Psalm 7 (1)

 

See to it also that you make yourself a fellow of every man and by no means exclude any one in hatred or anger –  Martin Luther.

 

Psalm 7 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Interpretasie

Die psalm praat van iemand wat aangeval word. Hy word verkeerdelik beskuldig en verkeer daarom in lewensgevaar – soos Nabot.

 

7:1: Opskrif. 

Sjighajoon. Van Dawid. Wat hy vir die Here gesing het na aanleiding van Kus, ‘n Benjaminiet.

Sjighajoon is ʼn klaaglied. Hierdie opskrif verwys na ‘n gebeurtenis waarvan ons onseker is. Kus is ʼn gebied suid van Egipte en verwys waarskynlik na die huidige Soedan (eerder as Etiopië). Die psalm mag moontlik na 2 Samuel 18:19 – 32  verwys. Daar lees ons dat Joab vir die Kusiet sê dat hy die nuus van Absalom se dood aan die koning (Dawid) moet oordra. Hy vertel vir Dawid dat God  die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning opgetel het.

 

Ander glo dat hierdie psalm dalk na Simeï verwys (2 Samuel 16 en 19) wat Dawid beledig het terwyl hy voor Absalom gevlug het. Ander glo dat dit na ʼn deugniet met die naam Seba verwys (2 Samuel 20).

 

7:2 – 3: ʼn Openingspleidooi – by U soek ek beskerming.

Here, my God, by U skuil ek; verlos my van almal wat my agtervolg, en red my, anders verskeur hulle my soos ‘n leeu wat sy prooi wegsleep terwyl niemand kan red nie.

Die psalm begin met ʼn pleidooi dat God hom sal verlos. Op hierdie stadium sê die psalmis nie hoekom hy God se beskerming nodig het nie. Die psalmis skuil/soek beskerming by God. In vs. 3 kry die eerste van ʼn paar duidelike beelde.

 

Die bidder pleit dat God hom teen die vyand moet beskerm. Sy vertroue in en afhanklikheid van die Here blyk uit die manier waarop hy die Here aanroep: Here my God. By Hom soek die bidder beskerming, want hy het van sy vyand af in die tempel in gevlug. So lank hy hier bly, is hy veilig, maar nou bid hy dat God hom moet vryspreek, sodat hy weer veilig kan uitgaan. Gebeur dit nie, sal sy vyand hom om die lewe bring sodra hy die tempel verlaat. Hy vergelyk sy vyand met ʼn leeu – die beeld van groot gevaar.

 

Die psalm verwoord ʼn situasie wat miljoene gelowiges deur die eeue ervaar het – intense vervolging. Die gelowiges het maar geleidelik die antwoord op hierdie eg menslike probleem – lyding – gekry. Alle mense moet net soos die natuur ly: ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting (Romeine 8:22). As Jesus moes ly, is dit voorbarigheid van ons kant om te vra: “Waarom gebeur dit met my?”

 

As ons in ʼn beskaafde en vreedsame land woon, identifiseer ons baie moeilik met die digter. Maar kom ons kyk net terug na enkele onlangse voorbeelde:

  • ʼn Eeu gelede moes die dames van die Heilsleër skuiling soek om te keer dat hulle nie verskeur word deur die “leeus” in die strate van die “beskaafde” Londen nie. Aand na aand is die massa opgesweep teen hierdie dames – soms selfs deur plaaslike leraars. Hulle is aangerand en die Heilsleër se geboue is beskadig – terwyl die polisie toekyk.
  • Dink maar aan Hitler se “finale oplossing” vir die Jode in Europa.
  • Die Ku Klux Klan het tot in die tyd van Martin Luther King vrees in die harte van duisende veroorsaak – vrees soos dié waarvan ons in hierdie psalm lees.

Geweld soos hierdie psalm dit beskryf, lê vlak onder die oppervlak van die ongeredde mens – selfs kinders. Baie mense leef steeds in vrees vir die kaper, rower, ens.

 

 




Die Ou Testamentiese stories (2)

 

The blessedness of waiting is lost on those who cannot wait, and the fulfilment of promise is never theirs. They want quick answers to the deepest questions of life and miss the value of those times of anxious waiting, seeking with patient uncertainties until the answers come. They lose the moment when the answers are revealed in dazzling clarity – Bonhoeffer

 

Die Ou Testamentiese stories (2)

In die voorafgaande blog het ons na intrige in die stories van die Ou Testament gekyk. Ons gaan nou verder en kyk na karakters en omgewing.

 

  • Karakter

Dit is ‘n beskrywing van die persone in die storie – hulle fisiese, sielkundige, sosiale en geestelike kenmerke. Stories fokus meestal op die stryd van die protagonis (hoofkarakter of voorvegter), gewoonlik gehinder of teengestaan deur ‘n antagonis (teenstander). Daar is ook ondersteunende karakters. Karakters kan nie van die intrige geskei word nie, want karakters tree op en optrede openbaar karakter.

