Psalm 6

 

I am talking about being busy doing Christian things. We have spiritual activity with little productivity –Dawson Trotman

 

Psalm 6

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Die Sjeminiet of agste in die opskrif verwys waarskynlik na speel in oktawe of na ‘n instrument met agt snare.

 

Hierdie psalm begin deur na die Here se woede en toorn en die psalmis se siekte te verwys.

 

6:2 – 4: Die psalm begin met ‘n oproep dat die Here nie sy woede en toorn oor die psalmis uitoefen nie. Hier word geen melding van ‘n spesifieke sonde gemaak nie. Die Here se toorn gaan gewoonlik gepaard met straf vir die verkeerde dade van die persoon. As jy die slagoffer van verkeerde dade is, is dit grond vir gebed.

 

Die psalmis pleit: Wees my genadig … genees my. Hoekom? Want ek kwyn weg … want ek is tot in my gebeente beangs. God se genade word gewoonlik konkreet in genesing uitgedruk. Deur God te vra vir genade en genesing erken die psalmis dat Hy van God afhanklik is. As die mense en die lewe teen ons is, kan ons net op de vrygewigheid van die Here staatmaak. Hy herhaal dat hy heeltemal vreesbevange is.  Hierdie herhaling maak sy ondervinding duideliker.

 

6:5 – 8: Hier herhaal die psalmis tot ‘n mate die eerste gedeelte, maar in ander woorde. Hy beklemtoon sy bekommernis. Vers 7 – 8 fokus op die psalmis sonder enige vermelding van die Here. Die psalmis gee ook ‘n nuwe rede vir sy oproep: die Here se beloftes. Waarvan moet die psalmis verlos word? Die dood. As ons eers dood is, is enige verhouding met die Here onmoontlik. Dit is nie in belang van God en wat Hy gedoen het dat die psalmis doodgaan nie. Moegheid is ‘n algemene gevolg van swaarkry en huil. Die psalmis wag vir God om op te tree.

 

6:9 – 11: Hier sien ons dat die Here op die psalmis se oproep gereageer het. Die psalmis het nog nie God se optrede gesien nie, maar dit gehoor. Gaan weg van my almal wat onreg pleeg, want die Here het gehoor hoe hard ek huil. Die Here het my smeking gehoor, die Here aanvaar my gebed. Die gevolg van die Here wat die psalmis se pleidooie gehoor het, is dat die teenstanders beskaamd staan – hulle is heeltemal vreesbevange. Hoekom is die psalmis se teenstanders beskaamd en vreesbevange? Hulle basiese godsdiensperspektief is verkeerd.

 

Wat ons uit hierdie psalm leer, is dat die Here sulke gebede hoor en daarop reageer.

 No one who has not been profoundly terrified and forsaken prays profoundly  – Martin Luther.

 

 




Wat is armoede?

 

The beauty of the gospel is that while we were infinitely sinful we were also unfathomably loved. —Erik Raymond

 

Wat is armoede?

Ons hoor dikwels die woord armoede. As ons dit hoor flits ‘n aantal beelde voor ons verby: ‘n hawelose man wat op straat woon; ‘n kind sonder skoene wat in die strate ronddwaal; ‘n werklose weduwee in ‘n krotbuurt. Ons wil graag help, maar goeie bedoelings help niks nie, omdat ons glo dat armoede is ‘n gebrek aam materiële dinge soos geld, kos en behuising. Daarom gee ons hierdie dinge vir diegene wat arm is. Dit hanteer net die probleme en simptome van armoede. Ons moet versigtig wees om nie mense van skenkings afhanklik te maak nie.

 

Hier is ‘n paar dinge om te onthou:

  • Ons is almal op een of ander wyse arm. God het ‘n volmaakte wêreld gemaak, maar die sondeval het ons verhouding met God, ander mense en die skepping geskend. Almal van ons is in wese arm, want ons ondervind nie die volheid wat God vir ons bedoel het toe Hy die mens gemaak het nie. Vir ons neem ons armoede dikwels die vorm van materialisme en die begeerte om “God te speel” aan.
  • Jesus het gekom om die gebrokenheid wat tot armoede lei, te genees. Die goeie nuus is dat deel van Jesus se sending op aarde was om die evangelie aan die armes te verkondig. God versoen alle dinge deur die werk van Jesus Christus. Hy genees armoede in almal van ons. Daarom is verkondiging van die evangelie deel van die verligting van armoede.
  • Ons gemeentes en bediening moet deur nederigheid gekenmerk word. Ons mag nie diegene wat materieel arm is met ‘n gesindheid van meerderwaardigheid benader nie. Ons hanteer hulle so dikwels soos projekte wat reggemaak moet word.. Ons vergeet ons eie afhanklikheid van God se genade en in die proses vererger ons net die armes se skaamte en hulpeloosheid. Die oomblik wat ons besef dat ons self arm is, kan ons diegene wat materieel arm is waarlik help. Beide helpers en dié wat gehelp word, sal dan verstaan dat God hulle liefhet, dat hulle menswaardig is, want hulle is na die beeld van God gemaak. Dan besef ons mense is gemaak vir gemeenskap met mekaar en dat hulle rentmeesters van die skepping is.

