Jesus se verheerliking

 

“ A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to everyone.” ― Martin Luther

 

Jesus se verheerliking

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy  as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

Verwys Johannes hier na Jesus se verheerliking op die berg? Sy heerlikheid was tot op daardie stadium verborge, maar by hierdie geleentheid word dit aan drie van sy dissipels geopenbaar. Jesus se verheerliking kommunikeer iets van wesentlike belang. Jesus het gekom en mens geword om onder andere God se heerlikheid te openbaar. Hier gebeur dit voor ‘n klein gehoor.

 

Ons lees van Jesus se verheerliking in Matteus 17:1 – 8. Die goddelikheid wat Jesus met sy Vader en die Heilige Gees gedeel het, was versluier tydens sy aardse bestaan. Nou is Jesus op sy finale reis na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word en weer sou opstaan uit die dood. Hy, Petrus, Jakobus en Johannes gaan saam ‘n hoë berg op. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

 

Ons sien dat Jesus se gesig verander het. Dit herinner aan Moses. Ons lees dat Moses 40 dae en 40 nagte op Sinaiberg was. Toe hy daarna van die berg afkom met die twee plat klippe met die tien gebooie daarop, het sy gesig geblink (Eksodus 34:29 – 33). Hy moes sy gesig met ‘n doek bedek het. Moses se gesig het gestraal, maar wat ons hier sien, is die lig van God wat in Moses se gesig weerkaats word. Jesus se gesig, daarenteen, straal van die heerlikheid in Hom. Uit Hom straal die heerlikheid van God (Hebreërs 1:3). Paulus het ook hierdie heerlikheid op pad na Damaskus gesien. Jesus se klere verander ook – spierwit. Daar is geen vlekkie op nie.

 

Skielik verskyn Moses en Elia saam met Jesus. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete. Petrus bied aan om drie hutte vir hulle te bou. Terwyl hy nog praat, verskyn daar ‘n wolk en daar kom ‘n stem uit die hemel: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom. Dit was God wat gepraat het. Die dissipels word bang en val op die grond neer.

 

Al drie evangelies se beskrywing van Jesus se verheerliking op die berg word voorafgegaan deur ‘n gesprek van Jesus met sy dissipels. Hy sê onder andere vir hulle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie (Matteus 16:28). Is Jesus se verheerliking dalk ‘n vervulling van hierdie profesie?

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 4:18). Lees en dink na oor hierdie vers. Dit sê dat alle gelowiges die heerlikheid van die Here weerspieël en dat ons verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word.

 

Ons hoor elke week dat die woord van God verkondig word. Luister ons na Hom? Indien nie, begin vandag nog na Hom te luister.

 

 




Hoe moet ons die Psalms lees en verstaan?

 

We need no other arguments to prove that God made the world but itself.” John Owen

 

Hoe moet ons die Psalms lees en verstaan?

Daar is ten minste drie maniere waarop ons die psalms kan lees:

  1. Dit kan gelees word as antieke literatuur – interessante gedigte geskryf toe die mens uit die bronstydperk beweeg het. Ons kan iets leer van die destydse beskawing, hul skrywers en die ontwikkeling van hul denke.
  2. Dit kan gelees word vanuit die Joodse perspektief. Dit is belangrik vir die Christen om te weet hoe die Jode die psalms verstaan, hoekom hulle so verstaan word en hoekom jy as Christen dit moontlik anders verstaan. Die Christen mag egter nie aan die Jood voorskryf hoe hy die psalms moet verstaan nie.
  3. Dit mag vanuit die Christelike perspektief gelees word – ‘n perspektief wat Christus vir ons geopenbaar het. Hy besef dat die Christen meer in die psalms mag ontdek as wat die oorspronklike skrywers bedoel het of as wat die nie-Christen mag doen. Die Christen lees die psalms met die wete dat Christus en vele Nuwe Testamentiese skrywers dit aanhaal. Jesus het Psalm 22 aan die kruis aangehaal. Het Hy nie daarmee aangetoon dat die besondere psalm relevant was vir daardie besondere situasie nie?

