Ek is terneergedruk (6)

 

A man’s destiny on Judgment Day will depend not on whether hê has known God’s will but on whether he has done it – A. M. Hunter

 

Ek is terneergedruk (6)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Ons het gesien dat God vir Elia brood gegee het om te eet. Maar Hy gaan verder om sy dienaar te help.

 

  • ‘n Stem in die berge (19:9 – 13a)

Elia gaan na die berg van die Here. Wat gaan hier gebeur? Sal hy homself steeds bejammer en kla? Toe God hom vra wat hy daar maak, antwoord hy: Ek het my hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring. Elia se geheue is selektief. Hy glo halwe waarhede en bejammer homself.

 

God gaan hom nou weer aan sy mag herinner – Elia sal God se stem hoor. Elia gaan staan voor die Here. Daar was ‘n sterk wind en daarna ‘n aardbewing en ‘n vuur, maar die Here was nie daar nie.  Daarna volg daar ‘n fluistering in die windstilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak. Hy gaan staan by die bek van die grot en hoor God se stem: Wat maak jy hier, Elia.

 

Hierdie gedeelte beklemtoon God se stil paaie. God verskyn dikwels, nie in die skouspelagtige nie, maar met ‘n fluistering in die stilte. God werk dikwels op sagte maniere. Soms gebruik Hy vuur, maar Hy werk ook stilweg deur sy woord en Gees in die harte van mense. Soek God in stil plekke. Wees alleen met Hom. Luister na sy woord. Dink na oor sy evangelie.

 

  • ‘n Visie vir die toekoms (19:13b – 21)

Geestelike terneergedruktheid is nie ‘n 24 uur virus nie. Om dit te oorwin, vereis meer as “neem twee Bybelversies en bel my in die oggend.” God vra weer vir Elia wat hy daar maak. Weer antwoord Elia Hom soos vantevore – dieselfde toespraak. Hy is onwillig om te verstaan en te verander – miskien wil hy nie verstaan en verander nie.

 

Te midde van sy terneergedruktheid praat hy ten minste nog met God. As jy ooit so terneergedruk is, moenie ophou om met God te praat nie. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde (Psalm 103:8). Ons sien God se genade duidelik: Hy gee aan Elia ‘n nuwe visie vir die toekoms. Dit sluit in ‘n opdrag en ‘n woord van bemoediging.

 

Sy opdrag is dat hy vir Gasel moes salf as koning van Aram en vir Jehu as koning van Israel. Daarna moes hy vir Elisa salf as profeet om hom op te volg. Die finale oorwinning oor Baäl het nie op Karmelberg plaasgevind nie. Dit sal deur ‘n stadige politieke proses wat tot na Elia se dood sou voortduur, plaasvind. Baäl sal nie deur Elia alleen oorwin word nie; dit sal ook nie in sy leeftyd gebeur nie.

 

Elia se taak was nie net om in die huidige ‘n goeie stryd te stry nie, maar om ander vir die toekoms voor te berei. God leer vir Elia, en vir ons, dat niemand onvervangbaar is nie. ‘n Nuwe opdrag lig ons dikwels op. So ‘n opdrag mag insluit om ander vir diens voor te berei. Ons moet goed veg in die huidige, maar ons moet ook ander vir die toekoms voorberei. Jesus het sy dissipels voorberei om die goeie nuus in die toekoms te versprei.

 

God gee aan Elia ‘n nuwe opdrag en ‘n nuwe vennoot. Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.  Dit moes vir Elia nuwe krag gegee het. God se visie is nie net ‘n nuwe opdrag nie, maar ook ‘n versekering. Maar Ek sal in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baälbeeld aanbid het nie. God weet wie syne is. Elia was nie die enigste een oor in Israel wat God gevolg het nie. God bewaar sy mense totdat Jesus verskyn. Jesus het nou ‘n volk wat verkies is deur God se genade. Hierdie moet ons bemoedig. Ons moet weg van onsself kyk en na Jesus kyk.

