Amos(2) – Francois Malan
2 Teen die Filistyne (Amos 1 verse 6-8)
1:6 Die inleidingsformule is dieselfde as in vers 3 teen Damaskus. Die rede vir die HERE se straf is egter anders as in die Arameërs se geval: Gasa aan die suid-weste van Israel en Juda, is die leier van die ander Filistynse stede: Asdod, Askelon en Ekron, aldrie noord van Gasa. Hulle afgod was die vrugbaarheidsgod Dagon (‘graan;’ vgl. 1 Sam. 5:1-6). Hulle het Saul se kop afgesny en die lyke van hom en sy drie seuns teen die muur van Bet-San vasgespyker (1 Sam 31:8-10). ‘So het die HERE gesê: ‘Oor drie opstande (pêsja’ rebellie) van Gasa en oor vier sal Ek dit (hulle straf) nie verander nie, want hulle het mense nie verskoon nie en reekse getalle ballinge in ’n omvattende ballingskap oorgegee aan die mag van Edom.’ (LXX: …hulle het Salomo se prisoniers gevang en hulle in Idumea gaan opsluit 2020: …omdat hulle ’n hele gemeenskap weggevoer het as ballinge om hulle aan Edom oor te lewer.) Die Filistyne het meer as een keer ’n gebied in Israel geteiken en al die inwoners van die gebied, met grysaards, vroue en kinders, weggevoer en as slawe in Edom gaan verkoop. Later jare het die Filistyne saam met die Fenisiërs van Tirus en Sidon ook mense van Juda in Griekeland gaan verkoop (Joël 3:6). Die Edomiete het die mense waarskynlik as slawe gebruik. Volgens Jesaja 9:11 het die Arameërs in die noord-ooste van Israel en die Filistyne in die suid-weste saam Israel verdruk – ‘met een hap verslind.’ Mense is behandel as dinge wat deur die belange van mense met mag misbruik is. Die blote onmenslikheid daarvan gee aanleiding tot die HERE se straf oor Gasa (oor die behandeling van slawe, vgl. Neh 5:8. Job 31:13-15; 1 Kor 12:13; Gal 3:28). Amos het begin om die menslikheid van mense raak te sien. In Eksodus 21:16 het die Here reeds bepaal dat menseroof met die dood gestraf moet word. Die skuld van die Filistyne was dat hulle van ’n mens wat na die beeld van God geskep is, verkoopsware gemaak het. Hulle het met die oogappel van die HERE handel gedryf. Hulle vervolging van Israel vir hulle eie verryking het gelei tot koue brutaliteit by hulle gejag na wins. Hebsug wis die mens se persoonlikheid uit, in diens van mag. Dit ontwortel, verkneg en onteer die persoon wat jy minag as ’n ding om mee wins te maak. Dit illustreer die onbarmhartigheid van die gevalle mens en hulle gevoelloosheid teenoor fisiese smart. 1:7 Die straf met ’n verterende vuur in Gasa is dieselfde as die HERE se straf oor Damaskus. Dit tref egter nie slegs die paleise van die koning en die rykes, en die grendels van die poort van die stad nie, maar dring ook in binne die verdedigingsmuur (begomah) om die stad Gasa. Daarmee saam word die hele stad verbrand as die HERE se straf omdat hulle al die inwoners van sommige stede in Israel as slawe aan Edom verkoop het.
1:8 Soos met Damaskus, as die leier van die hele Aramese bevolking, word by Gasa, wat naaste aan Egipte lê, die ander Filistynse stede bygevoeg: Asdod 35 km noord-oos van Gasa; Askelon halfpad tussen Gasa en Asdod. Ekron noordoos van Askelon. Gat, naaste aan Israel is nie genoem nie, want teen hierdie tyd het die stad onder Askelon geval. Vir almal word die dood voorspel. ‘Ek sal die inwoners (joshēb) van Asdod afsny én die een wat die septer in Askelon swaai, en Ek sal my hand teen Ekron draai en die oorblyfsel van die Filistyne sal vergaan’ sê my Here, die HERE. (LXX: Ek sal die inwoners uit Azotus heeltemal verdelg en ’n stam sal uit Askalon afgesny word. Ek sal my hand teen Akkaron oplig (styf maak), en die oorblyfsel van die Filistyne sal tot niet gaan’ sê die Here. 2020: Ek sal die een wat op die troon sit (joshēb), met geweld uit Asdod verwyder, die septerdraer uit Askelon; Ek sal my hand teen Ekron draai, en dié wat oorgebly het van die Filistyne, sal omkom. Dit het my Heer, die HERE gesê.) Hulle sal almal uitgeroei word. Ook die ander wat nog oor is (die ‘oorblyfsel’) van die Filistyne sal omkom. Die hand van die HERE wat teen hulle sal draai wys na die krag van die HERE wat hulle gaan oorweldig. Om in iemand se hand te wees is om in sy mag te wees. Hier word vir die eerste keer verwys na die kenmerkende oortuiging van Amos dat ellende of ’n ramp iemand tref as die HERE teen so iemand draai (vgl. 5:17b tussen julle deurgaan; 7:8b en 8:2b nie meer spaar nie; 9:4b my bedoeling met hulle, letterlik: Ek sal my oog op hulle sit). Dat die oorblyfsel ook nie gespaar sal word nie, is ook kenmerkend van Amos se profesieë (vgl. 4:2 ook van agter met haakdorings aangedryf word; 8:10 skeer al julle koppe, julle uiteinde sal vir julle ’n bitter dag wees; 9:1 Ek sal mense wat oorbly met die swaard doodmaak). Amper 30 jaar later sê Esegiël 25:16-17 dieselfde van die Filistyne. Die herhaling van die algemene vernietiging van die Filistyne deur die oordeel van God, is ook ’n voorspel tot die radikale vernietiging van Israel self wat Amos telkemale aankondig. Die Filistyne, wat die Here uit Kaftor laat trek het na hulle gebied suid van Israel (Amos 9:7), verdwyn uit die geskiedenis toe Nebukadnesar in die 6e eeu v.C. hulle gebied oorrompel en hulle stede verwoes het.
Skrywer: Prof Francois Malan