Apologetiek: Apologetiek en die kultuur

What is reading but silent conversation?”  — Walter Savage Landor

Apologetiek: Apologetiek en die kultuur

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

 Apologetiek gebeur altyd in ‘n spesifieke kulturele konteks. ‘n Benadering wat in een konteks suksesvol was, kan totaal misluk in ‘n ander konteks.

Kom ons kyk na twee tydperke in die geskiedenis – die modernisme en die postmodernisme

Apologetiek en modernisme (1750 – 1960)

Modernisme glo in die menslike rede wat die vermoë het om tot die dieper strukture van die wêreld deur te dring. Rede is die sleutel wat die geheimenisse van die lewe ontsluit. Die rasionele verdediging van die Christelike geloof word belangrik. Die logiese en rasionele fondament van die Christelike geloof moes bewys kan word. Dit gaan oor die menslike brein en denke. In die proses word die verhoudings- en bestaansaspekte van die geloof vergeet.

Wat van die hart? Die hart het sy eie redes waarom hy glo en wat die rede nie verstaan nie. In die proses is alle aspekte van Christelike denke wat as onlogies gesien is, verwerp. ‘n Goeie voorbeeld hiervan was die leer van die Drie-eenheid. Die Christelike geloof moet tog redelik wees. Maar in die evangelie lees ons van idees wat die menslike verstand net nie kan verstaan nie – of op sy eie uitwerk nie. Die uiteinde was dat ons dikwels rasionalisasie in die Christelike geloof ingevoer het in plaas daarvan dat ons die Christelike geloof in ‘n rasionele kultuur ingevoer het.

Postmodernisme

Nou staan ons voor ‘n kultuurkonteks wat baie ingewikkelder is en meer variasies het as modernisme. Apologetiek wat ‘n klompie dekades goed gewerk het, werk nie meer nie. Postmodernisme het ontwikkel omdat mense begin glo het dat die modernisme nie werk nie. Die fokus val nou op sosiale sake en probleme  omdat ons naïef geglo het dat vooruitgang onvermydelik is – die mens se verstand ontwikkel en verseker so vooruitgang. Dit het nie so gewerk nie.

Hoe moet ons op hierdie kultuurskuif reageer? As ons na die geskiedenis van die kerk kyk, sien ons dat elke geslag geglo het dat hulle op ‘n kritiese punt in die geskiedenis staan. Augustinus skryf vroeg in die 5de eeu dat mense verlang na die goeie ou dae toe die Christelike geloof deur die Romeinse Ryk ondersteun en verdedig is. Dit is baie maklik om te glo dat dinge in die verlede beter was. Die verlede word baie maklik geïdealiseer en geromantiseer. Die kerk se taak is nie om nostalgies oor die verlede te wees nie, maar om die huidige uitdagings aan te pak. Die evangelie bly dieselfde; die vrae en uitdagings varieer van een kultuur na ‘n ander.

Die Christelike geloof het voldoende hulpbronne om hierdie uitdagings te hanteer. Wat wel waar is, is dat die kerk weer moet dink. Is ons prediking nog toepaslik? Is dit wat ons in die verlede as teologies noodsaaklik beskou het nie net noodsaaklik omdat dit kultureel aanvaarbaar was nie?

Hoe verduidelik, verdedig of kommunikeer ons die evangelie in hierdie nuwe kulturele situasie?  Ons moet met mense verbind daar waar hulle is – nie daar waar ons dink hulle moet wees nie. Die een ding wat ons nie kan doen nie, is om na die modernisme terug te keer. Postmodernisme is ‘n gegewe – dit het sterkpunte en kwesbaarhede. Natuurlik bied dit uitdagings, maar uitdagings wat die kerk kan hanteer – en selfs voordeel trek. Daarna kyk ons in die volgende blog.