Die Bybel aanvaar betekenisvolle toewyding

 

Spiritual authority depends more on care given than on power wielded. —Daniel Doriani

 

Die Bybel aanvaar betekenisvolle toewyding

Hoe lyk hierdie toewyding? Wat kan ons van sondaars wat deur genade verlos is, verwag? Kom ons kyk na wat die Bybel sê.

 

  1. Innige en opofferende liefde

Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid … Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur. Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:13 – 16). Ek moet vir ander in die gemeente omgee, want hulle is God se kinders.

 

  1. Vergader gereeld saam

Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly  soos party se gewoonte is nie,  maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom (Hebreërs 10:25). Christene vergader gereeld saam met ander Christene.

 

  1. Bemoedig mekaar

Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade (Hebreërs 10:24).

 

  1. Spoor mekaar aan

Broers, julle moet toesien dat daar nooit by een van julle ‘n verkeerde gesindheid van ongeloof ontstaan en hy van die lewende God afvallig word nie. Maar solank daar nog ‘n “vandag” is, moet julle mekaar elke dag aanspoor sodat niemand van julle deur die misleiding van die sonde verhard word nie (Hebreërs 3:12 – 13) bemoediging is ‘n teenmiddel teen ongeloof. Ons moet mekaar se geloof versterk; ons moet ons oor diegene wat twyfel ontferm. Hierdie opdrag geld vir alle gelowiges. Maar ons moet dit met wysheid en liefde doen.

 

Hierdie vier punte is natuurlik nie volledig nie, maar is ‘n baie goeie beginpunt. Ons moet aan Jesus Christus, ons gemeente eb aan mekaar toegewyd wees.

 




Psalm 7 (3)

 

God didn’t send a program or a plan, he sent  himself. —Darrin Patrick

 

Psalm 7 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

7: 7 – 10: ʼn Dringende en uitgebreide pleidooi vir optrede. God moet as regter optree.

Hier kry ons ʼn pleidooi en ʼn aantal wense wat die psalmis graag vervul wil sien.

 

7:7a – b: Staan op, Here, in u woede, tree op teen die uitbarstings van my teenstanders.

Die psalmis probeer God tot optrede aanspoor. Dit gaan hier oor besondere omstandighede wat God se aandag vereis. In die eerste gedeelte word na God se woede verwys – die psalmis se hoop. Die tweede deel verwys na die aanvallers se aanslag/uitbarstings – ʼn bedreiging vir die psalmis. In die psalms kry ons dikwels hierdie siening dat die doel van gebed is om God tot optrede aan te spoor. Normaalweg laat God die beheer van die wêreld aan mense oor – dit is nie sy gewoonte om sommer in te gryp nie. Gebed probeer dus God van onaktiwiteit tot aktiwiteit aanspoor. Die psalmis weet dat God kwaad is oor wat aangaan en gebruik dit as motivering om God te laat tussenbeide tree. Die psalmis soek optrede nou – in vers 13 sal ons die rede vir uitstel kry. Hy is nie bereid om te wag tot die eindoordeel nie.

 

7c – 8a: Word wakker, my God, vel die oordeel. Laat nasies rondom U vergader

Hier kry ons ʼn verdere oproep en aanmoediging om op te tree. Ons het ook  ʼn geloofstelling: Dit is God wat die oordeel vel.

 

7:8b – 9a: Keer terug na u verhewe plek bo hulle. Die Here spreek reg oor volke

Om op te tree ten behoewe van ʼn individu moet God al die volke bymekaar roep. Hierdie is oënskynlik ‘n vergadering op aarde en nie in die hemel nie. Dit is veral toepaslik as die bidder ‘n koning is wat deur vreemde moondhede aangeval word.

 

7: 9b – c: Oordeel my op grond van my regverdige optrede, Here, op grond van my onbesprokenheid, Verhewene.

