Gemaak na die beeld van God

 

“You can’t do anything about the length of your life, but you can do something about its width and depth.” – H.L. Mencken

 

Gemaak na die beeld van God

Een van die basiese lewensvrae wat ons gereeld vra, is: Wie is ek? Baie mense word beïnvloed deur wat hulle dink ander mense van hulle dink. Wat sê die Bybel oor hierdie vraag? Toe die vraag oor wie ek is aan Luther gestel is, was sy antwoord: You are the bearer of an alien dignity. Wat bedoel hy hiermee? Hy bedoel dat terwyl ons vasstel wie ons is deur wat ons doen en hoe ons met ander vergelyk, is dit verkeerd. Hy glo nie die vraag “Wie is ek” is die regte vraag nie. Die vraag moet wees: “Wie s’n is ek?” Wie se beeld dra ek?

 

Luther se antwoord dat ons die beeld van Iemand buite ons dra wat aan ons groot waardigheid gee, is die Bybelse antwoord. Daardie Iemand is God – ons dra God se beeld.

Toe het God gesê: Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip. God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep (Genesis 1:26 – 27).

Is dit belangrik? Beslis. As jy nie weet na wie se beeld jy gemaak is nie, sal jy nooit weet waarom jy leef nie.

 

Beelddraer. Wat beteken dit? Mense moet God in die skepping verteenwoordig. As jy ooit wonder of Christene by dinge soos klimaatsverandering betrokke moet raak, hou op wonder: die antwoord is duidelik. Die vraag is nie of jy ‘n beelddraer is nie, maar watter soort beelddraer jy is. Jy verteenwoordig God in die skepping. God het aan die mens ‘n skepping gegee wat glad gefunksioneer het. Eendag gaan Hy dit van ons terug vra. Eendag gaan Jesus Christus terugkeer en Hy sal die mens verantwoordelik hou. Die eerste deel van beelddraer wees, is ‘n taak – om te heers oor die skepping. Hier gaan dit nie net oor die omgewing nie, maar oor ‘n skepping van God.

 

Die Drie-eenheid en beelddraer

Hierdie besluit van God om die mens te maak, is in die vorm van ‘n gesprek. God sê: Kom Ons maak die mens. Wie is hierdie Ons? Is dit die koninklike meervoud? As die koningin van haarself praat, sê sy ons. Of verwys hierdie Ons na die Drie-eenheid? Hierdie is nie so belangrik nie, want ons weet uit die res van die Skrif dat God drie-enig is. Wat belangrik is, is dat ons almal na die beeld van God gemaak is. Ons leef dit op verskillende maniere uit.

 

Ons is beelddraers, maar wat van die sondeval? Is ons steeds beelddraers? Nou moet ons ook aan ander beelddraers wat hulle beeld vergeet het, getuig. Maar wat beteken dit in die praktyk? Ek is ‘n verloste beelddraer – as gevolg van die vergifnis deur Jesus Christus word die gevolge van die sondeval omgekeer.

 

Die mens is ongelooflik, nie op grond van wie ons is nie, maar wie s’n ons is – na wie se beeld ons gemaak is. Daarom moet ons wakker wees om te sien wat God deur ons wil doen. Soos ons as beelddraers leef, besef ons gou dat ons dit nie alleen kan doen nie. Ons kan dit slegs as deel van ‘n geloofsgemeenskap doen.

 

 




Psalm 9 (5)

 

Our minds, to whatever part of creation, to whatever design, to whatever hope they turn, find nothing but trouble, disaster, and utter wretchedness: but comfort and rest are nowhere to be found save with God. – H. Zwingli

 

Psalm 9 (5)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

9:20 – 10:2: ‘n Pleidooi

Die psalm keer nou terug na ‘n pleidooi. Hulle staan eintlik sentraal in hierdie psalm (9 en 10). Die gebruik van die Here se naam is algemeen. As ‘n mens dit so doen, is dit ‘n poging om Hom te oorreed om op te tree. Dit kan die psalmis doen op grond van sy verhouding met God.

 

9:20 – 21: Staan op, Here, laat mense nie die oorhand kry nie; laat nasies voor U teregstaan.

