Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (1)
Alle Paaie lei na Jesus:Genesis 1 (1) – Adrio König
4.3 Genesis 1
Daar is baie mense wat by uitstek juis Genesis 1 sien as die “Bybelse leer” oor die skepping. Hieroor twee opmerkings.
Eerstens vergeet hulle soms dat daar ook baie ander dele oor die skepping in die Bybel is. Dink maar net aan Genesis 2, Job 38, Psalm 104, en dan het ons nog nie eens begin by die talle en talle korter verwysings nie.
Tweedens het baie van ons in elk geval selfs van Genesis 1 ’n oorvereenvoudigde siening. Mense som maklik in een kort sinnetjie op wat hulle oor die skepping glo: God het in ses dae alles wat bestaan, net deur die woord uit niks geskep. Soms voeg hulle ook nog by: omtrent 6 000 jaar gelede.
Kom ons toets hierdie kort belydenis eers aan Genesis 1, en daarna aan Genesis 2 en ander dele in die Bybel.
Die struktuur van Genesis 1
Wanneer ons later Genesis 1 en Genesis 2 vergelyk, sal ons sien dat Genesis 1 besonder netjies gestruktureer is teenoor Genesis 2 wat ’n vrye verhaal is. Daar is vier kort sinnetjies wat die vorm / struktuur van die hele Genesis 1 bepaal.
Genesis 1:3 – 5:
1 Toe het God gesê: Laat daar lig wees!
2 En daar was lig.
3 God het gesien die lig is goed.
4 Dit het aand geword, en dit het môre geword.
Dit was die eerste dag.
Genesis 6 – 8:
1 Toe het God gesê: Laat …
2 So het dit gebeur.
3 Dit het aand geword, en dit het môre geword.
Dit was die tweede dag.
Genesis 1: 9 – 10:
1 Toe het God gesê: Laat …
2 So het dit gebeur.
3 En God het gesien dit is goed.
Ons kry dieselfde vir verse 11 – 13, 14 – 19, 20 – 23, 24 – 25 en 26 – 31.
Opmerkings
Ons het hier ’n vorm/struktuur van vier kort reëltjies wat agt keer herhaal word. Elke keer word dit gebruik om een skeppingsdaad te beskryf. Daar was dus agt skeppingsdade. Maar daar was net ses skeppingsdae. Op die derde dag en op die sesde dag is elk twee skeppingsdade gedoen. Dit beteken dat reël vier twee keer weggelaat is, by die derde en by die sewende skeppingsdade.
Ons het dus hier ’n vaste, simmetriese struktuur, glad nie die soort vrye verhaal van Genesis 2 nie. Hier sit beplanning agter hierdie merkwaardige gedig. Maar hier is selfs meer as wat ons tot dusver gesien het. In werklikheid is die week van ses werksdae in twee gelyke helftes verdeel. In die eerste drie dae word vier dinge geskep, en net so in die volgende drie dae. Maar hierdie twee stelle van vier dinge hou direk verband met mekaar.
Tabel 2: Die twee helftes van die week
1e dag: lig; 4e dag son en maan
2e dag: gewelf wat skeiding maak tussen a water bo in die lug, b en water op die aarde; 5e dag
a voëls in lug daarbo b visse in water op die aarde
3e dag: a droë grond b plante; 6e dag a diere op die droë grond – met plante as voedsel b mense op die droë grond – met plante as voedsel
Die direkte verband tussen die twee helftes van die week is opvallend.
- Op die eerste dag van die eerste helfte van die week word die lig gemaak, en op die eerste dag van die tweede helfte (die vierde dag) word die son en die maan gemaak om die lig te beheer.
- Op die tweede dag van die eerste helfte word die water bo in die lug geskei van die water op die aarde, en op die tweede dag van die tweede helfte word die lug daarbo “bevolk” met voëls, en die water hieronder met visse.
- Op die laaste dag van die eerste helfte word die droë grond afgeskei van die water op die aarde, en die plante geskep, en op die laaste dag van die tweede helfte word die droë grond bevolk met diere en mense, en word die plante gegee as voedsel van diere en mense.
Die tweede helfte van die skeppingsweek is dus ’n direkte aansluiting by die eerste helfte, ’n soort aanvulling of voltooiing van die eerste helfte.
Nou het ons na die vorm of struktuur van Genesis 1 gekyk. Dit is baie netjies saamgestel en uitgewerk. Daar lê beplanning, skema en orde in.
In die volgende artikel gaan ons na die inhoud van Genesis 1 kyk.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König