12:31; 14:30; 16:11; 1 Joh 5:19), en Jesus se bediening word selfs opgesom met: “Hy het rondgegaan, oral goeie werke gedoen en almal gesond gemaak wat in die mag van die duiwel was, want God was by Hom” (Hand 10:38).
Die bose magte was egter deel van ’n baie groter geheel. Ons praat van die apokaliptiese wêreldbeeld. Ons kan dit ook die bonatuurlike wêreldbeeld noem. Die wêreldbeeld van die Ou Testament is natuurlik. Die seën van die Here is natuurlike dinge: reën, goeie oeste, vrede. Die oordele van die Here ook: hael, swak oeste, vyande. Heil is net so natuurlik: om op aarde al hier die seëninge in gemeenskap met die Here te geniet en Hom daarvoor te dank. Wie dit lank genoeg geniet het, het tevrede gesterf.
Wie nog nie genoeg kans gehad het nie, was in opstand teen die dood. Maar hiervan kry ons nie meer iets by Jesus nie. Hy beloof nie om Israel van sy vyande (die Romeine) te bevry nie. Hy beloof nie goeie oeste en groot gesinne nie. Ons kry ewe skielik heeltemal ’n ander prentjie. Ons hoor nou van ’n wêreldeinde en van talle bonatuurlike verskynsels: die Seun van die mens sal op die wolke kom, sterre sal op die aarde val, dooies sal opstaan, die gelowiges sal verheerlik word, alle mense sal geoordeel word, die ongelowiges sal na die verderf gestuur word, en die kinders van God sal vir ewig op die nuwe aarde in sy hemelse heerlikheid deel.
Vir die Ou Testament is dit vreemde beelde. Van die opstanding van die dooies lees ons net een keer met sekerheid in die Ou Testament, in die boek Daniël wat baie laat geskryf is (12:2). Verder is daar net korter dele in enkele laat boeke in die Ou Testament soos Jesaja 24-27, en dele uit Sagaria en Esegiël wat ook maar net iets van hierdie bonatuurlike beelde het. Die eintlike agtergrond vir hierdie apokaliptiese wêreldbeeld is sekere boeke wat wel in die Katolieke se Bybel opgeneem is, die sogenaamde apokriewe boeke (soos 2 Esdras – soms ook 4 Esdras genoem), maar nie in die Protestante s’n nie.
Jesus sluit dus nie aan by die bekende natuurlike aardse Ou-Testamentiese beelde nie, maar by die beelde wat in die tyd tussen die Ou Testament en die Nuwe ontwikkel het en in sy tyd vrylik deur sommige groepe onder die Jode gebruik is.
Net so verander die situasie van gelowiges heeltemal. In die Ou Testament het die Here sy kinders geseën met oorvloed as hulle aan Hom gehoorsaam is. Hulle het sy gawes in hierdie lewe in gemeenskap met Hom geniet, en as hulle dit lank genoeg kon doen, het hulle tevrede gesterf. Hulle het oorvloed geniet omdat hulle aan Hom getrou was.
Maar in die Nuwe Testament kry sy kinders juis swaar omdat hulle aan Hom getrou is. Dis presies die teenoorgestelde. Jesus verseker hulle ook dit gaan gebeur. “As hulle My vervolg het, sal hulle julle ook vervolg … Maar hulle sal dit alles aan julle doen omdat julle my Naam bely” (Joh 15:20-21). “In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin” (Joh 16:33). En Paulus skryf: “Almal wat in Christus Jesus toegewy aan God wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Tim 3:12).
Wat is dan nou in hierdie lewe heil? In die Ou Testament was dit voorspoed in gemeenskap met die Here. En nou? Om vervolg te word kan tog nie heil/saligheid wees nie. Johannes sê die heil nou is om nou reeds deel te hê aan die ewige lewe. Volgens hom kry ons nie eers by die opstanding deel daar aan nie. “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe” (Joh 3:36). “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe” (Joh 6:54).
Paulus sien die heil wat ons nou reeds geniet, as ons vereniging met Jesus sodat ons ou lewe in diens van die sonde klaar beëindig is en ons nou reeds deelneem aan Jesus se opstandingslewe (Rom 6; Gal 2:19-20). Hy noem ook die vrede van God wat ons nou reeds kan geniet. Maar ook in hierdie geval is daar ’n radikale verskil tussen die twee Testamente. In die Oue is God se vrede (sjaloom) dat ons in hierdie lewe in voorspoed sy gemeenskap geniet. In die Nuwe geniet ons vrede in ons harte ondanks die feit dat ons verdruk en vervolg word. Ons moet mooi lees hoe die apostel dit stel: “Die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou … ” (Fil 4:7). Dit beteken al is ons ontsteld, miskien juis omdat ons vervolg word, sal ons nogtans vrede in ons gemoed hê. Al sê ons gesonde verstand vir ons dat ons glad nie vrede kan hê nie omdat dit sleg met ons gaan, sal ons nog die Here se vrede ervaar.
- In die Ou Testament was heil dus om in gemeenskap met die Here sy aardse gawes van voorspoed te geniet.
- Maar in die Nuwe Testament is dit om die gemeenskap van die Here te geniet sonder sy aardse gawes, maar wel met ’n vooruitsig.
En hierdie vooruitsig is die saak waarna ons nou moet kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König