Ons begeertes

 

Do not give fair names to foul sins. Call them what you will, they will smell no sweeter. —C.H.Spurgeon

 

Ons begeertes

As daar iets is wat elke gebied van ons lewens beïnvloed, is dit ons begeertes. Wat sou gebeur as jy geen begeertes gehad het nie? Wat sou jy berreik het? Hoe sou jy jou tyd deurgebring het? Ons begeertes lei ons om besluite te neem wat ons sal lei na dit wat ons verlang. Die probleem is dat wat ons wil hê nie altyd goed is nie. God se begeertes is altyd reg en goed. Ons perspektief is maar beperk. Soms is ons begeertes sonde, selfsugtig en dwaas. God se begeertes word deur liefde gemotiveer. Hy soek altyd wat die beste vir ons is.

 

As daar een vers in die Bybel is wat dikwels verkeerd gebruik word, is dit Psalm 37:4: Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. Lees ons hierdie vers in sy konteks sien ons daar in voorwaardes aan verbonde. As ons wil hê dat God aan ons moet gee wat ons hart begeer, moet ons aan die voorwaardes voldoen.

 

  1. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Om jou vreugde in iemand te vind, beteken dat jy graag tyd saam met hom wil deurbring – julle wil praat en na mekaar luister. Daardie verhouding is vir ons ‘n prioriteit; ons probeer hom/haar tevrede stel met ons woorde en dade. Dink nou aan jou verhouding met God.

  • Hou jy daarvan om met die Vader in gebed te praat en om na Hom te luister as jy sy woord bestudeer?
  • Verlang jy om Hom beter te leer ken?
  • Dink jy dikwels deur die dag aan Hom?
  • Verskaf dit jou vreugde om Hom te gehoorsaam?

Dit is wat dit beteken om jou vreugde in God te vind. Hierdie is dus ‘n oproep om ons begeertes in lyn met dié van God te bring. Dan sal Hy ons gee wat ons hart begeer, want wat ons begeer pas in by sy wil.

 

  1. Laat jou lewe aan die Here oor (37:5)

Elke begeerte moet deur God se woord en sy wil vir ons lewens gesif word. As ons ons lewe aan die Here oorlaat erken ons sy gesag om te besluit of ons begeertes by sy plan vir ons lewens inpas. Soms is ons huiwerig om alles aan die Here oor te laat – dalk gebeur dinge nie soos ons dit wil hê nie. Dan manipuleer ons die omstandighede om ons wil te kry. Hoekom sukkel ons om ons lewens aan Hom oor te gee? Ons vertrou Hom nie.

 

  1. Vertrou op Hom; Hy sal sorg (37:5)

Wie is meer betroubaar as juis ons Here? Hy het ons van sonde verlos deur sy Seun te stuur om die prys te betaal wat ons veronderstel was om te doen. Hy het sy Gees aan ons gegee as teken van ons ewige sekerheid. Moet nooit daaraan twyfel dat Hy die beste plan vir ons lewe het nie. Vertrou op Hom om die beste besluite te neem.

 

  1. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou (37:7)

Drie maal sê die psalmis in hierdie psalm dat ons ons nie moet ontstel nie. As ons ontsteld is, verskil ons in werklikheid met God, want Hy werk nie saam met ons planne nie. Die oplossing? Lê al jou begeertes en verwagtings in sy liefdevolle hande en erken dat Hy altyd reg is. Dan sal jy geduldig wag en op sy liefde vertrou. As dit nie sy wil is nie, sal om by Hom te pleit nie veroorsaak dat Hy na ons wil sal buig nie.

 

Om God se begeertes as jou eie aan te neem, moet ons weet wat Hy wil hê. Dit kry ons as ons getrou sy woord bestudeer. Moenie sommer ‘n vers uit sy konteks trek en sê dit staan so in die woord nie. As ons ‘n hegte fondament wil hê, moet ons op sy hele woord staan.