 

As ons aan armoede dink, moet ons altyd ons eie afhanklikheid van Christus onthou – Hy moet ons lewens herstel. Ons sien nie meer ons hulp aan armes as ons poging om hulle uit hulle armoede te trek nie. Inteendeel, ons besef dat ons langs hulle loop en ons sê vir hulle: “Ek is gebroke en jy is gebroke. Ek het Jesus Christus gevind, die enigste een wat ons beide kan genees.”

 

 




Is julle ‘n gemeente of ‘n skare?

 

When the time comes for you to die, you need not be afraid, because death cannot separate you from God’s love. —C.H. Spurgeon

 

Is julle ‘n gemeente of ‘n skare?

Daar mag baie mense in die erediens wees., maar jy mag steeds nie ‘n gemeente wees nie. ‘n Skare moet ‘n gemeente word – mense moet ingeskakel word. Hierdie hele proses begin by mense se bewustheid van die gemeente. Daarna moet jy hulle beweeg om eredienste by te woon en dan om aktiewe lidmate te word. Die skare praat van “hierdie gemeente”; die gemeente praat van “ons gemeente.” Hulle is deelnemers en nie net verbruikers nie.

 

Die groot probleem in ons moderne kultuur is individualisme. Dit is mense wat van die een gemeente na die ander skuif sonder enige aanspreeklikheid en toewyding. Die Christelike lewe bestaan uit glo en ook uit behoort. Ons groei in Christus deur ons verhouding met ander gelowiges. Inskakeling by ‘n gemeente gebeur nie outomaties nie – jy moet ‘n sisteem en struktuur ontwikkel om hulle in te skakel.

 

Rick Warren sê dat voor mense by ‘n gemeente aansluit soek hulle eers antwoorde op vyf vrae:

  1. Behoort ek hier – dit gaan oor aanvaarding. Elkeen van ons het ‘n niche nodig en daarom is kleingroepe so belangrik. Jy moet vir mense wys jy het ‘n plekkie vir hulle.
  2. Wil iemand my ken – dit gaan oor vriendskap. Jy moet nuwe mense in staat stel om verhoudings in die gemeente te ontwikkel Daar is baie maniere om dit te doen, maar dit vereis beplanning. Mense verdien individuele aandag.
  3. Word ek benodig – dit gaan oor waarde. Mense wil met hulle lewens ‘n bydrae maak. Jy moet mense wys dat hulle met hulle gawes en talente beslis ‘n bydrae kan lewer.
  4. Wat is die voordele om by die gemeente aan te sluit? Jy moet duidelik die redes en voordele van lidmaatskap kan verduidelik. Verduidelik die Bybelse, praktiese en persoonlike redes vir hulle.
  5. Wat word van lidmate verwag? Jy moet die verantwoordelikhede duidelik kan uitspel Mense het die reg om te weet wat van hulle verwag word voordat hulle by ‘n gemeente aansluit.

 

Hierdie vrae word dikwels nie uitgespreek nie, maar jy moet hulle antwoord en vir nuwe mense van die visie van die gemeente vertel. In baie gemeentes word dit deur ‘n klas vir nuwe lidmate gedoen. Wat moet ons in so ‘n klas hanteer?

  • Wat is ‘n gemeente?
  • Wat is die doel van ‘n gemeente?
  • Wat is die voordele van lidmaatskap?
  • Wat is die vereistes vir lidmaatskap?
  • Wat is die verantwoordelikhede van lidmate?
  • Wat is die visie van die gemeente?
  • Hoe is die gemeente georganiseer?
  • Hoe kan ek by ‘n bediening betrokke raak?
  • Wat moet ek volgende doen as ek ‘n lidmaat is?

 

Warren gee ‘n paar leidrade vir hierdie klas:

  • Verduidelik wat verlossing beteken. Baie mense wat wil aansluit is nog nie eers gelowiges nie. Verduidelik dat om Christus te vertrou die eerste vereiste vir lidmaatskap is.
  • Hou die klas lewendig en interaktief. Gebruik video’s, notaboeke met die kurrikulum, interaksie in kleingroepe en ‘n lekker maaltyd saam. Sluit stories in om die geskiedenis, waardes en rigting van die gemeente meer persoonlik te maak.
  • Maak voltooiing van die klas ‘n vereiste vir lidmaatskap. Mense wat nie belangstel of onwillig is om meer van die gemeente te leer is nie toegewyd nie.

