Die funksie van die wet

 

Not all “God-sized” visions are from God. Many are from a god-sized ego, and have no claims on God’s provision. —J.R. Vassar 

 

Die funksie van die wet

Martin Luther het gesê dat die basiese funksie van die wet is om ons na Christus te lei. Calvyn sê dat die wet basies drie funksies het,

  • Die wet openbaar die karakter van God. Ons moet eerstens verstaan wie se wet dit is. Die wet is nie ‘n lys van abstrakte pligte nie. Die wet openbaar die wetgewer. Die wet vloei voort uit God se wese. As Skepper het Hy die volste reg om sekere verpligtings op ons te plaas. Die wet openbaar God se heiligheid. Terselfdertyd openbaar dit ons eie onheiligheid. Die wet is ‘n spieël. Ons foute word deur hierdie spieël blootgelê. Die wet van God is ‘n spieël wat nooit jok nie. Dit dryf my na my knieë.
  • Die wet dien as beperking van ons sonde. Ons leef in ‘n wettelose samelewing. Ons oortree die spoedbeperkings op ons paaie as voorbeeld. Dink net wat sou gebeur het as daar nie wette was nie. Die wet, al haat ons dit, plaas ‘n beperking op ons. Sou hierdie beperkings verwyder word, sal ons nog meer sondig.
  • Al is ons vry van die las van die wet, openbaar dit steeds aan ons wat God tevrede stel. Die wet dien as gids vir ons.

 

Ons staan nie meer onder die vloek van die wet nie, maar die skoonheid van die wet is steeds vir ons beskikbaar.

 




Heiligmaking

 

A life of humility is not an option for a believer to choose or reject. It is a command of God. —Jerry Bridges 

 

Heiligmaking

Wat sal ons dan sê? (Romeine 6:1). Paulus het pas al die voordele wat voortspruit uit ons vryspraak deur geloof beskryf – die vrugte as gevolg van die evangelie. En dan: Wat nou? Hoe moet ons hierop reageer? Wat kan ons sê van die triomf van genade oor die sonde en die dood? Kan ek maar voortgaan en aanhou sondig? Beslis nie! Ons moet nie eers daaraan dink nie.. God het nooit bedoel dat vryspraak deur geloof ‘n lisensie is om te sondig nie.

Natuurlik kan geen goeie werke my vryspraak verkry nie, maar ek word vrygespreek om goeie werke te doen. Die vrugte van ware geloof en vryspraak is dat ons meer na die beeld van Christus verander word. As ons ware geloof het, is goeie werke op een of ander stadium onvermydelik. ‘n Persoon wat vrygespreek is, is ‘n veranderde persoon. Ons kan nie geloof hê as die Heilige Gees ons nie verander het nie. Ons kan nie die Heilige Gees hê wat die gesindheid van ons harte verander, sonder dat ons lewens verander nie. Ons kan nie vir Christus as ons Verlosser ontvang sonder om op ons knieë voor Hom te staan en te erken dat Hy Here is nie. Dit beteken nie ons is volmaak nie, maar ons is anders.

Met ons vryspraak verander ons lewens en begin die proses van heiligmaking. As ons ons geloof bely het en ons lewens verander nie, moet ons vra of daardie belydenis opreg was. Natuurlik gaan die stryd teen die sonde in ons hele lewe aan. Vryspraak is onmiddellik; heiligmaking is ‘n proses wat met ons vryspraak begin. Hierdie proses word voltooi met ons verheerliking in die hemel. Dit is die Heilige Gees wat hierdie proses van heiligmaking bemagtig.

 

 

 




Die heerskappy van sonde en die heerskappy van genade

 

The Christian story provides us with a set of lenses, not something for us to look at, but for us to look through –  Lesslie Newbigin

 

Die heerskappy van sonde en die heerskappy van genade

Sodat, soos die sonde deur die dood geheers het, so ook die genade sou heers deur geregtigheid tot die ewige lewe deur Jesus Christus ons Here (Romeine 5:21).

Vroeër in die brief het Paulus reeds vir ons gesê dat die dood een van die gevolge van sonde is. Paulus praat nie hier van die blote teenwoordigheid van sonde nie, maar van die heerskappy van sonde. Dit is dus sonde wat sy mag en gesag uitoefen.

 

Paulus hou daarvan om die lyding en pyn wat ons ondervind met die heerlikheid wat vir ons wag as ons uit hierdie wêreld gaan, te vergelyk. Ons bestemming is nie om burgers van hierdie gebied van sonde en onder die mag van die dood te word nie. Die mag van hierdie vyand is gebreek en deur God se genade het Hy meer om aan ons te bied – vryspraak. Dit lei tot die ewige lewe deur ons Here Jesus Christus.

