Genade: Is dit ‘n werklikheid?

 

To wish the Lord to give us honour and ease in this life, is as unreasonable as if a servant should expect his master to wait upon him. – Spurgeon

 

Genade: Is dit ‘n werklikheid?

Meeste van ons het as kinders sekere geestelike dissiplines in die kerk geleer – om ons Bybel te lees, om te bid en om deel van die geloofsgemeenskap te wees. Dit was dikwels taamlik oppervlakkig. Eers na ons bekering was dit vir ons belangrik om Jesus Christus beter te leer ken. Toe begin ons die belang van genade besef.

 

Die Bybel vertel vir ons dat genade reeds voor ons geboorte vir ons van groot belang is. So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees (Efesiërs 1:4). Toe kom genade in die geskiedenis: Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn (Titus 2:11). Die Woord van God het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van God het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

 

Jesus Christus was die klimaks van God se manifestering van genade. Hy leef en sterf vir ons; Hy word opgewek en vaar op na die hemel waar Hy aan die regterhand van God sit en vanwaar Hy vir ons by God intree.

 

Wat weet ons van genade?

  • God roep ons uit sy genade: Dit verbaas my dat julle so gou van God wat julle deur die genade van Christus geroep het, afvallig word en ‘n ander evangelie aanneem (Galasiërs 1:6).
  • Ons word verlos deur God se genade: Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God (Efesiërs 1:7).
  • Deur genade glo on: Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het (Handelinge 18:27).
  • Deur genade word ons met God versoen, met Jesus Christus verenig en ontvang ons die Heilige Gees.

 

Sonder God is ons ongehoorsaam en sondig. Dan breek die genade van God in ons lewens in. Die genade van God beweeg in ons lewens in en verander ons leefwyse – ons word meer soos Jesus Christus. Hierdie is ‘n progressiewe proses wat dwarsdeur ons lewens voortgaan. Dit staan as heiligmaking bekend.

 

Genade is ‘n werklikheid in die lewe van gelowiges. Dit bring ons by ‘n volgende vraag: deur watter kanale werk genade?

 

 




Hoe hoor ek God se stem?

 

It was Satan who first corrupted God’s word by addition, then by subtraction, and then finally by direct contradiction. —Michael Horton

 

Hoe hoor ek God se stem?

Ons hoor natuurlik God se stem in sy woord. Hoe doen ons dit?

Dit is belangrik dat ons gereeld ons Bybel lees. Dit is beter om ‘n spesifieke tyd daarvoor opsy te sit. Dit vereis ‘n stil plek – geen onderbrekings nie. Dit is belangrik om sistematies te lees. Daar is baie leesroosters beskikbaar. Dit is nie nodig om ‘n rooster te gebruik nie. Ons moet net nie lukraak te werk gaan nie – kyk waar die Bybel oopval nie.

 

  1. Studeer

Ons lees stadig en vra vrae. Ons probeer al die stukke bymekaar inpas. Daar is baie dinge wat ons nie die eerste keer wat ons dit lees, sal verstaan nie. Die hele idee van studie is om dit wat ons lees beter te verstaan. Daar is baie hulpmiddels beskikbaar soos kommentare en woordeboeke.

 

  1. Nadenke

Hierdie is ‘n baie onderskatte hulpmiddel waarvan ons dikwels vergeet. Nadenke is hoe ons God se woord moet ontvang en ons eie maak. Lees bring God se woord in ons koppe; studeer verklaar wat God se woord beteken. Nadenke beteken dat ons diep oor God se woord nadink, ons daaraan verwonder en dit in ons harte toepas.

 

Ons moenie net God se woord hoor en dit in ons brein stoor nie. Moenie die hart vergeet nie. Doen ons dit sal God op sy tyd ons lewens verander.

 




Psalm 16 (2)

 

Human love, however noble and however highly motivated, falls short if it refuses to include the Father and Son as the supreme objects of its affections – I. Howard Marshall

 

Psalm 16 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

16:7 – 8: Lofbetuiging.

7Ek sal die Here prys wat my raad gegee het, Ja, snags spoor my gewete my aan.

8Ek hou die Here altyd voor oë; omdat Hy aan my regterkant is, sal ek nie struikel nie.

Die psalmis is oortuig dat die Here sy pleidooi in vers 1 sal antwoord. Daarom kan hy Hom prys. Die Here se leiding kom van binne die psalmis – sy gewete. Dit veronderstel dat die Here se onderrig op die hart geskryf is. Die beeld van die Here aan sy regterkant versterk vers 7. Die regterkant is die posisie van ondersteuning. Omdat die Here daar is, spoor dit die psalmis aan om getrou te bly.

 

Die digter loof die Here vir twee gawes:

  • Die Here se onderrig wat hom tot die regte insig gebring het en wat hom selfs in die nag bybly. Dit is nie uit eie insig dat die digter in die regte verhouding tot God staan nie.
  • Die Here se troue bystand wat verhoed dat hy struikel.

 

16:9 – 11: Slot.

