Psalm 12 (3)

 

The gospel calls us to “man down” more so than to “man up.” There is no masculinity without a core of humility. —Scotty Smith

 

Psalm 12 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hierdie psalm praat nie van ‘n regverdige nie, maar wel van getroue volgelinge, die betroubares, die magteloses en die behoeftiges. Die bidder vereenselwig hom met hierdie groepe. Met hierdie viertal benamings bedoel die bidder telkens maar dieselfde groep – dié wat in gehoorsaamheid en toewyding aan God lewe en op Hom vertrou. Dit is die regverdiges. Teenoor hulle staan diegene met ‘n negatiewe gesindheid teenoor God, sy Woord en sy volgelinge. Hulle word ook by ‘n verskeidenheid van name genoem en ook hulle vorm maar een groep – die vyande van die gelowiges, die goddeloses.

 

Die toestand in die gemeenskap bedroef die psalmis.  Daar is geen getroue volgeling … geen betroubare mens meer oor nie. Bedrog, leuens en vleitaal is orals. Mense sê dat hulle lippe hulle help; hulle spog dat hulle tot alles in staat is – ons buig vir niemand nie.  In ‘n gemeenskap wat hoofsaaklik ongeletterd was, was die ongeletterde armes veral kwesbaar vir vals uitsprake – in besigheid, in die hof, in arbeidsake en in persoonlike reputasie.

 

Maar die Here sien die gevolge vir die kwesbares en beloof om hulle te beskerm – sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is. Die Here beskerm sy mense, alhoewel die goddeloses in die gemeenskap pronk en al heers gemeenheid nog tussen mense.

 

Die psalmis weet dat die Here ‘n belofte gemaak het en dat mense op sy beloftes kan vertrou. Die psalmis is ontsteld oot die situasie in die sameleweing, veral die bedrog en leuens. Dit vernietig die samelewing. Nog steeds word swakkes en behoeftiges uitgebuit – selfs ook in die geloofsgemeenskap. Kleinlikhede is aan die orde van die dag.

 

God gryp in om ‘n einde te maak aan goddeloosheid; Hy is betroubaar; sy Woord bring genesing vir ‘n siek samelewing. Dit is die boodskap van Psalm 12. Maar die psalm waarsku ook: God maak duidelik ‘n onderskeid tussen onbetroubare mense en sy kinders. Daarom vra Psalm 12: Op wie vertrou ek – op mense of op myself? Of vertrou ek op God en sy betroubare Woord? Die keuse is duidelik: tussen mensewoorde en God se Woord; tussen die leuen en die waarheid.

 

 




Hoekom konsentreer ons op dit wat minder belangrik is?

 

The most loving thing we can do for people is to introduce them to Christ. —Mack Stiles

 

Hoekom konsentreer ons op dit wat minder belangrik is?

Die Fariseërs het die klem van Bybelse geregtigheid verdraai om hulle eie gedragspatroon van selfregverdiging te pas. Daarom het Jesus dikwels die Fariseërs gekonfronteer. Julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander, maar wat volgens die wet van God die swaarste weeg, laat julle na: geregtigheid, barmhartigheid en betroubaarheid (Matteus 23:23). Jesus het gereeld erken dat die Fariseërs sekere aspekte van die wet nagekom het: hulle het hulle tiendes betaal, hulle het die Skrif gereeld gelees. Hy sê vir hulle: Juis hierdie dinge moet ‘n mens doen (23:23).

 

Die probleem was dat hulle die klem op verkeerde dinge geplaas het. Hulle gee nougeset hulle tiendes maar gebruik dit om hulle weiering om die belangriker sake te doen, te regverdig. Ons doen dit steeds. Hoekom doen ons dit? As Christene wil ons erken word vir ons groei in heiligmaking en vir ons geregtigheid.

 

Wat is makliker om te doen: om barmhartigheid te bewys of om tiendes te gee? Natuurlik vereis die gee van tiendes ‘n finansiële opoffering. Dit is egter makliker om my geld in die kollektebordjie te plaas as om my lewe te wy aan die najaag van geregtigheid en barmhartigheid. Ons is geneig om die goedkoopste gawes vir God te gee. Ons wil ook duidelike meetinstrumente vir ons groei in geestelike volwassenheid hê. Hoe meet ons groei in geduld of deernis? Dit is baie moeiliker om die gesindheid van ons harte te meet as hoeveel geld ek vir die kerk gee.

 

Ons heg veral waarde aan daardie deugde  waarin ons ‘n mate van sukses behaal het. Ek glo graag dat my morele sterkpunte die belangrikste punte van belang is – my morele swakpunte is nie so belangrik nie. Dit is vir ons baie maklik om die dinge wat God beklemtoon te verdraai.