 

Ons kan hierdie leer van geregtigheid/vryspraak deur geloof alleen nie onderhandel nie. In hierdie leer word die heerlikheid en genade van God geopenbaar. Terwyl ons nog sondaars was het Jesus Christus die vloek van die dood op Hom geneem en die graf oorwin deur sy geregtigheid. Hierdie geregtigheid word nou aan ons toegereken as ons Hom vertrou.

 

 




Psalm 25 (3)

 

Psychoanalysis is confession without absolution – G.K.Chesterton

 

Psalm 25 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

25:12 – 14:

12As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies,

Hier lees ons weer van as iemand die Here dien. Ons ‘n beskrywing van waarheen hierdie dien van die Here lei: die Here leer hom watter pad hy moet kies. Ons kom tot die gevolgtrekking dat om die Here te dien die eerste beginsel van wysheid is. Mense moet hulle pad kies, maar die Here lei hulle om die regte pad te kies. Is my keuse versoenbaar met my toewyding aan die Here?

 

13sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon.

Die keuse is die pad van die lewe of die pad van die dood. Kies ek die regte pad sal ek dit wat goed is geniet. Die voorspoed waarna die psalmis hier verwys, is om die land te behou. Geniet mag bloot tydelik wees, maar bewoon is meer permanent.

 

14Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue en maak sy verbond aan hulle bekend.

Hierdie stem ooreen met vers 12. Om die Here te dien, beteken dat sy raad met ons is. Menslik gesproke, sonder die Here se vertroue loop dinge skeef. Met raadgewers mag dinge beter verloop. Hoeveel te meer nie as die Here my raadgewer is nie. Wat is die resultaat van God se raad? Hy maak sy verbond aan hulle bekend. Die Here se raad en verbond is met diegene wat Hom dien en Hom erken.

 

25:15 – 19

15My oë bly altyd op die Here, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet bevry.

My oë bly altyd op die Here beteken om na die Here vir hulp en voorsiening te kyk. Ons sien die Here se kenmerkende wese – Hy bevry ons.

 

16Keer U na my en wees my genadig, want ek is eensaam en magteloos.

Hier is dit die Here se oë wat op die psalmis gerig is om te help en te voorsien. Die psalmis pleit dat die Here nie sal wegkyk en hom nie sien nie. Deur ons oë op die Here te rig, probeer ons sy oog vang. Die psalmis vra dit, nie omdat hy dit verdien nie, maar omdat die Here genadig is. Want gee vir ons die rede waarom die Here moet optree. Dit lyk asof die psalmis deur aanvallers omring is en die ander getroues ver weg is. Die psalmis is nie sterk nie, maar magteloos.

 

17Die benoudheid van my hart is oorweldigend; lei my uit my kwellinge.

Benoudheid is dikwels as gevolg van uitwendige probleme. Benoudheid van my hart verwys eerder na innerlike angs. Kwellinge en benoudheid hou verband met mekaar.

 

18Sien tog my ellende en my swaarkry raak en vergewe al my sonde.

Die psalmis vra die Here om na sy ellende en swaarkry te kyk. Dan verwys hy na sy behoefte aan vergifnis. Die implikasie is dat  swakheid, ellende en sonde almal deel van die mens se ondervindings is. Die psalmis vra dat God dit moet hanteer deur dit te dra. Hy moet ons aanvaar soos ons is.

 

19Kyk na my vyande, hoe baie hulle geword het en hoe fel hulle my haat.

Die Psalmis wil ook hê dat die Here na sy vyande moet kyk. Hulle is baie terwyl die psalmis eensaam is (vers 16). Hulle haat die psalmis.

 

25:20 – 22:

20Beskerm tog my lewe en red my; laat my nie in die skande kom nie, want ek skuil by U.

Hier gaan dit oor die werklikheid van beskerming. Ons sien dit in die pleidooi dat die Here moet beskerm en red. Die skuil by u is dieselfde as vertrou op die Here (vers 2 – 3).

 

21Mag onskuld en opregtheid my veilig hou, want ek wag op U

Onskuld en opregtheid  is natuurlik kenmerke van die Here. Hierdie verwys na die psalmis se onskuld en opregtheid alhoewel dit ook na die Here se integriteit mag verwys.

 

22O God, verlos Israel uit al sy benoudheid.

Reeds in vers 17 het ons van benoudheid gelees. Hier word God gevra om Israel te verlos.