Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof
In the face of suffering, one has no right to turn away, not to see. -Elie Wiesel
Apologetiek: Verstaan die die aard van geloof
[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]
Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld
Hoekom glo ons in God wanneer dit nie met absolute sekerheid bewys kan word nie? Die nuwe ateïste beweer dat geloof irrasioneel is – jy hardloop weg van die bewyse en weier om te dink. Kom ons kyk na die stelling: verkragting is verkeerd. Ons kan nie met rede of die wetenskap bewys dat hierdie stelling reg is nie. Dit maak nie dat ons hierdie stelling nie meer glo nie.
Geen gemeenskap kan oorleef sonder die konsep van geregtigheid nie. Ons kan egter nie bewys dat enige spesifieke siening van geregtigheid reg is nie.
Sir Isaiah Berlin, bekende filosoof, sê dat menslike oortuigings in drie kategorieë val:
- Dié wat met empiriese waarnemings bewys kan word
- Dié wat deur logiese afleiding gemaak kan word.
- Dié wat nie deur een van bogenoemde bewys kan word nie.
Hierdie derde kategorie bevat die waardes en idees wat die mens se kultuur vorm – dinge wat ons glo wat sin, rigting en doel aan die mens se lewe gee.
Die VN sê dat hulle in fundamentele menseregte glo. Hierdie stelling is baie belangrik, maar die stellings in Die Universele Verklaring van Menseregte kan nie bewys word nie – nie logies of wetenskaplik nie. Ons kan hulle nie bewys nie, maar vir hulle verdedigers is hulle redelik. Gevolgtrekking: Ons onderwerp ons aan die groot wêreldsienings van ons tyd sonder absolute bewyse.
Almal van ons glo dat sekere dinge waar is terwyl ons besef dat ons dit nie kan bewys nie. Kritici van geloof in godsdiens sê dat geloof ‘n vorm van geestesongesteldheid is wat tot godsdienstige mense beperk is. Dit is verkeerd: geloof is deel van menswees. Ateïste aanvaar nie dat menslike rede perke het nie. Hulle aanvaar egter dat hulle eie oortuigings betroubaar en verantwoordelik is. Maat die kernwaarhede van ateïste kan ook nie bewys word nie. Hulle kritiek van die Christelike geloof berus op sekere morele waardes (godsdiens is boos; God is nie goed nie; ens) wat nie bewys kan word nie.
Die Christelike idee van geloof is meer as om net te glo dat sekere dinge waar is. Dit is nie net om te glo dat God bestaan nie, maar ook om te ontdek dat hy wys, liefdevol en goed is – daarom wy ons ons toe aan Hom. You are not with an argument which demands your assent, but with a Person who demands your confidence (C. S. Lewis)
Ludwig Wittgenstein sê dat hy nog nooit van iemand gehoor het wat tot geloof in God as gevolg van ‘n argument gekom het nie. Rasionele argumente het ‘n plek in apologetiek, maar ek kan glo dat God bestaan sonder dat my lewe verander. Dit is nie bekering of ware geloof nie. Jakobus 2:19: Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die bose geeste glo dit ook – en hulle sidder van angs. Daar is ‘n wêreldse verskille tussen rasionele aanvaarding en persoonlike transformasie.
Bekering is die taak van evangelisasie – die apologetiek berei die weg vir bekering voor deur te wys dat dit sin maak om in God te glo. Ons mag dalk nie kan bewys – in die absolute rigiede sin van die woord – dat daar ‘n God is nie, maar ons kan wel daarop wys dat dit beslis redelik is om te glo dat God bestaan. Dit maak meer sin van die lewe, geskiedenis en ons ondervindings as enigiets anders. Dan kan ons iemand uitnooi om op hierdie liefdevolle Vader te reageer en op sy beloftes te vertrou.