Genesis 3 en die kruis

 

God has always saved the church, not by theological pacifists but by sturdy contenders for the truth.— Machen

 

Genesis 3 en die kruis

In ‘n vorige blog het ons na die vernietigende gevolge van die sondeval gekyk. Genesis 3 op sy eie is ‘n treurige storie.  As gevolg van Jesus moet alle gedeeltes in die Bybel in die lig van die kruis gelees word. Dit geld veral vir Genesis 3.

 

Die kruis gaan oor verlossing en versoening. Versoening beteken die herstel van stukkende verhoudings. Dit geld nie net vir ons verhouding met God nie, maar ook ons verhoudings met die hele skepping. Die kruis keer dus die impak van die sondeval om en open die moontlikheid om ‘n lewe te leef in ooreenstemming met die oorspronklike bedoeling van die skepping. Ons leef egter in ‘n tyd waar die volle herstal van alle dinge nog wag vir Christus se wederkoms. God sal egter sy oorspronklike doel bereik.

 

Kom ons kyk weer na die agt negatiewe gevolge van die sondeval en wat die kruis beteken in elke gebied.

  • Van ongemaklik met ons liggame na leef in vrede met ons liggame. Dit beteken ons verander die manier waarmee ons na onsself kyk. Oë wat versoen is, sien oral skoonheid. Vra God dat jy die skoonheid wat reeds aan jou gegee is, sal raaksien. Sien dit ook in elke ander persoon raak.
  • Van wegkruip vir God tot die omhelsing van sy teenwoordigheid. In die nuwe aarde wat kom, is ‘n groot bron van vreugde juis dat God by ons is. As Christus regeer, verdwyn die skeiding tussen hemel en aarde en God se teenwoordigheid is meer ooglopend.
  • Van blameer na belydenis en aanvaarding van verantwoordelikheid. Adam en Eva blameer ander, want hulle het geen konsep van vergifnis gehad nie. In die herstelde wêreld sal ons verantwoordelikheid aanvaar. Hoekom? Ons het ‘n beeld van God wat ons roep vir verantwoording sodat vergifnis en versoening moontlik is.
  • Van slange na ‘n wêreld met ‘n beter naam. Voor die sondeval was Adam nie bang vir slange nie – hy het immers hulle name vir hulle gegee. Met versoening kom ‘n opdrag om ‘n beter wêreld te bou, al verlang ons na ‘n nuwe hemel en aarde. Ons is immers op pad na daardie nuwe aarde.
  • Van geboortepyn na die kerk as familie. Diegene wat in Christus versoen is, vorm nou ‘n nuwe familie – die kerk. Die kerk moet ‘n model wees van hoe ‘n familie werk. Die kerk se inklusiwiteit, aanvaarding van diversiteit en viering van elke lidmaat se gawes, sowel as sy staan langs mense in vreugde en hartseer, is ‘n teken van hoe families veronderstel is om te werk.
  • Van dominerende manlik-vroulike verhoudings tot langs mekaar. Ons vergeet dikwels dat Adam wat oor Eva heers ‘n gevolg van die sondeval was. Ons moet weer aanspraak maak op die oorspronklike visie van sy-aan-sy verhoudings. Elke persoon moet weer volledig word waarvoor hy/sy geroep is.
  • Van werk wat dorings produseer tot werk as roeping. Oorspronklik was werk ‘n vreugde. Na die sondeval word dit ‘n stryd teen dorings en dissels. Ons moet die oorspronklike visie van werk as ‘n roeping herwin. Ons moet ook verseker dat dit vir alle mense moontlik is.
  • Van dood as die vyand na dood as die ingang na die ewigheid. As die gevolg van sonde die dood is, is God se gawe deur die kruis die toegang tot ‘n ewige lewe. Die bewustheid van hierdie sekerheid moet elke gebeurtenis omkeer – dit gee aan ons krag en hoop om in die lig van die ewigheid te leef.

 

Die kruis verander alles. Dit herstel wat verlore was; dit maak alles beter as wat dit vantevore was. Aan die kruis sien ons hoe diep God se liefde vir ons is – dieper as wat ons ooit verwag het.

 

 

 




Psalm 12 (1)

 

Prayer and sinning will never live together in the same heart. Prayer will consume sin, or sin will choke prayer. —J.C. Ryle

 

Psalm 12 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 12 is ‘n gebed om hulp. Hier ontmoet ons ‘n mens wat ontnugter is deur die valsheid van mensewoorde. In ons moderne taal sou ons sê hy ly aan depressie. Hy herinner ons aan Elia: Ek het my hart en siel gewy aan U saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring (1 Konings 19:10.). Maar hy herinner ons ook aan onsself. Hy besef God en sy beloftes is die enigste betroubare bron waarop ons ons hoop kan bou.