Hierdie deel vra dat die besluitnemingsmag op hierdie individu toegepas moet word. God moet terugkeer en die besluitnemingsraad lei. Die basis van die bidder se  pleidooi is ‘n lewe van geregtigheid en onbesprokenheid/vroomheid. Geregtigheid verwys na die bidder se verhouding met die gemeenskap. Vroomheid kan ook met integriteit vertaal word. Hierdie is aspekte van die bidder se wese wat ons sien in sy verhouding met God en die gemeenskap. Hulle is objektiewe werklikhede.

 

7:10: 10Beëindig tog die boosheid van goddelose mense, maar hou die regverdiges staande, ja, U wat hart en niere toets, o regverdige God.

[Harte en niere verwys na die plek van denke en emosie – gesindhede van die innerlike wese.]

Met hierdie vers word die pleidooi afgesluit. Ons gaan nou ʼn oorgang na lof en vertroue kry. Hierdie vorm ʼn skarnier in die psalm. Die vers pleit vir twee aspekte – een negatief en een positief – wat God moet doen. Die bidder bepleit weereens sy onskuld. Hy is gelukkig dat God die innerlike mens ondersoek om vas te stel of die innerlike planne en gesindhede ooreenstem met die uiterlike woorde. Dit is deel van integriteit. Die verklaring sê dat God in die innerlike mense kan kyk – of jy nou daarvan hou of nie. Op grond van menslike geregtigheid kan jy pleit vir Goddelike geregtigheid.

 

Nadat hy die eed afgelê het, vra hy dat God as regter moet ingryp en uitspraak lewer in sy guns. Die krag van sy hulpgeroep blyk uit die drie woorde in vs 7: staan op, tree op, word wakker. Hy mag dit vra, want God het bepaal dat reg sal geskied. Hy pleit dus op grond van wat God in sy openbaring bepaal, beveel en beloof het. Die verwysing na die woede van die Here verklaar dat God nie die optrede van die vyand goedkeur nie. Hy het bepaal dat reg sal en moet geskied, en die goddelose mense is besig om hierdie gelowige bidder te verontreg. In sy geestesoog sien die bidder God, die Wêreldregter, op die ark – sy troon. Al die volke kom daar bymekaar om te hoor dat God die gelowige vryspreek en die teëstanders as die skuldiges aanwys. Hy weet God sal dit doen, want God is ʼn regverdige regter. Deur in hierdie besondere geval so uitspraak te lewer, het God dit terselfdertyd ook vir en oor al die volke gedoen: hulle weet nou wat van hulle verwag word en wat vir hulle wag.

 

 




Kleingroepe

Troops of unclean spirits break forth in all directions, who, in order that they may escape from healthy discipline, which they can in no way submit to, seek every sort of pretext for slipping away from the authority of the Church. — Johannes Calvyn

 

Kleingroepe

Kleingroepe is nie dieselfde as Bybelstudie nie – kleingroepe is ‘n sleutelelement in dissipelskap. Meeste ondoeltreffende kleingroepe fokus net op gemeenskap en inligting. Natuurlik is beide goed, maar dit is nie voldoende nie. Bybelse kleingroepe moet op transformasie en gedragsverandering konsentreer. Wat is die elemete van doeltreffende kleingroepe wat lei tot dissipelskap, leierskap en vermenigvuldiging? Bill Easum noem ‘n paar van hierdie elemente.

 

  • Gemeenskap

Hierdie is ‘n noodsaaklike element, want om bande te vorm met ander gelowiges is noodsaaklik vir geestelike groei. As ‘n groep ‘n band vorm, kry mense ‘n veilige plek om oor ‘n gevaarlike evangelie en hulle eie geestelike pad te gesels. Dit is veral in groter kerke noodsaaklik dat mense ‘n plek kry waar almal hulle name ken.

 

  • Ontwikkeling van vakleerlinge

Hierdie verwys na mense wat hulle ambag by ‘n kundige leer. ‘n Goeie leier weet dat een van die maniere waarop hulle aanspreeklikheid getoets gaan word, is deur die aantal vakleerlinge wat hulle opgelei het om die stelsel van kleingroepe uit te brei.

