Sonde: Wat is die gevolge van sonde?

The will of man without grace is not free, but is enslaved, and that too with its own consent –  Martin Luther.

 

Sonde: Wat is die gevolge van sonde?

Ek gaan ‘n aantal blogs gebruik om oor sonde te skryf. Ek gaan, waar toepaslik, van die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik maak.

 

Sonde mislei, versoek en verslaaf die mens. Sonde is fataal vir die mens se verhouding met God. Moses het eerder verkies om saam met die volk van God sleg behandel te word as om die kortstondige genot van sonde te beleef (Hebreërs 11:25). Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood (Jakobus 1:15). Ons sien dat sonde gevolge vir onsself, ons verhouding met ons naaste en ons posisie voor God het. Die ergste gevolg van sonde is die dood.

 

Ons lees van Adam wat van onskuldig na skuldig en uiteindelik na die dood voortgaan en dit omdat hy deur Satan verlei is. In die proses is Adam se verhouding met God nadelig beïnvloed. Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld gekom het, en as gevolg van die sonde die dood, so het die dood ook tot alle mense deurgedring omdat almal gesondig het (Romeine 5:12).

 

Die dood is nie net fisies – die afsny van die lewe – nie, maar ook geestelik – afgesny van God. Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here (Romeine 6:23).

 

As dood dan die straf vir sonde is, sal vergifnis van sonde ook verlossing van die ewige dood beteken. Die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde  en die dood (Romeine 8:2).

 

Vir gelowiges is daar die ewige lewe en nie die ewige dood nie. Jesus Christus het die dood deur sy kruis en opstanding oorwin. Maar vir diegene wat Hom nie as hulle Verlosser aanvaar het nie, wag daar die ewige dood. Dit is die grootste enkele gevolg van sonde.

 

 

 




Psalm 14 (1)

 

Although the stars do not speak, even in being silent they cry out – Johannes Calvyn

 

Psalm 14 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Die Dwaas.

Hierdie psalm stem feitlik woordeliks ooreen met Psalm 53. Die opvallende verskil is dat die Naam van God verskil. In Psalm 14 word die Verbondsnaam, Here,  gebruik naas die algemene benaming God. In Psalm 53 word die Verbondsnaam, Here, vervang met die algemene benaming wat in Hebreeus ook ‘afgode” kan aandui. Blykbaar was die twee psalms reeds voor die huidige psalmversameling in twee aparte psalmbundels opgeneem – soos die tien gebooie in Eksodus en Deuteronomium opgeneem is. In die tweede bundel – 42 tot 72 – kom die benaming God meer dikwels voor. Toe al die psalms in een bundel opgeneem is, is albei net so opgeneem.

 

Die psalm kan as ‘n geloofstelling beskou word wat mense aanmoedig om te glo dat dwase nie uiteindelik sal wen nie. Hierdie psalm bevat geen pleidooi nie, maar wel ‘n wens aan die einde.

 

Opskrif

 Vir die musiekleier. Van Dawid.

 

14:1: Die goddelose sê daar is geen God nie.

Dwase maak hulleself wys: “Daar is geen God nie.” Hulle tree gruwelik en afstootlik op. Daar is nie een wat goed doen nie.

Volgens die Ou Testament is die dwaas ‘n besondere soort mens. [Die boek Spreuke het baie oor dwase te sê. Daar word ses verskillende woorde vir dwaas gebruik.] Hy het genoeg verstand, maar weier om dit oordeelkundig te gebruik – hy het geen insig nie. Hy weier om te erken dat God se ingrype in die geskiedenis van ‘n volk en in die lewe van ‘n mens in berekening gebring moet word. Vir die digter is iemand wat God se liefde en sorg ontken, die toppunt van dwaasheid. Dwase maak hulleself wys dat daar geen God is, nie net in hulle woorde nie, maar ook in hulle harte.  Dit sê dat ons God in die alledaagse lewe kan ignoreer. Daarom tree hulle gruwelik en afstootlik op.

