Psalm 18 (1)

Saul was going to Damascus to take Christ’s people prisoner; he ended up entering Damascus as a prisoner of Christ – Tim Keller

Psalm 18 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

God tree op en Dawid tree op

Hierdie lang getuienis van hoe  God die psalmis van ‘n aanval verlos en gevaar in oorwinning verander het, is die langste van al die dankseggingspsalms. [Net Psalms 78 en 119 is langer as hierdie psalm.] Verse 1 – 2 en 49 – 50 vorm die raamwerk vir die psalm. Breedweg vertel die psalm ons van hoe doodsgevaar die psalmis bedreig het (18:3 – 6); hoe die Here gereageer het (18:7 – 15); hoe die Here verlos het (18:16 – 29); hoe die situasie omgekeer is (18:30 – 48). Dwarsdeur die psalm kry ons die teenstelling tussen hoogtes en dieptes. Nege maal praat die psalm van teenstanders en aanvallers; elf maal praat die psalm van die Here se verlossing of redding. Die een party gaan van hoogtes na dieptes en die ander van dieptes na hoogtes. Die sleutel tot hierdie bewegings is die Here. Die punt wat die psalm maak, is dat die spreker se God (Jahwe, my God) die magtige en enigste ware God is.

 

Die spreker is uit nood, veroorsaak deur mense, verlos. Hierdie is moontlik ‘n psalm wat die koning moet bid na ‘n oorwinning. Die spesifieke verwysing na Dawid in verse 49 – 50 mag daarop dui dat hierdie psalm verwys na Dawid. Afgesien van enkele kleiner verskille kom hierdie dankpsalm van Dawid net so in 2 Samuel 22 voor. Dit is ‘n danklied na verlossing met ‘n troosvolle boodskap: Die Here help in nood.

 

18:1: Opskrif.

Vir die musiekleier. Van die dienskneg van die Here. Van Dawid. Hy het die woorde van hierdie lied vir die Here voorgedra in die tyd toe die Here hom gered het uit die hand van sy vyande en uit die hand van Saul.

Vir die musiekleier mag waarskynlik daarop dui dat die psalm ‘n rol in die tempeldiens gespeel het. Die dienskneg van die Here verwys waarskynlik na die koning. Hierdie psalm verwys nie na ‘n enkele insident nie, maar na vyande en na Saul. Ons moet versigtig wees om dit aan ‘n enkele insident in Dawid se lewe te koppel.

 

Daar is ‘n aantal sienings oor die oorsprong van hierdie psalm.

  1. Dit is Dawid se persoonlike getuienis. Daar is niks wat daarop dui dat Dawid persoonlik die psalm geskryf het nie.
  2. Dit is vir Dawid tydens sy leeftyd geskryf – moontlik in samehang met die berig oor Dawid se bewind in 2 Samuel.
  3. Dit mag vir die Dawidiese koning in die tyd voor die ballingskap geskryf gewees het – moontlik deur die musiekleier.
  4. Dit mag ter ere van Dawid geskryf wees. Die gemeenskap na die ballingskap het groot waarde aan Dawid geheg – sy militêre oorwinnings en sy persoon. Hierdie is die waarskynlikste opsie.

Die psalm gaan oor Dawid – daarmee stem almal saam. Dit is ‘n getuienis wat die Here eer. Dit getuig van die Here se betrokkenheid in die lewe van Dawid. Die psalmis in daarvan bewus dat die Here in buitengewone omstandighede beslissend opgetree het.

 

Volgende keer gaan ons kyk na die doodsgevaar wat die psalmis bedreig.

 

 




Geloof, vergeet en vrugbaarheid

 

Fearing no insult, asking for no crown, receive with indifference both flattery and slander, and do not argue with a fool. -Aleksandr Pushkin, digter en skrywer (6 Jun 1799-1837)

 

Geloof, vergeet en vrugbaarheid

Brian Harris het ‘n interessante blog oor Genesis 41 geskryf. Genesis 37 vertel vir ons van Josef se drome. Hy word deur sy broers as slaaf verkoop. In Egipte aangekom, koop Potifar hom en Josef word as hoof nan Potifar se huishouding aangestel. Daar voel Potifar se vrou dat sy beledig is toe Josef nie in haar toenaderings belangstel nie. Sy kla hom van poging tot verkragting aan en Josef beland in die tronk.

 

As ons by Genesis 41 kom is Josef 30 jaar oud en reeds 13 jaar ‘n slaaf. Nou lees ons dat Farao ‘n droom gehad het (41:1). In minder as 24 uur verander Josef se status van gevangene na tweede in bevel in Egipte. Ons sien duidelik God se hand in die agtergrond. Al die raadgewers en waarsêers in Egipte kon nie die farao se droom verklaar nie. Om drome te interpertreer was normale praktyk vir waarsêers in antieke tye. God maak ‘n pad vir Josef oop.

