Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid

image_pdfimage_print

Alle Paaie lei na Jesus: Paulus: die wet en saligheid – Adrio König

3.5 Paulus: die wet en ons saligheid

Ons het nou na Jesus se houding teenoor die wet en die wet in Handelinge gekyk. Wat van Paulus?

Dit is veral in Romeine, 1 Korintiërs en Galasiërs waarin Paulus die wet bespreek. En die direkte aanleiding waarom hy dit doen, is dieselfde as in Handelinge: die Christen-Jode wat eis dat heiden-Christene die wet moet hou, en veral dat hulle besny moet word (Hand 15:1). Paulus neem sterk standpunt hiertéén in.

Dis nie net ’n kwessie daarvan dat dit onnodig is vir die gelowiges uit die heidene om die wet te hou en besny te word nie. Dis veel erger as dit. Dis óf die besnydenis óf Christus. Hy skryf: “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie. Ek sê dit weer nadruklik vir elkeen wat hom laat besny: Hy is verplig om die hele wet van Moses te onderhou. Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het julle band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (Gal 5:2-4).

 

Paulus gaan hier veel verder as wat ons in Handelinge gekry het. Dáár was dit net ’n keuse: nie die wet nie, maar Christus. Hier staan die wet radikaal en uitsluitend téénoor Christus. Dis geen onskuldige keuse nie! Op hierdie negatiewe waardering van die wet kom ons later terug. Maar ons moet eers kyk na ander aspekte van Paulus se siening.

 

Enersyds is Paulus positief oor die wet. Die wet (wat dikwels eenvoudig die hele Ou Testament beteken) het lank tevore al getuig van die vryspraak wat God sou gee, die vryspraak wat toe in Christus gekom het (Rom 3:21-22). Hy noem die wet heilig en reg en goed (Rom 7:12). Die wet gee ons kennis van sonde (Rom 3:20). Paulus skryf byvoorbeeld dat hy nie sou geweet het dis sonde om te begeer as die wet dit nie gesê het nie (Rom 7:7 ev). Maar wanneer Paulus die wet en die evangelie met mekaar in verband bring, word dit skielik ’n ander saak. Dan is hy regtig negatief oor die wet. “Die letter (die wet) maak dood, die Gees maak lewend” (2 Kor 3:6). Verderaan in hierdie hoofstuk skilder hy regtig ’n donker prentjie oor die betekenis van die wet teen oor die evangelie. Die wet  gaan verby, die wet veroordeel mense, die wet lei tot die dood (2 Kor 3:7-11). Elders lees ons die wet moedig ons aan om te sondig (Rom 7:8 ev), die wet het die sonde lewendig gemaak, want sonder die wet was die sonde dood (7:8). Die sonde kry dus sy krag uit die wet (1 Kor 15:56). Ons het hier sterk uitsprake oor die negatiewe krag en werking van die wet.

 

Paulus se negatiewe houding teenoor die wet kom egter ook van ’n ander kant af, van die kant van die swakheid van die wet. Dit was alreeds geïmpliseer in sy stelling dat die wet eintlik vir ons die lewe moes bring, maar toe uiteindelik die dood gebring het (Rom 7:10). Die wet doen dus iets anders as wat dit bedoel was om te doen. Die rede hiervoor lê egter nie in die wet self nie, maar eerder in ons. Die wet is deur ons sonde swak gemaak (Rom 8:3).

 

In Galasiërs (wat voor Romeine geskryf is) het hy dit nog ’n bietjie anders gesien. Toe was hy oortuig dat die wet glad nie gegee  was of bedoel was om ons die ware lewe te gee nie (3:18, 21). Die wet het net gesê wat reg en verkeerd is. Dit is dus nie net ’n geval dat die wet te swak was nie, dit was glad nie daarvoor bedoel nie.

 

Maar hierdie twee kante is maar net kop en stert van dieselfde muntstuk: Dis nie die wet van ons red nie, maar Christus.

 

Die wet en die kruis Trouens dis juis deur die wet wat ons onder die oordeel van God gekom het. “Die wet bring juis die straf (oordeel) van God” (Rom 4:15). En omdat ons op geen manier vir ons sonde kon vergoed en self aan die eise van die wet kon voldoen nie, het Christus in ons plek kom staan. Daarom is daar soveel nadruk in die Nuwe Testament op die feit dat Hy onder die wet was. “Hy is uit ’n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word” (Gal 4:4-5). Elders in dieselfde Brief: “Maar almal wat staatmaak op die onderhouding van die wet, val onder die vloek (van die wet) … Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring deur in ons plek ’n vervloekte te word” (Gal 3:10, 13). Immers Hy wat sonder sonde was, is in ons plek deur God as sondaar behandel, sodat ons deur ons verbondenheid aan Hom, deur God vrygespreek kan word (2 Kor 5:21).

 

Hierdie betekenis van die wet sou Paulus nooit uit die Ou Testament kon kry as hy nie in Jesus geglo het nie. Joodse teoloë wat Jesus nie as Messias aanvaar nie, kan dan ook glad nie met Paulus saamstem oor sy negatiewe wetsinterpretasie nie. Hulle is oortuig dat die wet gegee was om onderhou te word, wat vanselfsprekend beteken dat mense dit kan en moet onderhou. En hulle het sterk gronde hiervoor in die Ou Testament.

 

Maar omdat Jesus gekom het, lees Paulus die Ou Testament anders as hulle. “As ’n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterf het” (Gal 2:21). Dit is hierdie betekenis van die kruis van Jesus wat Paulus se uitleg van die wet bepaal en legitimeer. In die Brief aan die Hebreërs gaan ons dit nog duideliker sien.

 

As Paulus skryf Christus is die einde van die wet (Rom 10:4), is dit hierdie betekenis van die wet wat hy in gedagte het. Hy bedoel Christus is die einde van die wet as jy dink jy kan die wet onderhou om gered te word. Hy is egter oortuig dat dit nooit die doel van die wet was nie (Gal 3:18, 21). Die wet was gegee vir mense wat klaar die volk van God was, nie vir mense wat deur die wet te hou, nog eers deur God aanvaar moes word nie. Die wet was die riglyne waarvolgens God se kinders in gehoorsaamheid aan Hom moes leef, nie die manier waarop mense wat Hom nie ken nie, by Hom guns moes verwerf nie.

 

Sover die negatiewe betekenis van die wet by Paulus. Maar ons het aan die begin kortliks daarna verwys dat hy die wet ook in ’n positiewe lig kan sien. Paulus beklemtoon die feit dat die gelowiges deur die krag van die Gees die wet kan hou. “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, óns wat ons lewe nie deur die sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (Rom 8:4). Daarom is die tien gebooie ook die sleutel van sy vermanings aan die gemeentes. Een na die ander pas hy die gebooie op hul lewe toe. In Efesiërs 4:25-5:5 hou hy agtereenvolgens aan hulle voor die negende, agtste, derde, sesde, eerste en sewende gebooie. In Kolossense 3:5- 11 agtereenvolgens die sewende, eerste, sesde, derde en negende gebooie. En hy hou dit voor as gebooie wat hulle inderdaad in staat is om te hou. Maar hy skryf dié gedeeltes nádat hy oor die nuwe lewe gehandel het wat hulle deur Christus en die Gees ontvang het (Ef 4:17-24; Kol 3:1-4).

 

In die volgende artikel gaan ons na Paulus se verwerping van die wet kyk.

 

 

AllePaaieLeinaJesusMense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.

 

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

 

 

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...