 

Dit wil voorkom of ons die psalms gelyktydig op verskillende maniere moet lees.

  1. Dit kom uit ‘n besondere geskiedkundige tydperk en word beïnvloed daardeur. Ons kan eintlik nie verstaan waarvan die psalmis praat nie, tensy ons ‘n beeld het van die ou Jerusalem, die stadsmure, die kroningsplegtigheid, die skare wat druk om by die tempel uit te kom om te aanbid, die wrede koning Nebukadneser, die Israeliete in ballingskap in Babilon wat verlang om terug te keer, ens.
  2. Hierdie gedigte is geskryf deur mense wat reeds die wonderlike goedheid van God ontdek het. God het immers met hul ‘n gelofte aangegaan gebou op liefde en getrouheid. Die psalms is geskryf deur die mense van God.
  3. Die psalms, as deel van God se Woord, is nie dooie drukwerk nie. Die psalms lewe deur die Gees van God wat ons na waarheid lei. Die skrywers van die NT glo Jesus is die Woord van God – nie net vandag nie, maar vir alle tye, verlede, hede en toekoms. Die psalmis het reeds geweet dat God hul gered het, net soos ons dit weet deur die Kruis. Hul het nie geweet hoe God hul gered het nie, behalwe dat Hy aan hul ‘n teken/sakrament gegee het by die deurtog deur die Rooi See. In hierdie opsig verstaan ons meer as wat hul verstaan het. Die Christen is geregtig om in hierdie ou gedigte meer omtrent die liefde en genade van God te vind as selfs die oorspronklike digters.

 

Om die psalms te lees is ‘n heilryke en opwindende ondervinding. Ons sien dikwels dat die psalmdigters hul harte en gedagtes voor die Here uitstort. Hul sê vir Hom as hul dink Hy het hul in die steek gelaat of as hul ongeduldig raak. Ons verskil op twee maniere van die psalmdigter:

  • Ons sê nie altyd vir die Here wat ons dink en hoe ons voel nie; en
  • Ons besef daarom nie altyd met Wie ons praat nie.

 




God voorsien altyd as Hy sy kinders dissiplineer (Esegiël 1:3)

 

 “Anyone who is to find Christ must first find the church. How could anyone know where Christ is and what faith is in him unless he knew where his believers are?” – Martin Luther

 

God voorsien altyd as Hy sy kinders dissiplineer (Esegiël 1:3)

Israel sit in Babilon. Hulle is weggevoer in ballingskap omdat hulle ongehoorsaam was en God hulle gedissiplineer het.

 

Sy profeet

Ons weet nie baie van Esegiël nie. Wat ons wel weet, was dat hy ‘n priester was. Hy was waarskynlik ongeveer 30 jaar oud. Ons weet ook dat hy nie vir God gaan soek het nie – God het na Hom toe gekom. God het die inisiatief geneem. Esegiël was ‘n priester, maar God het vir hom ‘n nuwe beroep – profeet. Waarskynlik het Esegiël daarna uitgesien om in die tempel te dien, maar God het ander planne vir hom. God wou hê dat Esegiël as sy mondstuk aan diegene in ballingskap moet wees.

 

Is ons lewens oop vir God se roeping? As dit nie so is nie, is ons gebrek aan vertroue en gehoorsaamheid tot ons eie nadeel. Esegiël die profeet in Babilon sien ‘n visie van God wat hy as priester waarskynlik nooit sou sien nie.

 

Sy woord

God wys nie net vir Esegiël iets nie, maar Hy het ook iets te sê vir hom. Die woord van die Here het tot die priester Esegiël … gekom. Ons lees 49 keer in hierdie boek dat God se woord na Esegiël gekom het. In hierdie gesig lees ons twee maal dat Esegiël ‘n stem hoor. God is aan die beweeg en Hy het ‘n boodskap vir sy mense. God weet presies wat sy mense moes hoor.

