Droom jy?

 

To have insight into God’s plan for the world — that is faith. — Emil Brunner

 

Droom jy?

Mense wat drome het, kan vlieg. As jy ophou droom, begin jy doodgaan. As jy jou drome najaag, begin jy jou drome leef. As jy jou droom van alle drome ontdek, ontwikkel jy vinnig. Maar: jy het net een lewe om jou droom te ontdek en te volg.

 

Waar kry ons ons drome? Dink jy ooit daaraan dat God vir jou drome gee? Mense wat groot dinge in die lewe bereik het, is deur hulle drome gedryf. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is Martin Luther King – I have a Dream.

 

Wat is jou droom? As jy jou droom ontdek het, wy jy jou lewe daaraan toe? Dan val al die ander dinge in plek. Jou beste drome neem ten volle besit van jou – dit los jou nie. Jy droom groot drome, want dit is hoe God met jou praat – Hy sê vir jou wat Hy wil hê jy in jou lewe moet bereik.

 

Godsdiens is nie genoeg nie. Om lidmaat van die kerk te wees, is nie genoeg nie. Al wat voldoende is, is Jesus Christus. Maar ek kan net by Hom kom, as ek Hom volg. Daarom moet ons ons lewens vir Hom gee en ons drome word ‘n werklikheid.

 

Wat beteken dit om Hom te volg?

  • Om Jesus Christus te aanvaar is nie voldoende nie – dit is net die begin. Hy verwag meer van ons: ons moet ons hele lewe aan Hom oorgee.
  • Geestelike dissiplines (Bybellees, bid, nadenke, ens) het ‘n plek in ons lewens. Maar ons moet altyd onthou dat dit slegs ‘n manier is om ‘n hoër doel te bereik. Self is hulle nie die doel nie. Dit is nie voldoende nie. Wat nodig is, is dat ons ons volkome aan God oorgee.

 

Laat God se droom vir jou en jou lewe oorneem. Volg Hom.

 




Wat is ‘n Christen?

 

We search for God in order to find him with greater joy

And we find him in order to keep on searching with greater love

Augustinus

 

Wat is ‘n Christen?

Dit is die vraag wat Scot McKnight in sy boek One.Life vra. Dit is ‘n belangrike vraag wat elkeen van ons vir onsself moet vra. Die antwoord is nie so maklik nie. Die algemene antwoord is gewoonlik:

  • ‘n Christen lees elke dag sy Bybel.
  • ‘n Christen bid gereeld – hoe meer en langer jy bid, hoe meer toegewyd is jy.
  • ‘n Christen getuig – hy vertel vir ander dat hulle van hulle sonde verlos moet word. Hoe meer mense jy kan “red” hoe nader leef jy aan God.
  • ‘n Christen gaan gereeld kerk toe.

 

Aan die ander kant is daar sekere dinge wat ‘n Christen nie moet doen nie – dwelms gebruik, te veel alkohol gebruik, seks buite die huwelik beoefen, ens. Dan moet ons ook nie vriendskappe aanknoop met mense wat God nie ken nie – wat verlore is nie. Ons moet ons van hulle afsonder so asof hulle ‘n aansteeklike siekte het.

Jesus het nooit gesê dat mense die Bybel moet lees nie. Die meerderheid mense destyds kon in ieder geval nie lees nie en Bybels was nie algemeen beskikbaar nie. Jesus het gereeld gebid en evangelisasie was sy sterkpunt. Hy het Hom beslis nie afgesonder nie. Hy het baie kritiek gekry omdat Hy met sondaars en tollenaars omgegaan het – selfs by hulle gaan eet het.

 

Hoe antwoord Jesus die vraag: Wat is ‘n Christen? Baie eenvoudig: ‘n Christen is iemand wat My volg? Jesus wil hê dat ons in Hom moet glo, Hom ontvang en Hom ons persoonlike Verlosser moet maak. Natuurlik wil Hy hê dat ons die Bybel moet lees en bid en kerk toe gaan en evangeliseer. Hoekom? Sodat ons Hom beter kan volg en ken en meer volledig vir Hom kan leef.