 

  • Die ontwikkeling van dissipels

Almal kan doeltreffende dissipels wees, maar nie alle dissipels is leiers nie. Die opleiding en ondervinding is dieselfde. Beide verstaan dat die doel van dissipelskap is die gewilligheid om soos Jesus te word. Dissipels bereik die punt waar hulle gereed is om uitgestuur te word – binne en buite die vier mure van die kerkgebou. Hulle reageer op Jesus se opdrag: “Gaan.” Die eindresultaat van vakleerlinge in elke kleingroep is hulle voorbereiding vir bediening.

 

  • Vermenigvuldiging

Kleingroepe moet voortdurend vermenigvuldig. Hoekom?

  • Dit is hoe die Nuwe Testamentiese kerk gegroei het en hoe meeste kerke vandag steeds groei.
  • As groepe nie vermenigvuldig nie, stagneer hulle en word ‘n kliek.
  • Groepe wat reeds vir ‘n lang tyd bymekaar was, verwelkom gewoonlik nie nuwe mense nie.

Kleingroepe vermeerder gewoonlik nie deur te verdeel nie – hulle vermeerder as die vakleerling of leier die groep verlaat en ‘n nuwe groep vorm.

 

  • Toegerus om gestuur te word

Vermenigvuldiging beteken altyd dat mense buite hulle groep gaan. Bybelse dissipels is altyd gewillig om te gaan en na verskillende bedienings gestuur te word. Hulle begin ‘n nuwe groep of hulle word deel van die gemeente se uitreikbediening.

 

  • Uitreik

Doeltreffende kleingroepe reik gereeld uit na die omliggende gemeenskap. Hulle kies vir hulle ‘n projek. Dit is een ding om te leer van gemeenskap en ‘n ander ding om dit te beoefen.

 

Hierdie is enkele doelwitte van ‘n doeltreffende sisteem van kleingroepe wat lei tot persoonlike en korporatiewe groei.

 




God kommunikeer

 

My house shall be called a house of prayer, but you have turned it into a nursery for coddled Millennials” – Jim West

 

God kommunikeer

God is ‘n kommunikeerder. Deur te praat, het Hy alles gemaak. Sy woord is doeltreffend. Ons weet nie alles en verstaan nie alles van Hom nie, maar wat ons weet, het Hy aan ons bekend gemaak. Alles wat Hy van Homself bekend gemaak het, is genade vir ons. Wat ons van God weet, is in sy woord aangeteken. Die woord van God en die Heilige Gees om dit te verlig vir ons, is twee van die grootste gawes wat God aan sy kinders kan gee.

Net omdat God kommunikeer, beteken nie dat almal gretig is om sy woord te hoor nie. Party reageer soos die ryk jongman – hulle verwerp dit en loop weg. Ander, soos Feliks, wou nie dit wat hy gehoor het hanteer nie – hy het aanvaar hy sal nog ‘n geleentheid kry om te reageer (Handelinge 24:24 – 26). Die ideale reaksie is soos dié van Maria – in geloof en aanvaarding: Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat U gesê het (Lukas 1:38).

Die reaksie op God se boodskap is dikwels ongeloof, ontkenning, verontagsaming en verwringing. Hoe ons op God en sy woord reageer, is van ewigheidsbetekenis. As ons sy boodskap verwerp, verwerp ons Hom; as ons sy woord gehoorsaam, gehoorsaam ons Hom.

Hoe reageer ons op God se woord? Kan ander sien dat God se woord ‘n prioriteit in my lewe is? Onderwerp ek my met blydskap aan wat Hy sê? Mag God in ons die begeerte wakker maak om sy boodskap te gehoorsaam; laat ons ons verheug in die grootste Woord wat God nog ooit met ons gepraat het: Jesus Christus.