Stuur my!

 

It is on prayer that the promises wait for their fulfillment, the kingdom for its coming, the glory of God for its full revelation – Andrew Murray

 

Stuur my!

Graig Groeschel sê dat dit een van die gevaarlikste gebede is wat ons kan bid. Baie Christene bid oor dit wat God vir hulle kan doen. Is dit nie tyd om te vra wat ons vir God kan doen nie? Soos: Gee my oë om die behoeftes van ander raak te sien; Gee my ‘n hart wat betrokke raak daar waar U aan die werk is; God my lewe behoort aan U, wat U ook al wil en waar U my ook al lei, hier is ek.

 

Om te bid dat God jou moet stuur, mag beteken dat Hy jou na ‘n ander plek toe stuur. Hy mag jou in ‘n rigting lei wat jou hele lewe verander. Kom ons kyk na drie mense in die Bybel wat verskillend gereageer het op God se oproep om Hom te volg.

  • Jona 1:1 – 3: Jona stel dit duidelik dat hy nie op God se roeping gaan reageer nie.
  • Eksodus 3:4: Moses sê vir God dat dit beter sou wees as Hy dalk iemand anders sou stuur.
  • Jesaja 6:8: Hier is ek! Stuur my!

 

Streef ons om soos Jesaja te wees in ons daaglikse lewens? Om sonder huiwering ons beskikbaar te stel? Hoe moet ons ons volledig aan Hom gee? Om dit te kan doen, moet ons waarlik God se teenwoordigheid ondervind, moet ons bewus wees van ons eie sondigheid en moet ons God se genade verstaan. Hierdie is nie ‘n eenmalige besluit nie – dit is ‘n besluit wat ons daagliks moet neem.

 




Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

 

The price of diluting God’s wrath is diminishing God’s holiness. —D.A. Carson

 

Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

Hoe sou jou uitkyk op die lewe verander het as jy waarlik geglo het God is by jou in elke situasie. Dit is die vraag wat Josef se lewe aan elkeen van ons stel. Hoe sou ons verander het as ons geweet het dat God ‘n plan met ons het – selfs midde in ons pyn.

 

Josef se lewe kan as een van die pynlikste en onregverdigste lewens in die Ou Testament beskou word. Sy eie familie verkoop hom as ‘n slaaf aan vreemdelinge; hy sit jare in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Tog weet hy dat God in beheer van sy hele lewe is. Aan die einde van sy lewe kon hy vir sy broers sê: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20).

 

God wou goed doen met die slawerny, die vals beskuldiging, die jare in die tronk? Josef glo dit, want hy sien die hand van God in alles. Hoekom? Want hy weet dat God met hom in die tronk net soos in die paleis is. Sou jy dit glo? Josef verontagsaam nie die pyn in sy lewe nie – soos ons dikwels probeer doen nie. Ons moet aanvaar dat mense teen ons sondig, maar dit is nie waar die bespreking eindig nie. God gebruik daardie boosheid vir sy plan en vir ons welstand.

 

Ons sien dikwels nie God se hele plan vir ons nie. Josef sien dit eers aan die einde, maar tot dan hou hy vas aan die belofte van God se teenwoordigheid. Dit was vir hom genoeg. Corrie Ten Boom was in ‘n Duitse konsentrasiekamp. Toestande was haglik – almal was met vlooie besmet. Hulle het Bybels gehad. Die wagte het nooit hulle barakke deursoek nie. Hoekom nie? Hulle was bang hulle word ook met vlooie besmet. Later sou sy sê dat selfs in die vlooie God aan die werk was.

 

Kan ons God dank vir die vlooie in ons lewens? Al sien ons nie hoekom Hy hulle daar gesit het nie? Miskien wil Hy hê dat jy iewers moet groei; miskien wil Hy hê dat jy mense in soortgelyke omstandighede moet bedien. Luister hoe stel Paulus dit: Ons weet dat God alles ten geode laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Wat is God se doel? Dit kry ons in die volgende vers: Dié wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. God se doel in ons lewens is nie om elke slegte gebeurtenis vir iets beter te verruil nie. Dit is dat ons gelykvormig aan Jesus Christus moet wees.

 

In Josef se lewe het God nie een gebeurtenis verspeel nie. Hy was by Josef in die tronk. Hy beheer alles in Josef se lewe en Hy doen dit waar Hy langs hom is. As ons in Christus is, kan ons dieselfde vertroue hê. God is met jou selfs onder die moeilikste omstandighede. Hy is besig om iets wonderlik te skep al sien jy dit nog nie raak nie.

 

 




Skyn teenwoordigheid teenoor ware teenwoordigheid

 

“Nothing makes us so lonely as our secrets.” – Paul Tournier

 

Skyn teenwoordigheid teenoor ware teenwoordigheid

Hierdie is ‘n ernstige saak in die gemeente. Dit is veral die mense op die rante wat

eerste ons onttrekking aanvoel – onttrekking ten gunste van die geselskap van invloedryke mense. Teenwoordigheid beskryf ‘n betrokkenheid waar die teenwoordigheid van twee of meer mense ‘n vlak van hart-tot-hart verbintenis bereik wat nie sommer vanself gebeur nie. Dit is ‘n verbintenis diep genoeg om te besef dat God in ons midde is en aan ons gesprek deelneem.

