Argeologiese tydperke
Argeologiese tydperke – Daan Pienaar
Ons begin met ‘n kort oorsig oor die verskillende argeologiese tydperke. Daarna kyk ons na wat argeologie is. Verskeie definisies word genoem. Elkeen beklemtoon ‘n besondere aspek van argeologie. Daarna word spesifiek na Bybelse argeologie gekyk. Dit is die wetenskap wat hom besig hou met die ontdekking en sistematiese studie van die materiële kultuurreste wat betrekking het op die Bybelse tye en lande.
Argeologiese tydperke
Dit is belangrik om die volgende in gedagte te hou:
1. Die metode om die verskillende tydperke ‘n NAAM te gee, is nie konsekwent nie. U sal opmerk dat die eerste groep tydperke normaalweg na die belangrikste voorwerpe genoem is, bv. die Steen-, die Koper-, Brons- en Ystertydperke. Daarna word dit vernoem na groot beskawings soos die Babiloniese, Persiese, Hellenistiese en Romeinse tydperke.
2. U sal nog ander benamings ook verneem soos die Herodiaanse tydperk. Dit val saam met die Romeinse Tydperk, maar is beperk tot Palestina.
3. Die Vroeëre tydperke word nie hanteer nie aangesien slegs dié wat direk op die Bybel betrekking het, hanteer sal word.
4. U moet in gedagte hou dat die datums slegs tentatief is. Vakkundiges stem nie altyd ooreen oor die presiese indeling daarvan nie. As u nou die eerste indeling hieronder in gedagte hou, beteken dit nie dat die Aartsvaders in 2 200 V.C opgetree het nie maar in die tydperk tussen 2200 en 1550 V.C geplaas kan word.
TYDPERKE WAT IN DIE PALESTYNS/BYBELSE ARGEOLOGIE
Palaeolities |
25 000 v.C. |
Mesolities |
10 000 v.C. |
Neolities |
7500 v.C. |
Chalkolities |
4000 v.C. |
Vroegbrons |
3 150 v.C. |
Middelbrons |
2 200 v.C. Aartsvaders |
Laatbrons |
1 550 v.C. Uittog en Intog |
Yster lA |
1 200 v.C. Rigters |
Yster lB |
1 150 v.C. Rigters & Eerste koning/s |
Yster llA |
1 000 v.C. Verenigde ryk) |
Yster llB |
900 v.C. (Israel en Juda) |
Yster llC |
700 v.C. (Juda; Israel in Ballingskap) |
Babilonies |
586 v.C. (Juda in Ballingskap) |
Persies |
539 v.C. (Ballingskap en terugkeer) |
Hellenisties l |
330 v.C. (Onder die Grieke) |
Hellenisties ll (Hasmonees/Makkabees) |
152 v.C. (Onder die Grieke) |
Romeins |
37 v.C-325 n.C. (Romeine) |
Wat is argeologie?
Vakkundiges het verskillende definisies gegee vir hierdie begrip. Elke definisie het ‘n betekenisvolle aspek daarvan na vore gebring:
- Dit is die studie van die mens se verlede deur middel van sy nagelate materiële reste.
- Dit is die studie van duursame puin.
- Dit is die studie en historiese interpretasie van al die materiële oorblyfsels wat verdwene beskawings in die grond agtergelaat het.
- Dit is die studie van dinge wat die mens gemaak en gedoen het sodat hulle hele lewenswyse verstaan kan word.
- Dit is die sistematiese herwinning en interpretasie van die oorgeblewe getuienis van menslike aktiwiteit.
- Kathleen Kenyon het dit egter soos volg beskryf: Dit is die metode om oor die verlede van die menslike geslag uit te vind in al sy materiële aspekte en die studie van die produkte van die verlede. Dit beteken dat alle menslike aktiwiteite, byvoorbeeld hoe hulle geleef het, die wyse waarop hulle aanbid het, hoe hulle gebou het, hulle kuns, hulle handel, hulle reise, alle voorwerpe wat hulle gemaak en gebruik het, hulle woonplekke en verdedigingswerke, hulle gereedskap en wapens, die oorblyfsels van hulle kos, hulle beendere en grafte is ter sprake, want hieruit word afgelei hoe die antieke mens geleef het.
Sedert die middel sestiger jare het al hoe meer stemme opgegaan om die term Bybelse Argeologie te vervang met ‘n ander term. Dit is veral W.G. Dever wat hom daarvoor beywer het dat Bybelse Argeologie as akademiese dissipline sy bestaansreg ontneem moet word. Hy sien dit nie eens as ‘n vertakking van Argeologie nie maar as ‘n interdissiplinêre studie of dialoog tussen spesialiste in Nabye-Oosterse Argeologie en Bybelse historici. Hy verkies die term Siro-Palestynse Argeologie en wil dit tot ‘n selfstandige vertakking van Argeologie uitbou.
In sy kritiek het F.M. Cross dit duidelik gestel dat eksponente van hierdie beweging die term Bybelse Argeologie wil skrap omdat dit hulle ten onregte herinner aan Teologie, Fundamentalisme, Amateurisme en dergelike sogenaamde euwels.
Die term Bybelse Argeologie kan goedskiks behou word. As rede hiervoor kan die standpunt van W.F. Albright hier genoem word:
“Bybels” is die kwalifiserende begrip vir ‘n sistematiese analise of sintese van enige fase van Bybelse geleerdheid wat verhelder kan word deur argeologiese ontdekking.
Bybelse Argeologie kan dan soos volg omskryf word:
Dit is die wetenskap wat hom besig hou met die ontdekking en sistematiese studie van die materiële kultuurreste wat betrekking het op die Bybelse tye en lande.
Volgende keer gaan ons kyk na die taak van Bybelse argeologie.
Outeur: Prof Daan Pienaar