Psalm 18 (5)

 

As the Lord of the Church, Jesus Christ was Himself a Teacher, so also His disciples carry on a teaching ministry. We cannot think of the Christian Church without teaching, any more than we can think of a circle without a centre; teaching and “doctrine” belong to its very nature. — Emil Brunner

 

Psalm 18 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

In die vorige blog het ons gelees hoe die Here verlos het. Nou gaan ons na die omgekeerde situasie kyk (18:31 – 49)

 

31God, sy weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.

Hier kry ons nog ‘n stelling van die Here se integriteit. Die Here se optrede ten opsigte van die koning word beskryf. Hierdie is ‘n opsomming van die voorafgaande sowel as ‘n verwagting van wat sal volg. Hy herhaal die stelling van vroeër – die Here is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil.

 

32Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is ‘n rots buiten ons God?

‘n Lang lys retoriese vrae versterk die aansprake. Hier word weer soos in vers 3 na ‘n rots verwys.

 

33God is die een wat my met krag omgord en my pad gelyk maak.

Die volgende paar verse beskryf die karakter van die Here,. God is die psalmis se persoonlike wapendraer. Weer word daarna verwys dat die Here sy paaie gelyk maak.

 

34Hy maak my voete soos dié van wildsbokke; Hy laat my op hoë plekke staan.

35Hy rig my hande af vir die geveg sodat my arms ‘n bronsboog kan span.

Die leier se voete is vas geplant. Hy het energie en/of ratsheid soos ‘n wildsbok. Hy kan dus, soos ‘n wildsbok na hoë plekke toe opklim. Van voete gaan die digter na hande en arms. Hoe het die Here sy hande afgerig? Deur sy arms in staat te stel om ‘n bronsboog te span. So ‘n bronsboog was groot en  om dit te span vereis krag. Hierdie was waarskynlik ‘n boog van hout wat deur brons versterk is.

 

Verse 36 – 46 gaan voor om die optrede van die Here te beskrywe, maar nou word Hy aangespreek.

 

36U het vir my u skild van verlossing gegee, u regterhand ondersteun my en u antwoord maak my sterk.

Weer lees ons van die Here se skild. Die Here se skild is die bidder se verlossing. Dit word verder ondersteun deur die Here se regterhand wat ondersteun en die Here se antwoord op die psalmis se gebed wat hom sterk maak.

 

37U skep ruimte vir my voetstappe; my enkels swik nie.

Die psalmis hoef nie op gevaarlike bergpaaie te loop nie. Hy sal nie sy balans op ‘n gevaarlike voetpad verloor nie.

 

38Ek agtervolg my vyande en haal hulle in; ek draai nie om voordat ek hulle uitgewis het nie.

39Ek verpletter hulle, hulle kan nie weer opstaan nie, hulle val onder my voete.

Hier sien ons die leier se aggressiewe optrede. Hy agtervolg sy vyande sonder om terug te hou. Hy wis hulle sonder genade uit. Geen kompromieë nie. Hulle moet so platgeslaan word dat hulle nie weer kan opstaan nie. Hulle val onder sy voete en daar bly hulle. Hier sien ons geen teken van berou nie – dit was ‘n noodsaaklikheid.

 

40U omgord my met met krag vir die geveg; U laat my teenstanders voor my die knie buig.

Hier sien ons weer die Here se verantwoordelikheid vir die gebeure, Dit was die Here wat dit vir die leier moontlik gemaak het om te veg. Die Here red hom nie net as hy in ‘n gemors beland nie, maar neem die inisiatief om hom vir die geveg voor te berei. Die Here rus hom toe en stuur hom op sy pad.

 

41My vyande – U het hulle vir my laat vlug en my haters – ek kon hulle vernietig,

Die Here laat die vyande vlug.

 

42Hulle het om hulp geroep, maar daar was geen redder nie, selfs na die Here geroep, maar Hy het hulle nie geantwoord nie.

Die vyande kla omdat die Here ‘n bedreiging vir hulle is. Hulle roep waarskynlik na hulle gode. Maar hierdie gode kan nie die Here verslaan nie. Hierdie vers sien hulle onderhandelings gestel teeenoor die Here se verhouding met sy leier. Hulle roep, maar niemand reageer nie. Niemand kan hulle verlos nie.

 

43Ek het hulle so fyn gestamp soos stof in die wind; soos modder in die strate het ek hulle uitgegooi.

Hulle is so fyn gestamp dat die wind hulle kan wegwaai. Die vyande het beplan om die leier te vernietig, maar hy verseker dat hulle planne misluk,

 

44U het my van strydlustige mense bevry, my die hoof van nasies gemaak. Mense wat ek nie geken het nie, dien my;

Weereens bevestig die psalmis dat dit alles die gevolg van die optrede van die Here was. Dit word as ‘n bevryding beskryf. Nie alleen maak die Here se optrede verlossing en vernietiging van die vyande moontlik nie, maar die leier verkry soewereiniteit oor ander nasies.

