Amos(21) – Francois Malan
Amos 9 vers 9-10
9:9 Want kyk, Ek gee bevel, Ek skud onder al die nasies die huis van Israel, soos in ‘n sif rondgeskud word, en
nie ‘n klippie sal op die grond val nie.
Israel word opgeroep om goed te luister. Die HERE gee ’n bevel en Hy, wat alles nasies skud, skud die huis van Israel.
Die sprankie hoop waarmee vers 8b eindig dat die HERE die nageslag van Jakob nie heeltemal sal uitroei nie, moenie
’n valse hoop by Israel wek nie. Hoewel die HERE die tien stamme gaan uitroei deur die swaard, hulle in ballingskap
laat wegvoer en selfs daar met die swaard gaan bykom, bly Juda uit die nageslag van Jakob voorlopig nog oor, en ook
enkele Israeliete wat tog agterbly (2 Kron 30:1).
Die huis van Israel verwys hier na die tien stamme wat vernietig word, met uitsluiting van die stam van Juda. Die stam
van Simeon het in Juda opgegaan (Jos 19:1,9), en ’n deel van Benjamin is by Juda gevoeg. Benjamin se gebied lê tussen
dié van Juda en Josef, en Jerusalem val in die gebied van Benjamin (Jos 18:11,28). Onder die tien stamme tel Josef se
twee seuns: Efraim en Manasse as twee stamme.
Die beeld van die sif wat ’n boer gebruik om die klippies uit die koring uit te sif, sluit by vers 8a se voorspelling aan:
‘Ek gaan Israel van die aarde af wegvee.’ Terwyl die koring deur die sif val, bly die klippies in die sif agter. So sal die
HERE almal wat hulle rug op Hom gedraai het, in die sif opvang vir sy straf. In die HERE se sif word al die nasies
gesif. Vers 10 wys ook wie in die sif gaan agterbly, wat weggegooi gaan word om deur die HERE gestraf te word.
9:10 ‘Deur die swaard sal al die sondaars van my volk sterwe,
hulle wat sê: ‘Jy mag nie die onheil ons laat bereik en tot by ons laat kom nie.’
2020: hulle wat sê: ‘die onheil sal ons nie bereik en tot by ons kom nie.’
Die twee werkwoorde, ‘bereik’ en ‘kom’ word in die woordeboeke aktief en oorsaaklik aangebied. 2020 beskou dit as
aktief, dat Israel sê ‘die onheil, sal ons nie bereik nie…’ Met die werkwoorde wat die oorsaak aandui sê Israel vir Amos,
hy mag nie met sy boodskap die HERE se onheilsdag vir hulle nader bring nie. Hulle skuif daarmee die skuld op Amos.
Maar Amos se boodskap is dat húlle die dag van die HERE se oordeel nader bring met hulle sonde (6:3). Hulle verbied
hom ook om die onheil tot by hulle te bring, vlak voor hulle voete neer te sit. Daarmee versper hy hulle kans om te vlug
met sy uitsprake in 9:1-4, dat hulle nêrens die HERE kan ontvlug nie. So stapel hulle sonde op sonde. Hulle verwerp
daarmee die HERE se woord, sy oordeel oor hulle, dat al die sondaars van sy volk sal sterwe.
Hiermee eindig Amos se prediking van oordeel. Maar in verse 8,9 en 10 het hy die weg na heilsverkondiging geopen.
As die sondige koninkryk uitgewis is en die HERE sorg dat daar ’n oorblyfsel is (vers 8), as die siftingsproses
afgehandel is (vers 9) en die sondaars met die swaard afgemaai is (vers 10), breek ‘daardie dag’ van ’n beter toekoms
aan (vers 11).
Die herstel van Israel (Amos 9 vers 11-15)
Die slot van Amos bevat die positiewe heilsbelofte in twee Godsprake: 11-12 en 13-15. (Daar is baie vertaalprobleme
by dié laaste gedeelte).
9:11 ‘Op daardie dag sal Ek die vervalle hut (LXX tent) van Dawid oprig. Ek sal sy bresse toebou en die ruïnes
weer opbou om te wees soos in die dae van weleer,
9:12 sodat hulle besit kan neem (yiyeresjoe) van die oorblyfsel van Edom (’dm – ’ēdōm) en van al die nasies oor
wie my Naam uitgeroep is’ is die Godspraak van die HERE, wat dit doen.
LXX …dat die oorblyfsel van die mense (’dm -’ādām), en al die heidene oor wie my Naam genoem
word (my) ernstiglik sal soek (yideresjoe), sê die HERE wat al hierdie dinge doen.
Die beeld van die vervalle hut van Dawid word figuurlik gebruik vir die ryk van Dawid wat oor Juda en Israel regeer
het, en aan die verbrokkel was. Israel sal verstrooi wees in die land van die vyand. In 722 v.C. is Israel in die Assiriese
ryk verstrooi (2 Kon 17:6). In 612 v.C. kom die Assiriese ryk tot ’n val voor Babilonië. In 597 v.C. (2 Kon 24:14-16) en
587 v.C. (2 Kon 25:10-21) word Juda na Babel weggevoer. In 539 v.C. neem Kores die Pers die Babiloniese ryk oor. In
538 v.C. vaardig Kores die dekreet uit dat enigiemand wat aan die HERE se volk behoort na Jerusalem mag teruggaan
(2 Kron 36:22-23; Esra 1:1-4). Wat van Juda en Israel in die ballingskap oorgebly het gaan weer opgebou word en die
skeur tussen Juda en Israel herstel word. Serubbabel herbou die Jerusalemtempel in 520-515 v.C., Nehemia herbou die
mure van Jerusalem in 444-433 v.C.
Letterlik verwys die hut na ’n tydelike hut van takke langs die boord of wingerd waar gewerk word. Tydens die jaarlikse
huttefees ná die insameling van die vrugte-oes, is ook hutte opgerig ter herinnering aan Israel se woestynreis (Lev
23:43) Die HERE se belofte aan Dawid was egter dat Hy vir Dawid ’n koningshuis gaan vestig, ’n koningskap wat altyd
sal vasstaan en ‘n troon wat altyd sal voortbestaan tot in die verre toekoms (2 Sam 7:11,16,19). Amos voorsien ’n dag
waarop die grense van die nuwe Israel weer so sal wees soos in Dawid se tyd, toe hy ook Edom en die ander
omringende volke wat in Amos 1-2 genoem word, ingeneem het (2 Sam 8:13).
Die Godspraak van die HERE aan Amos oor die opbou van Dawid se gevalle heerskappy is ’n voorafskaduwee van
Christus se koningsheerskappy in die opbou van die koninkryk van God wat al die nasies insluit, en dat die Naam van
die HERE oor almal uitgeroep word (Matt 28:18-20). Jesus, afstammeling van Dawid, het met sy lewe, dood en
opstanding die koninkryk van God vir ewig kom oprig (Luk 6:20; 17:21; Joh 3:36; vgl. die visioen van Daniël 7:11).
Jakobus, die broer van Jesus en leier in die Jerusalemgemeente (Mark 6:3; Gal 2:9; Hand 21:18) haal dié twee tekste
van Amos aan as die skriftuurlike riglyn vir die opneem van die heidene in die kerk (Hand 15:16-18).
Skrywer: Prof Francois Malan