 




Geestelike gawes

 

Acceptance of one’s life has nothing to do with resignation; it does not mean running away from the struggle. On the contrary, it means accepting it as it comes, with all the handicaps of heredity, of  suffering, of psychological complexities and injustices. – Paul Tournier

 

Geestelike gawes

Ons kan baie oor geestelike gawes sê. Hier is ‘n paar beginsels wat ons sal help om te verstaan en ons gawes te beoefen.

 

  1. Elke gawe is ‘n werking van die Gees tot voordeel van almal (1 Korintiërs 12:7)

Elke gawe is dus bonatuurlik, want elkeen is die instaatstellende teenwoordigheid van die Gees wat deur ons werk. Daar is ‘n verskeidenheid van gawes, maar dit is dieselfde Gees wat almal bemagtig.

 

  1. Die gawes word aan ons gegee om ons toe te rus om ander te dien

Gawes is nie persoonlikheidseienskappe nie. Daar is natuurlik soms oorvleueling van ‘n persoon se unieke persoonlikheid en die gawe wat God aan hom gee, maar ons mag nooit enige besondere gawe met ‘n besondere persoonlikheidseienskap identifiseer nie.

 

  1. Almal het die potensiaal om ‘n sekere gawe uit te oefen

Kom ons kyk na profesie. Almal is ‘n kandidaat om te profeteer. ‘n Profeet is iemand wat spontane woorde van openbaring van die Here ontvang. Hy praat hulle vir die opbou en bemoediging van ander.

 

  1. Geestelike gawes is konkrete manifestasies van die Gees deur ons

Dit is nie wie ons is nie, maar wat ons in die krag van die Gees vir die welstand van ander doen.

 

  1. Die gevaar om ‘n te noue verhouding tussen wat ons geestelike gawe is en wie ons as individuele gelowiges is, te trek, is gevaarlik

Ons identiteit as kinders van God moet nie aan ‘n spesifieke gawe gekoppel word nie.

 

  1. Sommige gawes word deur die omstandighede bepaal.

Gawes soos profesie, ‘n woord van kennis of wysheid, genesings, die doen van wondertekens kan nie gebruik word wanneer ons dit wil doen nie. Dit word aan ons op ‘n besondere tyd en plek en geleentheid gegee. Gawes soos onderrig, evangelisasie, barmhartigheid, diens en administrasie is meer permanent. Hulle is altyd met ons en kan te enige tyd beoefen word.

 

  1. Geen enkele Christene het elke geestelike gawe nie

Ons het ook nie een gawe van die lysie in Romeine 12 en een van die lysie in 1 Korintiërs 12 en een van die lysien in Efesiërs 4 nie.

 




Politieke onrus en Vrees

 

Thank God that He doesn’t wait until we take an interest in Him before He takes a profound interest in us by His grace. —Eric Alexander

Politieke onrus en Vrees

[Hierdie blog is gebaseer op Overcoming Fear uit The Collected Sermons of Dietrich Bonhoeffer vertaal in Engels deur Isabel Best en gepubliseer deur Fortress Press in 2012.]

 

Sê nou daar is ‘n skip op die oseaan. Die skip sukkel, want die golwe is hoog. Die wind waai al hoe harder. Die skip is klein en word soos ‘n speelding rondgeslinger. Die lug is donker; die matrose word moeg. Dan word een van hulle vasgegryp deur …wie? wat? … hy kan nie sê nie. Maar iemand is op die skip wat nie vantevore daar was nie … Skielik kan hy niks sien of hoor nie; hy kan nie meer roei nie; ‘n golf oorweldig hom. Desperaat skreeu hy: Vreemdeling in die boot wie is jy? En die ander een antwoord dat hy Vrees is. Daar is geen hoop meer nie. Vrees is in die boot.”

Op 15 Januarie 1933 lewer Dietrich Bonhoeffer hierdie skrikwekkende allegorie in ‘n preek in ‘n kerk in Berlyn.

 

Duitsland was midde in ‘n vreesaanjaende tydperk. Die mense onthou nog die vernietiging van die Eerste Wêreldoorlog net 14 jaar vantevore. Die aandelebeurs het in 1929 in duie gestort. Meer as ses miljoen mense was werkloos. Daar was geen politieke stabiliteit en leierskap nie. Baie Duitsers, ook Christene, vrees vir die toekoms.

Naakte vrees is in die boot, in Duitsland, in ons eie lewens, in hierdie kerk – vrees vir die toekoms.”