 

Lidmaatskap gaan oor toewyding. Jy kry mense om hulle aan ‘n saak toe te wy deur hulle te wys  op die waarde van die voordele wat hulle vir hulle toewyding sal ontvang. As mense die waarde van lidmaatskap verstaan, sal hulle daaroor opgewonde wees. Nou word ‘n skare ‘n gemeente.

 

 




Maak goed klaar

 

What chiefly & finally ought to be striven for is not happiness which has to do with our own pleasure, but goodness which looks to God’s glory. — William Ames

 

Maak goed klaar

Jerry Bridges sê dat daar geen beter voorbeeld van volharding tot die einde en goed klaar maak as Paulus is nie. Hy sit vasgeketting in ‘n tronk in Rome en verwag om enige dag tereggestel te word. Hy skryf: Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.. Ek het die goeie  wedloop afgelê; ek het die wenstraap bereik; ek het gelowig end-uit volgehou (2 Timoteus 4:6 – 7). Ongelukkig, net ‘n paar verse verder skryf hy: Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat.

 

Hier het ons twee mense wat saam bedien het – Paulus was Demas se mentor.  Een het volhard en die wedloop voltooi – hy kyk vooruit na die oorwinningskroon. Die ander een het sy mentor verlaat. Ons hoor nooit weer van hom nie. In Filemon 24 verwys Paulus na Demas as sy medewerker. Hy was ‘n belowende jong man met ‘n belowende toekoms voor hom, maar hy bereik nie die wenstreep nie.

 

Dit laat ons dink. Ons mag nog baie jare voor ons hê en ons verwag om die wenstreep te bereik – om vas te staan en tot aan die einde te volhard. Demas het ook op ‘n stadium so gedink. Hy het nie by Paulus se span aangesluit met die idee om dit later, as dinge moeilik raak, te verlaat nie. Dit geld ook vir ouer mense. Yogi Berra, die bekende bofbalspeler, het gesê: “It  ain’t over till it’s over.” Ons maak klaar die dag as ons doodgaan. Almal van ons moet hierdie waarskuwing wat tot ons kom deur die lewe van Demas ter harte neem.

 

Wat moet ek doen om goed klaar te maak? Daar is veral vier noodsaaklike elemente van belang as jy goed wil klaar maak. Hierdie is dinge wat ons moet doen, maar oor alles staan God se genade. Paulus  skryf al sy volharding aan die genade van God toe. Ons kan kyk na ons verantwoordelikhede, maar ons moet onthou dat ons bemagtig word om hierdie verantwoordelikhede na te kom slegs deur die genade van God.

  1. Daagliks ‘n tyd van gefokusde gemeenskap met God

Hierdie tyd moet daagliks wees. Demas het nie sommer een oggend wakker geword en ‘n 180 grade omkeer gemaak nie. Hy het bietjie vir bietjie weggedryf na die teenswoordige wêreld. Sonder daaglikse gefokusde gemeenskap met God dwaal ons van koers af. Almal van ons het iets lief – Demas het die teenswoordige wêreld liefgehad. Wie het ons lief?  Daardie daaglikse tyd van gemeenskap met God is wanneer God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom verfris word.

  1. Daaglikse toeëiening van die evangelie

Begin jou dag met God deur die evangelie vir jou toe te eien. God was genadig vir ons en ons moet dit in ons lewens erken. Die evangelie is nie ‘n boodskap net vir ongelowiges nie. Gelowiges het steeds elke dag die evangelie nodig.

  1. ‘n Daaglikse toewyding aan God as ‘n lewende offer

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God:  Gee julleself aan God as lewende offers wat vir Hom aannnemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (Romeine 12:1). Soos ons daagliks oor die evangelie nadink en oor wat God in Christus vir ons gedoen het, moet dit daartoe lei dat ons ons as lewende offers aan God aanbied. God vra nie dat ons ons tydelik aan Hom moet toewy nie Hy vra dat ons ons as lewende offeers aan Hom wy wat Hy kan gebruik soos Hy goeddink. Die gevolge van ons liggame as lewende offers aan God toe te wy, sal verskil van persoon tot persoon.

  1. ‘n Geloof in die soewereiniteit en liefde van God

Dit moet voortdurend uitgeleef word. Die lewe is nie maklik nie – soms is dit selfs pynlik. As jy tot die einde wil volhard ten spyte van al die probleme en pyn, moet jy glo in God se soewereiniteit. Jy moet glo dat God in beheer van elke dag is – elke gebeurtenis in jou lewe. God oefen daardie beheer uit vanuit sy oneindige liefde vir jou.

God sal nooit sy beloftes wegneem nie. Hierdie versekering staan al voel dit of die wêreld om jou inmekaar val. Volhard, nie net verduur nie. Wees soos Paulus. Toe hy gesê het dat hy die wedloop voltooi het, het hy gesê dat hy volhard het. Ons moet vas staan – nie stil staan nie. Ons moet vorentoe gaan anders gaan ons nie die wedloop voltooi nie.