Psalm 10 (2)

 

“The goal of human life is not death, but resurrection.” Karl Barth

 

Psalm 10 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons kyk nou na die skil om hierdie psalm.

10:1 – 2: ‘n Klaaglied.

Lamed. Waarom, Here, bly U so ver staan,

Waarom verberg U Uself in tye van nood?

In hulle hoogmoed vervolg goddelose mense die magtelose.

Mag hulle vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

In vers 1 het ons twee retoriese vrae – waarom.  God sit nie meer nie; Hy staan, maar ver weg. Hy kyk en luister, maar tree nie op nie. As God gesien en gehoor het, sou Hy sekerlik opgetree het. Psalm 9:10 het immers verklaar dat God ‘n toevlugsoord vir die onderdrukte sal wees. Nou gebeur dit nie so nie.

 

Die goddeloses in hulle hoogmoed tree op ‘n gevoellose manier op teen die hulpeloses – hulle vervolg hulle. Die goddeloses smee planne. Dit herinner nogal aan die planne om Nabot se wingerd te steel en om Nehemia te verhoed om die muur te herbou. Regverdigheid vereis dat hulle vasgevang word in hulle eie sluwe/listige planne.

 

Die digter vra vir God waarom Hy so ver staan en waarom Hy Hom terugtrek in tye van nood – die geloofswaarom wat die dringendheid van sy hulpgeroep beklemtoon. Dit is ‘n vraag wat ons ook vra by geleentheid. Toe Bonhoeffer in Nazi Duitsland in die tronk sit, wagtend op sy teregstelling as Hitler se baie spesiale gevangene, skryf hy dat hy nie God se teenwoordigheid aanvoel nie – God is nie bewus van wat met hom gebeur nie. Maar deur sy geloof het hy oorwin. Die toon van die waarom is smekend, nie opstandig nie. Omdat God nie dadelik ingryp nie, lyk dit asof hy padgegee het. Die goddeloses is verwaand en vervolgsugtig – hulle vervolg die magtelose. Hy smeek God dat hulle  vasgevang word in die planne wat hulle beraam

 

10:16 – 18: ‘n Loflied.

Hier kry ons ‘n aantal stellings oor geloof. Ons lees ook vir die eerste keer dat God koning is. [In 5:3 was Hy my Koning.] Hy is Koning vir altyd – nie soos die nasies wat vergaan nie.

Die Here is koning vir altyd en ewig; nasies verdwyn uit sy land.

TAW. U het gehoor wat die verdruktes graag wil hê, Here.

U versterk hulle hart, U luister aandagtig om aan die weeskind en onderdrukte reg te laat geskied.

Niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.

 

Die verlange van die goddeloses en die verlange van die verdruktes staan teenoor mekaar. God het lank gelede al gewys dat Hy aan die kant van die verdruktes staan. God se luister is nie beperk tot die verlede nie – Hy luister tans en sal aanhou luister. Dit is die soort optrede wat ‘n mens van ‘n koning verwag. Hy het immers die mag om die verkeerde reg te stel. God neem besluite wat die belange van die weeskind en onderdrukte beskerm. God is altyd die potensiële verlosser van die swakkes.

 

Die digter verkondig God se majesteit – nasies verdwyn uit sy land.; hy prys God omdat Hy gehoor het wat die verdruktes graag wil hê, Here. Hy het hulle gebed verhoor. Hy prys God omdat Hy hulle regsaak so behartig het dat niemand sal meer voortgaan om mense uit die land te verdryf nie.  Die Here bly altyd koning – selfs as dit lyk of die goddeloses se terrorisme oënskynlik hoogty vier. Al wat die vromes moet doen, is om op God te vertrou en ernstig by Hom te pleit om hulp. God is aan die kant van die vromes en Hy vernietig die vrees wat die goddeloses in die vromes se lewe wil indra.

 

Noudat ons die skil hanteer het, gaan ons in die volgende blog na die vrug kyk.

