Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (1)

 

When I have nothing more to say I stop talking. — Martin Luther

 

Waar kom vrae en antwoorde vandaan? (1)

As Psalm 1 nie werk nie, wat doen jy dan? Psalm 1 beloof ‘n ordelike lewe wat sin maak. Doen die regte ding, dink na oor die Skrif, hou die regte geselskap, jy moet God liefhê, en in die regte seisoen dra alles vrugte. Logies. Werk meeste van die tyd. Maar wat van daardie gebiede waar niks sin maak nie. Dan identifiseer ons eerder met Asaf: Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (Psalm 74:1). By Asaf is daar geen tekort aan vrae nie.

 

Kom ons kyk na Handelinge 12. Petrus word wonderbaarlik uit die tronk bevry op die vooraand van sy teregstelling. Maar Herodes laat vir Jakobus met die swaard doodmaak. Petrus word verlos; Jakobus word tereggestel. Hoekom die een en nie die ander nie? Vrae … as jy ‘n Christen is sal jy baie vrae hê.

 

Hoekom antwoord God party vrae met ‘n ja en ander met ‘n nee? Ons kan die vraag uitbrei om ook pyn en lyding in te sluit. As God dan liefdevol, almagtig en alwetend is, hoekom kry ons dan so swaar. Beteken dit nie dat een van die drie – liefde, mag en kennis – nie volmaak is nie?

 

Soms het vrae ‘n ander oorsprong – soos ‘n wetenskaplike feit. Dit kom as ons die Bybel en ‘n wetenskaplike teks langs mekaar lees. Die wêreld is in ses dae gemaak. Dit is nie wat die wetenskaplike wêreld sê nie. Jona wat deur ‘n groot vis ingesluk word en drie binne in die vis leef.

 

Soms het vrae ‘n oorsprong in die sosiale wetenskappe. Die morele siening van die Christelike geloof word bevraagteken. Kyk maar na die tradisionele Christelike onderrig oor seksuele verhoudings. Tog woon meeste paartjies reeds voor die huwelik saam. Wat van dieselfde geslag verhoudings? Is  die antwoord om selibaat te bly korrek? Maar dit gaan nie net oor seks nie. Is die aansprake van Christene op die absolute waarheid nie problematies nie? Lei dit nie tot onverdraagsaamheid nie? Is dit nie die onderliggende oorsaak van baie konflik in die wêreld nie?

 

Soms gaan die vrae oor etiek. Mense spreek toenemend hulle misnoë oor die Christelike geloof uit op morele gronde. In die verlede is Christene daarvan beskuldig dat hulle intellektueel leeg is – nou word hulle daarvan beskuldig dat hulle moreel verdag is.

 

Volgende keer gaan ons verder en bespreek hoe ons mense kan help om beter te verstaan.

 




Gebede wat beantwoord word

 

Toe John Wesley vir Generaal Oglehorpe te na gekom het, sê die generaal: “I never forgive.” Hierop antwoord Wesley: “Then, Sir, I hope you never sin.”

Gebede wat beantwoord word

Rick Warren het ‘n blog oor gebede wat beantwoord word, geskryf. Hy gebruik die voorbeeld van Nehemia. Hy noem vier “geheime vir gebede wat beantwoord word:

  1. Baseer jou versoek op God se karakter
  2. Bely die sondes waarvan jy bewus is
  3. Maak aanspraak op God se beloftes
  4. Wees spesifiek in wat jy vir God vra. As jy spesifieke antwoorde op jou gebede verwag moet jy spesifieke versoeke rig. As jou gebede uit algemene versoeke bestaan, hoe gaan jy weet of God hulle geantwoord het.

 

In Nehemia 1 is die basis van Nehemia se gebed wie God is. Hy bely sy sondes. Dit was nie sy fout dat Israel in ballingskap weggevoer is nie – hy was nie eers toe gebore nie. Hy is waarskynlik in ballingskap gebore. Tog sluit hy homself by die sondes van die nasie in.

 

Volgens Nehemia 1 het hy spesifiek vir sukses gebid. Hy huiwer nie om dit te doen nie. Hy is baie braaf in sy gebed. Het jy al ooit gebid: “Here maak my suksesvol?” Hoekom nie? Wat is die alternnatief? Mislukking. Kan jy bid dat die Here vir jou sukses sal gee? Dit hang af van jou definisie van sukses. ‘n Goeie definisie volgens Warren is: sukses is as ek God se doel vir my lewe in geloof, liefde en die krag van die Heilige Gees vervul en op God vir die resultate vertrou. As dit jou definisie van sukses is, kan jy met vrymoedigheid vir sukses bid.