 

‘n Mens se gesindheid blyk uit wat hy dink (Dwase maak hulleself wys: “Daar is geen God nie.”) of sê of doen (Hulle tree gruwelik en afstootlik op). Hierdie gesindheid word later deel van die dwaas: soos sy naam is, is hy. Hulle vernietig alles; daar is nie een wat goed doen nie. Hulle is so verdorwe dat daar geen uitsondering is nie – nie een doen goed nie. Die digter wil eintlik beklemtoon dat elke goddelose ‘n dwaas in bogenoemde sin van die woord is – die dwaas dink nie net daar is geen God nie, hy tree ook op asof God nie bestaan nie.

 

14:2 – 3: God bevind daar is niemand wat goed doen nie.

2Die Here kyk vanuit die hemel na die mense om te sien of daar iemand is wat verstandig is, iemand wat God soek.

3Almal het afgedwaal, almal het ontaard, daar is nie een wat goed doen nie, nie eers een nie.

God kyk uit die hemel of daar iemand met insig op die wêreld is. Iemand wat verstandig is, iemand wat sedelik en godsdienstig insig het. Dit is iemand wat God soek. Dwase aanvaar hulle is verantwoordelik vir hulle eie bestemmig en welstand in die lewe. Mense met insig besef hulle moet regverdig lewe. Hulle kan dit doen, want hulle weet dat hulle vir God kan soek en kry.

 

Vers 3 herhaal tot ‘n mate wat in vers 1 gesê is. Hier word nog meer klem gelê op die ontaarding van die mens: daar is nie een wat goed doen nie, nie eers een nie. Afdwaal is ‘n ander manier om te sê dat daar geen God is nie. Hulle erken nie vir God en soek Hom nie.

 

Volgende keer kyk ons na die laaste verse van hierdie psalm




Sonde: Wat is die aard van sonde?

 

Those who have left the deepest impression on this sin-cursed earth have been men and women of prayer. —D.L. Moody

 

Sonde: Wat is die aard van sonde?

Ek gaan ‘n aantal blogs gebruik om oor sonde te skryf. Ek gaan, waar toepaslik, van die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik maak.

 

In die Skrif word ‘n groot aantal beelde vir sonde gebruik. Kom ons kyk na die belangrikste van hierdie beelde.

  1. Wetteloosheid

Dit beteken ons gehoorsaam nie God se opdragte nie. Elkeen wat sonde doen, beoefen ook wetteloosheid, want sonde is wetteloosheid (1 Johannes 3:4). Ons het hier met ‘n doelbewuste verbreking van God se wet te doen.

 

  1. Oortreding

Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie (Romeine 4:15). En Adam is nie verlei nie, maar die vrou is verlei en het ‘n oortreder geword (1 Timoteus 2:14). Dit beteken dat ‘n grens of ‘n gevestigde perk oorskry word. Hierdie mense tart God openlik uit.

 

  1. Opstand en ongehoorsaamheid

Julle was dood deur die oortredinge en sondes waarin julle vantevore geleef het volgens die bose lewenswyse van hierdie wêreld – volgens die heerser wat mag uitoefen in die lug – die gees wat nou aan die werk is onder die kinders van die ongehoorsaamheid (Efesiërs 2:1 – 2) Ongehoorsaamheid beteken ‘n doelbewuste wegstap van God – ‘n begeerte om los van God te lewe. In hierdie gevalle word God se ontwerp vir die mensdom doelbewus verwerp.

 

  1. Ontaarding

Sodat julle blaamloos en onskuldig kan wees, kinders van God, onbesproke te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die Hemel (Filippense 2:15). Ongelowige en ontaarde geslag! Hoe lank moet Ek nog by julle bly en julle verdra? (Lukas 9:41). Hier word verwys na iets wat reguit is wat skeefgetrek word; na iets wat oorspronklik goed was, maar nou sleg gemaak is.

 

  1. Mis die teiken

Was my heeltemal skoon van my skuld en reinig my van my sonde (Psalm 51:4). As iemand weet om die goeie te doen en dit nie doen nie, geld dit vir hom as sonde (Jakobus 4:17).

Sonde is ‘n doelbewuste besluit. Ons mis die teiken – God se volmaakte standaard. Sy standaard sluit in sy volmaakte liefde en wet.