 

45sodra hulle van my hoor, gehoorsaam hulle my; vreemdes veins onderdanigheid aan my,

Die soewereiniteit strek verder as sy vyande – dit sluit mense in wat die leier nie eers geken het nie. Hulle het van sy oorwinnings gehoor en haas hulle om hulle aan hom te onderwerp. Hulle was bang hulle sou sy volgende slagoffers wees,

 

46Vreemdes verloor moed, bewend kom hulle uit hulle vestings

Hoekom verloor die vreemdes moed en bewe hulle? Hulle is ontsteld oor die leier se oorwinnings. Hulle het gedink dat hulle sterk was; hulle het vertroue in hulle vestings gehad.

 

47Die Here leef! My rots moet geprys word! Die God wat my red, is verhewe!

Die Here lewe en Hy is aktief. Dit is goeie nuus vir mense wat na Hom in hulle nood kom. Omdat Hy lewe en aktief is, is die Here my rots. Daarom moet Hy as die verhewe Een aanbid word.

 

48God is die een wat my toelaat om wraak te neem; Hy onderwerp volke aan my,

49Hy wat my van my vyande bevry. Ja, U verhoog my bo my teenstanders; U ontruk my aan manne van geweld.

Hierdie is ‘n opsomming van die Here se optrede.

 

Psalm 18 eindig deur ruimtelik en chronologies verby die huidige te kyk.

 

50Daarom sal ek U loof onder die volke, Here, u Naam wil ek besing.

Dit begin met lof aan die Here. Dit geld nie net vir Israel nie, maar vir alle volke. Die aanname is dat die Here se intrede vir Israel en sy leier ook positiewe betekenis vir ander volke sal hê. Dit is dan in ooreenstemming met die Here se belofte aan Abraham,

 

51Dit is Hy wat aan sy koning groot oorwinnings gee, wat troue liefde bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en sy nageslag vir altyd.

Die basis vir die lof aan God word beskryf met woorde soos oorwinnings en troue liefde.

 

Volgende keer gaan ons na die teologiese implikasies van Psalm 18 kyk.

 

 

 




Wat het Paulus die mense geleer?

 

The sacraments are visible signs that represent an invisible reality – Augustinus

 

Wat het Paulus die mense geleer?

In Tessalonika het die mense baie opgewonde geraak oor Paulus se prediking. Hulle was so opgewonde oor Jesus se wederkoms in die onmiddellike toekoms dat hulle opgehou het om te werk. Hulle entoesiasme vir Jesus Christus se terugkeer het hulle lewenswyse verander. Wat het Paulus hulle geleer?

  • Dat Jesus weer gaan kom; dat niemand weet wanneer dit sal gebeur nie; dat hulle dus ‘n lewe van hoop kan lewe. Hoop beteken dat ek nou lewe in die lig van die genade wat sal kom. Te veel gelowiges bekommer hulle oor dinge van die eindtyd – die wegraping, die groot verdrukking, ens. – vir die verkeerde redes. Hulle is nuuskierig. Paulus se onderrig gaan oor hoop – hoop vir die wêreld, die koninkryk en die ewige lewe. Paulus probeer nie hulle nuuskierigheid bevredig nie; hy probeer hulle verseker dat die genadige God eendag alles sal regmaak.
  • Dat Jesus hulle van onderdrukking, sonde en die dood sou verlos. As Jesus hulle verlos het, sal hulle veilig in God se hande wees en die lewe in sy koninkryk geniet. Dit beteken nie dat hulle nie sal swaarkry voordat dit gebeur nie. Hy waarsku hulle dat die wettelose mens eers losgelaat sal word voor Jesus weer kom.
  • Hulle moet getrou vir Jesus volg totdat Hy weer kom. Paulus sê dat hy die Tessalonisense bemoedig en aangespoor het en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat hulle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê (1 Tessalonisense 2:12). Later sê hy vir hulle dat hulle geroep is om heilig en rustig te lewe (4:7, 11). God se genade maak so ‘n lewe moontlik.
  • Hy beveel hulle om op te hou leeglê en dat hulle hulle aandag by hulle werk moet bepaal en hulle eie brood moet verdien (2 Tessalonisense 3:11 – 12).

 

 




Maak plek in jou dagboek

 

Of all nature’s gifts to the human race, what is sweeter to a man than his children? -Marcus Tullius Cicero

 

Maak plek in jou dagboek

Volgens Clair Diaz-Ortiz kan jy minder werk as jy beter werk. Jy kan net so produktief wees deur minder te werk. Hoe kry sy dit reg? Sy het ‘n proses wat ses stappe behels, ontwikkel.

  1. Besluit

Ons sal nie kom waar ons wil wees tensy ons weet waar ons wil wees nie. Daarom moet ons besluit wat werklik belangrik in ons lewens is. Dan sal jy meer produktief wees en jou lewe sal meer vervuld wees. As jy dit weet, kan jy jou doelwitte vir die jaar opstel. Doelwitte moet altyd aan Peter Drucker se SMART raamwerk voldoen.

 

  1. Organiseer

Dit beteken jy moet die strategieë om jou doelwitte te bereik, implementeer. Daar is vier kritiese idees van groot belang as jy dit doen.