 

Daar is ook ander gebeure wat wys dat God aktief in die agtergrond besig is. Die hoof van die skinkers was saam met Josef in die tronk en hy onthou dat Josef daar ‘n droom vir hulle uitgelê het. Toevallig? Nee. God se  werk. Josef verskyn voor die koning en lê die farao se droom uit. Dit is duidelik dat iemand in bevel moet wees van die program om ‘n ramp te verhoed.  Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte. As God intree, gebeur dinge vinnig.

 

Een van die lesse van Genesis 41 is dat God altyd aan die werk is. Soms in die agtergrond (Josef ontmoet die skinker in die tronk); soms subtiel (die waarsêers kan nie die koning se droom uitlê nie); soms duielik (Josef lê die farao se droom uit). Josef word die belangrikste man naas die farao in die land. Onthou: Egipte was destyds die supermoondheid.

 

In 41:51 – 52 lees ons van Josef se twee seuns. Name is belangrik. Die een noem hy Manasse – Want God het my alles laat vergeet. Josef kyk na die toekoms en nie na die verlede nie. Al die eer kom God toe. Want dit is God wat hom die verlede laat vergeet het. In almal van ons se lewens is daar seerkry, probleme, mislukking en stukkende drome. Ons kan baie maklik bitter word. God kan ons help om die verlede te vergeet. Glo dit en doen dit.

 

Die tweede seun noem hy Efraim – want God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is. Weer sê Josef dat God agter die skerms gewerk het. Egipte was sy land van swaarkry en ballingskap. Juis hier maak God hom vrugbaar. Josef kon maklik sy rug op Egipte gedraai het, maar God laat nie toe dat ons kleinlike, oppervlakkige mensies word nie. Daarom kon Josef uuitjubel dat God hom juis in Egipte vrugbaar gemaak het.

 

Baie van ons is op plekke wat ons nie gekies het nie, maar God roep ons steeds om vrugbaar te wees. Een van die spesiale dinge as ons deel van God se familie is, is dat ons diegene met wie ons in aanraking kom, moet seën. Ons is die sout vir die aarde. Christene is mense wat ‘n verskil maak daar waar hulle ook al is. Hoekom? Want ons vertrou dat God altyd in beheer is. Soms help Hy ons om te vergeet; soms help Hy ons om opbouend en vrugbaar te wees.

 

 




God is redelik

There is always something to do. There are hungry people to feed, naked people to clothe, sick people to comfort and make well. And while I don’t expect you to save the world, I do think it’s not asking too much for you to love those with whom you sleep, share the happiness of those whom you call friend, engage those among you who are visionary, and remove from your life those who offer you depression, despair, and disrespect. -Nikki Giovanni, digter (b. 7 Jun 1943)

 

God is redelik

Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here. Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrrooi, julle sal wit word soos wol (Jesaja 1:18).

Hierdie was Matthew Henry se gunsteling vers in die Ou Testament. Dit is veral die eerste deel van die vers wat gedurig in sy publikasies na vore kom. Daarmee beklemtoon hy die redelikheid van God en die Christendom. In sy kommentaar op hierdie vers wys Henry vir ons God se redelikheid teenoor Israel. Dit is iets wat ons steeds moet bemoedig.

 

  1. God het hulle nie eenvoudig verwerp as gevolg van hulle sondige rekord nie, Hy verwerp wel hulle dade as onvoldoende om versoening vir hulle sondes te doen, maar Hy verwerp nie vir hulle nie.
  2. God daal tot op hulle vlak om met hulle te redeneer. Die God van die hemel daal af om die saak met diegene wat Hom verwerp, te beredeneer.
  3. God eis bewyse van opregte bekering en verandering voor hy sake verder met hulle bespreek. Terwyl hulle hande nog vol bloed was, wou God niks met hulle te doen gehad het nie – al bring hulle al die voorgeskrewe offers. As hulle hulleself was en reinig, kan hulle Hom nader en die saak verder bespreek.
  4. God het hulle nie net gekritiseer nie, maar ook ‘n pad van herstel uitgestippel.
  5. God sê dat geen hoeveelheid diens aan Hom kan vergoed vir onregverdige optrede teenoor mense nie. Gebede en offers sal nooit vergoed vir bedrog en onderdrukking nie Geregtigheid teenoor mense is net so ‘n teken van ware godsdiens as liefde vir God.
  6. Ten spyte van hulle vorige opstand kan hulle in God se guns herstel word.
  7. God verwag min van hulle – hulle gewilligheid en begeerte om te gehoorsaam.
  8. Hy belowe soveel – die vergewing van hulle sondes en blydskap.
  9. As hulle die aanbod weier en gaan voort met hulle ongehoorsaamheid sal hulle regverdig geoordeel word.

