Psalm 26 (3)

 

Doctrines are maps and models, not mathematical formulas – Anthony Lane

 

Psalm 26 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:6 – 8

Ons skuif nou van morele na Godsdienstige toewyding. Die psalmis verwerp die verkeerde waarvan ons in vers 3 – 5 gelees het, maar bring dit nou in die konteks van aanbidding. Dit is duidelik dat ons van die alledaagse wêreld met sy morele uitdagings na die godsdienstige wêreld met sy altaar, verkondiging en die Here se teenwoordigheid beweeg het. Die alledaagse wêreld word negatief gesien en die godsdienstige wêreld positief.

 

6Ek was my hande om my onskuld te toon, sodat ek rondom u altaar kan loop, Here

Om jou hande te was, is ‘n teken van onskuld. Vir priesters is die was van hande en voete ‘n reinigingsritueel ter voorbereiding van hulle rol in aanbidding. Gewone mense het hulle hande gewas ter voorbereiding om die heiligdom te nader. Om jou onskuld te behou, is jy in die posisie om saam met die gemeente na die altaar van die Here te gaan. Daar kan jy die offer bring en daarmee saam lof, gebed en danksegging.

 

7om ‘n loflied te laat opklink en te vertel van al u wonderdade.

Een van die geleenthede om offers te bring en te aanbid, is wanneer die psalmis getuig van wat die Here in antwoord op sy gebede gedoen het. Jy kan nie hieroor stilbly nie. Wanneer die Here optree, moet die begunstigde God verheerlik deur die storie voor die mense te vertel. Dit gaan dan ook met ‘n dankoffer gepaard. Die Here se wonderdade sluit die skepping van die heelal en die verlossing van Israel uit Egipte in.

 

8Here, ek het die huis waar U woon, lief, die woonplek van u glorieryke teenwoordigheid.

Woonplek verwys na die tabernakel, maar ook na die tempel. Dit is die plek waar die Here se eer/heerlikheid woon.

 

In die volgende blog sal ons sien dat die psalmis weer na ‘n pleidooi terugkeer

 




Die Skepping en Sondeval

 

“It’s not that I’m so smart, it’s just that I stay with problems longer.” – Einstein

 

Die Skepping en Sondeval

Genesis i – 3 bevat die eerste twee tonele van die storie van die Bybel – die skepping en sondeval. Die tafel is nou gedek vir die res van die storie. Hierdie eerste twee tonele is aan ons goed bekend, maar ons moet seker maak dat ons sekere belangrike dinge raaksien.

  1. Die belangrikste probleem in hierdie eerste drie hoofstukke is die vervreemding van die mens van God. Daar is geweldige gevolge hiervan: die mens se verhouding met God, sy medemens en die natuur is verbreek. Al hierdie tragedies – die vervreemding van die mens van sy medemens en die wêreld – is simptome van ‘n onderliggende probleem: die vervreemding van die mens van God. Dit was Adam se besluit om teen God in opstand te kom wat die res veroorsaak het. Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom … is die aarde deur jou toedoen vervloek (Genesis 3:17)
  2. Die hoop op verlossing is nie vir Adam om te werk om die wêreld tot sy goeie toestand te laat terugkeer nie. Die antwoord is dat God deur ‘n Middelaar verlossing sal bring. Die eerste goeie nuus kry ons reeds in Genesis 3:15. Daar belowe God vir Satan dat die vrou se nageslag sy kop sal vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt. Hierdie is ‘n beskrywing van Jesus Christus se oorwinning oor die Satan. Aan die kruis vermorsel Christus Satan se kop. Adam se eerste opdrag was om die tuin te bewaar en te bewerk, maar daarin misluk hy. Die taak om die wêreld te herstel en die ramp op te los, is dié van die vrou se nageslag – Jesus Christus.
  3. Die temas van vervreemding van God en verlossing deur ‘n Middelaar staan sentraal in die storielyn van die Bybel. Die hele Bybel is die storie van hoe ‘n genadige God, wat ook regverdig is, optree om sondige mense in sy teenwoordigheid en guns terug te bring.

 

 




Die Missie van die Kerk (4)

 

Peace in the gospel is not just a ceasefire, but the ability to look at people who were formerly foes and call them family. John Onwuchekwa

 

Die Missie van die Kerk (4)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Die eerste dissipels en die Groot Opdrag

As ons kyk na al die verskillende variasies van die Groot Opdrag is dit opmerklik dat daar baie ooreenkomste is. Saam skilder hulle ‘n aanvullende en omvattende prentjie van die missie van die eerste dissipels. Ons kan dit saamvat deur sewe vrae te antwoord.

