Psalm 18 (6)

 

The fear of God is the death of every other fear; like a mighty lion, it chases all other fears before it. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 18 (6)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hier is geen aanduiding dat die psalm verwys na iets wat God in die toekoms gaan doen of dat dit na iemand in die toekoms verwys nie. Dit is nie Messiaans nie. Dit is ‘n uitdrukking van dankbaarheid vir iets wat God vir die militêre leier van Israel gedoen het. Hierdie persoon is die koning en nie ‘n generaal soos Joab nie.

 

God het vier dinge vir hierdie koning – waarskynlik Dawid – gedoen.

  • Hy het hom van ‘n spesifieke vyand gered.
  • Hy red hom van sy vyande in die algemeen.
  • Hy stel hom in staat om sy vyande te vernietig.
  • Hy laat ander mense hom erken.

Dit pas in met die verhaal van Dawid soos ons dit in Samuel-Konings kry.

 

Hoe het Dawid dit reggekry?

  • Hy kon gevaar voorsien.
  • Hy het goeie vriende en offisiere gehad.
  • Hy was ‘n goeie generaal en dapper.
  • Die Here het vir hom gesê wat om te doen.
  • Hy het die Here vertrou.

 

Hierdie psalm is grotendeels ‘n verslag van die Here en sy optrede. Die klem val op God se betrokkenheid.

 

Maar verlossing roep om ‘n antwoord. Die verloste kan nie anders as om God te loof nie. Die grootste wat hy in sy getuienis en in sy lofprysing kan meld, is: Die Here leef! Hy lewe en Hy kan help. Dit is immers die God wat ‘n rots, ‘n skuilplek en ‘n redder is wat aan sy koning groot oorwinnings gee.

 

Waarom kan ons op die Here vertrou? Hy is ‘n magtige krygsman voor wie die hele skepping moet buig. As Hy verskyn, kom alles in beroering. As sy kinders om hulp roep, trek God uit om hulle te help. As die Here in sy almag verskyn, kom die aarde in beroering: Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud. Rook…vuur…gloeiende kole is sy wapens. Onreg en goddeloosheid maak die Here kwaad. Hy tree daarteen op. Hy oordeel almal wat sy kinders laat ly. Wee die een wat in sy pad staan. Die mense van die Nabye Ooste het geglo dat die natuurkragte die speelgoed van die gode was.

 

Ook die hemel kom in beroering voor God: Hy het die hemel afgebuig en afgekom. Hy is nie beperk tot die hemel nie. Hy voer sy heerskappy op aarde uit. Hy daal neer na die aarde toe om die vyand hier, in sy sogenaamde sterk vesting, aan te durf. Hy klim op ‘n gerub; Hy sweef op die vleuels van die wind. Hy gebruik die donkerte en die wolke-massas om sy vreesaanjaende koms te verberg. God bly onsigbaar. Al wat die mens sien, is die vreesaanjaende natuurverskynsels.

 

Hoekom kan ek op God vertrou? Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. In woord en daad het die Here getoon dat Hy betroubaar is. Hy doen wat Hy sê. Daarom weet ek: Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Hy alleen is God, net Hy is ‘n bron van sekuriteit. Wie anders as God is ‘n rots?

 

Hierdie God stel my in staat om my vyande te oorwin. Dit is nie ek wat die oorwinning behaal nie, maar God. Elke oorwinning wat ek behaal, kom van Hom af. Die psalmis loof God vir die toerusting wat Hy aan hom gegee het om sy taak te verrig. God gee krag, laat hom stewig staan, skenk voorspoed en leer hoe om oorlog te maak met die groot boog. Die digter ontvang nog meer: verlossing, beskerming, ondersteuning, ‘n behoorlike staanplek en krag. Nou kan hy sy eie verantwoordelikheid in die lewenstryd aanvaar.  God help, maar die mens mag nie stilsit nie. Ons is medewerkers van God.

 

Die boodskap van Psalm 18 is eenvoudig maar aangrypend: Die Here help in nood. Daar is baie gevare, baie vyande wat ‘n kind van God bedreig. Sommige dae staar ons selfs die dood in die gesig. Maar ons weet: God is vir ons ‘n bron van sekuriteit. Hy help ons om ons probleme en ons hartseer en ons swaarkry storm te loop en te oorwin. Daarom moet ons Hom loof voor die nasies – tot eer van sy Naam ‘n lofpsalm sing!

