Psalm 9 (4)

 

If you love deeply, you’re going to get hurt badly. But it’s still worth it. —C.S. Lewis

 

Psalm 9 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

9:14 – 19: ‘n Gebed om hulp en getuienis dat God gehelp het

Die psalm kon by vers 13 opgehou het. Dit gaan nie alleen voort nie, maar verander in ‘n gebedspsalm. Die lofprysing se funksie is nou om God te oortuig om te luister na sy gebed. Die erkenning van God se optrede in die verlede, is die rede vir die gebed.

 

9:14 – 15: Get. Wees my genadig, Here, kyk hoe my haters my verdruk – U wat my kan wegruk uit die poorte van die dood –

Sodat ek van al u lofwaardige dade kan vertel in die poorte van die dogter van Sion.

Ek wil juig oor die verlossing wat U bring.

 

Die implikasies van wees my genadig word uitgespel in die oproep kyk. God sal sekerlik in deernis optree as hy die psalmis se ellende aanskou as gevolg van wat sy haters aan hom gedoen het. God ruk hom letterlik uit die poorte van die dood weg. Wegruk is letterlik wat nodig is, want die psalmis staan reeds in die poorte van die dood.

 

Die psalmis verwag dat God sal optree. Dan sal die psalmis van God se dade kan vertel. God se roemryke dade is sy heil/uitkoms. Hy word gered uit die poorte van die dood en kan juig in die poorte van die dogter van Sion. Sion is die plek van lewe, want dit is onder andere die plek van getuienis. Die dogter van Sion is ‘n verpersoonliking van die stad wat God liefhet as vader.

 

Hierdie is die tweede hoofdeel. Vs 14 – 17 bevat nie net ‘n gebed om hulp en ‘n getuienis dat God gehelp het nie. Twee uiterstes woord ook geskets:

  • Die poorte van die dood wat na die doderyk toe lei en wat die bestemming van die skuldiges is.
  • Die poorte van Sion waar die Here woon en waar uitkoms is. Daar kan die vrome juig en getuig, want daar laat die Here reg geskied.

Die skuldiges in die doderyk dink egter nie aan God nie.

 

9:16 – 17:  Tet. Nasies het weggesak in die vangkuil wat hulle gemaak het; in daardie vangnet wat hulle versteek het, is hulle voete vasgevang.

Die Here het Homself bekend gemaak: Hy laat reg geskied; goddelose mense raak in hulle eie handewerk verstrik. Higgajon Sela

 

Hier herroep die psalmis God se dade in die verlede wat dien as basis vir sy gebed. Dit wys hoe mense se verkeerde planne op hulleself omgekeer kan word. Vers 17 maak dit duidelik dat deur hierdie optrede God Hom in die verlede bekend gestel het. Hy het strafgerig geoefen – Hy laat reg geskied.

 

In hierdie verse sien ons hoe die goddelose op sy plek gesit word. Dit mag twee maniere wees om dieselfde gebeure te beskryf. As mense ‘n strik stel en hulle trap per ongeluk in hulle eie strik, is dit God wat dit doen – dit is Hy wat sy strafgerig beoefen.

 

Die digter spreek ‘n aantal voornemens uit oor sy eie verhouding met die Here: hy wil van God se reddingsdade getuig; hy wil vrolik en bly wees; hy wil God se Naam besing. Vyf werkwoorde – prys, vertel, verbly, vrolik wees, besing – dui op die bidder se opregte – met my hele hart – en uitbundige blydskap en dankbaarheid, en sy gewilligheid om te getuig van die Here se verlossingsdade. [In vs 20 – 21 rig hy ‘n aantal versoeke.] Die gedeelte tussen inleiding en slot is ook twee pole wat mekaar goed balanseer.

 

9:18 – 19: Jod. Goddelose mense keer terug na die doderyk, al die nasies wat God vergeet.

Kaf. Maar die behoeftiges sal nie vir altyd vergeet word nie; die magteloses se hoop is nie vir altyd verlore nie.

 

Die erkenning van God se  getroue optrede in die verlede lei tot ‘n geloofstelling. Die psalmis is by die poorte van die dood, maar  dit is die goddelose wat op pad daarheen is. Teruggaan na die doderyk beteken dat die goddeloses sal omdraai en vlug, maar hulle sal omkom. Uiteindelik gaan almal doderyk toe, maar nie een van die twee partye gaan nou reeds daarheen nie. Die konflik beteken dat of die aanvallers of hulle slagoffers moet gaan. God ignoreer nie die swakkes nie. Die aanvallers ignoreer egter vir God; hulle erken Hom nie.

