Wat gee aan jou die reg om ‘n Christen te wees?

Your deeds—no matter what they are called or may be—and the deeds of all men are far too little to take away even the tiniest sin. — Martin Luther

 

Wat gee aan jou die reg om ‘n Christen te wees?

‘n Professor in fisika vra vir Karl Barth: “Wat gee jou die reg om aan hierdie universiteit studente te onderrig?” Karl Barth antwoord: “Die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” Hierdie antwoord klink so onwetenskaplik. Dit hang alles af hoe ons die verhouding tussen Jesus se opstanding en die geskiedenis sien.

 

Paul Louis Metzer sê dit is ‘n vraag wat aan elke gelowige gestel moet word: “Wat gee aan jou die reg om ‘n Christen te wees?” Is dit maar net ‘n mening of ‘n voorkeur? Baie mense vandag sien hulle geloof in Jesus Christus as ‘n verbruikersvoorkeur. Enige toeewyding gegrond op voorkeure kan baie maklik verander. Aanbidding vereis meer as net rede, maar ook optrede en passie. Ons moet met passie glo. Dan sal ons vas staan al kos ons geloof ons baie – soos gelowiges in die Midde-Ooste in die hande van ISIS. Skeptici sal nooit redes vir ons geloof aanvaar nie. Miskien sal hulle glo as hulle bewyse sien dat Jesus Christus die Here in ons lewens is.

 

Sal ons ons geloof demonstreer deur ’n lewe wat daarmee ooreenstem?

 

 




Psalm 8 (3)

We have a God who delights in impossiblities –  Andrew Murray

 

Psalm 8 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

8:6 – 10: Verwondering dat God eer en heerlikheid aan die mens gee – Hy gee vir hulle gesag oor die skepping

Nieteenstaande die oorweldigende feite en die vrae  wat hulle opper (vers 3 – 4), delegeer die oppermagtige Heerser mag aan mense. Dit herinner aan Genesis 1 – die mense is beelddraer en verteenwoordiger.

 

8:6: 6U het hom net minder as ’n god gemaak; ; U het hom met majesteit en glansrykheid gekroon.

Mense is net ‘n bietjie minder as goddelik. Hulle word gekroon en deel so in God se eer en heerlikheid. Soos Genesis 1 en 2 glo die psalmis die mens is koning. En tog dink God aan die mens; gee Hy aandag aan hom; versorg Hy hom. God let noukeurig op die mens: nie net na wat hy doen nie, maar ook na sy omstandighede; Hy sien om na hom. Wanneer mense hulle nietigheid besef en God as Koning in hulle lewe erken, word sy genade vir hulle ‘n werklikheid. Hy wat alles gemaak het, sorg ook vir my!  Wat ‘n voorreg is dit om kind van God te wees.

 

8:7: U laat hom heers oor die werk van u hande; U het alles onder sy voete geplaas,

As heersers het die mens opdrag om oor die werk van God se hande te heers, en het so die eerbetoon van wesens onder sy gesag gekry. Hulle is “tussen God en die wêreld”.

 

8:8 – 9: Al die kleinvee en beeste, ja, selfs die diere van die veld, die voëls van die hemel en die visse van die see wat verbytrek op hulle roetes deur die oseane.

Die mens heers nie net oor mak diere nie, maar ook die wilde diere van die veld, voëls, vis en ander seediere. Alles word aan die mens onderwerp. Toe die skeppingswerk afgehandel is, het dit nie beteken dat alles reeds hulle bestemming bereik het nie – die mens moet die skepping na sy eindbestemming neem. Natuurlik het die mens misluk en die skepping moet vooruit kyk vir sy bestemming. Intussen kreun die skepping.

 

 

8:10: 10Here, ons Heer, hoe magtig is u Naam oor die hele aarde!

Die psalm eindig soos dit begin het: met lof aan God. Hy regeer. Ek leef uit sy genade; Ek is iets omdat hy my iets gemaak het. Op aarde heers ek namens Hom omdat Hy my aangestel het. Aan Hom kom al die lof toe.  Hierdie herhaling van vers 2 beklemtoon die positiewe wonder en verseker dat die aanbidders hulle lofprysing afsluit met gedagtes aan God – nie van hulleself nie.

 

Volgende keer kyk ons na die teologiese implikasies van Psalm 8.




Die gevaarlike gebed

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher.” George Whitefield

 

Die gevaarlike gebed

Wat is die gevaarlike gebed? As ek God vra om my beskikbaar te maak. Ons moet meer soos kinders in God se diens wees – ons moet  Hom uitnooi, sonder vrees, om in ons lewens teenwoordig te wees.

 

Ons het gewoonlik baie verskonings om ons nie beskikbaar vir God te stel nie. Ons moet altyd onthou dat as God ons roep, Hy ons ook toerus. God is meer bekommerd oor jou beskikbaarheid as oor jou vermoëns. Ons moet ons beskikbaarheid met opgewondenheid, vreesloosheid en moed oor ons geloof benader. As ons vreesloos God se plan volg, kan Hy ons gebruik as instrument vir sy wil.

 

Hierdie gebed is gevaarlik, want God mag jou roep vir verskillende dinge. God kan jou roep om iets te doen wat jy nooit gedink het jy sou doen nie.

 

 




My perspektief op gebed

 

Paul  wants the church to be a proclaiming church not a complaining church C. J. Mahaney.

 

My perspektief op gebed

Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word (Johannes 14:13)

Ons moet ons perspektief oor gebed verander. Die doel van gebed is nie die vervulling van ons wense nie, maar die verheerliking van God. Bogenoemde vers word dikwels verkeerdelik gebruik. Daarom verlaat mense die kerk, want hulle glo dat hulle gebede nie beantwoord is nie – God het hulle in die steek gelaat.

 

Hoekom antwoord God ons gebede? Nie sodat ons lewens beter kan wees nie of sodat on meer geld kan hê nie. Hoekom dan? Die vers sê dit vir ons: sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. Ons bid nie om iets terug te kry nie. Al beantwoord God nie my gebed nie, moet ek steeds weet dat Hy my liefhet – ek moet steeds glo. My geloof in God berus nie op wat Hy vir my doen of nie doen nie. My geloof berus op wat Jesus reeds vir my aan die kruis gedoen het. Dit is afgehandel.

 

Ons interpreteer Johannes 14:13 verkeerd en word gefrustreerd met God omdat Hy nie ons gebede antwoord nie, want ons het die verkeerde perspektif op gebed. Ons maak onsself die hoofkarakters in ons gebede in plaas van God. Gebed is nie ‘n sleutel om toegang te kry tot dit wat ek begeer nie. In gebed eer ek vir Jesus wat vir my toegang tot God gegee het. As ek voor God staan en ek gebruik die Naam van Jesus het ek toegang tot God – Jesus gee vir my daardie toestemming.

 

Hoe ek na my gebed kom, is ook belangrik. Ons verhoudings, motiewe, geloof en God se wil maak saak as ons bid. In hierdie verband help 1 Johannes 5:14 ons ook: En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. Ons kan nie vir God vra wat ons wil hê en eis dat Hy dit vir ons moet doen nie as dit nie volgens sy wil is nie.

 

Gebed is nie ‘n wenslysie nie; gebed is die manier waarop ons God leer ken en Hom verheerlik.