Psalm 25(2)

 

When men stop believing in God, they don’t believe in nothing; they believe in anything – G.K.Chesterton

 

Psalm 25(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

25:4 – 7:

Hierdie gedeelte sluit twee pleidooie in: een vir onderrig/leiding en een vir vergifnis.

4Here maak u paaie aan my bekend; leer my u weë.

5Lei my deur u waarheid

Maak aan my bekend, leer my … lei my. Hierdie drie werkwoorde dui op meer as onderrig sodat iemand iets kan verstaan. Dit gaan hier oor onderrig wat die lewe beïnvloed. Hierdie is ‘n versoek aan die Here om leiding te gee. In die proses verwys die psalmis na die Here se trou en standvastigheid.

 

En leer my. Want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag.

Omdat U die God is wat my voortdurend red, wag ek die hele dag op U. God is die God wat red. Ek kan wag, want ek weet dat die Here sal verlos.

 

6Dink aan u barmhartigheid en troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar.

7Aan die sondes van my jeug en my oortredinge moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.

Hier is twee pleidooie om te dink en een om nie te dink nie. Twee maal pleit die psalmis dat die Here  in u troue liefde aan die psalmis sal dink. Een maal word ook na die Here se barmhartigheid en die ander keer na sy goedheid verwys. Hierdie verwys na die Here se inherente instink om in barmhartigheid en trou op te tree. Die psalmis verwys in teenstelling met die Here se eienskappe na sy eie sondes en oortredinge. Die psalmis verwys na die sondes van sy jeug toe hy nie van beter geweet het nie. Vir sy oortredings as volwassene het hy geen verskoning nie. Ons het hier ‘n pleidooi dat die Here nie die psalmis se sondes en oortredinge moet gebruik as rede om sy deernis en goedheid aan die psalmis te staak nie.

 

25:8 – 11:

Die psalmis gaan verder met dieselfde twee temas, maar tot die laaste reël is dit veralgemenings.

8Die Here is goed en reg, daarom wys Hy sondaars die pad.

9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer.

Weereens verwys die psalmis na God se goedheid – goedheid is ‘n inherente deel van God. Dieselfde geld vir reg. Die Here wat goed is, is ‘n uitdrukking van sy geregtigheid. Mense se reg kan hulle onverdraagsaam teenoor mislukking maak. Maar in die Here  vermeerder dit sy toewyding aan mense wat van die pad afgedwaal het. Diegene wat verdruk en swak is, moet met gesag gelei word.

 

10Al die paaie van die Here is paaie van troue liefde en waarheid vir hulle wat by sy verbond en sy bepalings bly.

Hier word die temas van vers 4 – 9 verder gevoer. Hierdie gedeelte herinner aan Eksodus 34:6 – 10. Ons het reeds in vers 4 van die Here se paaie gelees. Ook van die Here se troue liefde en waarheid het ons vantevore in die psalm gelees. Hierdie verwysing na al die paaie van die Here is ‘n kragtige opsomming. Maar dit laat nie die psalmis sonder verantwoordelikheid nie – hy moet by die Here se verbond en bepalings bly.

 

11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my skuld, want dit is groot.

Weer keer die psalmis terug na sy bewustheid van skuld. Hy weet dat hy hom aan die Here se  barmhartigheid moet oorgee. Vergewe is die kansellasie van die belang van verkeerde optrede – iets wat net die Here kan doen.

 

In krisistye besef ek werklik wie die Here is. Ek word so bewus van sy grootheid dat ek my ellendige situasie vir ‘n oomblik vergeet. Ek sien dit by die digter. Met lofwoorde beskryf hy die goedheid en regverdigheid van die Here. God roep selfs sondaars tot bekering. God gaan as ‘t ware saam met die mens wat aan die verbondsbepalings gehoorsaam is, op die lewenspad. Hy laat daardie mens liefde en trou ondervind. God is liefde en Hy gee liefde; God is getrou, Hy handel trou met die mens volgens sy woord.

 




Geregverdig deur geloof

 

Fallacies do not cease to be fallacies because they become fashions – G.K. Chesterton

 

Geregverdig deur geloof

Zondervan het pas The 5 Solas Series bekend gestel. Ek gaan ‘n paar blogs wy aan Faith Alone: The Doctrine of Justification van Thomas Schreiner.

Een van die slagspreuke van die Hervorming was sola fide – deur geloof alleen.  Hierdie woorde verklaar dat verlossing nie die gevolg van ons eie goeie werke is nie, maar om buite onsself na Iemand anders te kyk – die persoon en werk van Jesus Christus. Dit is nou eeue later en ons moet vra of hierdie stelling nie net die oorblyfsel van ‘n tyd wat lankal verby is, is nie.

 

Nee, want dit is wat die Bybel ons leer en God se woord verloor nooit sy transformerende krag nie. Dit gaan dus nie oor tradisie nie, maar oor die Woord van God. Dit hanteer een van die fundamentele vrae van die mens: Hoe kan ‘n persoon in die regte verhouding met God wees? Hoekom is hierdie Bybelse waarheid steeds belangrik vir ons vandag? Ons praat hier van voor God staan op die laaste dag – die oordeelsdag. Hoe sal ons voor die heilige God staan?