 

Die want waarmee vers 19 begin, beklemtoon die band tussen die dood van die goddeloses en die verlossing van die swakkes. Die aanvalle sal nie vir altyd/vir ewig aangaan nie. Verlossing sal kom. Die swakkes se hoop word nie uitgeblus nie, want hulle word nie geïgnoreer nie. Die vyande en die nasies sal vernietig word voordat die hoop van die swakkes vernietig word.

 




Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

 

The hard sayings of Jesus are not hard to understand, just hard to swallow. —Steven Lawson

 

Oorprofessionaliseer ons evangelisasie?

Min van ons kan professionele sportmanne wees. Tog neem ons aan sport deel, want ons is lief daarvoor. Wat sou gebeur as daar besluit word dat sport net deur professionele sportmanne gespeel kan word? Ons kan tog nie ‘n algemene praktyk professionaliseer nie. Dit beteken die einde van deelname deur ons gewone sportmanne.

 

Maar in die kerk het ons die algemene praktyk van evangelisasie geprofessionaliseer – tot ons nadeel. Sodra jy iets wat ‘n algemene praktyk is, professionaliseer, onderdruk jy die passie daarvoor by die gewone mense. Die deelname verminder ook. Professionalisering van evangelisasie het gelei tot ‘n afname in passie en deelname. Daarom kry ons dat min gelowiges hulle geloof in Jesus Christus met ander deel.

 

Hoe het die kerk evangelisasie geprofessionalseer? Ed Stetzer noem drie maniere.

  1. Deur personeel in gemeentes aan te stel, het mense die indruk gekry dat jy betaal moet word om evangelisasie te doen. Daarom glo mense dat evangelisasie die verantwoordelikheid van die leraar of ander voltydse personeel is. Evangelisasie in die gemeente is dus beperk tot ‘n paar individue – gewone lidmate raak onbetrokke. Gelowiges moet evangeliseer in hulle werk en daar waar hulle invloed het. Die praktyk van evangelisasie moet gedesentraliseer word. Wat nodig is, is dat lidmate toegerus moet word om die evangelie met ander te deel waar hulle ook al is.
  2. Die kerk het evangelisasie geprofessionaliseer deur te sê dat net sekere mense die gawe van evangelisasie het. Almal het die verantwoordelikheid om te evangeliseer – dit is deel van die taakbeskrywing van elke gelowige.
  3. Die kerk het die indruk geskep dat evangelisasie by die kerk en nie deur die kerk gebeur nie. Ons beklemtoon die praktyk om familie, vriende, bure, medewerkers uit te nooi om ‘n erediens by te woon, sodat hulle die evangelie kan hoor. Die waarskynlikste plek vir evangelisasie in nie by die kerk nie, maar in ons buurt, werk, koffiewinkels, ens. Maar ons moet die lidmate hiervoor voorberei. Lidmate moet verander van ‘n “kom en sien” groep na ‘n “gaan en vertel” groep.

 

Evangelisasie is nie tot professionele, begaafde persone beperk nie. Ook nie tot ‘n spesifieke plek nie. Dit is die taak van elke gelowige en elke omgewing. Gemeentes moet dit kommunikeer en elke lidmaat hiervoor toerus.

 

 




Leierskap en liefde

 

A sin that no one else knows about, committed behind locked doors in a dark room, is actually committed in the presence of a holy God. —Kent Hughes

 

Leierskap en liefde

Wat is die een ding wat baie leierskapsprobleme sal laat verdwyn? Perry Noble anwoord hierdie vraag deur na Paulus se raad in 1 Korintiërs 13 te kyk. Paulus het uiteraard baie oor leierskap te sê. Sommige mense het die gawe van leierskap, maar kan steeds fouteer as hulle nie leiding kry nie. In 1 Korintiërs 12 bespreek Paulus hoe mense kan saamwerk. Hy wys daarop dat verskillende mense verskillende rolle moet vervul en dat die een rol nie belangriker as die volgende rol is nie. Net verskillend.