Vervul hulle met ontsag, Here; laat die nasies erken hulle is net mense. Sela

 

In vers 20 beteken God se opstaan dat die mense nie sterk word en die nasies ontdek dat God besluit vir hulle. Aan die een kant verheug die psalmis hom dat God op sy troon sit; aan die anderkant wil hy hê dat God opstaan en optree. As die nasies in die kuil wat hulle gegrawe het, moet val, moet hulle gestoot word. God moet die heidene laat skrik dan sal hulle Hom erken vir wie Hy is.

 

Die digter praat oor die verhouding tussen al drie partye. God se magtige reddingsdade word hier beskryf. Hy het as regter ingegryp en in die digter se guns uitspraak gelewer. God het sy vyande verslaan en hom laat seëvier. Hierdie ondervinding is vir hom aangrypend: God, die Wêreldregter, ontferm Hom oor ‘n enkele, hulpelose mens.

 

Die psalmis gee ook ‘n versekering aan almal wat in nood is: God is altyd gereed om ‘n regverdige uitspraak te lewer. Daarom kan elkeen wat in gevaar verkeer na die Here toe gaan. God self is die toevlug, want hy plaas sy volgelinge buite die bereik van hulle vyande. Deur sy dade toon die Here aan sy volgelinge dat Hy is wat Hy is: ‘n helper in tye van nood. Wie sy Naam bely, laat Hy nie alleen nie. Hierdie versekering bring die bidder opnuut daartoe om sy medegelowiges op te roep om te sing tot eer van die Here. Elke loflied wat God se verlossingsdade besing, is terselfdertyd ook ‘n getuienis waarin heidene van Hom verneem. Vir hulle is dit nie net ‘n waarskuwing nie, maar ook ‘n uitnodiging om met hulle nood na Hom toe te gaan.

 

In die slot rig die digter ‘n aantal versoeke tot die Here. Hy vra dat God moet ingryp; dat Hy die nasies moet oordeel; dat Hy hulle met vrees sal vervul. Die bidder doen ‘n kernuitspraak: die mens, wat na sy aard eintlik swak is, wil sterk wees, en sy enigste hoop op redding is dat God Homself in sy grootsheid sal openbaar sodat die mens sy eie swakheid sal besef en eerbied vir God sal hê. Die gelowige en die volk van God weet: my vyande is maar net mense. Net God kan die sondaar weer op die regte pad bring. Hy is die Allerhoogste. En tog help Hy die hulpeloses wat op Hom vertrou, dié wat sy Naam bely.

 

Wat wil die digter met al hierdie dinge vir ons sê?

  1. God is by alle mense betrokke – sowel gelowiges en goddeloses. Al voel ek as gelowige dat God soms nie luister as ek om hulp roep nie, hoor God tog alles wat ek vra. En al dink die goddelose die meeste van die tyd dat God nie weet van al sy geknoei nie, sien God tog alles wat hy doen.
  2. Die digter wil my leer hoe God teenoor my en die goddeloses optree. In sy verhouding met ons as sy kinders doen God talle weldade. As die goddeloses ons aankla, is Hy die een wat ons verdedig; as ons lewens in gevaar verkeer, red Hy; as ons eensaam is, staan Hy ons by; as ons siek is, genees Hy; treur ons, vertroos Hy. In sy verhouding met die goddelose deel God straf uit; Hy veroordeel diegene wat Hom vergeet; Hy verwoes diegene wat sy volk verdruk; Hy laat ons vyande struikel; Hy laat hulle val in die gat wat hulle self gegrawe het; Hy laat hulle omkom.
  3. Die digter wil ons wys hoe God se weldade ons verhouding met Hom en met die goddeloses beïnvloed. Sy gawes gee ons rede om Hom te prys; sy redding neem my vrees vir die goddelose weg.

 




Hanteer die Bybel as ‘n seën en nie ‘n las nie

Christ looks more at the good in them which he means to cherish than the ill in them which he means to abolish. —Richard Sibbes

 

Hanteer die Bybel as ‘n seën en nie ‘n las nie

Billy Graham sê Christene moet die Bybel met entoesiasme lees. Die Bybel is ‘n groot boek om te takel, maar dit is vol wysheid. Net omdat daar dinge is wat ons nie verstaan nie, beteken nie dat ons niks kan verstaan nie. Daarom moet ons elke dag tyd inruim om te bid en Bybel te lees.