 




Kyk en lewe

 

You can only protect your liberties in this world by protecting the other man’s freedom. You can only be free if I am free. -Clarence Darrow (18 Apr 1857-1938)

 

Kyk en lewe

Charles Spurgeon was seker een van die grootste predikers ooit. Hy was baie lief om mense na God te bring. By geleentheid het hy gesê:  “I would sooner bring one sinner to Jesus Christ than unravel all the mysteries of the divine Word.” Hy het geweet hoe belangrik dit was om mense na God te bring, want hy het nooit vergeet hoe God hom tot by Jesus gebring het nie. Luister na sy storie en laat dit jou aanmoedig om ook jou storie aan ander te vertel.

 

So vertel hy sy storie:

Ek sou nog in die duisternis en wanhoop gewees het as dit nie vir God was wat een Sondagoggend, terwyk ek op pad was om te gaan aanbid, ‘n sneeustorm gestuur het nie. Toe ek nie verder kon gaan nie, draai ek in ‘n klein systraatjie en kom by ‘n klein Primitive Methodist Chapel. Daar was so ‘n dosyn of vyftien mense. Ek het van hulle gehoor – gehoor dat hulle so hard sing dat jou ore eintlik pyn. Dit pla my nie – ek wou weet hoe word ‘n mens verlos en as hulle dit vir my kon sê, kan my ore maar pyn.

 

Die leraar het nie opgedaag nie – seker vasgevang in die storm. ‘n Maer man, ‘n skoenmaker of kleremaker of so iets, stap na die preekstoel om te preek. Natuurlik moet predikers opgelei word, maar hierdie man was dom. Hy moes by sy teks hou, want hy het niks anders gehad om te sê nie.

 

Sy teks was: LOOK UNTO ME, AND BE YE SAVED, ALL THE ENDS OF THE EARTH.

Hy kon nie eers die woorde reg uitspreek nie, maar dit het nie saakgemaak nie. In hierdie teks sien ek ‘n flikker van hoop. Hy begin so:

My liewe vriende, hierdie is inderdaad ‘n baie eenvoudige teks. Dit sê: Kyk. Nou om te kyk is nie moeilik nie. Dit sê nie ek moet my voet of vinger lig nie. Dit sê net kyk. ‘n Mens hoef nie universiteit toe te gaan om te leer hoe om te kyk nie. Jy mag die grootste dwaas wees, maar jy weet hoe om te kyk. Almal kan kyk, ook ‘n kind.

 

Die teks gaan verder en sê: Kyk na My. Baie van ons kyk na onsself. Dit is nutteloos om daar te kyk Ons sal nooit vertroosting in onsself kry nie. Die teks sê: Kyk na My.

 

Die man gaan toe verder:

Kyk na My; Ek sweet groot drupels bloed; Ek hang aan die kruis; kyk na My, ek is dood en begrawe. Kyk na My, Ek het opgestaan. Kyk na My, Ek het na die hemel opgevaar; Kyk na My, Ek sit aan die regterhand van die Vader. Arme sondaar kyk na My! Kyk na My!

 

Toe hy daar kom was hy klaar – dit was so tien minute later. Hy kyk toe na my. Met so min mense teenwoordig moes hy geweet het dat ek ‘n vreemdeling was. Hy kyk na my asof hy my hart ken,

Hy sê: “Jongman, jy lyk ongelukkig.”

Natuurlik was ek ongelukkig, maar ek is nie gewoond daaraan dat opmerkings oor my persoonlike voorkoms van die kansel gemaak word nie. Maar dit was ‘n hou wat getref het. Hy gaan verder: “Jongman jy sal altyd ongelukkig wees – ongelukkig in die lewe en ongelukkig in die dood – as jy nie hierdie teks gehoorsaam nie. As jy nou, hierdie oomblik, gehoorsaam, sal jy gered word.’

Hy lig sy hande op en skreeu soos net ‘n Primtive Methodist kan doen: “Jongman, kyk na Jesus Christus. Kyk. Kyk. Kyk. Jy moet niks doen nie, net kyk en lewe.”

