Apologetiek: Toegangsroetes (2)

You must have been warned against letting the golden hours slip by. Yes, but some of them are golden only because we let them slip by. –James M. Barrie

Apologetiek: Toegangsroetes (2)

[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]

Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld

In die vorige blog het ons ‘n oorsig van toegangsroetes gegee en verduidelik wat dit is. Ons gaan nou na verskillende moontlikhede kyk. Hierdie is die algemene toegangsroetes en nie ‘n volledige lys nie.

 

Toegangsroete #1: Verduideliking

As jy die Christelike geloof wil aanbeveel of verdedig, is dit die beste om mense te vertel waaroor dit gaan. Baie mense het allerhande misverstande oor die Christelike geloof wat verhoed dat hulle glo. Daar is baie stereotipes oor die Christelike geloof wat eers afgebreek moet word. Verduidelik vir mense wat die Christelike geloof is in eenvoudige verstaanbare taal.

Toegangsroete #2: Argumentering

Ons moet ‘n intellektuele saak vir God kan uitmaak en alternatiewe moontlikhede kan kritiseer. Hierdie argumente sluit in:

  • Die argument van ontwerp – die wêreld se fyn instelling en kompleksiteit wys dat die heelal deur God ontwerp is.
  • Die argument van oorsprong – die besef dat die heelal ‘n oorsprong gehad het, wys dat iemand of iets dit moes veroorsaak het. Dit wys na God as Skepper van alle dinge.
  • Die argument van samehang – die vermoë van die Christelike geloof om te verduidelik wat ons in die wêreld om ons raaksien en ook ons eie ondervindings in hierdie wêreld te kan verduidelik.
  • Die argument van moraliteit – ons kan nie ‘n stabiele en betroubare fondament vir morele waardes gee sonder om voor te stel dat hulle op ‘n bosinnelike/transendente grond berus nie – soos ‘n regverdige God.

Hierdie argumente is nie bewyse nie. Wat hierdie argumente wel duidelik maak, is dat daar goeie redes is om in God te glo.. Geloof in God is geregverdig al kan dit nie absoluut bewys word nie. Bewysbaarheid en die waarheid is nie dieselfde ding nie.

Argumente kan ook gebruik word om alternatiewe tot die Christelike geloof te kritiseer – maak hulle sin van dinge. Gebruik hulle waarneming en ondervindings? Die apologeet moet die tekortkominge in ander benaderings kan uitwys. Maar dan moet ons moeite doen om ons hoorder se gebruik van taal te verstaan en om met hulle te argumenteer op so ‘n manier dat hulle dit kan verstaan.

Apologetiek in die verlede is dikwels ontwerp om mense te oortuig dat die Christelike geloof waar is. Die probleem is dat mense maklik die gevolgtrekking kan maak dat ons geloof uit vervelige feite en abstrakte idees bestaan. Daar is drie probleme met hierdie benadering.

  1. Dit is nie Bybels gegrond nie. Waarheid, veral in die Ou Testament, verwys primêr na betroubaarheid. God is ‘n vaste basis – ‘n veilige plek waarop ons ons geloof kan bou. God bestaan nie alleen nie – ons kan op Hom vertrou. Waarheid is dus ‘n verhoudingskonsep.
  2. Die appel van die Christelike geloof kan nie tot dievan dit wat geglo word, beperk word nie. Die geloof maak ook ‘n appel op ons verbeelding. Lewis sê die aantrekkingskrag van die evangelie vir hom was gebaseer op die persepsie dat dit betekenis aangebied het. Ander sê die appel van die Christelike geloof was die skoonheid van sy aanbidding, sy vermoë om menslike emosies te betrek en sy etiese uitkoms.
  3. Die rasionalistiese benadering is diep ingebed in ‘n modernistiese wêreldsiening. In die postmoderne tyd is argumente gebou op rede en argumente nie genoeg nie – dit verbind nie met huidige kulturele aspirasies en vooroordele nie. Die werklike groot vrae van die lewe gaan verder as wat die menslike rede kan demonstreer. Dit is vrae soos: Wie is ek? Hoekom is ek hier? Kan ek ‘n verskil maak? Nog die wetenskap nog die menslike rede kan sulke vrae antwoord. Maar as ons hierdie vrae nie antwoord nie, is die lewe sinloos. Ons moet kan wys dat die Christelike geloof die groot vrae van die lewe kan antwoord – die antwoorde moet redelik wees en in die praktyk werk.

Volgende keer gaan ons verder met ons bespreking van toegansroetes