Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (2)
Alle Paaie lei na Jesus: Die wet en Hebreërs (2) – Adrio König
3.7.2 Die afskaffing van die hele tempelkultus
Maar in die hoofdeel van die Brief wat nou volg (hoofstuk 8-10), word alles net eenvoudig nog erger. In fyn besonderhede word die onvermoë van die wet uitgespel in terme van die tempel, die priesters en die offers. Dit bring mee ’n volkome negatiewe beoordeling van die totale struktuur van die hele tempeldiens, die diens wat die hart van die Ou-Testamentiese godsdiens was.
Die tempel In die Ou Testament was die tempel die plek waar die offers gebring en die versoening tussen God en mens plaasgevind het. Dit was ’n heilige plek met geweldig baie voorskrifte van wie waar mag ingaan en wie wat mag doen. Daar was geen plek heiliger as die tempel nie. Dit was selfs die woonplek van God. In die Allerheiligste deel van die tempel kon net die hoëpriester net een keer per jaar ingaan om versoening te doen vir die sonde.
In Hebreërs word nou herhaaldelik na die tempel verwys, maar elke keer in skokkend negatiewe terme. Dit was “maar net ’n kopie, ’n flou skadubeeld van die ware, hemelse heiligdom” (8:5, NLV). In die hemel dien Christus dus nou in “die verbondstent wat groter en volmaakter (as die tempel) is en nie deur mense gemaak is (soos die tempel) nie” (9:11). Die aardse tempel was net ’n afbeelding en ’n namaaksel van die ware tempel (9:23-24). Is dit vreemd dat sommige Christene uit die Jode gevoel het dis darem te erg, só kan hulle nie dink aan die heiligdom waarin God self volgens hulle oortuigings woon nie?
Die priesters en die offers Die priesters en die offers moet saam behandel word omdat die priesters eintlik net in verband met die offers ter sprake kom. Volgens die skrywer aan die Hebreërs was Christus ’n belangriker priester as die gewone priesters omdat Hy volgens ’n ander orde priester was, die orde van Melgisedek (Heb 7). En deur sy hele optrede en die onvergelyklike betekenis van sy
kruisoffer, het Hy ook bewys dat Hy baie belangriker was. En die skrywer noem nie minder nie as nege aspekte waarin Christus se offer dié van die Ou Testament oortref.
- Christus is vir ewig priester terwyl die gewone priesters mekaar moes opvolg (7:24)
- Die gewone priesters moes eers vir hulle eie sondes offer, maar Christus het nie sonde gehad nie (7:27; 9:7).
- Die priesters moes elke dag offers bring, terwyl Christus net een maal een offer gebring het wat alle sonde versoen het (7:27; 9:12, 25).
- Die priesters moes die bloed van diere offer, maar Christus het Homself geoffer (7:27; 9:12, 14). Hy was, terloops, die eerste priester, en Hy is steeds die enigste priester wat ooit Homself geoffer het, en Hy is die enigste gasheer wat ooit Homself as ete aanbied – in die nagmaal (Joh 6:53-56).
- Die offers van die Ou Testament kon nie werklik die sonde versoen nie (10:4, 11) – ’n skokkende verklaring! Dit is offers wat deur God ingestel is! Maar Christus se één offer het dit finaal vir alle tye gedoen.
- Hierdie offers kon net die uiterlike van die mens reinig, nie die innerlike en die gewete nie (9:10, 13, 14; 10:1-2). Hierteenoor het Christus ons gewete vrygemaak van die las van die sonde (9:14).
- Trouens juis die feit dat die offers herhaaldelik gebring moes word, het voortdurend aan die sonde herinner (10:3), terwyl daar geen offer meer nodig is vir die sonde nie omdat alle sonde deur Christus se een offer versoen en vergewe is (10:18).
- Christus het dan ook amptelik die ou offer-sisteem afgeskaf en ’n nuwe in sy plek ingestel (10:8-10).
- Maar omdat die wet hierdie ou offers voorgeskryf het, moes daar ook ’n nuwe wet kom (10:8-9).
’n Mens word so stadigaan gewoond aan die soort vergelyking wat hier getref word, en besef nie dat dit die allerradikaalste verwerping is van die totale priester-, offer- en versoening-sisteem wat onder die direkte gesag van God gestaan het nie. Radikaler kan dit nie. Die tempel was maar net ’n skadubeeld en selfs ’n namaaksel, die offers kon in elk geval nooit die sonde versoen nie, selfs die wet was slegs ’n skadubeeld, nie eens ’n werklike beeld nie, van die weldade wat sou kom (10:1), sodat beide die wet en die verbond vervang moes word!
Kan ’n mens nog wonder waarom daar gelowiges uit die Jode was wat diep geskok was om só te dink oor die hele versoeningsisteem van eeue en eeue? Besef ons watter radikale besluit dit vir hierdie mense was om ’n Christen te word, om Jesus as die Messias te erken? En om Christene te bly nadat hulle geleidelik begin besef het hoe radikaal die breuk met die Jodedom was?
Natuurlik is hier ook ’n ander kant van die saak. Ons moet onthou dit gaan nie oor die hele wet nie. Onthou “die wet” het verskillende betekenisse gehad. Dit kon die Tien Gebooie beteken, of die hele Pentateug, of selfs die hele Ou Testament, maar ook net aspekte soos in hierdie geval die tempelkultus (die tempel-, priester-, offersisteem). Dit gaan dus glad nie om die afskaffing van die hele Ou Testament of die hele Pentateug, of die Tien Gebooie nie.
En dan moet ons terugdink aan Jesus self. Hy het Homself in beginsel in die plek van die tempel gestel (Joh 2:19-21), al het Hy nog nie in die praktyk van die tempeldiens afstand gedoen nie. Dit beteken dat ons in die Hebreërbrief in beginsel net ’n konsekwente uitwerking van Jesus se eie radikale vernuwings-ingesteldheid het.
In die volgende artikel gaan ons na verskillende houdings teenoor die wet kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König