 

Sy hand

Toe Esegiël die visoen ontvang was God se hand oor hom. Dit is ‘n teken van bemagtiging. Esegiël beteken “God versterk.”Al die hulpbronne wat Esegiël vir sy nuwe bediening nodig het, het God voorsien – sy woorde en sy krag.

 

Esegiël sit in ballingskap en tog ondervind hy dat God voorsien – ook daar in Babilon.




Oorreding

 

 “We are nothing with all our gifts be they ever so great, except God assist us.” ― Martin Luther

 

Oorreding

Os Guinness maak ‘n onderskeid tussen net die waarheid oor die evangelie vertel teenoor oorreding. Daar is ‘n manier om die waarheid te kommunikeer wat mense onmiddellik aanstoot gee en daar is maniere wat aanstoot vermy. Ooreding probeer die aanstoot verminder deur te soek na ‘n verband tussen dit wat ons wil sê en diegene met wie ons wil praat. Oorreding neem die persoon wat kommunikeer en die persoon aan wie gekommunikeer word, in ag. Kommunikasie vereis ‘n verbinding tussen ten minste hierdie twee kante.

 

Hierdie seining van “verbind” in oorreding het twee belangrike implikasies:

  1. Net omdat oorreding belangstel in hoe ons kommunikeer, beteken nie dat dit net in ‘n tegniek belangstel nie.

Dit stel nie primêr in üitkoms” en “gevolge” belang nie. Oorreding is die hart van die evangelie. God is dié Oorreder. Hy wil met ons op ‘n besondere manier kommunikeer en dit is basies oorredend.

 

In sy kommentaar op Psalm 23 sê Calvyn onder andere: God, in the Scripture, frequently takes to himself the name, and puts on the character of a shepherd, and this is no mean token of his tender love towards us. As this is a lowly and homely manner of speaking, He who does not disdain to stoop so low for our sake, must bear a singularly strong affection towards us. In sy barmhartigheid hanteer God ons deur ons beperkings en swakhede in ag te neem. Hy is ‘n Herder vir verlore skape en nie ‘n wolf wat ons dwaasheid uitbuit nie.

 

God het besluit om ons te oorreed. Hy ontmoet ons net soos ons is om die verhouding wat Hy met die mens begin het voort te sit. Al is Hy die oneindige, ewige God, daal Hy tot op die vlak van die mense. Ons sien dit ten beste in die menswording – ‘n toonbeeld van nederigheid. Dit was hierdie nederigheid wat Hom in staat gestel het om die volle ervaring van wat dit beteken om mens te wees, te ondervind.

 

Dit is dié oorreding – geheimsinnig en veel meer as wat enige mens kan doen. God het nie uit die hemel op ons geskreeu nie – Hy het mens en een van ons geword. Hy bly steeds by ons.

 

  1. Oorreding is om onnodige aanstoot te vermy, maar ons moet aanvaar dat die evangelie vir sommige aanstoot kan gee

Jesus was oorredend in alles wat Hy besê het, maar in sy eie dorp, Nasaret, wou hulle niks van Hom geweet het nie (Matteus 13:57). Hy was: ‘n Klip waaroor ‘n mens struikel en ‘n rots waarteen jy jou stamp (1 Petrus 2:8).

 

Os Guinness (Fool’s Talk: Recovering the Art of Christian Persuasion)  betreur dit dat die kerk die kuns van oorreding verloor het. Daarom moet ons weer aan ons kommunikasie dink. Dit moet vars wees, maar ook getrou en onafhanklik. Getrou, want dit moet deur die Christelike waarhede gevorm word; onafhanklik, want dit is nie afhanklik van ‘n manier van dink wat vreemd is aan ons Christelike manier van dink nie. Die problem is dat baie van ons kommunikasie in die kerk eintlik argumente is. Ons stel meer daarin belang om argumente te wen eerder as die harte van mense.