 

Die gevolg van ware teenwoordigheid is dat mense voel dat hulle waardeer word; hulle voel daar word vir hulle omgegee en hulle word versorg; dat mense sal agterkom as hulle nie teenwoordig is nie; dat hulle beïnvloed word om geestelik te groei. Dit is duidelik dat teenwoordigheid baie verskillende dinge beteken. Onderliggend is die gevoel dat die Heilige Gees teenwoordig is in die gesprek.

 

Wat is die kern van teenwoordigheid? ‘n Moeder wat haar baba teen haar bors vashou – die kind voel veilig, gevoed; die kind weet sy moeder het hom lief. Die moeder het dit laat gebeur.

Die herder wat sy skape oppas. Omdat hy in hulle midde is, is die skape kalm – hulle voel hulle word beskerm en teer behandel as hulle siek is. Dit gebeur as gevolg van die herder.

 

Jesus het die belang van teenwoordigheid besef.

Vir Saggeus, die korrupte belastinggaarder, sê Hy dat Hy daardie dag by Saggeus kom eet.  Implikasie: ek en jy moet bymekaar wees en praat oor die rigting van jou lewe.

Jesus ontmoet die Samaritaanse vrou by die put. Hy ignoreer die kulturele reëls en verskuif die gesprek van putte en drinkwater na ‘n gesprek wat op haar geestelike lewe fokus. Met sy vrae en antwoorde is Hy teenwoordig sodat sy, en die mense van haar dorp, ‘n geestelike geboorte mag ondervind.

 

Jesus was teenwoordig by die siekes en diegene met gebreke en diegene met geestesversteurings. Hy was teenwoordig by die een misdadiger aan die kruis toe Hy aan hom belowe het dat hulle daardie dag saam in die paradys sal wees.

 

Wat beteken dit in die praktyk? Ons is sensitief vir mense. Ons lees hulle gesigsuitdrukkings, die boodskap in hulle oë, hulle stemtoon, wat gesê word en wat nie gesê word nie. Ons is geduldig. Ons glo ons rol is om te luister; om saam met ‘n ander persoon deur donker dae te loop Ons tree in vir ander mense. Ons dien hulle.

 




Stilte is goed vir jou brein

 

The more clearly we see sin’s horror, the more we shall treasure the cross. —D.A. Carson

 

Stilte is goed vir jou brein

Om ‘n plekkie van stilte te kry, is nie maklik in ‘n wêreld vol lawaai en afleidings nie. Die wetenskap bewys dat stilte jou minder gespanne, meer gefokus en meer kreatief kan maak. Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het in 2011 lawaai as ‘n ”modern plague” beskryf. Hulle gevolgtrekking was dat omgewingsgeraas nadelige gevolge vir die gesondheid van die bevolking het.

 

Ons vul gedurig ons ore met musiek, TV, podcasts, ens. Hoeveel oomblike spandeer jy elke dag in totale stilte? Waarskynlik baie min. Soos ons omgewing harder word, soek meer mense stilte. Wetenskaplik is daar vier maniere waarop stilte goed is vir die brein.

 

  1. Stilte verlig spanning

Florence Nightingale, die Britse verpleegster van die 19de eeu, het gesê: “Unnecessary noise is the most cruel absence of care that can be inflicted on sick or well.” Geraasbesoedeling mag lei tot ‘n verhoogde bloeddruk en hartaanvalle. Natuurlik kan dit die gehoor belemmer. Stilte het die teenoorgestelde effek – dit verlig spanning in die brein en liggaam.

 

  1. Stilte vernuwe ons hulpbronne in die brein

Ons kry sensoriese insette van alle kante. As ons dan uit hierdie onderbrekings wegkom, kan die sentra in die brein verantwoordelik vir aandag hulleself weer herlaai. Die aanhoudende eise vir aandag plaas baie spanning op die prefrontale korteks van die brein. Hierdie gebeid is betrokke by besluitneming, probleemoplossing en hoë-orde denke. As hierdie hulpbronne uitgeput word, kan ons nie meer aandag gee nie – ons sukkel om te fokus, om met nuwe idees na vore te kom en om probleme op te los. Stilte lei tot herstel van hierdie gebied.

 

  1. In stilte kan ons in die brein se verstekmodus (default mode) tap

Hierdie modus word geaktiveer as ons mediteer, dagdroom, fantaseer oor die toekoms of net toelaat dat ons brein dwaal. Ons tap nou in ons innerlike gedagtes, emosies en idees. Om in hierdie modus te tap, help ons om sin uit ons ondervindings te maak, met ander deernis te bewys en meer kreatief te wees. Maar dan moet ons van die afleidings wegbreek. Herman Melville skryf: “All profound things and emotions of things are preceded and attended by silence.”

 

  1. Tydens stilte kan breinselle regenereer

Navorsing in varke toon dat twee uur stilte per dag lei tot die ontwikkeling van nuwe selle in die hippocampus – die deel van die brein geassosieer met leer, geheue en emosies. Alhoewel die studies nog net voorlopig is, mag stilte dalk voordelig wees vir toestande soos depressive en Alzheimer wat gepaard gaan met vermiderde regenerasie van selle in die hippocampus.

 

Die twee moeilikste dinge vir die modern mens is stilte en om te wag. Raak gereeld stil – dit is goed vir jou gesondheid.