 




Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (2)

 

There is no plateau in the Christian life. We are either growing closer to Christ’s likeness or we are falling away. —Aimee Byrd

 

Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (2)

Vrae, vrae, vrae – oral net vrae. Dit is niks nuut nie. Die Preiker sê vir ons dat daar niks nuuts onder die son is nie – 3000 jaar later en dit is steeds waar. Anselmus van Kantelberg (1033 – 1109) het gesê dat geloof eerste kom, maar dit beteken nie die einde van vrae nie. Om ‘n Christen te word, is ‘n geloofsdaad. Onthou altyd dat die teenoorgestelde van geloof … sekerheid is. As daar sekerheid is, is geloof oorbodig. Anselmus het gesê dat geloof verstaan en soek. Hoe kan ons mense help om te verstaan?

  1. Erken dat daar verskillende maniere is om te weet

The heart has its reasons that the head knows not (Pascal)

Baie mense verwerp dit onmiddellik as ‘n geldige manier om te weet. In werklikheid is dit ‘n algemene vorm van weet in van ons belangrikste besluite. Hoe weet ek dat ek het iemand liefhet?

 

  1. Soms is dit ‘n persoonlike openbaring

Jy is absoluut seker dat die werklikheid van God daaragter sit. Ander mag dit nie glo nie, maar jy weet dit – diep binne in jou. Richard Dawkings, bekende ateïs, sou onmiddellik snork en sê dat toevallighede gebeur. Dit gebeur met almal – nie net met Christene nie. Dit is net Christene wat God se Naam daaraan wil koppel. Ek mag dalk nie ander daarvan kan oortuig nie, maar ek weet God het dit geopenbaar. Dit is persoonlike kennis. Die Bybel verwag dat ons sulke stories sal hê.

 

Moet nooit die kategorie van persoonlike kennis verwerp nie. As mense gevra word oor hoekom hulle in God glo, kom hulle dikwels met ‘n storie na vore. As God bestaan, is dit presies die manier hoe ons sou verwag dat dit moet wees. Kom ondervind en sien self dat die Here goed is (Psalm 34:9). In ons harte weet ons dat ondervindings belangrik is. Ons weet dat God geken kan word – en daar is miljoene mense wat dit bevestig.

 

  1. Is dit nie ‘n lui manier om intellektuele vrae te vermy nie?

Filosowe soos Alvin Platinga en Nicholas Wolterstorrf praat van idees en oortuigings wat werklik basies is – so basies dat hulle geen bevestiging nodig het nie. So ‘n oortuiging is basies as ek in die lig daarvan lewe. Die feit dat dit werk, is selfbevestigend. As ek in God glo en die lewe werk vir my en die oortuiging help my om sin van die lewe te maak, is die oortuiging basies.

 

  1. Soms werk ‘n oortuiging wat ons as basies beskou het nie meer nie – ons word gedwing om dit te bevraagteken

Mense het soms ‘n geloofskrisis. Hulle was oortuig van iets en dan gebeur daar iets wat hulle dwing om weer te dink. Dit is wanneer Psalm 1 nie meer waar klink nie. Anselmus se antwoord sou wees: Geloof moet soek om verstaan te word. Moenie jou geloof los nie, maar hou aan soek.

 

Waar kom jou vrae vandaan – daardie vrae wat jou waarlik bekommer. Is dit as Psalm 1 nie werk nie; as dit lyk asof die wêreld onregverdig is? Sulke vrae se oorsaak is ons ondervindings. Soms het jou vrae ‘n ander oorsprong? Weerspreek die wetenskap die Bybel? Is wonderwerke moontlik? Is die opstanding moontlik? Hierdie vrae is nie nuut nie. Christene vra hulle al eeue lank. Maar hulle mag steeds jou vrae wees.

 

Miskien kom die vrae uit die geskiedenis. Was die kerk ‘n bron van goed of sleg in die wêreld? Daar was duidelik betekenisvolle foute. Mense vra: As daar weklik ‘n God is, sou ons geloof in God tog  positief wees. Baie mense noem dit die rede waarom hulle nie glo nie. As ons die geskiedenis noukeurig evalueer sien ons dat die impak van geloof in God, ten spyte van die foute, oorweldigend positief was en is. ‘n Belangriker vraag is: “Sal die keerk voortgaan om ‘n bron van die goeie in die wêreld te wees?”