 

Opskrif

Vir die musiekleier. Op die Sjeminiet. ‘n Psalm. Van Dawid

Sjeminiet beteken agste en is waarskynlik ‘n musiekterm. Die NAV en OAV vertaal dit met basstem.

 

12:2 – 4: Die onbetroubaarheid van mensewoorde.

2Verlos tog, Here, want daar is nie meer getroue volgelinge nie; die betroubares onder die mense het verdwyn.

3Die een mens belieg die ander; met vleiende lippe praat hulle uit twee monde.

4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat.

 

Die gedig begin met ‘n gebed om hulp: Verlos tog, Here. Soos Elia voel dit vir hom asof hy die enigste een is wat nog getrou bly aan die diens van God. Daar is twee redes vir hierdie hulpgeroep:

  • Daar is nie meer getroue volgelinge nie – mense wat vashou aan hulle besondere verbintenis met God nie; ‘n lid van die ware verbondsvolk; en
  • Die betroubare onder die mense het verdwyn. Bedrog en misleiding deur vleitaal – dus leuens, grootpraat en oormoed – het die algemene gebruik onder mense geword. Hulle maak staat op hulle eie woorde en nie op die woorde van die Here nie.

Die samelewing is siek. Mense is nie meer lojaal aan God of mekaar nie. Die mense bedrieg en mislei mekaar. Mense en hulle woorde is onbetroubaar – sonder inhoud. Daarom smeek die gelowige: 4Mag die Here al die vleiende lippe uitroei, die tonge wat grootpraat. In ‘n siek samelewing praat mense baie, maar hulle sê niks nie. Hulle mislei mekaar omdat hulle geen positiewe verhouding met God het nie. Is dit nie maar hoe ons samelewing vandag lyk nie? Ons breek mekaar met woorde af. Die psalmis vra dat die Here hierdie proses sal omkeer.

 

Volgende keer kyk ons na mensewoorde teenoor God se woord en na die betroubaarheid van God se woord.

 

 




Hoekom sukkel Christene met genade?

 

Do not be all sugar, or the world will suck you down; but do not be all vinegar or the world will spit you out. —C.H. Spurgeon

 

Hoekom sukkel Christene met genade?

Hoe meer ek Jesus verstaan, hoe belangriker word genade vir geloof en verlossing. Ons kan nie geloof, hoop en verlossing verstaan as ons nie genade verstaan nie. Genade moet die lens wees waardeur ons vir Jesus sien. Hoekom sukkel ons dan so om genade te verstaan?

  1. Ons sien genade as ‘n doktrine en nie as ‘n Persoon nie

Meeste Christene sukkel met genade, want hulle probeer om dit in die Bybel te kry. Natuurlik is die Bybel ‘n tapisserie van genade van voor tot agter. Elke woord beklemtoon God se verlossingsplan wat sy hoogtepunt aan die kruis bereik. Daar aan die kruis wys God vir ons wat genade is. Tot dusver was dit woorde en idees – waar maar onvolledig. Aan die kruis word genade volledig. Ons kan nie genade sonder die kruis verstaan nie. Genade is nie ‘n doktrine – woorde wat ‘n kernwaarheid van God weerspieël – nie. Dit is ‘n Persoon – ‘n ware Persoon.

 

  1. Ons sien genade deur ‘n bevoorregte lens

Ons sien genade dikwels in die vorm van lewensondervindings. Dit is ‘n vrou wat saam met jou deur die goeie en die slegte loop. Satan se skemas verwelk in die teenwoordigheid van genade. Genade sê dat jy ‘n skuldigbevinding verdien, want jy is skuldig, maar dit verklaar jou onskuldig. Genade plaas nie voorwaardes op die verhouding nie. Lyding is nie mislukking nie Dit mag ‘n geleentheid wees om God se genade te sien. Lyding neem ons beheer saam met ons talente, goeie werke en planne weg. Hier, met niks oor nie, mag ons net desperaat genoeg wees om God te soek.

 

  1. Die kerk is nie altyd die beste plek om God se genade te kry nie

Die kerk weerspieël God en dien as die hande en voete van Jesus Christus. Die kerk het ook littekens. Natuurlik is daar ook stories van genade, maar so dikwels kies die kerk uitsluiting, ‘n gebrek aan vertroue en verdeeldheid. Die kerk behoort die een plek te wees waar genade oorvloedig is – waar insluiting, deernis en vergifnis heers.  Mense buite die kerk sien die kerk as eng, veroordelend.  Die kerk kan verbeter.

