Obed-Edom

 

“Working hard for something we don’t care about is called stress; working hard for something we love is called passion.” -Simon Sinek

 

Obed-Edom

In die Bybel lees ons van ‘n verskeidenheid mense wie se lewe God se mense verteenwoordig. Dink aan Ragab, die prostituut, wat die Here vertrou het en gered is.  Dink aan Mefiboset wat kreupel was en tog genooi is om elke dag aan die koning se tafel te eet. Dink aan Gomer, die gewoonte owerspelige vrou, wie se man haar uit slawerny teruggebring het.

 

En dan is daar Obed-Edom. Min van ons weet iets van hierdie Ou Testamentiese persoon. Sy naam is ‘n samevoeging van twee name.  Obed was Dawid se oupa; Edom was Esau se bynaam. Hy wys vir ons wat met ons deur Jesus gebeur.  Ons lees van hom in 2 Samuel 6. Dit is net na een van die verbasendste stories in die Bybel. Ussa, die Leviet, het pas gesterf omdat hy aan die ark geraak het. Dawid was diep ontsteld.  Hy word bang vir die Here en vra: Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?  Hy laat die ark vir drie maande in die huis van Obed-Edom. Die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.

 

Obed-Edom was ‘n Gittiet van Gat afkomstig – nie Israel nie. Hy is dus ‘n Filistyn, ‘n nasie wat vir geslagte lank ‘n doring in die vlees van Israel was. Hy, ‘n Filistyn, dien as gasheer vir die woonplek van Israel se God – die ark. Hy het God se teenwoordigheid in sy voorkamer. Sy huis word in wese ‘n tempel. Oorvloedige seën volg.

 

In Christus is dit ook wat met ons gebeur. Ons is buitestanders, vyande van God. Maar ons het die wonderlike vooreg om as gasheer vir Israel se God op te tree. Ons het as ‘t ware sy teenwoordigheid in ons voorkamers. Ons is sy tempel. Elke geestelike seëning is ons s’n. Ons is Obed-Edom.

 

Dawid hoor dat God vir Obed-Edom geseën het. Dawid gaan toe terug om die ark van die Here te gaan haal en na Jerusalem te bring. God se guns teenoor ‘n heiden lei daartoe dat Israel, die regmatige tuiste van die ark, gehoorsaam is.

 

Dit is wat met Israel gebeur deur die heidene. As hulle sien dat God die heidene seën, word hulle jaloers en keer na Hom terug. As die teenwoordigheid van God na sy stad terugkeer, sal die feesvreugde selfs dié van Dawid oortref.

 

Daar is iets meer aan Obed-Edom se storie. Na die ark na Jerusalem geneem is, het Obed-Edom nie afskeid geneem van God se teenwoordigheid nie. Hy gaan saam met die ark na Jerusalem. Daar tree hy op as poortwagter vir die ark (1 Kronieke 16:37 – 38). Hy en sy familie word soos Leviete behandel. Hulle word by Israel ingesluit en kan  God aanbid – saam met Dawid en Asaf.

 

 

 




Psalm 10 (1)

 

“Prayer without study would be empty. Study without prayer would be blind.” Karl Barth

 

Psalm 10 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Al voel God somtyds vir ons ver weg, is Hy tog bewus van alle onreg.

Psalm 10 sluit in sekere opsigte by die vorige psalm aan. Waar Psalm 9 afsluit met die gebed dat God Hom sal openbaar sodat die mens homself nie kan verhef nie, handel hierdie psalm nou oor die hoogmoediges wat die vrome vervolg. In Psalm 9 het die bidder sy dank aan God betuig. In Psalm 10 smeek en kla hy by God.

 

Vers  1 – 2 sit die alfabet en die gebed van 9:19 – 20 voort, want dit lyk asof God nie ingryp nie. Vers 12 – 15 sit ook die alfabet en gebed voort, maar nou is die teenstander die goddelose man. Vers 16 – 18 voltooi die alfabet. Die hulpeloses het nuwe moed, want die Here het hulle gesmeek gehoor.

 

In hierdie alfabetiese gedig kom daar ‘n beskrywing van ‘n goddelose man voor (vers 3 – 11). Dit volg na die vermelding van die goddeloses in vers 2. Dit is ‘n omvattende beeld wat die begeerte en trots agter sy bose dade ontleed. Dit ontbloot ook sy verwerping van God, sy selfvertroue, sy onderdrukking van die hulpeloses, die swakkes en diegene wat onbeskermd is. Hy glo dat God nie sien of omgee nie.

 

Die rangskikking word moeilik verduidelik, maar die bedoeling is duidelik. Tussen nasies en in die Israelse gemeenskap lyk dit asof die goddeloses ongehinderd vooruitgaan. Maar oorwinnings in die verlede wys dat God se oordeel aan die werk is. Die psalmis se gebed is dat God nasionaal en internasionaal sal optree.

 

Psalm 10 is soos ‘n lemoen wat middeldeur gesny is. Die eerste en laaste strofes is soos die skil buite om. Die twee hoofdele is soos die vrug aan die binnekant. Die skil bestaan uit twee dele wat mekaar balanseer: ‘n klaaglied en ‘n loflied. Ons begin by die skil in die volgende blog.