 

Dit bring ons weer by die gebied van etiek. Het die kerk die etiese integriteit om waarlik leiding te gee in moreel deurmekaar tye? Kan die kerk leiding gee oor globale armoede, geslagsake, globale migrasie, vrae oor homoseksualiteit, vrae oor die einde van lewe, vrae oor genetiese manipulering, ens. Ons moet steeds soek om te verstaan, maar kom ons soek in geloof. Ons sal genoeg langs die pad kry om ons reguit op koers te hou. Miskien sal ons soos Asaf wees wat ten spytre van al sy vrae kon bevestig: Wat ons gehoor het en wat ons weet, wat ons voorvaders ons vertel het, sal ons nie vir ons kinders verswyg nie. Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het (Psalm 78:3 – 4).

 




Is dit altyd verkeerd om te oordeel?

 

I used to believe that prayer changes things, but now I know that prayer changes us, and we change things. Moeder Teresa

 

Is dit altyd verkeerd om te oordeel?

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie (Matteus 7:1).

Vandag is dit polities onaanvaarbaar om te sê dat iemand verkeerd is in sy goedsdienstige oortuigings. Dit moet ten alle koste vermy word. “Oordeel jy nie ander mense as jy sê dat hulle verkeerd is nie? Is dit nie teen wat Matteus 7:1 sê nie?”

 

Vir baie mense vandag is hierdie, en nie meer Johannes 3:16 nie, hulle gunstreling vers in die Bybel. Baie mense interpreteer wat Jesus hier gesê het verkeerd. Jesus sê nie hier dat ons nooit mag oordeel nie. Is dit so? Nee. In Johannes 7:24 sê Jesus: Moenie op die oog af oordeel nie, oordeel regverdig. Soms is dit ‘n goeie ding om mense regverdig te oordeel. Wat Jesus veroordeel het, was ‘n kritiese en veroordelende gesindhied – ‘n gevoel van geestelike meerderwaardigheid.

 

Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp.  En pas op: jy kan self ook in versoeking kom (Galasiërs 6:1). God wil hê dat ons eers onsself moet ondersoek vir die probleme wat ons so maklik in ander raaksien. Eers daarna kan ons probeer om die splinter uit ‘n ander se oog te verwyder.

As dit kom by die oordeel van ander is die sleutelelement jou gesinheid. Ons kan aan ons beginsels vashou en ander steeds met waardigheid en respek hanteer – al verskil hulle van ons. Ons kan in ‘n gees van nederigheid verduidelik waarom ons dink dat iets verkeerd is. Ons moet in liefde by die waarheid bly (Efesiërs 4:15). Dit moet ons doel wees.

Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken (Matteus 7:15 – 16). Jesus sê hier vir ons dat ons profete volgens die vrugte wat hulle dra, moet oordeel.

 

As Christene moet ons met die wysheid en onderskeidingsvermoë wat God aan ons gee, oordeel. Wees baie versigtig vir ‘n kritiese, veroordelende gees.

 




Psalm 21 (3)

 

Wherefore it ought to be the first concern of every Christian to lay aside all confidence in works and grow in the knowledge, not of works, but of Christ Jesus, who suffered and rose for Him – Martin Luther

 

Psalm 21 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Psalm 21 wys vir ons hoe betekenisvol die verlossing van individuele lede van die gemeenskap, veral die leiers, vir God se mense as ‘n geheel is. Kom ons kyk na die logika van hierdie psalm:

  • Die koning ervaar die Here se verlossing van sy vyande (vers 3 – 6).
  • Dit inspireer sy lof en voortgaande vertroue (vers 7 – 8).
  • Dit is ook die basis vir die oortuiging dat die Here almal wat sy goddelike doel dwarsboom, sal oorwin (vers 9 – 13).
  • Die gee aanleiding tot die lof van die mense (vers 14).

 

Om in ‘n leiersposisie te staan, stel ‘n persoon onvermydelik aan gevaar bloot. Terselfdertyd dryf dit die leier na gebed en is dit ‘n geleentheid om God se goedheid te bewys. As die mense van hierdie proses bewus is, gee dit aan hulle die geleentheid om by die leier in sy lofprysing aan te sluit en om uit die leier se ondervining te baat.

