Psalm 18 (3)

 

Christ is much more powerful to save than Adam was to destroy – Johannes Calvyn

 

Psalm 18 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

18:8 – 16:

Die Here se reaksie op die psalmis se bedreiging word nou verder beskryf. Die fisiese verskynsels wat hier genoem word, word dikwels in die Bybel gebruik om God se teenwoordigheid en betrokkenheid te beskryf. God was dus betrokke by Dawid se lewe. Hierdie verse beskryf die koms van die Here, maar beskryf Hom nooit nie.

 

Toe het die aarde geskud en geruk; die fondamente van die berge het gebewe.

Die gebeure was aardskuddend – skud, ruk en bewe. Die feit dat die aarde se fondamente geskud het, wys dat hierdie gebeure die stabiliteit van die aarde bedreig het. Fondamente is deel van die aarde se sekuriteit.

 

Dit het geskud, want sy toorn het ontvlam.

9Rook uit sy neus het opgestyg;

Die woord skud word herhaal. Nou word die rede gegee: die Here is kwaad. Dit is wat die aarde laat skud het.

 

‘n Vuur uit sy mond het verteer, gloeiende kole het daaruit gebrand.

Ons sal later sien dit verwys onder andere na weerlig,

 

10Hy het die hemel afgebuig en neergedaal; duisternis was ondere sy voete

Die Here is nog in die hemel. Daar het Hy die psalmis se uitroep gehoor. Maar nou beweeg die Here – Hy buig die hemel af. Hy daal neer. Maar daar was duisternis onder sy voete, want enigeen wat die Here sien, sal nie leef nie. Die duisternis beskerm die mense.

 

11Hy het op ’n gerub gery,Hy het gevlieg, gesweef op die vlerke van die wind

Hoe het die Here neergedaal? Hy ry op ‘n gerub. Die gerubs is aanduidend van die Here se teenwoordigheid.

 

12Hy het donkerte sy beskutting gemaak; rondom Hom was sy skuiling ‘n donker watermassa, ‘n dik laag wolke.

 13Uit die glans voor Hom het sy wolke verby getrek, met hael en gloeiende kole vuur.

Hierdie vers keer terug na die donkerte wat die Here van mense afskerm. Dit beskerm die mense Die Here kan die duisternis deurdring met hael en gloeiende kole.

 

14Die Here laat die donder weerklink in die hemelruim; die Allerhoogste laat sy stem hoor met hael en gloeiende kole vuur.

15Hy stuur sy pyle en jaag hulle uiteen; Hy werp sy weerligstrale en bring hulle in verwarring.

Dit is die psalmis se vyande wat uitmekaar gejaag word.

 

16Die beddings van die strome het sigbaar geword; die fondamente van die aarde is ontbloot vanweë u dreiging, Here, vanweë die windvlaag uit u neus,

Beddings van strome dui gewoonlik op water op aarde en nie water bo die hemel nie. Die ondergrondse waters word blootgestel. Die fondamente van die aarde word ontbloot. Daarmee word die sekuriteit van die aarde bedreig.

 

Ons het nou gesien hoe die Here reageer op die doodsgevaar wat die psalmis bedreig het, Volgende keer kyk ons na hoe die Here verlos.

 

 




Moenie herkou nie

 

Evil is not a principle in creation itself but is the willful distortion of good gifts into an arsenal deployed against God’s reign. —Michael Horton

 

Moenie herkou nie

Anders as koeie herkou ons nie ons kos nie, maar ons is baie geneig om ons gedagte te herkou. Om te herkou, beteken dat ons gedagtes uit die verlede, gewoonlik onaangename gedagtes,  oor en oor herdink. Hoekom doen ons dit? Dit is gewoonlik gebeure waarin ons seergekry het of sleg behandel is – veral as dit nie opgelos is nie. Deur herhaaldelik weer na hierdie gebeure te kyk, voel ons dat ons gevoelens teenoor dié wat betrokke was, geregverdig word. Ons doen dit veral as ons gedagtes nie met iets anders besig is nie – daar is niks nuuts om na te kyk nie.

 

Hoekom is dit van geen waarde nie? Om dit weer en weer te speel, is nie dieselfde as om dit op te los nie. Dit gaan dikwels gepaard met emosies soos frustrasie, verraad en kwaad wees. Alles word ook ‘n bietjie vaag en onakkuraat. Dit is moeilik om nuwe, positiewe interaksies te ontwikkel as die kanaal op herhalings vasgehaak het.