 

 




Kwesbaarheid

 

“When we are at our wits end for an answer then the Holy Spirit can give us an answer. But how can he give us an answer when we are still well supplied with all sorts of answers of our own?” Karl Barth

 

Kwesbaarheid

Daar is beperkinge op ons kennis, vermoëns en energie. Maar ons is geneig om ons swakhede weg te steek. Daar is ‘n geweldige krag daarin om kwesbaar voor mense te wees. Wat gebeur as ons ons swakhede probeer wegsteek?

  • Ons swakhede word erger
  • Ons word oneerlik en vals
  • Die waarheid kom onvermydelik uit en mense is dan ontnugter met wat hulle sien.

 

Hoekom is kwesbaarheid ‘n deug by leiers? Rick Warren gee ‘n paar redes.

  1. Dit is emosioneel gesond

Om ‘n beeld van volmaaktheid voor te hou, vereis baie emosionele energie. Ons word moeg van werk om ons masker op te hou – ‘n masker om ander te oortuig dat ons sterk is. As jy oor jou beeld bekommerd is, is jy op pad om uit te brand. Om mense die hele tyd te beïndruk, is uitputtend … en tydelik. Uiteindelik sal mense jou swakhede weet. Om kwesbaar te wees, maak jou vry. Bely julle sondes eerlik teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word (Jakobus 5:16). Ons moet ons sondes aan God bely om verlos te word. Ons moet egter ook met ander oor ons swakhede praat om genees te word.

 

  1. Dit bemagtig ons geestelik

God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (Jakobus 4:6). Ons kan nie by ‘n bediening betrokke wees sonder die genade van God nie. Hoe kry ons hierdie genade wat ons nodig het? Deur nederig te wees voor God en ander mense.

 

  1. Dit is aantreklik vir verhoudings

As ons besluit om ons maskers weg te gooi, verbaas ons mense met ons egtheid. Ons is geneig om mense wat opreg, eerlik, nederig en kwesbaar is, lief te hê. So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry (1 Tessalonisense 2:8). As jy jou sterkpunte deel, skep jy kompetisie. As jy jou swakhede deel, skep jy ‘n gemeenskap. Jy sê basies vir mense: Ons is saam hierin.

 

  1. Dit is ‘n teken van leierskap

Ons volg net leiers wat ons vertrou. Die eerste vereiste vir leierskap is geloofwaardigheid. Hoe eerliker jy is, hoe meer geloofwaardig is jy. As jy byvoorbeeld openheid in jou kleingroep verwag, moet jy die eerste wees om oop te maak. Jy moet besluit of jy mense wil beïndruk of beïnvloed.

 

  1. Dit verhoog die impak van jou verkondiging

Jy is altyd meer doeltreffend as ‘n persoonlike getuie as jy kwesbaar is as wanneer jy ‘n vaardige spreker is. As jy met ander oor die evangelie praat, vra die volgende vrae:

  • Watter stryd en swakhede moet ek met ander deel?
  • Watter voordering maak ek waaruit ander kan leer?
  • Wat leer ek tans veral uit my mislukkings?

 

 

 




Emosies

 

“In the church of Jesus Christ there can and should be no non-theologians.” Karl Barth

 

Emosies

Sommige dae wens ons ons kan sonder emoses klaarkom. Ons word opgewonde oor ‘n nuwe idee en word ontmoedig as niemand anders dink dit is ‘n goeie idee nie … of dit werk nie. As jy nie jou emosies verstaan en weet hoe om hulle te hanteer nie, sal jy nooit jou volle potensiaal bereik nie.

 

Tog is emosies noodsaaklik. Hoe hanteer jy jou emosies? Hier is ‘n paar riglyne.

  1. Emosies wat nie hanteer word nie, sink meer leiers as wat ons besef.

Wat doen ons met ons emosies? Leiers weet dat maak nie saak hoe hulle voel nie, hulle moet bid en genoeg slaap kry. Hulle kan ook die saak met vriende bespreek.

 

  1. Moenie dat môre se besluite vandag se emosies bepaal nie.

Natuurlik het dinge wat ons vandag doen ‘n impak op môre, maar dit help nie om nou al daaroor te tob nie.

 

  1. Moenie dat jou emosies die werklikheid verdraai nie

Emosies verdraai die werklikheid, maar dit is nooit so sleg as wat jy dink nie. Emosies maak dat jy negatiewe dinge nog meer negatief sien as wat jy behoort te doen. Positiewe emosies kan jou ook seermaak as hulle nie op die werklikheid berus nie.

 

  1. As jy emosioneel is, vertrou wyse leiers die oordeel van ander meer as hulle eie

As jy oormatig positief is, kan jy die werklikheid ignoreer en naderende probleme nie raak sien nie. Daarom moet jy die oordeel van ander vertrou net soos jy jou eie oordeel vertrou.

 

  1. Moenie dat emosies tot selfsugtige gedrag lei nie

As dinge sleg gaan, dink jy net aan jouself. Emosionele pyn maak jou nog meer selfsugtig. Jy luister nie na ander nie; jy onttrek jou; jy blameer ander. Alles gaan nou net oor jouself en jou behoeftes.

 

Ons moenie die indruk kry dat emosies net negatief is nie. Daar is ook positiewe aspekte. Emosies mag jou passie verhoog. In gemeentes wat goed doen, speel passie ‘n groot rol. Passie word deur emosies aangeblaas. Ons kan nie maklik voorgee dat ons passievol oor iets is nie. Volgehoue passie sonder emosies is onmoontlik.

 

Mense word aangetrek na mense met passie.