9Daarom is my hart bly en juig my binneste; ja, my liggaam bly veilig,

God aan my regterkant is die basis vir die psalmis se blydskap. Hierdie blydskap betrek die hele mens – hart, binneste (siel) en liggaam. Elke woord verwys na ‘n deel van die mens, maar hier is dit die volle persoon – al sy dele.

 

10want U sal my lewe nie aan die doderyk oorlewer nie; U sal nie toelaat dat u getroue volgeling die graf sien nie.

Hoekom die blydskap en vertroue van die psalmis? Hy is bewus van sy kwesbaarheid. Hy is egter vol vertroue dat die persoon wat aan die Here toegewy is nie aan die doderyk oorgelewer sal word nie.

 

11U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in u teenwoordigheid, lieflikhede in u regterhand, vir altyd.

Die Here maak ‘n pad oop wat na die lewe eerder as ‘n vroegtydige dood lei. As die Here teenwoordig is ondervind die mens oorvloedige vreugde omdat Hy in die mens se behoeftes voorsien. Oorvloedig verwys na ryk materiële voorsiening. Dwarsdeur hulle lewens sal hulle die Here se regterhand vol lieflikhede ondervind.

 

God se gawes het ‘n positiewe uitwerking op die digter. Hy is bly en juig; hy voel veilig.  Die redes vir sy vrolikheid is:

  1. U sal my lewe nie aan die doderyk oorlewer nie. Baie mense is bang vir die dood omdat hulle geen beheer daaroor het nie en dit ook nie verstaan nie. Hierdie vrome digter weet van ‘n toekoms – ook as hy dood is. Ook dan sal God nog oor hom beskik. Ons as gelowiges het die versekering dat God ons nie na ons dood sal vergeet nie. Hy bring ons terug na die lewe sodat ons vir ewig by Hom kan lewe. In hierdie wete lê ons ware sekuriteit.
  2. 11U wys my die pad van die lewesy houding teenoor werk, die natuur, sy medemens en God. Dit sluit tyd en ewigheid in – nou en die toekoms, selfs na sy dood.
  3. Ooorvloedige vreugde in u teenwoordigheid.
  4. Lieflikhede in u regterhand, vir altyd.

 

Volgende keer gaan ons na die teologies implikasies van Psalm 16 kyk.

 




Gesprekke in my kop

 

The assurance of my salvation comes not from the fact that I did trust Christ but that I am trusting Christ for my salvation – Adrian Rogers

 

Gesprekke in my kop

Adam McHugh het ‘n interessante boek, The Listening Life, geskryf. Dit gaan oor die belang van oplettendheid in ‘n wêreld vol afleidings. Hy kyk onder andere na luister na God, die Skrif, die skepping, mense in pyn en na jou lewe. Hy vra ‘n interessante vraag: Wat sou gebeur as die kerk nie meer ‘n plek is waar jy luister (die kerk vertel vir jou dinge) nie, maar ‘n plek wat hoor – ‘n plek wat opreg luister na die stories van sy eie gemeenskap.

 

Baie interessant was die gedeelte  oor die onderskeiding van stemme. Ignatius van Loyola verwys hierna as “die geeste  wat dit wat ons in ons innerlike wese voel, beïnvloed.” Dit gaan oor die onderskeiding van stemme in ons koppe Hy glo dat as ons aan hierdie stemme name gee, bemagtig ons onsself om hulle boodskappe te aanvaar of te verwerp – en om dit teen die stem van Jesus te meet.

 

Wat op aarde bedoel hy hiermee? Meeste van ons is bewus van ‘n gesprek in ons koppe. Ons dink gedurig. Ons gedagtes word gevorm deur ons ondervindings in die verlede. Hulle kom na ons in die vorm van stemme – stemme van mislukking, teleurstelling en kritiek. Deur aan hulle name te gee, onderskei ons hulle van onsself. Hulle is nie ons nie. Hulle is bloot gedagtes wat ons kan aanvaar of verwerp.

 

As ons name aan hierdie stemme gegee het, moet ons leer om Jesus se stem te onderskei. McHugh verwys na die Vader se stem op die berg van verheerliking: Dit is my Seun wat Ek uitverkies het. Luister na Hom (Lukas 9:35). Luister na Hom … Wat sou dit nie vir ons beteken om na sy stem in plaas van die ou stemme in ons kop, te luister nie. Jy kan maar sê ons voed ons gedagtes ‘n ander dieet. Soms uitdagend; soms gerusstellend of oortuigend of bemoedigend. Miskien kan ons stem ‘n bietjie meer soos syne klink – ‘n stem van deernis. Ons mag selfs wys word.

 

Hoekom gee ons nie aandag aan Jesus se stem nie? Ons hoor so baie woorde dat ons daarin verdrink. Ons moet die een of twee woorde wat ons op ons lewensreis sal help aan boord neem en van die ander vergeet.

 

Mag God ons die genade gee om na Jesus se stem, te midde van al die daaglikse lawaai, te luister.