 

Ons skryf lang opstelle oor wat ‘n Christen is; ons raak in argumente betrokke oor wat ‘n Christen is. Jesus kom en gee vir ons ‘n eenvoudige antwoord: ‘n Christen is iemand wat My volg.

 

 




Verkiesing: Lesse uit Judas se verraad

 

A Christian is a walking sermon. We preach far more than a minister does, for we preach all week long. —J.C. Ryle

 

Verkiesing: Lesse uit Judas se verraad

Van Kain se tyd staan die bose net buite die deur en kyk hoe hy ons kan vernietig. In ons moderne samelewing is daar die versoeking om alles moontlik te doen om jou posisie in die openbaar te handhaaf. Om by die Here te skuil, is beter as om op mense te vertrou. Om by die Here te skuil, is beter as om op hoë mense te vertrou (Psalm118:8 – 9). As ons na Judas se geskiedenis kyk, sal dit ons help om nie ons vertroue op hoë mense te stel nie. Kom ons kyk na ‘n paar lesse uit sy geskiedenis.

 

  1. Die persoon wat ten alle koste sy plek in die wêreld wil behou, is gewillig om alles te gee

Wat sal julle my gee as ek sorg dat Jesus in julle hande kom? (Matteus 26:15). Dit is die vraag wat hy vir die priesterhoofde vra nadat die duiwel hom oorreed het om Jesus te verraai. Wat hier duidelik is, is ‘n gierigheid om te kry alles wat hy kan. Daarom verraai Judas vir Jesus vir dertig silwermuntstukke. Hy gebruik sy posisie as een van die twaalf dissipels tot sy eie voordeel. Judas was in ‘n unieke posisie om Jesus te verraai. Dit bly steeds ‘n versoeking vir enigeen wat Jesus Christus volg.

 

  1. Die persoon wat Jesus aan sy vyande oorgee, word deur daardie optrede gedefinieer

In Matteus 26 sê Jesus dat Judas Hom gaan verraai. Later verwys Hy na die man wat my gaan verraai en later na verraaier. Judas het baie in sy lewe gedoen. Van dit was sekerlik ook goeie dinge, maar sy blywende identiteit was dié van ‘n verraaier. Die besliste oomblik in Judas se lewe was toe hy vir Jesus oorgegee het. Ons moet ook besluit: Gaan ek my verhouding met Jesus gebruik vir wêreldse wins en of jy alles wat jy het, gaan “verkoop” om Christus te verkry en bekend te maak.

 

  1. Die een wat Jesus verraai, kry niks behalwe vernietiging nie

Toe Judas, die verraaier, sien dat Jesus tot die dood veroordeel is, het hy spyt gekry (Matteus 27:3). Hy bring die 30 silwerstukke terug, maar die priesterhoofde en familiehoofde weier om die geld terug te neem. Judas het toe die geld in die tempel ingegooi, weggeloop en homself gaan hang (27:5). Wat ons in ruil vir Jesus kan kry, is uiteindelik ‘n verlies. Vernietiging wag op diegene wat Jesus verwerp. Dissipels van Jesus Christus moet weier om Hom te gebruik om iets, veral geld en politieke mag, te wen.

 

  1. Mense wat met bose mense saamwerk word uiteindelik net soos hulle

Judas verlaat die geselskap van Jesus en die dissipels om saam met die bose godsdienstige/politieke leiers te werk. Dit is ‘n les vir almal, veral leiers, wat vir Jesus volg. Leiers het gewoonlik baie geleenthede om met politieke leiers en die kulturele elite te meng. Slegte geselskap bederf goeie sede (1 Korintiërs 15:33). Dit beteken nie dat ons die wêreld moet vermy nie, maar ons moenie meer waarde aan die wêreld as aan Christus gee nie. Judas kom na die leiers van Israel om te sien wat hulle vir hom kan gee. Uiteindelik word hy net soos hulle.