 

Opstand teen God se gebooie kry ons vroeg reeds in die verhaal van die Bybel (Genesis 3:1 – 7). Paulus maak uitgebreid gebruik van Adam se val in sy konstruksie van die leer van die sonde. Die Nuwe Testament aanvaar drie basiese eienskappe van sonde:

  • Die wêreld is inherent sondig.
  • Sonde is die mens se opstandige gesindheid teenoor God se wil.
  • Verlossing bestaan uit vergifnis van sonde, versoening met God en vrymaak van die mag van sonde deur die werk van Jesus Christus.

Sonde is ‘n poging om God te onttroon; om vry van sy gesag te wees; om nie aan Hom aanspreeklik te wees nie.

 

Om mense vandag te oortuig dat hulle sondaars is en dat hulle deur hulle sonde van God geskei word, is moeilik en raak al hoe moeiliker.

 

Volgende keer gaan ons na die gevolge van sonde kyk.

 

 

 




Vermy foute in die toepassing van die Skrif

 

We should ask God to increase our hope when it is small, awaken it when it is dormant, confirm it when it is wavering, strengthen it when it is weak, and raise it up when it is overthrown – Johannes Calvyn
Vermy foute in die toepassing van die Skrif

Hierdie is ‘n verdure artikel in Mel Lawrenz se reeks oor hoe om die Bybel te lees.

 

Toepassing is die laaste stap in die sogenaamde induktiewe metode van Bybelstudie (= van die besondere tot die algemene). Die stappe is:

  • Neem waar – ondersoek die woorde, struktuur en besonderhede.
  • Interpreteer – vind uit wat die skrywer bedoel het.

Net soos verkeerde waarneming en interpretasie gevaarlik is, net so is die verkeerde toepassing ongeldig en selfs gevaarlik.

 

Hier is van die algemene foute om te vermy as ons die Skrif toepas.

  1. Om ‘n geestelike betekenis aan ‘n narratiewe teks te gee wat nie in die teks ingebed is nie

Narratiewe tekste – die stories en die historiese boeke van die Ou Testament, die vier evangelies en Handelinge – vertel ons van ware stories uit die lewe.  Natuurlik kan ons lewenslesse uit die stories leer, maar baie selde is daar net ‘n enkele les in die storie. Die manier hoe God die Israeliete deur die woestyn gelei het, is nie die manier waarop hy ons na ‘n werkgeleentheid lei nie. Die verheerliking van Jesus op die berg was ‘n unieke geskiedkundige gebeurtenis. Die betekenis hiervan is die identiteit van Jesus. Narratiewe tekste kry hulle betekenis in die konteks van die hele storie van God se mense. Die besonderhede mag slegs toegapas word as dit duidelik aangedui word of as daar ‘n  oorkoepelende beginsel is soos Josua wat vir sy mense sê dat hulle moet kies wie hulle wil dien (Josua 24:15).

 

  1. Beskou geskiedkundige stories as voorskriftelik eerder as beskrywend

Stories vertel ons wat gebeur het. Dit sê nie noodwendig vir ons wat moes gebeur het of wat in ons lewens behoort te gebeur nie. In Handelinge leer ons hoe die vroeë Christene geleef het. Dit beteken geensins dat dit is soos ons moet leef nie. Handelinge 2:46 sê dat die gelowiges elke dag getrou by die tempel bymekaar gekom het. Dit beteken nie dat ons ook elke dag op ‘n spesifieke plek bymekaar moet kom nie.

 

  1. Gebruik ‘n toepassing wat nie verband hou met die ware betekenis van die teks nie

Jesus se stelling dat Hy die brood van die lewe is, het niks met fisiese voeding te doen nie. In Hebreërs 12:1 lees ons: laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met volharding hardloop. Dit het niks met wedywering met ons medewerkers te doen nie. Dit gaan oor volharding.

 

  1. Lees jou eie teologie in die teks

Genade is verbasend. Ons kry dit dwarsdeur die Skrif. Maar genade word deur waarheid gebalanseer. Dit is moeilik vir ons om ons eie teologiese voorkeure en aannames raak te sien. Doen ons dit nie, sal ons dikwels die Skrif op ‘n ongebalanseerde manier toepas. Dan sal ons nie die vreugde ervaar om die waarhede wat ons nog nie vantevore raakgesien het, te ontdek nie.

 

Die toepassing van die Skrif is die beloning van ‘n studie wat goed gedoen is. Ons moet net seker maak ons pas die waarheid korrek toe.