Amos(7) – Francois Malan

image_pdfimage_print

Amos 5 vers 16-20

5:16 ‘Daarom so sê die HERE, die God van die leërskare, my Heer: Op al die dorpspleine sal getreur word. In al die straatjies sal hulle sê: ‘Ag tog, ag tog! (Hō Hō – LXX en 2020: O wee! O,wee!) Hulle roep plaaswerkers om deel te neem aan die rouplegtigheid en rouklag, saam met die kenners van treursang.’ 5:17 In al die wingerde klink die treursang op, want Ek trek deur julle midde.’ Dit het die HERE gesê. Die Godspraak van die HERE deur Amos skilder Israel se stede en landelike gebied wat in diepe rou gedompel gaan word, met begrafnisse deur die hele land. Die lyksang begin met die volle Name van die HERE as die hoogste Regter teen wie se vonnis daar geen appèl is nie. So word die erns van die saak onderstreep. Dit eindig met die versekering dat dit van die HERE kom. Die Naam HERE is die Naam van die God wat met Israel sy genadeverbond van verlossing uit Egipte gemaak het, met die belofte van sy blywende teenwoordigheid om hulle te begelei en te lei as hulle aan Hom getrou bly (Eks 3:14-15; Ps 31:6; 16a; 20-21; 24). Hy is die God van die leërskare in die hemel en van al die leërs op aarde. Die Here wys dat Hy die enigste Regeerder is oor die ganse aarde en oor die lewe van elke mens. Net Hy is die God wat aanbid en gehoorsaam moet word. Die dorpspleine waar die mense bymekaarkom is by die poort van die stad, op die tempelterrein, of op die dorsvloer buite die stad. Daar sal getreur word wat gepaard gaan met slaan op die bors as teken van rou. Die luidrugtige en hartstogtelike geween sal ook in die nou straatjies tussen die huise opklink. ‘O wee’ of ‘Ag tog’ is ’n rou dierlike kreet van ongedissiplineerde gevoelsuiting. Dit strek ook van die nedersettings op die plase na die wingerde. Die boere roep hulle plaasarbeiders en wingerdarbeiders, wat van hulle grond berowe is, op om die rykes te kom begrawe in die grond wat die rykes begeer het. Die geskoolde lyksangers kan nie meer alleen hulle roeping vervul nie, want daar is net te veel mense wat sterf. Die rouklaers huil, maak ’n skeur in hulle klere, dra klere van sak , skeer hulle hare af, gooi stof op hulle koppe, vroue en mans (vroue: Jer 9:17-22; mans: Eseg 27:29-32). Die hele land word in rou gedompel. Die HERE se aktiewe teenwoordigheid, sy persoonlike ingryping, bring die dood oor Israel. Soos die HERE deur Egipte gegaan het en elke eersgeborene laat sterf het, so sal Hy deur Israel gaan in al die oop ruimtes, al die strate, al die paaie (Eks 12:12;29). Die HERE sal met Israel maak wat Hy met Israel se ou verdrukker 500 jaar tevore in Egipte gedoen het, maar nou net op groter skaal. Die HERE se koms beteken Israel se dood, maar dié wat na Hóm toe kom, lewe! (5:4,6; 5:14-15). Amos se vierde profesie teen Israel, wat in 5:1-3 met ’n lyksang begin het, sluit die deel af met ’n lyksang. Die jongmeisie Israel wat op die grond gegooi word (5:2), word deur die HERE verwerp en in die grond, in die graf, gegooi (5:16-17). 5:18 ‘Wee (hōi) hulle wat die dag van die HERE begeer! Wat hou die dag van die HERE vir julle in? Dit is duisternis en nie lig nie! Die mense wat vurig wens (ta’ewāh) dat die dag van die HERE kom, is soos die gulsige (ta’ewāh) vleiseters wat ’n onweerstaanbare lus (ta’ewah) vir vleis gekry het (Numeri 11:4-6,35 by Kibrot-Taäwa ta’ewāh ‘grafte van gulsigheid’). Vir Israel sal hulle begeerte na die dag van die HERE vervul word met grafte! Daarom begin die teks met ’n weeklaag, ’n lyksang oor Israel se valse verwagting en die HERE se antwoord daarop. Israel het gedink dat die dag van die HERE waarna hulle uitsien, ’n tydperk van vrede sou wees, sonder aanvalle van die vyand, amper soos in Amos se tyd toe Jerobeam II al Israel se vyande oorwin het en 41 jaar in Samaria regeer het oor die wye gebied waarmee hy Israel se grondgebied vergroot het. Hulle verwagting van lewe in die lig van God se goedgunstigheid, sal met duisternis begroet word en uitloop op dood en ballingskap (vers 27). 5:19 ‘Soos iemand wat vlug voor ’n leeu en ‘n beerwyfie val hom aan. As hy wel in die huis kom en met sy hand op die muur leun, dan pik ‘n slang hom.’ Amos skets hier ’n fyn prentjie van ’n boer in die veld wat van die doodsdreiging van ’n leeu teen ’n aanvallende beer vasloop, wat waarskynlik ’n bietjie erger as die leeu is. As hy wonderbaarlik ontsnap, sy huis (’n jagtershut?) bereik, die deur toeklap en verlig en uitasem teen die muur van die huis leun, maar onverwags gepik word deur ’n dodelike slang en so sterf (vgl. Num 21:6; Jer 8:17). Die man is ’n beeld van Israel wat telkemale uit groot oorlogsgevaar ontnap het en nou doodgerus in hulle eie land ’n tyd van voorspoed belewe na al die omliggende volke oorwin is (2 Kon 14:25,28). Maar oor die tien stamme het die HERE reeds die doodsvonnis uitgespreek. Hulle sien met groot verwagting uit na die lig, die goeie dag van die HERE, maar vir hulle wag die HERE se oordeelsdag, wat vir hulle duisternis, die dood en ballingskap beteken. 5:20 ‘Die dag van die HERE, is dit nie duisternis, en nie lig nie? donker met geen ligglans nie? Uit die beeldspraak van vers 19 maak Amos sy gevolgtrekking met ’n retoriese vraag wat nie ‘n antwoord verwag nie, maar waarsku hulle dat die dag van die HERE ’n dag van ellende vir hulle sal wees. Donkerheid en droefgeestigheid is kode-woorde vir verwoesting. Lig en helderheid/ligglans word gebruik in die tekste wat van verlossing uit die benoudheid en bedreiging van die vyand vertel (Ps 18:13:13,28-29; Hab 3:4). Duisternis word met onheil en lig met heil vereenselwig. Wat ’n dag van verlossing kon wees, wat die HERE aangebied het, maar wat Israel verwerp het, sal daarom vir hulle ’n dag van onheil wees (vgl. Sefanja 1:7). Amos se profesie probeer in die drie verse om met verskillende argumente die gehoor los te ruk uit hulle sorgeloosheid. Dit is ’n waarskuwing vir almal wat vertrou op hulle eie vermoë en versekerdheid. Die Johannesevangelie begin met die kontras tussen lig en duisternis (Joh 1:4-9 en Jesus se eie getuienis in Joh 8:12 is dat Hy die lig vir die wêreld is. Wie Hom volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig vir die lewe hê.

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...