Totdat ons Jesus van aangesig sien, moet ons na sy stem luister. Laat die heerlike toekoms wat op sy kinders wag ons aanspoor.

 

Wat ‘n wonderlike versekering. As ons terneergedruk is, kom God in sy genade en help ons weer op ons voete.

 

 




‘n Sterk verhouding met God

 

Nothing in my hands I bring;

Simply to thy cross I cling

Toplady

‘n Sterk verhouding met God

Soos enige verhouding en vriendskap vereis jou verhouding met God aandag en fokus. Dit beteken dat ek my daaglikse lewe moet afskaal en op God fokus. Jy moet stadiger gaan en stil word.

 

As jy nie tyd maak vir jou vriende nie, is hulle nie jou vriende nie. As God jou beste vriend is, moet jy jou beste tyd vir hom gee. Rick Warren haal twee verse aan om hierdie punt te illustreer:

Die Here neem dié wat Hom dien in sy vertroue, en maak sy verbond aan hulle bekend (Psalm 25:14)

 Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bou die nasies, hoog bo die aarde (Psalm46:11).

 

Vriendskappe het aandag nodig. Jy sal nooit vir God ken as jy net die eredienste bywoon nie. Jy moet God se woord lees; jy moet nadink oor wat God vir jou sê. En dan: luister. Vriendskap met God is net moontlik as jy Hom vertrou en gehoorsaam. Hy het ons onvoorwaardelik lief. Maar dan moet ons in geloof na Hom uitreik en Jesus Christus as my Here en Verlosser aanvaar.

Op ‘n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood (Spreuke 17:17).

 

 




Psalm 16 (1)

The gospel is only good news if it gets there in time – Carl F. H. Henry

 

Psalm 16 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Vertrou op die Here vir lewe

In Psalm 16 praat die digter oor sy vertroue in God. Daar word van twee kante af druk op hierdie vertroue geplaas:

  • Die druk van mense wat ander gode aanbid. Hierdie gode sou dan die sleutel tot die mens se welstand wees.
  • Die bedreiging van die dood.

 

16:1 – 2: ‘n Gebed om beskerming.

’n Miktaam. Van Dawid.

Beskerm my, o God, want by U skuil ek.

 2Ek het vir die Here gesê: “U is my Heer; buiten U is daar vir my niks goeds nie.”

 

Miktaam mag beteken dat die psalm, soos die Babiloniese psalms, in klei geskryf is.

Die digter vra vir God om hom in beskerming te neem. Beskerm my beteken dat die psalmis onseker is. Hy gee twee redes waarom hy net by God wil skuil:

  1. U is my Heer; en
  2. Buiten U is daar vir my niks goeds nie.

Die Here is die psalmis se God – my Heer. Die psalmis is totaal van hierdie God vir sy welstand afhanklik. Sonder hierdie Here is daar vir die psalmis niks goeds nie.

 

16:3 – 4: Verwerping van afgode.

3Wat die heiliges in die land betref, ja, die magtiges, by wie ek al my vreugde gevind het:

4Wie hulle na ander gode haas, vererger hulle smart. Ek sal nie hulle drankoffers van bloed uitgiet nie, en ek sal nie hulle name op my lippe neem nie.

Die heiliges in die land is diegene met wie die psalmis identifiseer. Die magtiges mag daarna verwys dat hierdie mense priesters is. Die psalmis pleit vir toewyding aan God in teenstelling met diegene wat ander gode aanbid. Om ander gode te aanbid vererger net hulle smart. Die digter wil met afgode niks te doen hê nie. Al lyk hulle vir baie mense aantreklik, maar vir hulle sal hy nie drankoffers van bloed uitgiet nie. Hy sal hulle ook nie erken nie: ek sal nie hulle name op my lippe neem nie.

 

16:5 – 6: Erkenning.

5Here, my erfdeel, my beker, U bepaal my lot.

6’Die meetsnoere het vir my in lieflike plekke geval, ja, my erfenis is vir my mooi.