 




Gee my wysheid (3)

 

Life is not a walk across a field –  Boris Pasternak

 

Gee my wysheid (3)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Ons aanneming deur geloof

Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God (Galasiërs 3:26).

Die groot vooreg wat Christene onder die nuwe verbond geniet, is dat hulle nie meer dienaars, maar kinders is. Hulle word deel van God se familie. Hulle het toegang tot al die regte as sy kinders. Hoe het ons hierdie voorreg verwerf? Deur geloof in Christus Jesus. Deur ons doop is ons met Christus verenig. As ons in Christus gedoop is, is ons in sy dood gedoop; soos Hy weer uit die dood opgestaan het, so behoort ons vir die sonde te sterwe en opstaan in ‘n nuwe lewe. Ons moet dit meer dikwels onthou.

 

Alle ware Christene geniet die voorreg om kinders van Christus te wees. Die ou wet het ‘n onderskeid tussen Jood en heiden, tussen slaaf en vry, tussen man en vrou gemaak, maar dit is nie meer die geval nie. Ons staan almal op dieselfde vlak en ons is een in Christus. Almal wat opreg in Jesus Christus glo, word deur Hom aanvaar en word kinders van God deur geloof in Hom.

 

 

 

 




Gee my wysheid (2)

 

Faith defines the Church, love is its driving force, and hope keeps it in existence – Colin Morris

 

Gee my wysheid (2)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Wandel met God

Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is, en met dankbaarheid vervul (Kolossense 2:6 – 7)

Alle Christene het Jesus Christus die Here ontvang – altans dit is wat almal bely. Hulle het Hom aanvaar. Die groot bekommernis vir Christene wat Jesus Christus aangeneem het, is om saam met Hom te lewe/wandel. Ons moet saam met Hom in ons daaglikse lewe loop; ons moet ons gemeenskap met Hom handhaaf.

 

Hoe meer ons in verbondenheid met Jesus Christus lewe, hoe meer is ons in Hom gewortel en op Hom gebou en hoe nader leef ons aan Hom. Om dit reg te kry, is dit wat ons geleer is belangrik. ‘n Goeie onderrig het ‘n groot invloed op jou lewe. Ons moet vas staan in die geloof en dit met dankbaarheid.

 

Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie (Kolossense 2:8). Die Jode se lewens is deur die tradisies van die voorgeslagte beheer. Die heidene het die filosofie en die Christelike beginsels vermeng. Beide se denke is van Christus vervreem. Diegene wat hulle geloof op die denke van ander mense bou, het hulle rug op Christus gedraai. Jesus Christus is die Here en die hoof oor alle magte in die hemel en op die aarde.

 




Gee my wysheid (1)

 

To live is to change, and to be perfect is to have changed often – John Henry Newman

 

Gee my wysheid (1)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Bly by wat jy geleer het

Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was, en jy ken van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus (2 Tessalonisense 3:14 – 15)

Goeie mense, deur die genade van God, word beter en beter; slegte mense, deur die subtiele werking van die Satan, word slegter en slegter. Dit is nie genoeg om te leer wat goed is nie – ons moet tot die einde toe daarin volhard. As Timoteus aan die waarheid wat hy geleer het, vashou, sal hy die vangstrikke van die lewe vermy.

 

Dit is ‘n groot vreugde om seker van dinge wat ons geleer het, te wees. Goeie leermeesters wat self die waarhede wat hulle vir jou geleer het, ondervind het, is van onskatbare waarde. Dan moet jy ook die vaste fondament waarop jy gebou het, ken – die heilige Skrif. As jy God wil ken, moet jy reeds van kleins af die Skrif ken. Jou kinderjare is jou leer tyd. Dié wat dit wat reg is wil leer, moet dit uit die Skrif kry. Hoe dikwels lê ons Bybels nie daar eenkant en vergader stof nie. Selde kyk ons daarin.

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt (Jakobus 1:5).