  1. Wie? Jesus gee sy opdrag mondeling aan die eerste dissipels. Maar dit mag nie met hulle dood eindig nie. As Heer van die kerk verwag Hy dat sy volgelinge hierdie missie tot aan die einde van die tyd sal uitvoer. Hulle missie is ons missie.
  2. Hoekom? Die gesag van ons missie kom van Jesus Christus. Dit is ingewortel in die woord van God. Die basis is die Vader wat sy Seun gestuur het. Ons is gestuur, want Christus is gestuur. Ons gaan onder sy Naam met sy gesag.
  3. Wat? Die missie bestaan uit prediking en onderrig. Aankondiging en getuig, dissipels maak. Die missie fokus op die evangelie – die aankondiging van Christus se dood en opstanding en die lewe wat ons in Hom kry as ons ons bekeer en glo.
  4. Waar? In die wêreld. Ons strategie is nie “kom en sien” nie, maar “gaan en vertel.” Die boodskap is vir alle mense.
  5. Hoe? Ons gaan uit in die krag van die Heilige Gees en ons onderwerp ons aan Jesus Christus net soos Hy aan sy Vader gehoorsaam was – en van Hom afhanklik was.
  6. Wanneer? Die missie begin by pinksterdag toe die dissipels met die Heilige Gees geklee word. Die boodskap duur so lank as wat die belofte van Christus se teenwoordigheid voortduur – tot die einde van die tyd.
  7. Aan wie? Die kerk moet dissipels van die nasies maak Die kerk moet die goeie nuus tot aan die eindes van die wêreld verkondig.

 

Die missie van die kerk is ‘n spesifieke stel dinge waarvoor Jesus die kerk in die wêreld uitgestuur het om te doen. Dit beteken nie dat ander opdragte wat Jesus gegee het nie belangrik is nie. Maar. Om dissipels te maak, is ons primêre taak.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na waarom die missie belangrik is.

 

 




Die Missie van die Kerk (3)

 

If there is no God, all things are permissible (Fyodor Dostoyevsky).

 

Die Missie van die Kerk (3)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Wat is die Groot Opdrag

Matteus 28:16 – 20 is die bekendste van almal:

Die elf dissipels het na Galilea gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan.  Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

 

Ons sien dat Jesus sy dissipels beveel het om na die berg te gaan. Berge is plekke waar belangrike onderrig en openbarings gegee is: die bergrede, die Berg van verheerliking, Sinai. Jesus bring sy dissipels vir oulaas bymekaar vir iets betekenisvol.

 

Eers verseker Hy hulle van die goeie nuus: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Die missie wat Hy aan hulle gaan gee, berus uitsluitlik op sy gesag. God stuur nie sy kerk uit om te oorwin nie; Hy stuur ons uit in die Naam van Hom wat reeds oorwin het. Ons gaan, want Hy heers.

 

Dit word gevolg deur een opdrag met drie ondersteunende opdragte. Die groot opdrag is: Maak die mense my dissipels. Waar? Wie? Die nasies. Jesus sien aanbidders en volgelinge onder elke kultuur en taal. Die ander drie opdragte werk uit wat hierdie proses van dissipels maak behels. Ons gaan; ons doop; ons leer. Gaan beteken dat ons gestuur is. Doop beteken bekering en vergifnis en insluiting as deel van God se familie. Leer wys dat Jesus meer as net die aanvanklike evangelisasie verwag. Hy wil gehoorsame, volwasse dissipels hê – nie net besluite nie.

 

Hierdie taak word moontlik gemaak deur Jesus se versekering aan sy dissipels: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” So ‘n waarborg sou nodig gewees het vir die dissipels om hierdie opdrag uit te voer. Maar hierdie belofte strek tot aan die voleinding van die wêreld.

 

Ons kry die opdrag ook in Markus 13:10 en 14:9 sowel as in Lukas 24:44 – 49. In Handelinge 1:8 lees ons: Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot die uithoeke van die wêreld. Hierdie is die opdrag oor wat om te doen totdat Jesus weer kom. Dit is wat in Handelinge beskryf word – gelowiges wat dwarsdeur die wêreld getuig.

 

In die volgende blog gaan ons na die eerste dissipels en die Groot Opdrag kyk.