Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 2
Alle Paaie lei na Jesus: Genesis 2 – Adrio König
4.5 Genesis 2 – ’n verbondsverhaal?
Die verhouding tussen Genesis 1 en Genesis 2
Ons het in Genesis 1 en Genesis 2 twee verskillende verhale oor die skepping. Eintlik is die eerste verhaal nie net Genesis 1 nie, maar Genesis 1:1-2:4a, en die tweede verhaal begin dan by Genesis 2:4b. ’n Mens merk dadelik dat dit ’n ander verhaal is. In Genesis 1 is van “God” gepraat, in Genesis 2 van “die Here God”. Verder begin die eerste verhaal met die skepping van “die hemel en aarde”, maar die tweede verhaal met die skepping van “die aarde en die hemel”.
Strukture: Die twee verhale het ook heeltemal verskillende strukture en oogmerke. Ons het gesien hoe netjies sistematies en simmetries Genesis 1 saamgestel is. Dis byna strak en styf. ’n Mens kan vooraf voorspel watter sinnetjies by die volgende skeppingsdaad gebruik sal word. Dis presies op die derde en weer op die sesde dae dat daar twee skeppingswerke beskryf word. En die dinge wat op die drie dae van die tweede helfte van die week geskep is, het direk verband met dié op die drie dae van die week.
Die tweede verhaal lyk heeltemal anders. Dis ’n vrye en spontane verhaal. Daar is geen besondere vaste struktuur in nie. Die verhaal kan soms lang ompaaie loop soos die uitbreiding oor die rivier wat buite die tuin in vier groot riviere verdeel, iets wat eintlik niks met die verhaal self te doen het nie (2:11-14).
Oogmerke: Terwyl ons wil kyk na die verskillende oogmerke van die twee verhale, moet ons egter eers onthou dat een saak dieselfde gebly het. God is in beide verhale die inisiatiefnemer. Soos in die eerste verhaal is Hy die Skepper en die Een wat alles besluit en bepaal en doen. Verder het Genesis 2 egter heeltemal ’n ander oogmerk. Genesis 1 gaan oor die hele skepping. Al die dinge wat bestaan, word gelys en sistematies en presies beskryf. Genesis 2 gaan spesifiek oor die mens. Natuurlik word die skepping van ’n hele paar ander dinge ook genoem, maar al dié besonderhede word net gegee omdat dit met die mens in verband staan. Die Here God plant die tuin vir die mens, die vrugtebome is vir die mens om te eet, die diere word geskep en na die mens gebring sodat hy moet name gee, en die vrou word gemaak omdat die mens nie alleen kan regkom nie.
Terwyl die mens dus in Genesis 1 die toppunt en hoogtepunt van die skepping is, staan die mens in Genesis 2 in die sentrum. Maar intussen beklemtoon beide verhale twee besondere verhoudings waarin die mens staan: met die diere, en met God. In Genesis 1 word die mens op dieselfde dag as die landdiere gemaak en kry ook plante as voedsel. In Genesis 2 word mens én dier uit grond gemaak en ’n “lewende wese” genoem (2:7, 19). Maar aan die ander kant word die mens ook duidelik van die diere onderskei en in ’n unieke verhouding met God geplaas. In die eerste verhaal word al die ander dinge sonder meer geskep, maar oor die mens se skepping neem God eers ’n besluit (1:26) voor Hy die mens skep (1:27). Verder skep Hy dan die mens as sy beeld, wat inderdaad ’n besondere verhouding is. Daarna kyk ons in die hoofstuk oor die mens.
Volgens die tweede verhaal skep God die mens wel net soos die dier uit grond, en word beide “lewende wese” genoem, maar ons lees net van die mens dat Hy “lewensasem in sy neus blaas”. Dit impliseer ’n verhouding wat Hy nie met die diere het nie. Verder word hierdie unieke verhouding God-mens dan beklemtoon deurdat God alles terwille van die mens doen: die tuin, die vrugtebome, die diere, die vrou. Sy besondere sorg vir die mens spreek duidelik.