 

  1. Deur die bose optrede van mense bereik God sy doel

Drie maal voor sy kruisiging vertel Jesus vir sy dissipels dat Hy gevange geneem en tereggestel gaan word. God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer, en julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak (Handelinge 2:23). Hierdie werklikheid vertroos gelowiges en maak sin van Jesus se kruisiging. Agter die bose optrede van mense, laat God hierdie mense toe om dit te doen. Die doel hiervan was die verlossing van sy mense. God wys vir ons dat Hy goed uit alle dinge kan voortbring – selfs die dood van sy Seun.

 

  1. Ons moet ons nie gewillig by bose mense skaar nie al dink ons dat hulle verkryging van mag die wil van God sal bewerk

Ons moet besluite neem wat op God se wil berus. Sy wil kry ons in die Skrif. Deur die Skrif neem ons besluite in ooreenstemming met God se wil. Natuurlik gaan ons foute maak, maar met God se genade groei ons met verloop van tyd in ons verstaan van sy wil. Judas het hom doelbewus by bose mense geskaar en gee Jesus oor aan hulle. Sy verraad leer ons dat dit altyd reg is om van die bose te vlug.

 

Die Skrif is duidelik: Vlug van die bose; as bose mense vra dat jy hulle moet ondersteun of vir hulle moet stem, moenie mislei word nie. Lees Spreuke 1:10 – 19.

 

 




Psalm 23 (1)

 

There is no forgiveness of sins without a truly repentant heart to which sin is sincerely painful and which renounces it with all its power.  – Emil Brunner

 

Psalm 23 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Die Here is my herder.

Psalm 23 is ‘n psalm van vertroue en bevat geen pleidooi nie. Dit manifesteer dieselfde hoop as dié waarmee Psalm 22 eindig. Kenmerkend is die gebruik van simbole. Hierdie psalm kan op verskillende maniere toegepas word. Dit verwys waarskynlik na  ‘n gewone individu, maar kan ook van toepassing op ‘n leier/koning  en die gemeenskap as geheel wees.

 

Vers 1 – 4 pas bymekaar, want hulle bevestig die Here se omgee deur gebruik te maak van die beeld van ‘n herder. Vers 5 – 6 gebruik ‘n ander beeld vir die gasvryheid van die Here. Die Here

is die herder wat versorg deur die voorsiening wat ons in sy huis ontvang.. Daar is feesviering en vreugde. Aanbidding betrek die hele persoon en is ‘n verhouding met die Here wat nie tot die godsdienstige lewe beperk is nie. Die Here is ook ons herder as ons uitgaan in die wêreld met sy gevare en vyandigheid.

 

Hierdie is ‘n baie gewilde psalm by almal – Jode, Katoliek en Protestant. Dit pas by ‘n huwelik en ook by ‘n begrafnis. Dit beskryf, duideliker as enige ander Skrifgedeelte, die indiwidu se ondervinding van God se genade.

 

Die beeld van die skaap is waarskynlik meer universeel as enige ander beeld wat gebruik kan word. ‘n Skaap is heeltemal afhanklik van sy herder – hy moet hom versorg, lei en beskerm. ‘n Mens voel spontaan die skoonheid van groen weivelde, waters waar daar rusplek is en ander aan. Die donkerste kloof is wat vir elke mens voorlê. Dit is die een absolute sekerheid wat ons almal het: ons gaan sterf.

 

Ons moet onthou dat in die Bybelse tyd die woord herder dikwels ‘n aanduiding van die koning was. Die Here is Israel se enigste Koning en daarom word Hy dikwels Israel se Herder genoem. Die digter spreek ‘n belydenis uit en hy antwoord op die vraag: Wie is jou koning?