Vryspraak en Heiligmaking

 

When we have to do a severe thing, let us choose the tenderest manner. —C.H. Spurgeon

 

Vryspraak en Heiligmaking

Paulus verduidelik die verskil tussen vryspraak en heiligmaking in sy briewe.

 

Vryspraak is nie progressief nie – dit is volledig in die lewe van die gelowige die oomblik as hy bekeer word. God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Romeine 5:1). Vryspraak is die fondament waarop die huis van heiligmaking gebou word. Heiligmaking is progressief soos gelowiges groei in volwassenheid en gehoorsaamheid. Geloof is die rede vir hierdie nuwe geboorte en gehoorsaamheid is die gevolg van geloof.

 

‘n Mens word nie deur dit wat hy doen verlos nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christus. Geloof produseer altyd goeie vrugte. So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood (Jakobus 2:17). Daar is nie so iets soos ware geloof sonder dade nie. As die Heilige Gees in ons kom woon by ons bekering, begin goeie vrugte onmiddellik groei. Jesus is die wingerdtok en die Christene is die lote. Net God kan goeie vrugte in sy kinders produseer.

 

Goeie dade vloei voort uit ons geloof, maar ons dade dra nie by tot die gehalte van ons geloof of die inhoud van ons verlossing nie. Die gelowige se verlossing is seker die oomblik as hy hom bekeer. Die fondament is gelê. Sy naam word in die boek van die lewe, die boek van die Lam, geskrywe (Openbaring 13:8). Ons is van die sonde vrygemaak; ons is slawe van God wat sy wil doen (Romeine 6:18).

 

Enigeen wat in sonde voortleef is nie ‘n Christen nie. Gelowiges leef nou vir  Jesus; gelowiges dien vir Christus, want Hy is die Here. Hy het sy lewe vir ons gegee om ons te verlos. Ons is nou ‘n nuwe skepping. Is gelowiges volmaak? Natuurlik nie Wil gelowiges dinge op God se manier doen? Beslis. Die gehoorsaamheid as gevolg van geloof is omdat Christus in ons leef. Baie mense probeer om aan een of ander etiese kode gehoorsaam te wees. As die persoon nie bekeer is nie, sal sy gehoorsaamheid nie God se guns verdien nie. Die enigste gehoorsaamheid waarmee God tevrede is, is die gehoorsaamheid van sy kinders. As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil (Hebreërs 11:6).

 

Geloof in Christus beteken dat ons Christus gehoorsaam. As die fondament eers gelê is, begin God aan die huis werk. My lewe as Christen is die werk van God. Jy kan nie krediet neem vir die huis of sy fondament nie. Gehoorsaamheid aan God betrek ons gedagtes, woorde en dade. Ons gehoorsaam God deur ons liggame en ons gesprekker te gebruik om Hom te verheerlik. Onthou: Waar die hart van vol is, loop die mond van oor (Lukas 6:45).

 

Voordat iemand God kan gehoorsaam, moet hy eers die vryspraak deur God ontvang (Romeine 3:21). Hierdie vryspraak van God is volmaak as gevolg van Christus se volmaakte offer aan die kruis. Dit word aan die gelowige gekrediteer by sy bekering. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag (Titus 3:7).

 

As ‘n mens sy sonde bely en vertrou op Christus as sy Verlosser, is hy vergewe, vrygekoop en verlos. Dan begin Hy lewe soos God dit beplan het. As Jy weergebore word, word jy deel van God se familie. Dan gehoorsaam jy Hom deur die krag wat Hy in jou geplaas het. Die gehoorsaamheid deur geloof is die neweproduk van jou persoonlike verhouding met Jesus Christus.

 




Psalm 9 (2)

 

The heart of the gospel is all about giving up power, pouring out resources and serving … the Center of Christianity is always migrating away from power and wealth – Tim Keller.

 

Psalm 9 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

9:2 – 5: Die psalmis se blydskap.

Die psalm begin soos ‘n getuienis of danksegging, maar dit verander gou. Die psalmis benodig God se optrede. Wat interessant is, is dat die psalmis by sy loflied (vers 2 – 3) ‘n verwysing na wanneer dit sal begin byvoeg (vers 4 – 5).

 

9:2 – 3: Alef.  Ek wil die Here loof met my hele hart; ek wil al U wonderdade vertel.

Ek wil bly wees en my in U verheug, ek wil u Naam besing, Allerhoogste.

Hier kry ons ‘n verklaring van die psalmis se bedoeling om van God se magtige reddingsdade te vertel. Dade/wonders verwys nie noodwendig na reddingsdade vir die individu nie. Dit verwys gewoonlik na God se dade by die skepping en in Israel se geskiedenis. Later blyk dit dat hierdie wel verwys na God se reddingsdade. Die onderneming – ek wil al U wonderdade vertel  –  vul die getuienis – Ek wil die Here loof met my hele hart – aan. Hele hart en al U wonders pas bymekaar.