 

Daar was nog ‘n leier wat die vrees van die mense raakgesien het. Hy help nie die mense om hulle vrees te oorwin nie, maar buit dit uit. Hy bied vir hulle ‘n verlosser aan: hyself. Vyftien dae na Bonhoeffer se preek maak die land hierdie man, Adolf Hitler, hulle Kanselier. Vrees het Duitsland in dieper pyn, verdeeldheid en wanhoop gedryf.

Hierdie is die finale oorwinning van Vrees oor ons – ons is te bang om daarvan weg te hardloop en laat toe dat dit ons verslaaf. Vrees het ons oorwin.”

Ons onthou Bonhoeffer vir sy radikale dissipelskap en opofferende betrokkenheid by die Duitse weerstand teen Hitler. Hy het geglo dat wat sentraal in sy lewe en bediening was, was om die liggaam van Christus te voed deur die verkondiging van die woord. Hy het omgegee vir die geestelike lewe en gesondheid van die plaaslike gemeente. Sy doktorale proefskrif –  Sanctorum Communio – gaan oor die kerk as ‘n heilige gemeenskap.

 

Bonhoeffer praat in ‘n atmosfeer van vrees en onsekerheid met ‘n boodskap van hoop – ‘n boodskap wat die kerk steeds moet uitdra. Geen mens is buite die bereik van vrees nie. Vrees vul ons met eensaamheid, hopeloosheid en wanhoop. Dit dryf ons na besluite en optredes wat negatiewe gevolge het. Hoe doen vrees dit?

Dit hol ons binneste uit totdat ons weerstand en krag op is. Vrees eet alles wat ons aan God en aan ander bind weg. In tye van nood as ‘n mens uitreik na daardie bande  breek hulle. Die individu sink in homself weg – hulpeloos en wanhopig.”

Vrees besoedel ons denke, verwring ons oordeel en ons sukkel om teen die bose staande te bly. As vrees domineer, skei wantroue, haat en selfsug ons van ons Skepper en ons naaste. Vrees het steeds dieselfde krag as in Bonhoeffer se tyd. Ons staan steeds voor die alledaagse vrese wat ‘n gebroke wêreld kenmerk – terrorisme, verlies aan godsdiensvryheid en waardes, misdaad, ens.

 

Vrees diskrimineer nie – dit ken geen grense van tyd of plek nie. Bonhoeffer verwys dan na Matteus 8:23 – 27 – Jesus maak die storm stil. Die verhaal eindig waar Jesus die wind en die see hard aanspreek en dit het doodstil geword. Hy vra vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges?  As alle hoop verdwyn het en vrees die boot oorneem, openbaar Christus sy teenwoordigheid en mag oor vrees. Dan is dit of die hemele oopgaan en ons die uitbasuin van oorwinning hoor te midde van die hopeloosheid. Christus is in die boot. Vrees verdwyn; die wind en see word stil; alles is stil, want Christus is in die boot.

 

Christene word nie van die storms van die lewe vrygestel nie. Daarom het ons die kerk nodig. Die kerk is die plek waar ons Christus hoor: “Ek is saam met julle in die boot.” Daarsonder sal ons na ander stemme luister wat vir ons vertel dat daar geen hoop is nie – geen uitweg nie. Maar vrees is oorwin – moenie bang wees nie. Jesus het die wêreld oorwin en Hy is saam met ons in die boot. Hierdie taal moet ons in die kerk hoor. Die kerk is ons vuurtoring in die storm van vrees war ons weglei van die rotse met die skerp lig wat op Christus gefokus is.

 

As ons deur vrees oorweldig word, is ons geneig om ons af te sonder. Maar ons moet ons pad deur alles maak –  ons pad saam met Christus.

 

Wanneer ons geloof swak is, herinner die kerk ons dat dit nie die krag van ons geloof is wat ons deur ons vrese dra nie, maar die krag van ons Verlosser. In tye van wanhoop as ons glo dat God ons verlaat het en nie meer vir ons omgee nie, plaas die kerk die kruis voor ons en vra: “Het God Hom verlaat?’ Omdat God nie vir Jesus verlaat het nie, sal Hy ons ook nie verlaat nie.

 

Ons weet daar is hoop. Hierdie hoop is: “Laat u wil geskied.” Die kerk herinner ons aan God se goeie doel vir ons lewens, sy liefde vir sy kinders en sy mag om vrees te oorwin. Dit bied aan ons ‘n alternatief om in ons vrese vasgevang te wees.

Die Bybel, die evangelie, Christus, die kerk, geloof – almal een strydkreet teen vrees in die lewens van mense.”

As ons bang word, as ons alleen en hulpeloos voel, sal die kerk ons daaraan herinner dat Christus saam met ons in die boot is.