 




Hoe leer ek?

 

People are like stained glass windows: they sparkle and shine when the sun is out, but when the darkness sets in their true beauty is revealed only if there is a light within. -Elisabeth Kubler-Ross, psigiater en skrywer (8 Julie 1926-2004)

 

Hoe leer ek?

Benjamin Franklin (Autobiography) se fomele skoolonderrig eindig toe hy 10 jaar oud was. Tog maak hy later naam as skrywer, wetenskaplike, ontdekker en staatsman. Watter metodes het hy gebruik om te leer?

 

  1. Leer deur te lees

Toe hy vakleerling was, gebruik hy die helfte van sy inkomste om kos mee te koop en met die ander helfte koop hy boeke. Lees is die sleutel to alle leer.

 

  1. Leer deur te doen

Franklin het nie goed geskryf nie. Hy kopieer ‘n stuk uit die koerant en probeer dit dan weer herskep. Soms probeer hy die oorspronklike oorskryf vanaf notas; soms probeer hy die hoofpunte in ‘n beter orde plaas; soms skryf hy ‘n gedig oor die oorspronklike. Om toegewyd ‘n vaardigheid te beoefen, is ‘n kragtige manier om te verbeter.

 

  1. Leer deur te eksperimenteer

Franklin leer van natuurlike dinge deur te eksperimenteer. Hy doen eksperimente in weerkunde, die getye in die oseaan en elektrisiteit. Hy het ‘n lewendige korrespondensie met ander wetenskaplikes gehad. Eksperimentering is altyd beter as teoretisering.

 

  1. Leer deur rekords te hou

Hou jy rekord van dinge wat vir jou belangrik is? Oppas jou geheue sal jou later in die steek laat. Franklin het die deugde wat hy wil nastreef neergeskryf en daagliks verslag gedoen van hoe hy vorder daarmee. Die hou van rekords hou ons eerlik.

 

  1. Leer van ander mense

Toe hy 21 jaar oud was, vorm Franklik ‘n groep waar die lede van mekaar kon leer. Hy beskryf dit so:

 “I form’d most of my ingenious acquaintance into a club of mutual improvement, which we called the JUNTO; we met on Friday evenings. The rules that I drew up required that every member, in his turn, should produce one or more queries on any point of Morals, Politics, or Natural Philosophy, to be discuss’d by the company; and once in three months produce and read an essay of his own writing, on any subject he pleased.”

Deur van ander te leer, tap jy in hulle passie en kundigheid.

 

Dissipline is die sleutel. Nie baie sou gebeur het sonder duidelike doelwitte en dissipline nie. Hy het elke dag tyd ingeruim om te leer.

 




Ek wil graag bevestig word.

 

A profession of faith doesn’t justify anybody. It’s the possession of faith that justifies.—R.C. Sproul

 

Ek wil graag bevestig word.

Meeste van ons is soms skuldig daaraan dat ons graag bevestig wil word. Dit is maklik om in hierdie strik te trap. Wat beteken dit in die praktyk? Dit gebeur as jy ‘n siening oor iets, of sekere mense het en dan soek jy bewyse om jou siening te ondersteun en verwerp enige bewyse wat dit verwerp.

 

As ek glo dat vrouens slegte bestuurders is, sien ek net die gevalle waar vrouens sleg bestuur, raak. Dit versterk net ons siening verder. Ons sien nie gevalle raak waar vouens goed bestuur nie. Alles versterk net ons vooroordeel. Dit staan as selektewe aandag bekend.

 

Hierdie vooroordeel vir bevestiging is ‘n bron van baie van ons hedendaagse probleme. As ons ‘n siening of stereotipe gevorm het, beklemtoon ons voorbeelde om hierdie siening te bevestig. Ons sien hierdie vooroordele op baie gebiede: politiek, ras, geslagte … en godsdiens. Ons word aangetrek na organisasies wat ons oortuigings net verder bevestig. Hierdie soeke na bevestiging kan vernietigend wees – dit trek ons siening van die waarheid skeef; ons word rigied en nie oop vir ootuiging nie. Dit verdeel families en gemeentes onnodiglik.

 

Hoe verminder ons hierdie behoefte aan bevestiging? Wees daarvan bewus dat almal van ons maklik in hierdie strik kan trap. Benader dinge met ‘n oop gemoed; besef dat jy dalk verkeerd mag wees. Wees oop vir ander idees of mense met ‘n ander siening. Probeer hulle werklik verstaan. Om jou vooroordele te erken, is die eerste stap.

Human kind cannot bear very much reality (T. S. Elliot)