 

  1. Beperk

Fokus op die dinge wat jy goed kan doen. Onthou die Pareto-beginsel: 20% van jou pogings is verantwoordelik vir 80% van jou resultate. (Die teenoorgestelde is ook waar.) As jy meer produktief wil wees, moet jy baie doelgerig wees as jy ja sê – en ook nee.

 

  1. Redigeer

Produktiwiteit neem af as jy te veel ure werk volgens navorsing. Dit beteken ons moet ons beste werk lewer deur minder te doen, maar meer te fokus. Sonder afleidings kan jy baie in ‘n kort tydjie gedoen kry.

 

  1. Vereenvoudig

Hierdie is ‘n aantal strategieë om die werk wat jy moet doen so doeltreffend as moontlik te doen. Een so ‘n strategie is byvoorbeeld om soortgelyke take in dieselfde tydsgleuf te groepeer. Baie belangrik is om alle vergaderings tot een of twee dae per week te beperk. Hou dae oop waar jy skeppend kan werk.

 

  1. Stop

As jy fisies fiks wil word moet jy oefening en herstelperiodes balanseer. Ons moet dieselfde by die werk doen. As jy wil fokus en goeie werk doen, moet jy soms afskakel. Rus gereeld tydens die dag; hou streng by jou werksure; neem gereeld vakansies. Dan sal jou produktiwiteit vermeerder.

 

Almal van ons wil ‘n lewe vol van die dinge waarvan ons hou – werk, familie, geloof en ontspanning – hê, Dit kan ons net doen as ons keer dat “besigwees” nie ons lewens oorneem nie.

 




Geluk teenoor vreugde

 

Nobody can hurt me without my permission. – Mahatma Gandhi

 

Geluk teenoor vreugde

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees (Romeine 15:13)

Ten midde van al die swaarkry vergeet Paulus van al die negatiewe dinge en praat van vreugde en hoop. In ons huidige samelewing praat ons eerder van gelukkig wees. Maar vreugde en geluk is nie dieselfde ding nie.

 

As ek goed voel, is ek gelukkig. Om goed te voel, hou verband met goeie dinge in die lewe – inkomste, huis, motorkar, mooi vrou, slim kinders, ens. Tog is daar iets wat pla: die Weste groei ekonomies; mense se inkomste neem toe. Tog wys navorsing dat mense nie gelukkiger is as in die verlede nie. Hoekom nie? Geluk berus op ‘n vergelyking met ander mense. Solank as wat ek meer as my buurman het, is ek gelukkig. As ek van armoede na ‘n gemaklike lewe skuif, is ek gelukkig, maar my geluk vermeerder nie as ek eers die basiese besittings het nie. Hoekom nie? Hoe meer ek het, hoe meer wil ek hê; hoe meer ek wil hê, hoe minder kan ek kry; hoe minder ek kan kry, hoe minder gelukkig is ek.

 

Wat sou die kundiges vandag van Paulus se gelukkigheid sê? Heel onder. Maar dit is nie belangrik nie, want Paulus fokus op vreugde en nie geluk nie – en die verskil is dramaties.  Daar is ‘n paar belangrike punte oor vreugde in Paulus se lewe:

  • Vreugde kan net deur die gelowige wat deel van die geloofsgemeenskap is, ondervind.
  • Vreugde is nie afhanklik van omstandighede nie.

Die betekenis van vreugde, volgens Paulus, vloei direk voort uit die evangelie – die storie van Jesus wat aan die kruis gesterf het, begrawe is en uit die dood opgestaan het. Vreugde en lyding is dus nie onverenigbaar nie. Studies oor geluk beklemtoon dat jy van swaarkry ontslae moet raak. Maar vir die Christen is dit nie so nie. Diegene wat ly, is diegene wat die betekenis van vreugde ken. Paulus het vreugde geken, al sou hy nie aan die wêreld se definisie van gelukkig voldoen het nie.

 

In Filippi word Paulus en Silas voor die owerhede gebring. Hulle word gevonnis, hulle klere word afgeskeur en hulle word geslaan. Toe word hulle in die tronk gegooi met hulle voete in die houtblok vasgeklem. En nou die deel oor vreugde: Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister (Handelinge 16:25). Paulus en Silas doen dit nie as ‘n vorm van protes nie. Nee, hulle is gevul met vreugde, want hulle weet hulle lyding was deelname aan die evangelie.

 

Paulus se teorie oor vreugde is  om die gawe wat God aan jou gegee het, te beoefen – al beteken dit swaarkry, want jy weet dat God steeds aan die werk is. Jy moet hierdie vreugde deel met ander lede van die geloofsgemeenskap.

 

Wat is vreugde? Die innerlike bevrediging wat die gevolg is van ons verstaan van ons plek in die lewe in die lig van wie God is en waarheen God met ons op pad is – sy koninkryk. Vreugde  se oorsprong is mense, nie dinge nie; vreugde se oorsprong is verhoudings, nie omstandighede nie. Net gelowiges kan ondervind wat Paulus ondervind het.