 

Hoe stop ons dit? Besef dat daar geen waarde daarin is om gebeure gedurig te herkou nie. Vra net: Watter lesse kan ons uit die gebeurtenis leer? Doen iets om die konflik op te los of beweeg net aan. As jy agterkom jou gedagtes dryf in hierdie rigting, probeer doelbewus om die kanaal te verander. Hou jou denke aktief.

 

Watter tonele herkou jy gereeld? Hoekom laat jy dit toe? Die kontrole is in jou hande. Verander die kanaal.

The longer we dwell on our misfortunes the greater is their power to harm us” – Voltaire.

 




Hoekom is evangelisasie so moeilik?

 

The main problem our heart has is not so much desires for bad things, but our over-desires for good things – Timothy Keller

 

Hoekom is evangelisasie so moeilik?

Die evangelie versprei van persoon tot persoon, van familie tot familie, van gemeenskap na gemeenskap. Luister na hierdie verse uit Handelinge:

  • Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen (12:24).
  • Die woord van die Hete het dwarsdeur die hele streek versprei (13:49).
  • So het die woord van die Here sy krag getoon en al hoe verder versprei (19:20).

As die woord van God die krag het om te versprei deur die werk van die Heilige Gees, hoekom is evangelisasie dan so moeilik? Daar is ‘n paar hindernisse waarna ons moet kyk.

 

  1. Gebrek aan kennis van die evangelie

Hoe dikwels het jy nie as Christen al die evangelie gehoor nie – preke, boeke, ens? Dikwels. Tog sukkel baie van ons om die waarhede van die evangelie te artikuleer op ‘n eenvoudige, samehangende en verstaabare manier.

 

  1. Apatie

Baie van ons gee net nie om dat mense verlore gaan nie – ons lewe en prioriteite maak dit duidelik. Daar is geen tyd in ons besige skedules  om betrokke te raak by mense wat Christus nog nie ken nie. Ons bid nie meer vir sulke mense in ons gemeenskap nie. Ons het nie meer vriende wat nie Christene is nie. Wanneer laas het jy iemand wat Christus nie ken nie vir ete genooi?

 

  1. Vrees

Wat sal ander van my dink? Sommige mense word verlam deur  die blote gedagte dat ander vir hulle sal lag of vir hulle sal spot. Dalk oordeel hulle my soos hulle sommige fanatieke gelowiges oordeel.

 

  1. ‘n Gebrek aan deernis

Ons het nie deernis vir die ongelowiges nie. Ons het al vergeet wat dit beteken om sonder hoop en los van Christus te lewe. Luister na Paulus: Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kan wees (Romeine 9:3).

 

Ons kan hierdie hindernisse nie alleen oorwin nie, maar saam as geloofsgemeenskap kan ons dit doen. Hoe kan ons dit doen?

  • Bid saam vir die ongelowiges.
  • Dink saam na oor die evangelie.
  • Pas saam die evangelie toe.
  • Bewys saam die krag van die evangelie.

 

 




Jeremia en lyding

 

The right manner of growth is to grow less in one’s own eyes. —Thomas Watson

 

Jeremia en lyding

As ons die storie van Jeremia lees, sien ons dat hy huil met diegene wat huil, dat hy die rol van sonde in lyding besef en dat hy op God se absolute soewereiniteit vertrou – hy weet wie die ware vyand is. Daar is nog ‘n belangrike les om te leer: Jeremia treur nie soos een wat geen hoop het nie. Sy hoop is volledig in God se karakter.

 

In Klaagliedere lees ons baie van lyding. Daar was wydverspreide vernietiging en Jeremia ly saam met sy mense. Maar dit is nie onbeheerste hartseer en wanhoop nie. Jeremia het nie beheer verloor nie – hy treur nie soos iemand wat geen hoop het nie. Wat is die basis van sy hoop?

Om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe. Daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mense wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here … Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor die mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring  (3:21 – 33)

Die Here se verbondsmense het swaar gely, maar die Here sal Israel nie vernietig nie. Jeremia se hoop lê in die deernis, liefde en verbond van die Here.

 

Wat dien as anker van Jeremia se hoop is God se karakter – sy ontferming en dat ellende en beproewing teen sy sin is. Hierdie is nie ‘n blinde en vae vertroue in God se karakter nie, want hy klou vas aan God se beloftes. Die volk se ontrou sal nooit God se trou uitwis nie. God sal nooit sy verbond verbreek nie. Hy is steeds getrou aan sy beloftes.

En omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg. Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het, ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is. Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is (Hebreërs 6:17 – 19).

 

Ons hoop, veral in lyding, is ook die Here se genade en eindelose liefde.