Argeologie: Vestingswerke(2)

image_pdfimage_print

Argeologie: Vestingswerke(2) – Daan Pienaar

Ons gaan voort om te kyk na die vestingwerke. In die vorige artikel het ons na Jerigo gekyk. Vandag kyk ons na Hasor en Megiddo 

HASOR (NAB-GASOR)

Afgesien van Jerigo is daar ook nog die stad Hasor wat deur Josua ingeneem is (Josua 11:10-13).  Tydens die Intog het hierdie stad uit twee elemente bestaan, ʼn bottelvormige boonste deel wat ongevee 7 hektaar groot is en die res wat aan die noorde kant van die tel lê van ongeveer 74 hektaar.  Dit is een van die grootste tells in Israel en opgrawings daar het aangetoon dat die stad bewoon is vanaf die Vroegbronstydperk (2850-2650 V.C.) tot die Hellenistiese tydperk (332-142 V.C.).  In die laer gedeelte van die stad is daar uitgebreide vestingwerke gevind.  Die oudste daarvan dateer uit die Middelbrons tydperk (ongeveer middel 18de eeu V.C.).  ʼn Grond stuwal het hierdie onderste gedeelte beskerm.

Daar is duidelike tekens van ʼn groot brand wat in die tweede helfte van die dertiende eeu V.C. die stad in puin gelê het.  Die laer stad is nie weer bewoon hierna nie, maar die boonste deel is wel.  Yadin bring hierdie brand in verband met Josua se inname van die stad (Josua 11:13).

Die Ystertydperk bewoning van die boonste stad word aan die Israeliete toegeskryf.  Vroeëre bewoningslae korreleer met die van die laer stad, maar kontinueer in die Ystertydperk.  Dit was veral tydens die regering van Salomo dat die stad mooi ontwikkel is.  Hy het die stad voorsien van ʼn groot sesvertrek stadspoort sowel as aangerensende verdedigingstorings en ʼn kasematmuur.  Op die westelike rand van die stad was daar ʼn soort fort gebou.

Duidelike getuienis van die bouwerk van die Omriede is ook blootgelê.  Die sogenaamde pilaregebou wat gebruik is as ʼn skuur vir die berging van voorrade (veral graan), ander stoorkamers wat in die kasematmuur was en ʼn groot fort is gebou.  ʼn Indrukwekkende watervoorsieningstelsel is ook binne die mure aangelê.  Dit getuig van die voorspoed wat hierdie stad in die Israelitiese tydperk beleef het.  Die stad lê op die oosgrens met Sirië en moes ʼn groot garnisoen kon huisves omdat daar veral in die tyd toe die Omriede regeer het voortdurend ʼn bedreiging uit daardie oord was.

Opgrawings lig die Israelitiese samelewing toe tot die vernietiging van die stad in 732 V.C. deur Tiglat-Pileser van Assirië (2 Konings 15:29).

ʼn Groot gebou wat uit die Assiriese besetting dateer is tot in die Persiese tydperk gebruik.  Reste van ʼn Hellenistiese vesting dui die einde van die Bybelse bewoningsfase van Hasor aan.

Jerigo en Hasor is die twee stade wat besonder prominent was tydens die Intog onder leiding van Josua. Ander stede wat hier ter sake is, is Dan (Lais), Jerusalem, Betsan, Megiddo, Gibea, Sigem en Geser.

 

v02

Die bottelvormige boonste deel van die tel by Hasor.

 

 

v03

 

Die pilaregebou by Hasor.

 

v04

Die voorste vesting by Hasor.

 

v05

Rekonstruksie van die ingang na die vesting by Hasor.

 

v06

Stadspoort van Megiddo.

 

v07

Grondplan van die stadspoort by Megiddo

 

v08

Plan van Megiddo.

 

v09

Grondplan van die Salomoniese stadspoort van Geser 

 

Outeur: Prof Daan Pienaar

 

image_pdfimage_print

You may also like...