Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (2)

Alle Paaie lei na Jesus: Die Psalms, Profete en Wysheidsliteratuur (2) – Adrio König

4.8.2 Die Profete

Die Profete kom oor die algemeen ooreen met die Psalms. Ook hier is die stryd by die skepping en die lof aan God oor sy skeppingswerk belangrik. Trouens daar is selfs herinnerings aan die eerste twee skeppingsverhale. Die son beheer ook die dag en die maan en die sterre die nag (Jer 31:35).

Interessant dat die grootheid van God wat uit sy skeppingswerk blyk, hier gebruik kan word om te wys hoe skokkend die volk se ongehoorsaamheid aan die Here is. Hulle het nie ontsag vir die Here nie, hulle is nie bang vir Hom nie terwyl dit Hy is wat die sand as grens vir die see gestel het, ’n grens waaroor die bruisende golwe nie kan kom nie. Selfs die magtige see kan nie in opstand kom teen God nie, maar die volk doen dit! (Jer 5:22- 23)

 

Stryd by die skepping kry by die Profete ’n nuwe dimensie. In Genesis is net implisiete verwysings daarna, in die Psalms kom die stryd prominent na vore, maar dis nog steeds ’n stryd by die skepping. Maar by die Profete word die stryd by die skepping ook ingetrek in die geskiedenis in, en word dikwels ’n stryd by die uittog uit Egipte.

 

Jesaja noem Egipte “Rahab” (Jes 30:7), en die Here noem die farao van Egipte “die groot seemonster” wat oorwin word en vir die diere gevoer word (Eseg 32:1-8). Die mooiste voorbeeld is in Jesaja 51:9-10. Die profeet roep tot die Here om die volk uit ballingskap te bevry. Hy begin deur  die groot mag te besing wat die Here by die skepping getoon het en dan gaan hy oor na die uittog.    “Gryp in, Here, gryp in! Toon u mag, u krag! Gryp in soos in die ou tyd, soos in dae lank gelede. Is dit dan nie U wat vir Rahab verslaan het, wat die seemonster deurboor het nie? (Dis ’n verwysing na die skepping.) Is dit nie U wat die see, die groot diep waters laat opdroog het nie, U wat op die seebodem ’n pad gemaak het sodat dié wat verlos is, kon deurgaan nie?” (’n Verwysing na die uittog.)

 

Trouens vroeër in Jesaja word dié stryd selfs ook na die toekoms toe geprojekteer. In die groot, finale toekomstige stryd “sal die Here sy skerp, groot, sterk swaard gebruik om die Leviatan, die vinnige, kronkelende slang te verslaan en sal Hy die monster doodmaak wat in die see is” (27:1). En ons weet hoe hierdie stryd teen die dier en die draak in Openbaring geskilder word. Hierdie stryd dek dus die hele geskiedenis: skepping, uittog, voleinding.

 

Jesaja 40-66

Ons moet spesiale aandag gee aan die tweede en derde dele van Jesaja – Jesaja 40-55, en 56-66. Die eerste en belangrikste rede is dat dít die deel in die Ou Testament is wat die meeste in die Nuwe Testament aangehaal word. ’n Mens sou dit amper die “Bybel” van die apostels kon noem. Jesaja 40-55 is geskryf deur ’n onbekende profeet in die slegste tyd van die ballingskap. Israel is waarskynlik al vier of vyf dekades in Babilon. Die jong mense wat as slawe daarheen geneem is, het nou oud geword. ’n Nuwe geslag wat niks van Jerusalem weet nie, is gebore en getoë. En jaar na jaar moes hulle die groot Nuwejaarsfees ter ere van Marduk, die Babiloniërs se groot skeppergod, vier. Die Babiloniërs het geglo dis hy wat Tiamat verslaan en middeldeur gekap het in die groot godegeveg, en uit die twee dele van sy liggaam die hemel en die aarde gemaak het.

 

Nogeens die strydvoorstelling

Na dekades in die heidenland, was dit ongetwyfeld ten minste ’n krisis vir die Israeliete om nog in die Here te glo. Was Marduk nie dalk sterker as Hy nie? Hier sit hulle in Marduk se mag en daar kraai nie ’n haan na nie. Dit kon net een van twee dinge beteken, het hulle waarskynlik gevoel: óf Marduk was sterker as die Here, óf die Here stel nie meer in hulle belang nie. Hier is die profeet se vrae aan hulle: “Waarom sê jy dan, o Jakob, waarom kla jy, Israel: Die Here sien nie raak wat van my word nie, my reg gaan by my God verby?” En dan volg die profeet se bemoediging. Maar waarmee sal hy hulle bemoedig in hierdie troostelose situasie? “Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die

ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie … Hy gee die vermoeides krag” (40:28- 31).

 

Let op! Die krag van die Here word beklemtoon deur na die skepping te verwys! ’n Paar hoofstukke verder skryf die profeet dit met nog meer oortuigingskrag. Ons het reeds verwys na Jesaja 51:9-10, maar nie in besonderhede nie. Dit gaan oor stryd by die skepping. Maar wat gaan regtig hier aan?