 

Sola fide is ‘n noodsaaklike teologiese waarheid. Christene word maklik daarvan beskuldig dat hulle leerstellings en tradisies beskerm. Natuurlik is dit soms waar. Maar om ons geloof te bewaar, is belangrik: Maar nou voel ek my verplig om hulle met my brief aan te spoor om te stry vir die geloof wat een maal oorgelewer is aan dié wat God vir Hom afgesonder het (Judas 3).

 

Sola fide is belangrik, want dit herinner ons aan die genade van die evangelie. Dit getuig dat ons verlossing net van die Here kom. Sola fide gee al die eer aan God, sodat geen mens kan spog nie. Sola fide herinner ons dat alles wat ons geniet van God af kom. Geloof kyk na ander vir verlossing. Daarom is verlossing deur genade alleen en in Christus alleen. Christus is ons enigste hoop en ons moet Hom daagliks bedank vir die genade wat ons enigste bron van krag is.

 

 




Die vyf solas van die Hervorming.

 

We do not love to learn that we can do nothing without Christ. —J.C. Ryle

 

Die vyf solas van die Hervorming.

Zondervan het pas The 5 solas Series bekend gestel. Ek gaan ‘n paar blogs wy aan Faith Alone: The Doctrine of Justification van Thomas Schreiner.

 

Wat beteken dit om ‘n Protestant te wees? Die basis is sekerlik die vyf solas van die Hervorming:

  • Sola Scriptura – die Skrif alleen.
  • Sola gratia – genade alleen.
  • Sola fide – geloof alleen.
  • Sola Christus – Christus alleen.
  • Soli Deo gloria – aan God alleen die heerlikheid.

 

Die probleem is dat baie gelowiges nog nooit van hulle gehoor het nie. Dit mag wees dat hulle nog nie die name gehoor het nie, maar die leerstellings sal herken as hulle hoor wat elke sola beteken. Vir baie gelowiges is hulle egter vreemd – selfs kwetsend. Ons leef in ‘n tyd waar die gesag van die Skrif en die eksklusiwiteit van Christus as Middelaar bevraagteken word. Die versoeking is om aan hierdie vyf solas as museumstukke te dink – iets uit ‘n tydperk lank gelede met geen toepassing vir vandag se kerk nie. Nie waar nie. Ons het hierdie solas nog net so nodig soos die Hervormers hulle 500 jaar gelede gehad het.

 

In 2017 vier ons die 500ste herdenking van die Hervorming. Daarom is dit belangrik om na die verlede, maar ook die huidige te kyk.

 

 




Sekere tipes kerke gaan sterf

 

There is the great lesson of ‘Beauty and the Beast’, that a thing must be loved before it is lovable – G.K.Chesterton

 

Sekere tipes kerke gaan sterf

Die dood is nie ‘n onderwerp waarvan ons hou nie. Die dood van kerke nog minder. Ons het die gemeente, ten spyte van sy tekortkominge en valshede, lief. Maar baie kerke is besig om dood te gaan. Uit ‘n Bybelse perspektief weet ons dat die bruid van Christus, die kerk, sal oorwin. Ons weet ook  dat die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18). Dit beteken nie dat individuele gemeentes nie sal doodgaan nie. Hulle sal doodgaan tensy God ingryp.

 

Thom Rainer identifiseer vier tipes kerke wat sal doodgaan.

  1. Die Eks-Bybel kerk

Daar is kerke wat die waarhede van die Skrif verlaat het. Baie kerke ontken dit, maar in werklikheid gee hulle net lippediens aan die Bybel. Die gemeente bestudeer nie die Skrif nie; die leraar hanteer nie die Bybelse teks nie. Die Bybel is net nog ‘n boek wat selde gelees, bestudeer of verkondig word. Die woord van God het geen krag in hierdie kerke nie.

 

  1. Die Buiteklub Kerk

Lidmate van hierdie kerke sien hulle lidmaatskap as ‘n byvoordeel. Hulle wil hulle musiekstyl hê; hulle wil die eredienste op die tye wat hulle pas hê; hulle wil die tipe argitektuur bepaal; hulle wil bepaal hoe lank die eredienste moet duur. Hulle gee hulle bydraes en is geregtig op die voordele. Moenie vir hulle vra om te evangeliseer, of om ander eerste te plaas of om opofferings te maak nie. Dit is tog hulle kerk!

 

  1. Die kerk van slegte woorde

As jy ‘n “goeie” geveg wil sien, moet jy na hierdie kerke toe gaan. Die vergaderings van die kerkraad is twissiek. Die leraar en kerkraad kry gereeld e-posse – en die woorde van hierdie kommunikasie is nie aangenaam nie. Skinder en rugstekery is algemeen. Hulle spandeer meeste van hulle energie aan slegte woorde. Hulle het nie die tyd en energie om die goeie nuus te versprei nie.

 

  1. Die Eks-gemeenskapskerk

Gaan na die gemeente en kyk na die lidmate. Gaan na die gemeenskap en kyk na die inwoners. Hulle lyk nie dieselfde nie. Hulle gaan nie na dieselfde plekke toe nie. Die gemeenskap het verander, maar die kerk het nie verander nie. Die mense buite die kerk is “daardie mense.” “Óns soort van mense” sit binne in die kerk. Die idee van brûe na die gemeenskap  bou, word teengestaan.

 

Hoeveel gemeentes in Suid-Afrika val in een van hierdie kategorië? Te veel gemeentes is besig om dood te gaan.