Gee my wysheid (11)

 

“I learned that courage was not the absence of fear, but the triumph over it.” – Nelson Mandela

 

Gee my wysheid (11)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Die beloning van geloof

Met hierdie vooruitsig span ons ons kragte in en stry ons, want ons het ons hoop op die lewende God gevestig, wat die Verlosser is van alle mense, van almal wat glo (1 Timoteus 4:10)

Wat moedig ons aan om die pad van geregtigheid te loop? Is dit die moeite werd? Luister na wat Paulus hier sê: alles wat ons in diens van God doen, sal ryklik beloon word. Swaarkry en probleme moet in hierdie wêreld verwag word – dit geld ook vir gelowiges. Diegene wat werk en ly in diens van God, kan op die lewende God vertrou. Hy is immers die Verlosser van alle mense.

 

As Hy dan die Verlosser van alle mense is, kan ons aanvaar dat Hy diegene wat Hom soek en dien, sal beloon. Die verlossing wat Hy beoog, is voldoende om hulle vir al hulle diens en lyding te beloon.

 

Die lewe van ‘n Christen is ‘n lewe van werk en swaarkry. Al wat ons in hierdie lewe vir dit alles van ander kan verwag, is ondankbaarheid.

 

Ons weet egter dat ons hoop op die ewigheid saam met God gevestig is.

 

 




Waar kom ons krag vandaan?

 

To follow the teachings of our Lord Jesus Christ and to walk in his footsteps – Franciskus van Assisi se regula primitiva (primitiewe reël)

 

Waar kom ons krag vandaan?

Die Here my God gee vir my krag. Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok, op hoë plekke laat Hy my veilig loop (Habakuk 3:19)

Waar kom ons krag vandaan? Van ons eie vasberadenheid of van elders? Vir Habakuk kom sy krag van God af. Die Here was sy bron van krag. Daarom kon Habakuk doen wat hy moes doen. Toe Paulus van die doring in sy vlees kla, antwoord die Here hom: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is (2 Korintiërs 12:9).

 

Habakuk kon soos ‘n ribbok hardloop. Hierdie beeld sê vir ons dat Habakuk deur die lewe soos ‘n ribbok deur die velde kon hardloop. ‘n Ribbok wat deur die velde hardloop, doen dit oënskynlik moeiteloos. As jy deur die lewe met die krag van die Here gaan, is dinge makliker as wanneer jy dit alleen probeer doen.

 

Habakuk kon ook op hoë plekke veilig loop. Hierdie beeld sê vir ons dat Habakuk met die krag en leiding van God sy pad deur oënskynlik onoorkomelike struikelblokke vind. In plaas van die moeilike klim wat baie mense ondervind, kon Habakuk veilig loop. As ons deur die lewe met die krag en leiding van God gaan, is dit makliker om die struikelblokke van die lewe te hanteer as wanneer jy dit alleen probeer doen.

 

Sonder God kan die lewe baie moeilik wees. Voordat jy van aangesig tot aangesig kom met die velde en berge van die lewe, moet jy Habakuk se woorde te harte neem. Soek die krag en leiding van God en maak dinge makliker vir jouself.

 

 




Gee my wysheid (10)

 

You cannot be a perfect mom, but you can be a prayerful mom. —Melissa Kruger

 

Gee my wysheid (10)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Geestelike wapenrusting

Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op verlossing as helm (1 Tessalonisense 5:8)

Ons geestelike vyande is baie en sterk en kwaadwillig. Ons moet onsself bewapen teen hulle aanvalle. Hierdie geestelike wapenrusting bestaan uit drie groot gawes: geloof, liefde en hoop.

 

Ons moet lewe deur geloof – dit sal ons nugter en waaksaam hou. Geloof is ons beste verdediging teen die aanvalle van ons vyande. Ons moet ‘n hart brandend van liefde hê. Ware en vurige liefde vir God sal ons ook waaksaam en nugter hou. Verlossing moet ons hoop wees. Hierdie hoop vir ‘n ewige lewe dien as helm om ons koppe te verdedig en te verhinder dat ons dronk word van die plesier van die sonde.

 

Paulus sê niks van hoe ons hierdie verlossing kan verdien nie, want die leer van verdienste is teen die Skrif. Ons hoop berus op God se genade. Dit is op sy genade waarop ons ons onwrikbare geloof bou. Hoe kan ons dit doen? Deur Jesus Christus se verdienste en genade. Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Vir ons verlossing is ons alles aan Jesus Christus verskuldig; ons hoop is in sy versoening gevestig.

 

 

 




Het ons belydenisskrifte nodig?

 

A person who is a good and true Christian should realize that truth belongs to his Lord, wherever it is found – Augustinus.

 

Het ons belydenisskrifte nodig?

As ons die Bybel het, waarom het ons nog belydenisskrifte nodig? Hierdie is ‘n vraag wat algemeen gevra word. Michael Bird (What Christians Ought to Believe) sê dat die belydenisskrifte nie alleen Bybels is nie, maar krities belangrik is om te weet  wat die Skrif oor God, Jesus, verlossing en die lewe wat kom, sê.

 

Dit is verstaanbaar dat moderne Christene huiwerig is om die belydenisskrifte te aanvaar. Meeste se enigste ondervinding van hierdie belydenisskrifte is ‘n eindelose herhaling. Hoekom is mense agterdogtig oor die belydenisskrifte? Hier is ‘n paar redes vir agterdog.

  • As ons aan esoteriese debatte oor tegniese teologiese jargon wat nie relevant is nie, blootgestel word.
  • As jy verward is oor die verband tussen die belydenisskrifte en wat die Bybel sê.
  • As jy glo dat belydenisskrifte net kerke verdeel

 

Dit is nie reg om te sê: “Ons glo net die Bybel” nie. Dit klink edel, maar daar is verskeie probleme. Kyk na al die verskillende kerke en dit is gou duidelik dat hulle nie saamstem oor wat die Bybel sê nie. Meestal is die verskille klein, maar soms is dit betekenisvol. As jy die Bybel glo, moet jy op een of ander stadium sê wat jy dink die Bybel sê. Wat sê die Bybel oor God, Jesus, verlossing en die eindtye? Belydenisskrifte sê wat jy dink die Bybel sê oor hierdie onderwerpe en dit is die goed wat werklik saakmaak. Hiermee stel jy die grense van jou geloof vas.

 

Ons kry belydeniosskrifte in die Bybel. In Deuteronomium 6:4 – 5 kry ons die sjema, Israel se beknopte belydenis van geloof in een God. Dit is hierdie geloof in een God wat hulle van die heidense gelowe onderskei het. Jesus en Paulus het beide hierdie belydenis bevestig (Markus 12:29; 1 Korintiërs 8:6).’

 

Gegewe hierdie konteks is dit verstaanbaar dat die vroeë kerk sy eie belydenisskrifte geformuleer het. Hierdie belydenisskrifte het gesê wat hulle glo die God van Israel reeds in Jesus Christus gedoen het en wat Hy nog in Hom gaan doen. Ons het dus reeds van kort na Jesus se opstanding mense wat ‘n kort opsomming van dit wat ons basies glo, opgestel het. Dit geld dan vir alle Christene oor die destydse Grieks-Romeinse wêreld.

 

Die algemene belydenisskrifte wat ons vandag gebruik, is Bybels en help ons om die Bybel beter te verstaan. Hulle vervang nie die Bybel nie, maar help ons om die Bybel beter te verstaan.