 

Karakterisering in antike tekste is gewoonlik kort. Die skrywers gebruik veral dade en woorde om karakter te beskryf. Lees die verhaal van Ehud (Rigters 3:12 – 30). Ehud is vaardig met sy hande – hy maak vir hom ‘n swaard aan beide kante geslyp. Hy is fisies sterk – hy steek sy swaard so diep in Eglon se maag dat Eglon die nie kom uittrek nie. Hy is betroubaar – die Israeliete vertrou hom met hulle belastinggeld. Hy is braaf – hy staan alleen voor Eglon. Eglon, die antagonis, is ‘n betreurenswaardige despoot wat die Israeliete onderdruk. Hy is ook ‘n dwaas – hy stuur sy wagte weg en is alleen met Ehud. Die gebruik van optrede om aksie te beskryf is subtiel – die skrywers wys meer as wat hulle sê.

 

Ander tegnieke wat hierdie Ou Testamentiese skrywers gebruik, is :

  • Titels en name. Ragab is ‘n prostituut; Elisa is ‘n man van God; Abram (vader) word Abraham (vader van baie nasies); ens.
  • Fisiese beskrywing. So lees ons dat Esau harig was, Ehud was linkshandig en Sara was beeldskoon. Hulle noen dit, want dit beïnvloed die intrige.
  • Teenstelling – ‘n doelbewuste kontras met die protagonis. As Orpa terugkeer, sien ons Rut se lojaliteit en moed beter raak. As Lot die waterryke vlaktes van Sodom kies, bewonder ons Abraham se onderskeidingsvermoë.

 

  • Omgewing

Dit is die tyd en plek waarin die karakters optree. Die skrywers van die Ou Testament is baie selektief met besonderhede. Daarom tel elke woord. Kyk na die verhaal van Rut. Die verhaal speel af in die rigtertyd. Dit begin in Betlehem, skuif na Moab en dan weer terug na Betlehem. Vergelyk dit nou met beskrywings van John Grisham of Tom Clancy waar alles in besonderhede beskryf word.

Kyk na nog ‘n voorbeeld uit Rut. Rut gaan na ‘n land van Boas, sy rus ‘n bietjie. Ons word van die land na die stad  na die dorsvloer na die stadspoort geneem. Ons moet hiervan kennis neem. Hoekom hierdie beskrywings?

  • Dit stimuleer die verbeelding. Lesers van die Ou Testament hoor die geluide van die wind in die woestyn, ruik die aroma’s van die tempel. Lees net die wonderlike beskrywing van Dawid wat vir Saul wegkruip in die grot ny En-Gedi (1 Samuel 24).
  • Die Bybel is een boek geskryf deur baie mense oor duisende jare. Ons moet die individuele stories verstaan in die lig van die oorkoepelende storie van God se verlossingsplan in die geskiedenis. Die skrywer van Rut wil hê dat ons die storie van verlossing teen die agtergrond van anargie van die rigterstyd moet hoor. Deur assosiasies kommunikeer die skrywers teologie, maar hulle kuns is subtiel. Hulle beliggaam idees in mense en plekke.

 

Die Ou Testament is die storie van skepping, opstand en verlossing. Intige, karakters en omgewing is die frekwensies van die skrywers gebruik het om die waarheid oor te dra. Maar ons moet ons ore op hierdie frekwensies instel as ons regtig die waarhede wil hoor wat die skrywer vir ons te sê het.

 

 




Die Ou Testamentiese stories (1)

 

We are not to simply bandage the wounds of victims beneath the wheels of injustice, we are to drive a spoke into the wheel itself – Bonhoeffer

 

Die Ou Testamentiese stories (1)

Alle mense hou van stories. Die Bybel is vol stories. Hierdie gedeeltes, net soos die res van die Bybel, is deur God geïnspireer.  Die hele Skrif is deur God geïnspireer (2 Timoteus 3:16). Hierdie stories is teologies – hulle openbaar God. Soms is Hy die hoofkarakter van die storie (die skepping); soms verskyn Hy op die toneel en verlaat dit weer (die toring van Babel); soms is Hy afwesig (Ester). Al is Hy oënskynlik afwesig is Hy tog besig om gebeure te beïnvloed, dade te oordeel en om mense te motiveer.

 

Hierdie stories is ook literêre tekste. Hulle gebruik ‘n verskeidenheid van literêre instrumente om waardes, optrede en oortuigings te beïnvloed. Die primêre doel van die stories is om mense te ooruig.

Stories het drie sleutelkenmerke: intrige, karakter en omgewing.

 

  • Intrige

Intrige is die ketting van gebeure wat verbind word om ‘n konflik van versteurde ewewig na herstelde ewewig te beweeg. Die intrige kry lesers betrokke deur ‘n gevoel van afwagting te wek – wie gaan wen. Ons weet egter al wie gaan wen, maar die intrige is steeds belangrik, want dit skep verwagtings. Al is daar miskien nie dieselfde afwagting nie is daar steeds beweging na die ontknoping van die storie. Daarom word gemeentes steeds geraak deur die klassieke stories wat hulle al vantevore gehoor het: Dawid en Goliat, Elia op Karmelberg, ens. “Vertel my die ou ou storie!”