 

Omiddellik het ek die pad na verlossing gesien. Ek weet nie wat hy nog gesê het nie – ek het nie aandag gegee nie. Ek was vasgevang met daardie een gedagte. Soos toe die koperslang opgelig is, het die mense net gekyk en hulle was genees.. So was dit met my. Ek het gewag om vyftig dinge te doen, maar toe hoor ek daardie wonderlike woord: “Kyk.’ Ek het gekyk tot ek nie meer kon kyk nie. En toe is die wolk weg en die duisternis ook. Ek het die son gesien. Ek kon opstaan en saam met die entoesiastieste van hulle saamsing – sing van die kosbare bloed van Christus en die geloof wat net na Hom kyk. As iemand dit net vantevore vir my vertel het.

 

Maar dit was hoe God dit beplan het en nou kan ek sê: ‘Ever since by faith I saw the stream Thy flowing wounds supply, Redeeming love has been my theme, and shall be till I die.”

[Hierdie kom uit Spurgeon se outobiografie.]

 

 




Luther se gunsteling prediker

 

“Joy is the simplest form of gratitude.” Karl Barth

 

Luther se gunsteling prediker

Luther beskryf by geleentheid sy gunsteling prediker – ‘n voëltjie.

My gunsteling prediker van wie ek meer hou as enige ander prediker is ‘n Janfrederik. Hy is mak en preek elke dag vir my. Ek sit krummels op my vensterbank, veral snags. Hy kom na die vensterbank as hy sy daaglikse voorraad wil hê, hy neem soveel as wat hy nodig het om aan sy behoefte te voorsien. Vandaar vlieg hy na ‘n klein boompie daar naby en begin vir God sing – sy lied van lof en dankbaarheid. Daarna druk hy sy klein koppie onder sy vlerk en slaap. Hy laat môre om vir homself te sorg. Hy is die beste prediker op aarde.

 

 

 




Kan Christene God hoor praat?

 

People may not agree with our theology but they shouldn’t be able to argue with our lives. —John McGowan

 

Kan Christene God hoor praat?

Christene kan God hoor praat en sy leiding volg. Perry Noble noem vier maniere waarop dit moontlik is.

  1. God se woord

Die Bybel is ‘n lewende voorbeeld van God se boodskap aan ons. God wil met ons praat; God wil hê dat ons Hom reg hoor. God se woord is sy wil.  God het aan ons die Bybel as instrument gegee om Hom beter te ken en te verstaan; wie Hy is en wat sy planne vir ons is. Deur op die Bybel te fokus, spandeer ons minder tyd om te fokus op wat ons graag wil hê God moet sê. Die rede waarom baie van ons nie kan hoor as God praat nie, is omdat ons te besig is om self te praat. Dit is ‘n groot versoeking om vir God te vra om te sê wat ons graag wil hoor dat Hy moet sê. Ons moet eerder fokus op wat God reeds gesê het en hoe ons dit in ons lewens kan toepas. As jy God se stem wil hoor, maak jou Bybel oop.

 

  1. Die Heilige Gees

Die Heilige Gees woon in elke gelowige en dien as ons gewete. Die Heilige Gees praat met jou in situasies om jou te help om God se wil te ken en uit te leef.

 

  1. Deur medegelowiges

God het ons gemaak om deel van ‘n geloofsgemeenskap te wees. Hy gebruik hierdie gemeenskap om die waarheid met ons te praat. Meestal doen Hy dit sonder dat ons eers daarvan bewus is. As jy met ‘n vriend praat en Hy sê iets in ooreenstemming met die Skrif en wat ‘n situasie waarin jy verkeer, hanteer, is dit God wat met jou praat. Jy hoor God deur jou vriend praat.

 

  1. Prediking

Christene hoor God deur sy kerk praat. Dikwels praat God direk met ons tydens ‘n erediens. God praat met ons, sy kinders, deur sy kerk. Die kerk bestaan en groei reeds oor 2000 jaar.

 

Ons moet God toelaat om met ons en deur ons te praat. God glo in ons potensiaal. Jy het wat nodig is om God te hoor praat … en ja vir Hom te sê.