 

Paulus gee vir ons ‘n lys van sommige van hierdie rolle, maar dan kom hy by Hoofstuk 13. Hy sê dat dit nie saak maak hoeveel en watter gawes ons het nie en hoe goed jy dink jy is nie, as jy dit nie in liefde kan doen nie, is jy niks nie. Dan is jou leierskap nie belangrik nie; jy doen dit nie reg nie.

 

Paulus praat hier van ander dien op van die moeilikste maniere moontlik. Die beste manier om te lei, is ook die moeilikste, want dit is teenstrydig met ons inherente neigings.

Paulus sê ons moet geduldig met ander wees as ons geduld al uitgeput is.

Paulus sê ek moet vriendelik wees met ander al verdien hulle dit nie.

Paulus sê dat ek ander mense moet help as hulle struikel.

Paulus sê dat ek ander se belange voor my eie moet stel.

Paulus sê ek moenie boekhou van ander se mislukkings en verkeerde gedrag nie.

Paulus sê dat ek altyd die waarheid moet soek al wil ek eerder skinder.

Paulus sê ek moet ander vertrou al is die makliker om eerder agterdogtig te wees.

Paulus sê ek moet optimisties wees al is my omstandighede moeilik.

 

Die manier hoe ek na ander mense kyk, is baie belangrik. As ons na hulle deur die lens van liefde kyk, vermeerder ons vermoë om te lei. Sonder liefde moet ons baie tyd en energie daaraan spandeer om onsself teen ander te beskerm.

 

Dit is hoe ons dinge deur ander gedoen kry; dit is hoe ons ander ontwikkel; dit is hoe ons meer leiers ontwikkel om oor te neem as ons nie meer daar is nie.

 “When we allow love to define who we are as we work, we become irresistible leaders with a contagious passion for what we do.” – Mark Sanborn

 




Hoe hanteer ek kritiek?

 

Once you become aware that the main business that you are here for is to know God, most of life’s problems fall into place of their own accord – J. I. Packer

 

Hoe hanteer ek kritiek?

To avoid criticism, do nothing, say nothing, and be nothing – Elbert Hubbard

Leiers kan nie bekostig om niks te doen nie. Daarom is kritiek deel van die pakket van die leier. Bevestiging vandag beteken geensins dat jy môre ook bevestig sal word nie. Leiers is een besluit verwyder van kritiek.

 

Eric Geiger sê dat om kritiek goed te hanteer, het ons vyf karaktereienskappe nodig.

  1. Nederigheid

Leiers wat kitiek goed hanteer is nederig. Hulle stem nie noodwendig met die kritiek saam nie, maar hulle besef dat hulle nie altyd reg is nie. Dit vereis nederigheid om nie te oorreageer nie.

 

  1. Liefde

Kritiek maak seer. Al mag ons dit probeer wegsteek, maak dit diep binne-in ons seer. Wat ons in staat stel om kritiek te verwerk, is nie ‘n dik vel nie, maar liefde vir die mense wat ons dien. Ons liefde vir mense hou ons aan die gang ten spyte van kritiek. Leiers wat die mense vir wie hullle dien liefhet, laat nie toe dat kritiek veroorsaak dat hulle nie verder dien nie.

 

  1. Oortuiging

Leiers wat oortuig is van hulle opdrag, word nie sommer deur kritiek van stryk gebring nie. ‘n Leier sonder oortuiging word deur elke mening beïnvloed. As ‘n leier oortuig is van die pad wat hy moet loop, sal kritiek seermaak, maar dit sal hom nie ontspoor nie.

 

  1. Wysheid

Wyse leiers kan onderskei tussen kritiek wat geïgnoreer kan word en watter kritiek ernstig is. Ernstige kritiek is belangrik – ons moet daaroor nadink en daaruit leer.  Omdat leiers met wysheid die insig het om te besluit watter kritiek geïgnoreer kan word, word hulle nie platgedruk deur kritiek nie.

 

  1. Geloof

So baie mense is afhanklik van die goedkeuring van ander mense. As jy die Here ken en aan Hom behoort, het jy reeds sy goedkeuring. Kritiek verander nie hierdie werklikheid nie. Net deur Jesus Christus te volg, kan jy mense liefhê en nie ontsteld word as hulle jou nie lief het nie. As ons identiteit in Hom is, word ons nie deur kritiek vernietig nie – as on leierskap bevraagteken word of ons diens nie waardeer word nie.

 

Om kritiek te verwerk, is nooit maklik nie. Ons moet hierdie riglyne gebruik om ons te help.