Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (2)

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (2) – Adrio König

9.2 Die toegepaste betekenis in die Ou Testament

Met die toegepaste betekenis van die uittog word bedoel die geskiedenis soos later in die Ou Testament geïnterpreteer. Ons kry hierdie interpretasie veral in ’n aantal Psalms en sekere profete.

Wat dadelik opval, is die verskillende interpretasies wat van dieselfde geskiedenis gegee word. Natuurlik sal dit in hierdie interpretasies hoofsaaklik gaan om die rol van die Here en dié van die volk. En dit sal niemand verras nie dat waar die Here ter sprake is, dit oor sy verheerliking gaan. Wat ’n wonderlike rol het Hy nie gespeel as die groot inisiatiefnemer in hierdie geskiedenis nie!

 

Maar wanneer ons by die rol van Israel kom, is daar ’n opvallende ontwikkeling. Omtrent die helfte van die verwysings na hulle rol in die uittog, is negatief, veroordelend – soos ’n mens dit kon verwag. Maar die ander helfte is merkwaardig positief. Hoekom? Ons kom later by dié interessante vraag. Maar kom ons kyk eers na die lof aan die Here.

 

9.2.1 Lof aan die Here

Psalm 114

Dit is ’n kort, kragtige loflied op die mag van die Here. Dit val dadelik op dat daar glad nie spesifiek na Hom verwys word voor die einde van die Psalm, vers 7, nie. Maar dit sal blyk dat suggestie soms sterker kan spreek as direkte verwysing.

Vers 1, 2 verwys duidelik na die uittog. Die Egiptenaars word genoem “die volk met die onverstaanbare taal”. In hierdie tye is meestal vernederend gepraat van mense met ’n ander taal. Die Grieke het die mensdom in twee groepe ingedeel – soos die meeste ander volke ook gedoen het. Die Grieke het van ’n Griek en ’n barbaar (barbaros, meervoud: barbaroi) gepraat. Barbaros was skynbaar bedoel as “bar bar”, ’n spottende verwysing na die vreemde taal van die vreemdelinge wat dan “bar bar bar” sou praat.

Vers 3 verbind op ’n merkwaardige manier twee insidente: die deurtog deur die Rietsee en die tog deur die Jordaan, die begin en die einde van die uittog: Die see het dit gesien en op die vlug geslaan, die Jordaan het teruggedraai. Die voorstelling is dat die Rietsee en die Jordaan geskrik het. Maar die vraag hier is waarvoor die Rietsee en die Jordaan geskrik het. Die woordjie “dit” (“Die see het dit gesien”) staan nie in die Hebreeus nie. Maar dit word deur die vertalers hier ingevoeg omdat hulle aanvaar dat die see vir die Israeliete geskrik het wat voor die aanstormende Egiptenaars uitgevlug het. En dit is heeltemal ’n sinvolle afleiding. Maar ons sal later weer hierna kyk. Die sinnetjie oor die see is kort, kernagtig geformuleer, net die allernodigste woorde. Vir die nege Afrikaanse woorde is daar net drie in die Hebreeus: “Die-see gesien gevlug.” En dieselfde staccato-styl word in al vier die sinnetjies van vers 3 en 4 gehandhaaf: Vier sinnetjies elkeen met net drie woordjies, eintlik drie uitroepe:

  • Die-see gesien gevlug
  • Jordaan gedraai agtertoe
  • Die-berge rondgespring soos-lammers
  • Rante soos-kinders-van skape.

Om die effek te verhoog, word al vier sinnetjies dan in kamma-verbasing as vrae herhaal (5-6). Wat veroorsaak hierdie verskrikking en verwarring in die natuur? Ons sal nou-nou sien.

 

Wat verder belangrik is, is die feit dat die taal wat hier gebruik word (v 3-6), in die rigting wys van die stryd van die chaosmagte by die skepping waarvan die omringende volke se verhale vol was. Groot oermagte sou by die skepping teen mekaar geveg het. Dit is gewoonlik voorgestel as bloedige gevegte wat net ná swaar stryd na een of ander kant toe besleg is. Dit is dan hoe die wêreld tot stand gekom het – die skepping. Die taal en voorstellings van vers 3-6 kom uit hierdie agtergrond. “Die see” (Hebreeus: Jam) was ook die naam van een van hierdie chaosmagte.

 

Dit is hierdie agtergrond wat die digter die kans gee om die uittog in ’n baie dramatiese verband in te trek: Sommer al die berge en rante slaan saam op vlug. Daar is wêreldwye, kosmiese chaos. Waarom? Waarvoor het hulle geskrik? Dis die vraag waarmee ons begin het. Vers 3 het net gesê die see het “gesien en gevlug”. Die “dit” is deur die vertalers ingevoeg. Het hulle regtig net geskrik vir die volk Israel wat in aantog was? Dit het ’n redelike afleiding gelyk. Maar nou verander dit. Het die hele skepping (berge, rante) regtig vir hulle geskrik? Nee, skielik kom die ontknoping. Dit was glad nie vir Israel in aantog wat die see geskrik het nie. Net so kort en staccato-agtig kom dit:

  • Bewe, aarde, vir die aangesig van die Here
  • vir die aangesig van die God van Jakob.

Hulle het die Here gesien … en gevlug!

 

’n Mens moet mooi oplet hoe dit hier staan. Anders as die voorstellings van die groot gevegte tussen die chaosmagte, bewe die aarde as hulle Hom net sien. Die 1983-vertaling sê klaar te veel: “Bewe, aarde, as die Here verskyn.” Volgens die Hebreeus doen Hy glad niks, die aarde sien Hom net – en dis klaar genoeg. Dit beklemtoon sy heerlike grootheid en mag op ’n besondere manier. Waarom skrik alles as hulle Hom net sien? Oor sy groot wonders. En dan eindig die Psalm inderdaad weer met die uittog: Dit was God se wonders tydens die uittog wat sy groot mag bekend gemaak het (v 8).

 

Ons kry dieselfde verskynsel in Jesus se optrede teen die demone/bose magte. Hy kom om die heerskappy van God te herstel (die koninkryk te laat kom). Daarvoor moet Hy die bose magte oorwin wat die aarde as ’t ware van God gesteel het (Matt 12:28-29). Maar Hy doen dit nie in ’n verbete stryd nie. Hulle vrees en skree as hulle Hom net sien (Matt 8:28 ev).

 

Ons het dus in Psalm 114 ’n klassieke voorbeeld van een van die interpretasies wat later aan die uittogsverhaal gegee is: Sonder om selfs net sinvol na die rol van Israel te verwys, word die verhaal gebruik om die groot mag van die Here te beklemtoon, sy mag selfs ook oor die chaosmagte, ja, oor die hele aarde.

 

In die volgende artikel kyk ons na nog ‘n psalm wat die lof van dier Here uitjuig: Psalm 136.

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer:Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...