Die psalmis is bewus daarvan dat hy ‘n toegewysde erfdeel of beker of gedeelte het. Hy weet ook dat die Here die persoon aan wie dit behoort, beskerm. Die psalm verwys nie spesifiek na wat hierdie erfdeel is nie. Die meetsnoere is die toue waarmee die toekenning van land uitgemeet is. Die psalmis het ‘n lieflike erfdeel gekry.

 




Ek is terneergedruk (5)

 

You don’t have to bring the fire, bring the thunder, bring the whatever. Just bring the gospel. It will do the thundering. —Jared Wilson

 

Ek is terneergedruk (5)

[Terneergedruk = ontmoedig; bedruk maak – HAT. Dit moet onderskei word van depressie wat ‘n mediese toestand is en dikwels behandeling nodig het.]

Terneergedruktheid is ‘n algemene toestand in ons samelewing – ook onder Christene. ‘n Baie goeie gevallestudie is die profeet Elia. Na die gebeure op Karmelberg word Elia baie terneergedruk/ mismoedig, maar God, in sy genade, hernuwe weer sy dienaar. Ons gaan veral na twee aspekte van die verhaal kyk:

  • Elia se geestelike terneergedruktheid; en
  • God se reaksie daarop.

Ek gaan onder andere van Tony Merida se Exalting Jesus in 1 & 2 Kings gebruik maak. Ons gaan veral na Hoofstuk 19 kyk.

 

Hoe hanteer God sy terneergedrukte dienaar? Met genade en geduldige deernis. Daar is veral drie maniere wat God gebruik: brood in die woestyn, ‘n stem in die berge en ‘n visie vir die toekoms. Daar is baie ooreenkomste met die storie van Moses. Dit beklemtoon God se trou, geduld en genade. Dit moet ons ook bemoedig.

 

  • Brood in die woestyn (19:5 – 8)

God se eerste reaksie was nie ‘n teregwysing nie, maar ”eet.” God het Elia reeds laat voed deur ‘n kraai, ‘n weduwee en nou ‘n engel. Elia raak onder ‘n besembos aan die slaap. ‘n Engel skud hom: Word wakker! Eet!. Elia kyk op en sien ‘n roosterkoek en ‘n kruik water. Elia eet en drink en gaan lê weer. ‘n Tweede keer skud die engel hom wakker. Weer eet Elia. Deur die krag van die kos kon hy veertig dae en veertig nagte lank loop tot by Horeb, die berg van God. [Jesus het ook veertig dae en veertig nagte in die woestyn gebly – Matteus 4]

 

Hoe bemoedigend dat God nie Elia se gebed om dood te gaan, antwoord nie, maar eerder vir hom kos gee. Inplaas van die dood gee God hom brood. God sal hom later teregwys, maar eers kry ons teerheid en versorging.

 

Voel jy gedreineer en teneergedruk? Jesus sê: Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee … want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Matteus 11:28 – 29). Wat ons nodig het is geestelike rus in Jesus Christus, die brood van die lewe. Daar kry ons vergifnis en vreugde, want ons weet: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie (Romeine 8:1). Hy is voldoende as ons terneergedruk is.

 

Goeie kos en goeie slaap is wonderlike genesing vir geestelike terneergedruktheid. Slaap en kos is ook gawes van God. Ons het ‘n wonderlike God. Toe Elia weggehardloop het, maak Hy vir hom kos. Toe Petrus hom verloën het, maak hy vir hom kos (Johannes 21). Hy vernuwe hom fisies en geestelik.

 

Elia word hier deur die genade van God vernuwe. Elia is ‘n man soos ons. As ons terneergedruk is, het ons geselskap nodig. Dit kry ons in die geloofsgemeenskap. Miskien wil God hê dat ek ‘n eensame, terneergedrukte dienaar van Hom moet bedien. Neem vir hulle brood en spandeer tyd met hulle.

 

Volgende keer gaan ons na ‘n volgende manier kyk waarop God vir Elia gehelp het.