Is Genesis 2 nie in wese ’n verbondsverhaal nie? God gaan bevelend-sorgend met die mens om en gee hom verantwoordelikhede (2:15-16). Die besondere Naam wat hier vir Hom gebruik word, wys in dieselfde rigting. “Die Here God” is meer as net “God”. “Die Here” is die vertaling van “Jahwe” (vroeër is van Jehova gepraat) wat eintlik Jagwe uitgespreek word. Dit is die Naam van God, maar heel spesifiek sy verbondsnaam. Dit is die Naam wat Hy later aan Moses openbaar (Eks 3:14).
Terloops, “God” is nie ’n naam nie, dit wil sê ’n eienaam soos Sarie of Jan nie. Dis ’n soortnaam soos “mens”. Tegnies beteken dit dat iemand wat “God” as stopwoord gebruik, nie die Naam van God oneerbiedig gebruik nie. Hy gebruik wel die woord “God” oneerbiedig. God se Naam is Jahwe wat ongelukkig in omtrent alle Westerse vertalings met “Here” (“Lord”) vertaal is.
Die NJB (New Jerusalem Bible) is ’n heerlike uitsondering wat sy Naam transkribeer (Yahweh), en sommige Afrika-vertalings ook. Sal ons ooit so ’n vertaling kry wat ons sal help om weer te besef God het ’n Naam. Here is ’n titel. Die NLV (Nuwe Lewende Vertaling) het dit tog darem weer soos die 1953-vertaling met vier hoofletters vertaal (HERE) om dit te onderskei van “Here” wat ’n vertaling is van die Hebreeus Adonai, wat baas of eienaar beteken.
Maar juis om hierdie rede veroorsaak die 1983-vertaling groot verwarring. Die 1953-vertaling het dikwels verwys na “die Here Here” (veral in die profete oa Jes 28:16; 30:15; 61:1) wat eintlik iets beteken soos: Jahwe wat my eienaar (besitter, Heer) is. Maar dis toe heeltemal verduister toe 1983 dit vertaal met “die Here my God”.
Maar in beginsel het hierdie Westerse vertaling Here meegebring dat ons die gevoel verloor het dat God ’n eienaam het. “Here” is ’n titel, nie ’n eienaam nie. Die aanhef van die Tien Gebooie moet eintlik lui: “Ek is jou God Jahwe.” En die derde gebod: “Jy mag die Naam van jou God, die naam Jahwe, nie misbruik nie.”
Arbeid ’n gevolg van die sonde?
’n Paar ander sake kom na vore in die tweede skeppingsverhaal. Daar is onder ons die gedagte dat arbeid/werk ’n deel van die straf op die sonde is. God sê immers ná die sonde van Adam en Eva vir Adam: “Met swaarkry sal jy uit die aarde ’n bestaan maak … Die aarde sal vir jou dorings en distels laat uitspruit” (Gen 3:17-19). Maar dit is nie die volle prentjie nie. Reeds in Genesis 2:15 lees ons: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon om dit te bewerk en op te pas.” Werk was dus van die begin deel van die mens se lewe.
Wat is dan die verskil? Die werk ná die sonde was vermoeiende werk, frustrerende werk (dorings en distels!), maar die werk vóór die sonde was vervullende werk. En dis vandag nog so. Dis nie die werk as sodanig wat ’n mens moeg maak nie, dis die sonde in die werk, die frustrasie, die spanning weens óórwerk, oneerlikheid, oormatige kompetisie, te min rus.
Daar is nog ’n interessante woord in Genesis 2:15. Ons lees: “Die Here God het die mens in die tuin laat woon.” NJB lees: “Yahweh God took the man and settled him in the garden of Eden to cultivate and take care of it.” Die Hebreeuse woord beteken eintlik “tot rus bring”. Die mens sou dus rus vind in sy werk. Hy was tuis in sy werk. En so ’n werk is ’n voorreg en ’n genot.
In die volgende artikel gaan ons van die Here se sorg vir die mens lees.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König