 

Graham glo dat ‘n nuwe Christen moet met die Psalms of Spreuke of die evangelies begin, want ons kan hierdie gedeeltes maklik op ons lewens toepas. Christene moet ook ander maniere gebruik om meer van die Bybel te leer – bywoning van eredienste en die bestudering van die Bybel met medegelowiges.

 

Die belangrikste is dat Christene God vra om hulle te help om die Bybel in hulle lewens toe te pas. Die Bybel is God se geskrewe woord en deur die Bybel leer ons vir Jesus Christus en sy wil vir ons lewens ken. Ons moenie met tweedehandse geloof tevrede wees nie. Hy sluit af met 2 Petrus 3:18: Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

 

Graham is tans 97 jaar oud. Hy praat gereeld oor die belang daarvan om die Bybel te lees om jou geloof te versterk. Maar ons moet die Bybel met ‘n oop verstand en ‘n oop hart benader. God wil ons verander en Hy gebruik die Bybel om dit te doen.

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself (Jakobus 1:22).

 

 




Moenie oordeel nie

 

“The theologian who labours without joy is not a theologian at all. Sulky faces, morose thoughts and boring ways of speaking are intolerable in this field.” Karl Barth

 

Moenie oordeel nie

Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie Matteus 7:1)

Craig Groeschel is besig met ‘n reeks wat handel oor Bybelverse wat dikwel verkeerd geïnterpreteer word.

 

Nie-Christene haal dikwels hierdie vers aan om te sê dat Christene veroordelend is, terwyl die Bybel duidelik sê dat hulle nie mag oordeel nie. Is dit die korrekte interpretasie van hierdie vers? Hierdie vers is meer ingewikkeld as hierdie oppervlakkige siening. Dit is belangrik dat ons duidelikheid oor hierdie vers kry, want dit is een van die belangrikste redes waarom mense die kerk verlaat – Christene is altyd besig om ander te oordeel.

 

Om hierdie vers reg te verstaan, moet ons na die konteks van die vers en na ander verse oor hierdie onderwerp kyk. Hierdie vers sê nie dat Christene glad nie mag oordeel nie, maar lê spesiale riglyne neer vir wanneer ons moet oordeel. As ons hierdie riglyne volg, kan ons sondaars na die waarheid teruglei.

 

  1. Moenie oppervlakkig oordeel nie

Moenie van ‘n afstand oordeel nie; moenie oordeel as jy net beperkte inligting het nie.

 

  1. Moenie vals oordeel nie

Christene het die reg om sonde in ‘n medegelowige uit te wys, maar voordat hulle dit doen, moet hulle eers na binne kyk. Het ons nie hier met ‘n weerspiëling van ‘n sonde in ons eie lewe te doen nie? Christene is baie geneig om ander aan te kla en hulleself te verskoon. Die plek waar jy die swaarste oordeel, openbaar dikwels jou grootste swakheid.

 

  1. Moenie Christene aan dieselfde standaard as nie-Christene hou nie

Christene word geroep om aan ongelowiges God se liefde te wys. Laat God toe om hulle harte te verander.

 

  1. Probeer altyd om gelowiges wat geval het, te herstel.

Hoe kry ons dit reg? Deur ‘n balans tussen genade en die waarheid. Dit is baie belangrik, want elke Christen sal op een of ander stadium hulp en rigting met sy geloof nodig hê. As iemand geval het, skop ons hom nie. Hoekom nie? Ons sondig ook. Ons moet hom liefhê.

 

Ons preek dikwels vir ongelowiges met te veel waarheid en te min genade of met te veel genade en te min waarheid. Beide het negatiewe gevolge. Waar daar net waarheid sonder genade is, lei dit tot opstand en dit dryf mense weg. As daar net genade sonder waarheid is, gee ons aan mense die toestemming om hulle te gedra net soos hulle wil.

 

Ons moet bid dat die Here ons sal bystaan as ons probeer om iemand na die geloof terug te lei sonder om hulle verder weg van sy boodskap te druk.