 

Dit is nie net God wat redelik is en die saak met ons wil uitmaak nie, maar Hy verwag dieselfde van ons.

Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God (1 Petrus 3:15 – 16).

 

 




Psalm 20 (1)

 

In the end dear friend, it is always between us and God, not between us and them. Moeder Teresa

 

Psalm 20 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema:  ‘n Seën vir die koning

Dit is gou duidelik dat vers 2 – 6 bymekaar hoort, maar by vers 7 gebeur daar iets nuuts. Verse 2 – 6 is die woorde van ‘n groep mense aan ‘n individu in een of ander krisis. In vers 10 sal ons sien dat dit die koning is. In vers 7 praat ‘n individu. Dit is ‘n reaksie op vers 2 – 6. Vers 2 – 7 is ‘n verklaring van vertroue in wat die Here sal doen of ‘n proklamasie van sy seën. In verse 8 – 10 neem die oorspronklike sprekers die  koning se verklaring van trou aan die Here en sluit die psalm af met ‘n gebed en ‘n finale woord waarin vertroue uitgespreek word. Die psalm is ‘n gesprek tussen die mense en die koning.

 

Hierdie psalm is waarskynlik gebruik as ‘n geveg verwag word. Dit mag ook tydens ‘n gereelde liturgiese gebeurtenis gebruik word. Die versekering dat die koning sal oorwin as daar oorlog kom, moet immers gereeld bevestig word. Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie.

 

Psalm 20 is ‘n gebed om hulp in tyd van (militêre) bedreiging. Die volk vra dat die Here aan die koning oorwinning sal gee. Die koning staan blykbaar aan die vooraand van ‘n groot militêre veldtog of veldslag. Die offer wat so ‘n gebeurtenis voorafgaan, is gebring. Nou word daar voorbidding gedoen vir die koning met die oog op wat voorlê.

 

20:1: Opskrif

Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.

Hierdie psalm is ‘n dialoog tussen mense en die koning.

 

20:2 – 6: Die Here hoor op die dag van nood. 

In die Ou Testament is seën die taak van leiers soos Moses, Dawid en ander konings en van priesters. Gewone mense het die vermoë om mekaar te seën en ook om die koning te seën. Die openingsverse mag dui op die seën van ‘n priester.

 

2Mag die Here u antwoord op die dag van benoudheid; mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.

3Mag Hy vir u hulp stuur uit die heiligdom, en vanaf Sion u ondersteun.

Die eerste deel van beide verse praat van konkrete optrede: antwoord … hulp stuur. Hierdie is twee aspekte wat mense sou gebruik in ‘n gebed in tye van nood. Eerstens is daar ‘n verklaring dat die Here gehoor en gaan optree. Dan is daar ‘n optrede wat hierdie verklaring ‘n werklikheid maak. Die heiligdom is Sion, alhoewel ons later sal sien dat die Here ook uit sy heilige hemel antwoord. Sion is die plek waar die Here besluit het om te woon. Sion is waar die mense en die koning bymekaar is.

 

 4Mag Hy al u offergawes in gedagte hou, u brandoffers aanvaarbaar vind. Sela.

Sion is die plek waar offers gebring word en waar seën verkondig word. Dit ook waar die Here op die koning se offers en gebede reageer. Seën word hier in dade omgesit. Dit gebeur omdat die Here die koning se offergawes in gedagte hou. Die offergawes sê vir ons die koning is ernstig as hy die Here in ‘n noodsituasie nader.

 

5Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, en elkeen van u planne laat slaag.

Hier kyk ons steeds na die Here wat die koning se gebed beantwoord en reageer op sy offergawes. Die koning se denke het planne geformuleeer. Hy doen dit egter nie onafhanklik van die Here nie.

 

6Ons wil juig oor u verlossing, in die Naam van ons God die vaandel hoog hou. Mag die Here aan al u versoeke voldoen.

Hier word dit duidelik wie hier praat: of die mense of iemand wat namens hulle praat. Dit ook duidelik dat die krisis waarvan hier gepraat word nie net die koning raak nie, maar ook die mense. Die koning het verlossing nodig en as hy dit kry sal die mense daaroor juig. Die mense sal ook hulle vaandels waai – in God se Naam. Om vaandels te waai of hoog te hou, verwys gewoonlik na ‘n militêre konteks. Die mense mag lede wees van ‘n leër wat die koning lei.

 

In hierdie psalm word twee keer na die Naam van die Here verwys: dit moet die koning beskerm (vs 2) en die verbondsvolk vertrou op die Naam van die Here en nie op strydwaens en …op perde nie (vs 8). Die Naam is hier aanduidend van die Persoon – God self. Dit is nie maar net sommer ‘n magiese towerwoord wat uitgespreek kan word en wat dan sal help nie. Dit is God self wat help.