 

‘n Intrige beweeg gewoonlik deur verskillende stadia:

  • ‘n Ruk na die vorige gebeurtenisse het God vir Abraham op die proef gestel (Genesis 22:1). God toets sy vriende – dit skep ‘n mate van versteurde ewewig.
  • Vat jou seun … en offer jou seun as brandoffer (22:2). Nou is dinge beslis onstabiel.
  • Die reis na Moria, Isak dra die hout, Isak vra sy vader: waar is die lam om te offer? (22:7), Abraham bou die altaar, hy bind Isak vas om geoffer te word.
  • Die Engel van die Here stop vir Abraham (22:11 – 12)
  • Abraham slaag die toets en God voorsien ‘n ram vir die offer. God herhaal sy verbond met Abraham (22:13 – 19).

 

Die Ou Testamentiese skrywers “wys” wat die waarheid is. Hulle “wys” idees. Voorbeelde: sondaars wat skuldig voel probeer hulle sonde wegteek (Dawid en Batseba); God vereis absolute gehoorsaamheid (Saul en die Amalekiete). Meestal moet die leser die beginsels uit die storie aflei.

Die skrywer van 1 Samuel 17 vertel die storie van Dawid en Goliat. Hiermee kommunikeer hy dat God magtiger is as enigiets waarmee sy vyande na vore kan kom. Hy seën ook diegene wat vreesloos in geloof na vore kom. Die eerste twee stadia van die intrige – agtergrond en konflik –  begin met ‘n skets van Goliat van naby. Jy kan nie anders as bang wees vir hom nie. Hy domineer die hele slagveld. Nou neem die aksie toe: Israel bewe; Dawid, feitlik sonder wapens, hardloop na Goliat; hulle praat met mekaar; die geveg begin. Dan volg die klimaks: die reus val. Die groot domino val en al die kleintjies val daarna. Die skrywer beskryf tonele. Daarom word die impak nie deur enkele verse of woorde bereik nie, maar deur die hele toneel te lees.

 

In die volgende blog gaan ons na karakter en agtergrond kyk.

 




Josef van Arimatea

 

There is meaning in every journey that is unknown to the traveller – Bonhoeffer

 

Josef van Arimatea

Wat weet ons van hierdie man? Daar is baie dinge wat van hom gesê word, maar baie daarvan is eers eeue later geskryf. Meeste daarvan is volksoorlewerings. Die vier evangelies is die beste beskikbare bron – en die vroegste. Al vir evangelies vermeld Josef – ‘n seldsame onderskeiding vir  ‘n mindere persoon. Hy was egter deel van ‘n gebeurtenis wat die geskiedenis van die wêreld verander het.

 

Die verhale in die evangelies stem breedweg ooreen. Ons lees dat Josef ryk en gerespekteer was en dat hy vir Pilatus gevra het of hy Jesus se lyk mag verwyder om te begrawe. Hy gebruik sy eie nuwe graf – ‘n kelder uitgekap in die rots; hy begrawe Jesus persoonlik en rol ‘n steen voor die opening; twee vroue was ooggetuies van die begrafnis.

 

Markus sê Josef was ’n vooraanstaande lid van die Joodse Raad – juis die mense wat vir Pilatus gevra het om Jesus te kruisig. Lukas voeg by dat hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem het nie. Net Johannes sê dat Nikodemus, ook ‘n lid van die Joodse Raad, ook nie met hulle besluit saamgestem het nie. Hy het ook saam met Josef vir Jesus begrawe.

 

Oënskynlik het Jesus se dissipels uit vrees gevlug. Misdadiges wat tereggestel is se lyke is dikwels in gemeenskaplike grafte gegooi. Josef tree in en maak die begrafnis so waardig as wat onder die omstandighede moontlik was. Dit beteken dat hy sy politieke, godsdienstige en persoonlike reputasie op die spel geplaas het. Onthou destyd het die hantering van lyke beteken dat ‘n persoon onrein was. Tog was Josef se optrede as Jood verstaanbaar. Wanneer iemand tereggestel word vir ‘n oortreding wat die doodstraf verdien, en jy hang hom aan ‘n paal op, mag sy lyk nie die nag daaraan bly hang nie. Jy moet hom dieselfde dag nog begrawe (Deuteronomium 21:22 – 23).

 

Lukas beskrywe Josef  as ‘n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Matteus sê hy was ‘n volgeling van Jesus. Johannes sê dat hy ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, want hy was bang vir die Jode.

 

Waar was Arimatea geleë? Dit was waarskynlik ‘n dorpie noordwes van Jerusalem op die plek waar Rama geleë was. Rama was die tuisdorp van Samuel. Moontlik het hy toe reeds in Jerusalem gewoon  of hy was ‘n besoeker aan die stad.