Vers 3 voer dit verder. Ons sien dat lofprysing na buite uitgedruk moet word. Loof is vertel – dit moet in die openbaar geskied – ek verheerlik God voor die gemeente. Woorde en musiek maak dat dit lof is.

 

9:4 – 5: Bet. Wanneer my vyande terugdeins, struikel hulle en kom hulle om vanweë u teenwoordigheid, want U het my reg in my regsaak gehandhaaf. U het op die troon gesit as regverdige regter.

In vers 4 kry ons ‘n verwysing na God se dade. Vers 4 en 5 verwys waarskynlik nie na wat God reeds gedoen het nie of na wat Hy gewoonlik doen nie, maar na wat die psalmis verwag. Die psalmis kan nie getuig nie, want hy het behoefte aan God se optrede. Sodra God opgetree het, sal die psalmis in ‘n posisie wees om te getuig. Hy kyk vooruit daarna om God te loof; hy is vol vertroue dat die vyande sal vlug, struikel en omkom, want hulle sal voor God te staan kom. God het in die verlede sy gesag op so ‘n wyse uitgeoefen dat Hy getrou aan Israel was. Die getroue God sal aan die psalmis se kant wees. Net in God se regsaal kry die swakkes ‘n regverdige verhoor teenoor die sterkes. As daar geen gebed is nie, is daar geen regsbesluit nie en tree God nie op nie.

 

Dit is die laaste keer in die psalm waar die lof in die eerste persoon is. Die res van die psalm sal God se optrede in die geskiedenis van die volk in herinnering roep.

 

Die openingsloflied is ‘n reaksie op volgehoue oorwinnings waarin die goddelike oordeel oor nasies duidelik gesien kan word. Israel se God sit op die troon oor die hele wêreld en Hy is regverdig – Hy wreek die storting van onskuldige bloed. Dit roep weereens vir lofprysing.

 

 




Hoe om die Bybel te bestudeer

 

The more outrageous the wicked are against the truth, the more courageous the godly are for it. —Thomas Watson

 

Hoe om die Bybel te bestudeer

Hierdie is nog ‘n artikel in hierdie reeks van Mel Lawrenz.

Ons glo dat die Skrif geïnspireer is: die skrywers van die Bybel is deur die Heilige Gees geïnspireer om te skryf wat die volle waarheid is en die gesag van God se woord dra. Daar is nog ‘n belangrike beginsel: verligting.

 

Tydens inspirasie gebruik die Heilige Gees die skrywers om God se waarheid te openbaar. Tydens verligting bemagtig die Heilige Gees die denke van lesers om te verstaan wat neergeskryf is.

Wanneer ek in my gebede aan julle dink, bid ek dat die God van ons Here Jesus Christus, die Vader aan wie die heerlikheid behoort, deur sy Gees aan julle wysheid gee en Hom so aan julle openbaar dat julle Hom werklik kan ken. Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het (Efesiërs 1:17 – 18).

Psalm 119 is feitlik in sy geheel ‘n gebed vir die verstaan van God se wil, weë en woord

 

As ons die Bybel lees, gebruik ons die normale metodes om enige teks te verstaan. Gelowiges stop nie hier nie. Hulle weet dat die woord van God die menslike verstaansvermoë oortref. Om werklik te verstaan vereis die werk van die Heilige Gees. Daarom moet ons voor en na ons die Skrif lees, bid. Hier is twee voorbeelde:

Voor ons die Bybel lees: O Here, maak my oë oop as ek u woord lees. Ek verlang om U te ken; om u woord te verstaan; om verander te word. Ondersoek my, o Here. Amen.

Na ek die Bybel gelees het: Mag die woorde wat ek gelees het, o Here,  diep in my gedagtes en hart geplant word. Help my om nie sommer te vergeet nie, maar om na te dink oor u woord en dit te gehoorsaam en om my lewe op u waarheid te bou. Amen.

 

 




Ontvang God alle mense met oop arms?

 

It is a sign of the age that we preachers are far more adept at humor than tears –  John Piper

 

Ontvang God alle mense met oop arms?

Billy Graham, tans 97 jaar oud, skryf onlangs op die webblad van die Billy Graham Evagelistic Assosiation dat God altyd mense met oop arms ontvang. Hoe ver hulle afgedwaal het, is nie belangrik nie. Maar Hy kan nie diegene wat weier om na sy boodskap te luister, red nie.

 

Hy verwys dan spesifiek na die twee misdadigers wat saam met Jesus gekruisig is. Die een het berou oor sy sonde en vra om vergifnis. Hy ontvang die ewige lewe. Die ander een het geen berou nie. Hy ontvang nie die ewige lewe nie.

 

God verwelkom enigeen wat na Hom in opregtheid kom met berou en geloof – selfs op die laaste minuut. God kan nie iemand red wat weier om gered te word nie. As iemand herhaaldelik sy rug na God draai, word sy hart net harder en harder. Dit word vir so iemand al hoe makliker om God se stem te ignoreer.

 

Net God het die mag om waarlik die harte van hardkoppige ongelowiges te verander. Net Hy kan deur die skanse breek wat ons om ons harte bou.