 

  1. Christene verkies om te fouteer aan die kant van te min as te veel genade

Genade is ‘n Persoon. Vermy die kerk genade, omdat hy bang is hy verloor beheer? Die kerk sê dat hy swakker gelowiges beskerm deur genade in matigheid te verkondig. Is dit nie eerder dat hulle bang is om beheer te verloor nie? Die kerk probeer nuwe gelowiges kloon deur hulle te dwing om ons verstaan van geestelike groei te aanvaar. Laat vir hulle die spasie en vryheid om Jesus Christus te ontmoet. God lei altyd sy mense na vryheid, maar ons weerstaan dit. Dieselfde geld vir genade. Ons glo dat genade sonder beperkings gevaarlik is.

 

  1. Dade en ware genade is nie in kompetisie nie

Te veel dade en te min genade lei tot selfgeregtigheid. Te veel genade en te min dade laat ons dink ons kan doen wat ons wil, want God vergewe altyd. Beide is verkeerd. Ons doen goeie dade nie om iets te verdien nie, maar omdat ons Iemand ontmoet het. Sodra ons Jesus Christus ontmoet het, leef ons net vir Hom.

 

  1. Ons wil nie in die skuld by ander wees nie

Gee aan iemand ‘n onverwagse geskenk. Wat doen hy? Hy gaan waarskynlik onmiddellik vir jou een koop. Ons wil nie vir iemand iets skuld nie. Ons is baie beter om iets te gee as om iets te ontvang.  “It may well be … more blessed to give than to receive. But it’s more difficult to receive.” (Oscar Romero). As iemand vir jou iets waardevol gee, voel jy onmiddellik asof hulle mag oor jou het. Jy wil hulle onmiddellik terug betaal. Jesus kom en Hy gee vir ons nuwe lewe – en verwag nie dat jy moet terugbetaal nie, want jy kan nie. Ons moet die kuns om te ontvang aanleer.

 

Wat sou gebeur as ons die sluise van genade ooptrek? Wat sou gebeur as ons nie allerhande voorwaardes aan genade heg nie? Miskien sal ons Jesus ken en nie net kennis van Hom hê nie.

 

 




Moenie jou oor jou omstandighede bekommer nie

 

If the good shepherd lays down his life for the sheep, the natural question is, what does it mean to be one of Jesus’s sheep? How can I tell if that’s me? The most prominent thing we see about them is that the sheep hear his voice and follow him.” — Mike McKinley

 

Moenie jou oor jou omstandighede bekommer nie

Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding (Psalm 62:2)

Baie van ons soek ons rus elders. As ons dit toelaat kan ons omstandighede baie maklik ons emosies beheer. Maar God wil nie hê dat ons aan die gevolge van ons omstandighede oorgelaat moet word nie. Dwarsdeur die Bybel lees ons dat ons verby ons omstandighede moet kyk. Ons moet ons lewens op die soliede fondament van God bou. Wat beteken dit?

 

  1. Leun op God se karakter

Ons moet op God se goedheid fokus. Om op God se liefde te fokus, is die deur om Hom te vertrou. As ons besef dat ons kosbaar is vir Hom sal ons besef dat Hy ons sal versorg. Kombineer dit met sy mag – sy vermoë om oneindig meer te doen as wat ons dink Hy kan doen. Die Skrif sê ook vir ons dat God onveranderlik is – Hy is gister, vandag en môre dieselfde. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan (Psalm 62:3). As God ons bron is, moet ons die fokus van ons gedagtes en harte op Hom rig. Ons moet bewus word van sy kragtige teenwoordigheid.

 

  1. Die grootheid van God

God is groter as enigiets wat om ons aan die gang is. Ons omstandighede sal kom en gaan, maar Hy is naby aan ons. John Ortberg verwys na die dissipels se vrees in die bootjie tydens die storm. Hy sê: “Peace doesn’t come from finding a lake with no storms. It comes from having Jesus in the boat.” Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek (Psalm 62:6).

 

Ons kan kies of ons God se karakter sal glo en sal vertrou dat Hy ons sal versorg Besef ons dit, sal ons besef dat ons omstandighede net woelighede is op pad na ons bestemming.

 

  1. God se perspektief

Soek God se siening in moeilike tye. God het ‘n perspektief op alles wat in ons lewens gebeur. Hy het ‘n doel met die gebeurtenisse wat Hy in ons lewens toelaat. Ons mag hopelose omstandighede sien – ons sien geen oplossing nie. God sien die potensiaal daarin raak. Ons moet dieper kyk na wat God se doel is.