Argeologie: Kultiese strukture (1)
Argeologie: Kultiese strukture (1) – Daan Pienaar
Nadat ons na algemene aspekte van argeologie gekyk het, gaan ons nou kyk na spesifieke kultiese strukture. In die Bybel lees ons veral van drie kultiese strukture: die altaar, die tempel en hoë plekke. Ons begin met die altaar en let veral op die materiaal wat gebruik is en die vorm van die altare
KULTIESE STRUKTURE (1)
Die mens het sedert hy in permanente nedersettings begin woon het, bepaalde kultiese strukture opgerig. Hy het hom afhanklik gevoel van ʼn Opperwese. Hy het na aan die natuur geleef en was vir die vrugbaarheid van sy kuddes en gewasse van God afhanklik. Die mens het toe “woonplek” na aan sy eie aan die godheid voorsien, want hy wou graag sy god naby hom hê in tye van gevaar en nood. Dikwels was die motief om die bepaalde godheid wat vereer is, te manipuleer met allerlei rituele. Baie van hierdie heiligdomme word in die Bybel vermeld en moderne argeologie het van die plekke blootgelê.
Daar is veral drie algemene terme wat in die Bybel gebruik word om dergelike plekke mee aan te dui:
- Die Tempel
- Die Hoë Plek
- Die Altaar
Altaar
Gewoonlik is ʼn altaar gebruik vir die bring van (slag)offers. Later is die altaar nie meer gebruik om diere op te slag nie. Diere alleen was ook nie langer daarop geoffer nie, maar ook graan, wyn en wierook. Nog later het die altaar meer funksies vervul soos byvoorbeeld getuienis (Josua 22:26-29) of asiel.
In die Midde-Ooste is daar oral oor verskillende altare gevind, selfs vanuit die vroegste tye. Klaarblyklik het die altaar ook ʼn belangrike funksie vervul vir nomades soos dit duidelik blyk uit die omswerwinge van die aartsvaders.
Die vorm van die altaar
Drie verskillende soorte materiaal is gebruik vir altare naamlik klip, grond en metaal.
In Eksodus 20:24 (vergelyk II Konings 5:17) word ʼn grondaltaar beveel. So iets is nog nie gevind nie en het sekerlik ook geen lang leeftyd dat ʼn mens reste daarvan sal kan verwag nie. Wat wel in die verband gevind is, is ʼn Kanaänitiese altaar van stene gebou, by Bet San in Israel.
Klipaltare verweer nie so maklik nie en ons het ʼn oorvloed van voor-Israelitiese altare tot ons beskikking. Die vorm daarvan wissel van onverwerkte klip, los klippe, effens uitgeholde oppervlaktes tot gekapte klip en volledig mensgemaakte strukture. Voorbeelde is gevind by Geser, Hasor, Megiddo, Naharyyja en Arad. By Arad is ʼn die altaar volgens die spesifikasies van Eksodus 20:1 gebou, naamlik drie el vierkant en 5 el hoog. Dis ʼn eenvoudige struktuur van grond en onverwerkte klip (Eksodus 20:22).
Die Bybel maak melding van natuurlike klip (Rigters 13:19-20; I Samuel 6:14; 14:33-35; I Konings 1:9). Alle ander Bybelse altare was van klip gebou.
Kanaänitiese hoë plek (altaar) wat by Megiddo gevind is.
Reukofferaltaar
By Megiddo is daar twee tempels gevind waarin daar reghoekige altare was. Een was van moddersteen gebou en die ander was met kalkgepleisterde stene gebou. Laatbrons tempels met dergelike altare is by Lakis, Bestaan en Hasor gevind. By Hasor is daar uit die Laatbrons ʼn groot verwerkte klipblok gevind met twee holtes daarin, moontlik was dit bedoel om die bloed van die offerdiere op te vang. By Megiddo en by Nahariya is daar groot klipplatforms gevind wat klaarblyklik gebruik was as offerplek. Dit het eintlik meer die funksie van ʼn hoëplek vervul eerder as ʼn altaar (vergelyk skets hierbo). [Die Laatbrons periode verwys na die periode waarin die uittog uit Egipte en die intog in Kanaän plaasgevind het.]
ʼn Aantal altare uit gekapte kalksteen met horings op die vier hoeke uit die tyd van die Intog is ook by Megiddo gevind (vergelyk die brandofferaltaar hierbo). Dit was maar relatief klein (70cm hoog) en was seker vir reukoffers gebruik. ʼn Groot aantal kleiner klei reukofferaltare is by Megiddo, Betsan en Lakis uit die Brons- en Ystertydperk lae gevind.
Die gebruik van altare was wyd verspreid en nie beperk tot Palestina nie. Opgrawings by Eridu, Ur, Khafajah en Assur in Mesopotamië het ook altare opgelewer.
By Sinai het God aan Moses die spesifikasies van die altare in die tabernakel bekend gemaak. Dit was die brandofferaltaar sowel as die reukofferaltaar.
Skets van die Tabernakel
In Eksodus 20:24-26 gee God aan Moses die opdrag dat hy ʼn altaar van óf grond óf ongekapte klip te bou.
Israelitiese altaar wat by Berseba gevind is. Die klip waarvan hierdie altaar gebou is, is in sekondêre gebruik in Berseba gevind. Dit was gebruik om ʼn hoek van ʼn stoorkamer mee te herstel, moontlik tydens die Assiries inval in 701 V.C. Hierdie altaar was gebruik vir brandoffers. Die hoogte is 1,57m tot by die punt van die horings.
In die Tempel van Salomo
Hoewel hy beïnvloed is deur die Fenisiërs het hy tog probeer om die basiese uitleg van die tabernakel te probeer navolg. Hoewel Dawid reeds ʼn brandofferaltaar gebou het (II Samuel 24:25), het Salomo sekerlik ʼn nuwe gebou (I Konings 8:22,54, 64 & 9:25). Altare uit hierdie tydperk word goed geïllustreer deur die vondste by Arad. In die binnehof van die tempel wat hier gevind is, was daar ʼn altaar wat van steen en rommel gebou was vir brandofferdoeleindes (vergelyk Eksodus 20:25). Dit was 5 vk. el (2,5 vk. m) soos in die tabernakel (Eksodus 17:1). By Arad is daar ook twee reukofferaltare gevind met holtes bo-op. Hulle is gevind aan die bopunt van die trap wat na die “heilige der heilige” gelei het.
Outeur: Prof Daan Pienaar