 

Onlangse inligting het ons gehelp om die lewe, godsdiens en praktyke van Israel en sy bure beter te verstaan. Dit is duidelik dat sekere psalms bedoel is om by kroningsplegtighede gesing te word. Sommige selfs vir die herkroning van konings op die herdenking van hulle kroning. Ons moet op ‘n paar aspekte let:

  1. Anders as in Egipte word die koning self nie in hierdie psalm aanbid nie.
  2. Die koning verheug hom in die krag van die Here – nie in sy eie krag nie.
  3. God het genade aan die koning in die afgelope jaar bewys en sy gebede beantwoord.
  4. God het op sy diepste behoeftes gereageer; sy innerlike verlange vervul; goed uit sy sondige verlede voortgebring.
  5. God het hom voorafgegaan met goddelike seëninge. Die koning, as mens, reis langs die lewenspad in een rigting – van geboorte tot by sy dood. Dit is die pad van alle mense. Maar nou het God uit die hemel afgebuk en hom ontmoet.
  6. Die koning kroon nie homself nie. Die Here is Koning. Die koning is wel heer oor Israel; hy verteenwoordig die volk. Die Here is ook die Koning van Israel.
  7. Die koning het vir ‘n lang lewe gevra – en boonop liefde ook gekry; hy vra vir lewe en kry die ewige lewe.
  8. God het hom nou bestraal met van sy eie heerlikheid – soos God met Moses gedoen het.
  9. Sy groot beloning was God se nabyheid (vs 7). Al wat die koning moes doen, was om hierdie oorvloedige blydskap te aanvaar, want die koning vertrou op die Here.
  10. Nou word die hele Israel daaraan herinner dat hy ook uitverkies is en dat God hulle seën, want hulle vertrou op die Here. Die Here beskerm die koning en vir Israel – deur die trou van die Allerhoogste.

 

Die psalmis praat direk met die Here. Die psalmis sê dat hy alles wat hy het van God ontvang het. Die koning het vir ‘n oorwinning oor sy vyand gevra – wat U hom gegee het. Deur die oorwinning oor die vyand het die Here sy mag aan die mense geopenbaar. Na ‘n oorwinning het die koning dikwels die kroon van die verslane vyand vir hom gevat en dit op sy kop gesit. Naas die oorwinning en die gepaardgaande roem en eer, het die koning ook nog, soos hy gevra het, ‘n lang lewe gekry. Dit beteken ‘n lewe waarin hy ryklik met aardse besittings geseën is, uit die kloue van die dood gebly het en in gehoorsaamheid aan God se geopenbaarde wil gelewe het – in geloofsvertroue op die Here. Lewensvreugde is net te vinde in die teenwoordigheid van die Here. Blydskap is ‘n teken van bevryding. In vs 8 word gepraat van die koning se reaksie op die Here se seën: hy vertrou op die Here en deur die Here se trou struikel hy nie meer nie.

Hoe raak dit my? As ek my direk met die koning vergelyk, kom ek nêrens nie. In plaas van ‘n oorwinning, het ek dalk onlangs ‘n nederlaag gely. In plaas van vreugde en roem is daar in my lewe dalk net miskenning en pyn. As ek egter raaksien dat dit in hierdie psalm om ‘n driehoeksverhouding gaan, sal ek die rolspelers sien soos hulle waarlik is:

  1. Die Here – dit is niemand minder as die almagtige God nie. Hy hou die lotgevalle van sowel gelowiges as goddeloses in sy hande.
  2. Die koning – is soos enige ander gelowige sondaar wat van God genade ontvang het en deur Hom uit die bose verlos is.
  3. Die vyande – werktuie van die bose wat probeer om God se eiendom aan te val. God verslaan hulle vernietigend.

 

As ek dit raaksien, doen die psalm twee dinge aan my:

  • Dit troos my wanneer ek as gelowige soms moet ly. Dit herinner my dat ek ‘n koningskind is wat in Christus se opstanding reeds deel gekry het aan die grootste oorwinning van alle tye.
  • Dit waarsku my as ek sou waag om God se wil te dwarsboom of my medemens te benadeel. Die Here laat nie met Hom speel nie; Hy duld geen onreg teen dié wat aan Hom behoort nie.