Dit gaan in werklikheid hier oor vier chaosmonsters:

  • Rahab,
  • Tanin (’n seemonster),
  • Jam (die see wat self as ’n monster voorgestel word),
  • Tehom Rabba (die diep waters – die duister vloed van Gen 1:2).

 

Onthou dat Marduk vir Tiamat (waarskynlik dieselfde as die Tehom van die Bybel) middeldeur sou gekap het. Nou sê die profeet die Here het self vir Rahab middeldeur gekap (NLV, NJB) en selfs nog drie ander monsters ook. En een van hulle was juis die een wat Marduk in stukke sou gekap het. Verder kom die monster Jam nie eens in die Babiloniese verhale voor nie. Dis ’n Ugaritiese seemonster. Dit beteken dat die Here veel meer as Marduk gedoen het, Hy het vier monsters verslaan, sommige waar van die Babiloniërs nie eens geweet het nie.

 

Die strydvoorstelling neem dus ’n nuwe vorm aan. Dit word ’n groot troosboodskap: die Here kan en sal julle terugbring Jerusalem toe. Hy is magtiger as die gode van Babilon.

 

’n Nuwe skepping

Die tweede belangrike saak wat in Jesaja 40-55 voorkom, is die wyse waarop die profeet van die terugtog skryf. Ons sal sien hy gebruik skeppingsterme en skeppingsbeelde om te verduidelik hoe wonderlik die terugtog gaan wees wanneer die Here die volk terugneem Jerusalem toe. Die punt wat hy wil maak, is dat die terugtog uit Babilon soveel wonderliker as die oorspronklike uittog uit Egipte gaan wees, dat hulle eintlik hierdie uittog moet vergeet (43:16-21). Dit is in werklikheid ’n ongehoorde ding, want die uittog was hulle geboorte as volk van die Here, was die basis vir die verbond waarin hulle met die Here geleef het. Terloops, die “net” van die 1983-vertaling in 43:18 mis die punt heeltemal. NLV se vertaling is uitstekend.

 

Die vraag is nou waar die profeet groter en sterker beelde as juis die uittog gaan kry om die nuwe terugtog te beskryf. Hy gryp terug op die skepping. Jesaja 48:7 behoort vertaal te word: “Ek gaan dit nou skep” en dit sien op die terugtog wat op hande is. Later sê die Here Hy gaan die puinhope in Jerusalem soos Eden maak, die tuin van die Here (Jes 51:3). Ook dit is natuurlik ’n skeppingsbeeld uit Genesis 2.

 

Waarom gryp hy op skeppingsbeelde terug om die heerlikheid van die verlossing te beskryf? Omdat dit die sterkste beelde is waaroor Israel beskik het. Niks wat die Here gedoen het, was so wonderlik soos die skepping nie. Trouens in werklikheid gaan die profeet dan selfs nog verder. Wat die Here nou gaan doen, sal selfs groter wees as die skepping self! Die hemel en die aarde sal verdwyn wanneer die Here die verlossing vir Israel bring (51:6).

 

Hier in Jesaja 40-55 kry ons dus die eerste keer die boodskap dat die Here dinge kan doen wat selfs groter en wonderliker is as die skepping.

 

Jesaja 56-66 radikaliseer hierdie belofte. Hier word nou vir die eerste keer letterlik van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde en ’n nuwe Jerusalem geskryf. Waarom? En wat beteken dit? Hierdie hoofstukke word waarskynlik ’n paar dekades later geskryf toe ’n deel van die volk alreeds na Jerusalem teruggekeer het en die herbou van die tempel al begin het. Maar die terugkeer was nie so glorieryk nie, en die herbou van die tempel het onder uiters spanningsvolle omstandighede begin. Dit beteken dat die profeet wat hier aan die woord is, oortuig is dat die belofte van die heerlike terugtog nog nie vervul is nie. Hy radikaliseer dan hierdie belofte in die omvattendste uitsprake denkbaar van ’n totale nuwe werklikheid wat die Here sal skep (Jes 65:17 ev). Die woorde wat Hy gebruik, herinner sterk aan die begin van die eerste skeppingsverhaal, en sou dan verstaan kon word as ’n totale nuwe skepping.

 

Die probleem is egter dat die hele deel (65:17-25) eintlik net handel oor ’n nuwe Jerusalem. En die nuutheid en vreugde is net vir die plaaslike inwoners. Dit is net 17a en 25 wat algemene uitsprake is. ’n Mens kan dus nie hierdie radikale belofte te ernstig opneem nie. Dit kan eenvoudig ’n manier wees om te sê hoe belangrik Jerusalem is.

 

Wat wel belangrik is, is die feit dat ook hier skeppingsterme gebruik word om die verlossing te beskryf. Verlossing word herskepping wat dit ’n ingrypende saak maak.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König